“”Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het . Die stortreën het geval, vloedwaters het afgekom, winde het teen daardie huis gewaai en daaraan geruk, en tog het dit nie ingestort nie, want die fondament was op rots.”
Matt. 7: 24-25
Elke dag ervaar een van ons dat ons wêreld om ons ineenstort. Of dit ‘n geliefde is wat sterf, oorloë wat vernietigend om mens woes, politieke toutrekkery wat lyk of alles om mens ineen gaan stort, of soms net klein veranderinge in mens se lewe, maar wat vir elkeen persoonlik na onmoontlike veranderinge lyk. Dis dan wanneer die vraag oor ‘Hoe bly ons staande in hierdie omstandighede?’, by ons opkom. Ons soek vertroosting en sekerheid in elke situasie.
Wanneer mens kyk na die dinge en gebeure wat in die Bybel beskryf word, blyk dit dat menige van daardie mense wel ‘n antwoord en vastigheid gevind het. Reeds in Genesis word God as die beskermende Rots beskryf (“Maar hulle boog misluk elke keer, hulle sterk arms bewe, want die magtige God van Jakob gryp in, die Rots van Israel beskerm hom.” (Gen. 49: 24); (“Wie kan in die lewe bly as God dit nie so bepaal nie?” (Num. 24: 23)). God belowe ‘n veilige hawe aan Moses (“Die Here het verder gesê: “Maar hier by My is ‘n plek waar jy op die rots kan staan.” (Eks. 33: 21)). In Deutronomium word die kragtige Rots verder beskryf en ook vergelyk met die aardse (“Hy is die Rots, sy werk is volmaak, alles wat Hy doen, is regverdig. Hy is die getroue God, sonder onreg, Hy is regverdig en betroubar.” (Deut. 32: 4): (“Die rots van die nasies is nie soos ons Rots nie, ons vyande kan tog self oordeel, want hulle stam uit Sodom se wingerd, uit Gomorra se droë gelyktes. Hulle druiwe is giftig, elke tros bitter. Hulle wyn is slanggif, wrede addergif.” (Deut. 32: 31-33)).
Samuel getuig van die krag en enigheid van ons God (“Daar is geen heilige soos die Here nie, buiten U is daar nie een nie, daar is geen rots soos ons God nie. “Julle moenie in hoogmoed bly praat nie, moenie aanmatigende dinge sê nie, want die Here is ‘n God van diepe kennis, dade word deur Hom getoets.” (1 Sam. 2: 2-3); (“Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots, by wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting, my toevlug en bevryder.” (2 Sam. 22: 2-3)). Ook Dawid het menige Psalms geskryf om die reddende en vastigheid van God te beskryf. Dawid wat moes vlug vir sy lewe, omdat Koning Saul hom wou doodmaak. Ook hy het geweet waar sy hulp vandaan kom (“So sal blyk dat die Here regverdig is, dat daar by Hom geen onreg is nie. Hy is my rots. ” (Ps. 92: 16); (“Ja, U is my rots en my bergvesting, ter will van u Naam sal U my voorgaan en my lei.” (Ps. 31: 4); (“Bring my op ‘n rots waar ek veilig sal wees. U is vir my ‘n toevlug, ‘n sterk vesting buite bereik van die vyand. Laat my skuil onder U vleuels. ” (Ps. 61: 3-5)).
Ons ken ook die verhaal van Job, wat alles in hierdie aardse lewe verloor het, so goed. Ook hy het geweet waar om te skuil en antwoorde te kry (“Mag my woorde tog opgeskryf word, mag dit ingegraveer word op ‘n monument met ‘n ysterpen en lood, vir altyd in ‘n rots uitgekap. Ek weet dat my Losser leef, uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer!” (Job. 19: 23-25)). Jesaja verseker ons ook, in die woorde van God, dat daar geen ander God is nie (“Moenie skrik nie, moenie bang wees nie! Het Ek dit nie van lankal af aan julle verkondig, dit vir julle gesê nie? Julle is my getuies: is daar ‘n God buiten My? Daar is geen ander Rots nie; Ek weet van geeneen nie. ” (Jes. 44: 8)). Dit mag wel soms voel of die hele wêreld onder ons padgee, maar God is ons vaste fondament, wat ons deur enige situasie kan dra. (“God self het ons saam met julle op hierdie vaste grond gevestig: op Christus. God het ons vir Hom afgesonder, ons as sy eiendom beseël en die Heilige Gees in ons harte gegee as waarborg van wat ons nog sal ontvang.” (2 Kor. 1: 21-22); (“Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God. Om die Here te dien, dit is wysheid.” (Miga 6: 8-9); (“Ek sal hulle ‘n onverdeelde hart en ‘n vaste koers gee: hulle sal My altyd dien vir hulle eie beswil en vir dié van hulle kinders na hulle. Ek sal ‘n blywende verbond met hulle sluit. Ek sal nooit ophou om aan hulle goed te doen nie en Ek sal in hulle die begeerte lê om My te dien en nie van My af weg te draai nie.” (Jer. 32: 39-40)).
Ons almal weet dat ons hier op aarde in die tydelike mileu leef; dit is nie die permanente ewigheid wat God ons beloof het nie (“Ons weet dat, wanneer ons aardse woning wat maar ‘n tent is, afgebreek word, ons ‘n vaste gebou in die hemel het. Dit is ‘n woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan.” (2 Kor. 5: 1); (“…want hy het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is.” (Heb. 11; 10); (“…want ons het in hierdie wêreld geen vaste verblyfplek nie, ons is op soek na die toekomstige. Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God ‘n offer van lof bring, dié lof wat aan Hom gebring word deur die lippe wat sy Naam bely.” (Heb. 13: 14)). Laat ons ook soos Rut, wat nie van Naomi geskei wou word nie, bely dat die drie-enige God ons enigste hoop in lewe en dood is (“Maar Rut het geantwoord: “Moet my tog nie dwing om van u af weg te gaan en om om te draai nie, want waar u gaan, sal ek gaan; waar u bly, sal ek bly; u volk is my volk; u God is my God. ” (Rut. 1: 16)).
Ons moet egter ook besef dat Jesus Christus, wat God se ewigheids koninkryk kom inlei het, soos ook deur Daniël, deur die uitlê van ‘n droom voorspel, vir baie mense ‘n struikel blok in die lewe is (“In die tyd van daardie konings sal God van die hemel ‘n koningkryk oprig, wat nooit vernietig sal word nie. Hierdie koningkryk sal nie deur ‘n ander vervang word nie. Dit sal die ander koninkryk plat trap en vernietig, maar self sal dit vir ewig bestaan.” (Dan. 2: 44); (“Hý sal vir julle ‘n veilige beskutting wees, maar vir die twee koninkryke Juda en Israel sal Hy ‘n klip wees waarteen ‘n mens jou stamp, ‘n rots waaroor jy struikel. Vir die inwoners van Jerusalem sal Hy ‘n vangnet en ‘n strik wees.” (Jes. 8: 14)).
Ons weet waar ons fondamente se krag lê (“… en almal het dieselfde geestelike drank gedrink: hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat met hulle saamgegaan het. Die rots was Christus.” (1 Kor. 10: 4)) en kan dus saam met die Psalmdigter jubel in die verlossing wat God vir ons bewerkstellig en deur die vastigheid wat alleen deur Hom bewerk kan word in ons lewens (“Hy het my uitgetrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder, my op ‘n rots laat staan en my weer op vaste grond laat loop. Hy het my ‘n nuwe lied in die mond gelê, ‘n loflied vir ons God.” (Ps. 40: 3- 4); (“U het u bevele gegee dat dit ten volle uitgevoer moet word. As ek tog maar net op ‘n vaste koers kan bly en my aan U voorskrifte kan hou!” (Ps 119: 4-5)). Dit beteken nie dat daar nie woeste storms om ons kan woed nie, maar dat ons fondament op die Ewige Rots gebou moet wees om staande te kan bly!


