Gebedsgids Februarie 2024 – NG Kerk Groot-Brakrivier

GEBEDSGIDS
FEBRUARIE 2024

Gebed verander alles.
Moenie angstig wees nie. Bid tot God.
As God vir ons is, wie kan teen ons wees.
Sy genade is genoeg.


1 Februarie – Donderdag – Mense op straat
Ons bid vandag in die besonder vir die sendelinge en predikers en hulpwerkers wat op straat die mense help en leiding gee. Mag hul elke dag God se nabyheid ervaar, en die wonderwerke waarvoor hulle bid raaksien in die straatmense se lewens.
2 Februarie – Vrydag – Kragvoorsiening
Bid vir Eskom en die kragsituasie in ons land en bid dat die Here al hoe meer son- en windkrag projekte tot stand sal laat kom. Bid dat soortgelyke projekte spoedig voltooi sal word en werk verskaf aan baie mense.
3 Februarie – Saterdag – Skrif vertaling
Daar is miljoene mense wat nog nie een woord van die skrif in hul eie taal gehoor of gelees het nie. Bid dat die Bybel binnekort in meer tale vertaal sal word en dat mense die skirf sal versprei.
4 Februarie – Sondag- Intreepreek van nuwe Dominee.
Mag ons vandag in die besonder bid vir ons nuut-aangestelde dominee – Charné – vir haar intreepreek. Bid ook dat sy en haar gesin – Ruan en Emma – baie geseënde en voorspoedige tye by ons sal beleef.
5 Februarie – Maandag – Sendelinge in Midde-Ooste
Bid asseblief vir alle Christene wat in die Midde- Ooste en Asië woon om steeds met vrymoedigheid te getuig en dat hul ook beskerm sal word in die onstuimige tye.
6 Februarie – Dinsdag – Oorbesteding
Mense is geneig om oor te bestee en in kompetisie te wees. Bid teen die neiging van oorbesteding en dat hulle sal kyk na hul uitgawes.
7 Februarie – Woensdag – Werksaansoeke
Bid vir werksgeleenthede vir die studente wat hulle studies voltooi en hul grade, diplomas of sertifikate ontvang het. Bid ook dat hulle hul lewe en toekoms aan God sal toevertrou vir die regte geleenthede en leiding.
8 Februarie – Donderdag – Verslawing
Ons bid vir soveel mense wat vasgevang is deur een of ander vorm van verslawing soos alkohol, dwelms, kos, tegnologie of slegte gewoontes. Bid vir die Vader se Helende Hand en Sorg.
9 Februarie – Vrydag – Siektes
Met al die baie siektes wat vorendag kom, bid ons dat God met die mens sal wees en dat Hy uitkoms vir ons sal voorsien. Ons bid ook vir die Navorsers wat elke dag nuwe behandelings en medikasie toets vir die verskillende siektes.
10 Februarie – Saterdag – Wêreldvrede
Daar is soveel onrus in die wêreld en vra ons, dat as dit die Here se Wil is, om weer vrede in die lande te bring en dat die mensdom sal leer om in vrede saam te leef.
11 Februarie – Sondag – Lydensweek
“Vader, vandag bid ons vir die tydperk van Lydensweke wat voorlê tot en met Paasfees. Ons dink in die besonder aan Jesus en dat hy vir ons sondes gesterf het en ons dank U daarvoor”.
12 Februarie – Maandag – Skinder
“Here, ons weet U haat skinder en vandag vra ons om verskoning vir die kere wat ons nie gedink het nie en ander mense beskinder het. Help ons om bedag te wees op ons woorde”.
13 Februarie – Dinsdag – Huwelike
Bid vandag vir huwelike, verhoudings tussen ouers en kinders en tussen kinders en kinders onder mekaar. Bid vir sagte harte in die daaglikse omgang met mekaar.
14 Februarie – Woensdag- As Woensdag
Hierdie dag gee ons die geleetheid tot nadenke en boete doening van ons sondes. Ons kom verootmoedig ons dus voor die Here en vra vir vergewing van ons sondes.
15 Februarie – Donderdag – Polisie
Die Polisie waag elke dag hulle lewens in ‘n wettelose samelewing en daarom bid ons vandag spesiaal vir hul veiligheid en ook insig om situasies te ontlont op ‘n vreedsame manier, waar nodig.
16 Februarie – Vrydag – Mediese Personeel
Bring mediese personeel in hospitale, noodeenhede en nasorg fasiliteite in gebed na God. Bid vir hulle vir krag, akkurate diagnoses, geduld en liefdevolle sorg aan hul pasiënte.
17 Februarie – Saterdag – Misbruik van ons aarde
“Here, aardverwarming bly ‘n realiteit en die is mens besig om die aarde te verniel. Ons bid dat U hul oë sal open om te sien waar hul hul optredes moet verander om ons aarde te beskerm”.
18 Februarie – Sondag – Huis JJ Watson vir Bejaardes
Mag ons vandag met ons gebede in besonder aan ons bejaardes dink en ook aan die gemeente se bydrae tot Huis JJ Watson vir die nodige fondse om hulle te bedien en versorg.
19 Februarie – Maandag – Opvoedingstake
Ons bid vandag baie ernstig vir die belangrike taak van opvoeders en vra dat probleme wat tans ondervind word, spoedig opgelos sal word, sodat leerkragte hul ten volle by die opvoeding van die jeug kan bepaal.
20 Februarie – Dinsdag – Gevangenes
Bid dat gevangenes, veral jongmense, ‘n persoonlike openbaring van die liefde van Christus sal ervaar. Ons bid ook dat hulle ten volle gerehabiliteer sal word en weer kan deelneem op ‘n sinvolle manier in die gemeenskap.
21 Februarie – Woensdag – Eer aan God
Bid dat ons gemeente elke dag van die week en nie net Sondae, alle eer aan ons Hemelse Vader sal gee en besef dat Hy die middelpunt van alles en elkeen is.
22 Februarie – Donderdag – Wysheid en Insig deur die Gees
Ons bid vandag dat die Heilige Gees ons sal vul met Wysheid en Insig en die nodige Leiding sal gee om elke dag volgens die Here se Wil te leef.
23 Februarie – Vrydag – Leraars en ander Pastorale leiers
Vandag bid ons in besonder vir ons geestelike leiers en leraars vir hulle gesinne, hulle gesondheid, hulle huwelike en bid teendie aanvalle van die bose, kritiek, misverstande, en moegheid.
24 Februarie – Saterdag – Geestelike Byeenkomste
Kom ons bid vir al die groepe wat in die gemeente bymekaarkom asook die geestelike groepies in Wolwedans en ander areas en dat sulke uitreike en byeenkomste geseend sal wees en hulle vol moed weer die woord verder sal versprei.
25 Februarie – Sondag – Hartenbos Versorgingsoord
Ons gemeente is baie betrokke by Hartenbos versorginsoord en gee dan ook elke jaar van ons fondse vir hulle werk wat hulle doen. Bid asseblief vir oop hande en harte en dat ons gemeente die nood sal raaksien en mildelik daarvoor sal skenk.
26 Februarie – Maandag – Owerheid
Ons bid vandag vir ons Regering (Rom 13 :1-7). Die owerhede is daar deur God se beskikking. “Here, Ons vra ernstig dat U Gees harte en lewens sal verander en dat magsug, hebsug, korrupsie en misdaad uitgeroei sal word in ons pragland.”
27 Februarie – Dinsdag – Kerkraadsvergadering
Bid vandag vir ons kerkraad waar hulle belangrike besluite vir ons gemeente se vooruitgang bespreek. Bid dat God se Wil ook hier geskied.
28 Februarie – Woensdag – Hoe leef ek?
“Here, ek bid vandag vir myself en vir die manier hoe ek leef. Ek vra dat U sal uitwys waar ek nie korrek optree volgens U Woord nie en help my ook dat ek U Naam sal eer waar ek ookal gaan”.
29 Februarie – Donderdag – Ekstra dag
Ons kry vandag ‘n ekstra dag. Vra vandag vir genade om te bid vir ons vyande en om hulle te vergewe – die wat teen ons verkeerd opgetree het.
“Your life is the message to the world. Make sure it is inspiring”