”…mag daar vrede wees by jou verdedigingswal, rustigheid in jou vestings. Ter wille van my broers en vriende sê ek graag: “Mag daar vrede in jou wees!””
(Ps. 122: 7-820)
Vrede beskryf die ideale toestand in die lewe. ‘n Lewe in harmonie met elke faset van ‘n mens se lewe. Dit lei tot ‘n gemoedsrus, wat ons nie kan begryp nie.
Hoeveel vrede het jy?
Elkeen van ons het al dikwels tye van onsteltenis, vrees en bangheid beleef. Ons hoef maar net na die toestande wêreldwyd te kyk, om te weet daar is min vrede wat deur mense bewerkstellig word. Elkeen van ons ken ons eie hart, en weet alles wat ons deur die lewe gedoen het – dit opsig self is genoeg om jou gemoedstoestand ontstelt te laat.
Ons weet nie hoe om dinge ongedaan te maak wat verkeerd is hier op hierdie aarde nie. Ons wil ons bes doen, maar dit lei nie noodwendig na vrede binne-in jou nie. Jesaja wys ons mooi daarop om nie onsteld te wees en van vrees verlam te wees nie. Hoe kry ons dus vrede in ons gemoed? Wanneer siekte, ongemaklike verhoudings of selfs dood ons paaie kruis, hoe vind ons vrede? Hoe gaan ons vorentoe?
Selfs die dissipels was ontsteld toe hulle deur Jesus ingelig is dat een van hulle hom gaan verraai. Elkeen van hulle het gewonder of dit dalk hulle gaan wees. Daardie onsekerheid van hoe mens gaan reageer op sekere situasies laat die vrede in jou hart van jou wyk.
Teksverse:
“Julle moet nie ontsteld wees nie, moenie deur vrees verlam word nie.” (Jes. 44: 820);
“Laat al hulle boosheid voor U kom, en doen aan hulle wat U aan my gedoen het oor al my oortredings. Ja, ek sug baie en my hart is ontsteld.” (Kla. 1: 2220);
“Terwyl hulle geëet het, het Hy gesê: “Amen, Ek sê vir julle: Een van julle sal My verraai.”Hulle was baie ontsteld, en een ná die ander het Hom begin vra: “Dit is seker nie ek nie, Here?“” (Matt. 26: 21-2220)
Hoe verkry ons vrede?
Die hele Nuwe Testament verseker ons dat Jesus Christus vrede kom nalaat het. Maar Hy wys daarop dat dit nie die vrede van die wêreld is nie. Ons kan dus alleenlik deur Jesus Christus opregte vrede verkry in ons binneste. Dit is nie die vrede wat die wêreld ons kan gee nie, maar Hy verseker ons dat ons nie ontsteld of bang hoef te wees nie. Wanneer ons vrygespreek word deur God, op grond van wat Jesus Christus ons Here gedoen het, kan ons mense van vrede word.
Dis dan dat ons begin streef om in vrede met ons medemens te leef. Dis dan wanneer die vrug van die Helige Gees toegang tot ons harte verkry, en vrede in ons bewerkstellig. Dan sal ons mekaar kan opbou en bevorder. Ons moet dus vredemakers word, deur in gebed vir die genadegawe van vrede te vra.
Wanneer ons hierdie afhanklik van God se genade besef en begin leef, kan ons vrede kry, omdat ons saligheid slegs deur Jesus Christus se Verlossingdaad verkry kan word.
Teksverse:
“Vrede laat Ek vir julle na – my vrede gee Ek julle. Ek gee dit nie vir julle soos die wêreld dit gee nie. Laat julle harte nie ontsteld en bang wees nie.” (Joh. 14: 2720);
“En Hy het vrede as goeie boodskap aan julle kom verkondig, aan julle wat ver was, en ook vrede aan diegene wat naby was.” (Ef. 2: 1720);
“Omdat ons dan nou op grond van geloof geregverdig is, het ons vrede by God deur ons Here Jesus Christus.” (Rom. 5: 120);
“Kom ons streef dan na die dinge wat onderlinge vrede en mekaar se opbou bevorder.” (Rom. 14: 1920);
“Daarom spoor ek julle aan, ek, wat ter wille van die Here ‘n gevangene is, om so te leef dat julle die roeping waarmee julle geroep is: deur mekaar met volkome nederigheid en saggeaardheid, en met geduld in liefde te verdra, en julle daarop toe te lê om die eenheid wat die Gees bewerk, te bewaar deur die band van vrede -.” (Ef. 4: 1-320);
“Maar die wysheid van bo is in die eerste plek suiwer, en verder ook vredeliewend, bedagsaam, inskiklik, vol deernis en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins. En die vrug van geregtigheid word in vrede gesaai vir hulle wat vrede maak.” (Jak. 3: 17-1820)


