Hoor my gebed! “Kyk, en U sal sien dat ek dag en nag vir die mense van Israel, u dienaars, intree in gebed. Ek bely dat ons teen U gesondig het. Selfs ook ek en my familie het sonde gedoen! – Neh.1:6
1 November – Sondag – Radio FEBA fonds
Radio FEBA doen uitreike en getuienis d.m.v. die radio in verskeie wêrelddele. Bid dat die gemeente sal geldelik bydra en help met hul diens.
2 November – Maandag – Ons Leiers
Ons verloor daagliks meer en meer vertroue in ons leiers. Bid asseblief ernstig dat die Here ook onder ons leiers Sy kinders sal laat leiding neem. Vra dat die Here vir Mnr Ramaphosa lig en leiding sal gee.
3 November – Dinsdag – Vergewing
“…. en vergeef ons ons oortredinge soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree.” (Mat. 6:12) “Here, hoe maklik bid ons van kleintyd af die Onse Vader-gebed. Gee vir ons asseblief genade dat ons werklik sal vergewe en vergeet, sonder om te verwyt.”
4 November – Woensdag – Versorgingsoorde
Bid vandag vir alle versorgingsoorde: weeshuise, huise vir gestremdes, vir bejaardes, asook vir privaat persone wat individue versorg. “Julle moet reg laat geskied aan die mens in nood en aan die weeskind, …”(Ps. 82:3).
5 November – Donderdag – Kudde van God
Pas die kudde van God wat aan julle toevertrou is, goed op [..] uit toegewydheid [..] deur ‘n voorbeeld vir die kudde te wees.” (1 Pet. 5:3)
6 November – Vrydag – Ekonomie
Die ekonomie in ons land is besig om so te verswak dat al hoe meer mense nie in hul basiese behoeftes kan voorsien nie. Gevolglik wend baie hulle tot onwettige praktyke. Kom ons dra almal en alles aan die Here op.
7 November – Saterdag – Kindersorg fonds
Môre moet ons bydra tot die Kindersorg. Gee dat mense mildelik sal gee vir die Kindersorg wat uitreik na ons dorp se behoeftes onder die kinders wat swaarkry en nie altyd iets het om te eet nie.
8 November – Sondag – Kinderdankoffer
Die kinders kan vandag n bydrae lewer met hul dankoffer. Bid dat die ouers vir hul sal leer van uitreik en omgee en hulp vir die minderbevoorregtes en dat dit een manier is om te wys jy gee om en om God se Koninkryk te help.
9 November – Maandag – Sendelinge
Dank die Here vir elkeen wat bereid is om in vreemde lande die Woord te gaan verkondig. Bid vir ons sendelinge dat hulle die goeie geloof sal behou in moeilike omstandighede en dat ons gemeente ook geldelik sal bydra.
10 November – Dinsdag – Twyfel en onsekerheid
In tye van twyfel en onsekerheid in die wêreld, bid ons dat mense hul toevlug by Jesus sal vind en dit ook by hul medegelowige sal tuisbring en uitleef.
11 November – Woensdag – Bybelstudie
“Dankie Here vir elke Bybelstudie-groepie in ons gemeente. Bind ons asseblief saam deur U Woord te lees en uit te leef.” Nooi asseblief meer mense om deel te neem aan die Bybelstudie.
12 November – Donderdag – Vrug van die Gees
Bid dat ons as gemeente die Vrug van die Gees al hoe meer sigbaar sal uitleef dat ander mense dit sal raaksien en daardeur na Jesus getrek word.
13 November – Vrydag – Televisieprogramme
Is u bereid om saam met Jesus na die televisie-program wat u geniet, te kyk, veral as daar kinders saam kyk? “Hy wat ontsag het vir die Here, geniet sekuriteit; sy kinders vind vastigheid by hom” (Spr. 14:26).
14 November – Saterdag – Geopende Deure fonds
Op hul webtuiste wys hulle die lande wat die meeste aangeval word. Ons bid egter vandag vir LAOS waar 40 jong gelowiges se Christen-kamp verniel is deur die owerhede en hul lewe in gevaar is.
15 November – Sondag – Biddag vir Beskermingsdienste
Ons bid vandag vir ons beskermingsdienste en die werk wat hulle doen om ons land en sy mense te te beskerm. Gee ook dat mense landwyd sal saamstaan en sal intree vir hierdie gevaarlike werk wat hulle verrig.
16 November – Maandag – Toegewyd
Buig jul knieë en bid dat die mensdom weer toegewyd aan God sal wees en so sal besef dat hulle niks is sonder Hom nie en dat hul getrou elke dag Sy Woord sal opsoek en oordink.
17 November – Dinsdag – Afhanklikheid van Alkohol en dwelms
Alkohol en dwelms is deesdae vrylik beskikbaar en bid ons vir die mense wat afhanklik is dat hulle die besef sal kry dat hulle hulp nodig het vir hulle seer en dat hulle hulp op die regte plek sal gaan soek.
18 November – Woensdag – Politiek
Ons vra vandag dat U aan ons leiers van ons land dink en bid dat hulle korrupsie sal uitroei en weer ons land sal ophef tot die pragland wat hy eens was en dat ander lande by Suid Afrika sal wil kom kers opsteek.
19 November – Donderdag – Huwelike
Die duiwel loop rond soos ‘n brullende leeu. Bid dat die huweliksmaats dit sal besef en raaksien en daadwerklik sal optree om mekaar te eerbiedig en eer en sal saambid om hul huwelik te beskerm.
20 November – Vrydag – Verpleegsters
Verpleegsters werk onbaatsugtig en lang ure en wil ons vandag aan hulle harde werk dink en vra dat hulle die krag en lus sal hê om pasiënte te behandel.
21 November – Saterdag – Kankervereniging fonds
Kanker is deesdae een van die siektes wat die meeste voorkom en help die kankervereniging baie met bystand en fondse vir bewusmaking en mediese hulp. Bid dat ons gemeente ook hier die nodigheid sal insien om geldelik te ondersteun.
22 November – Sondag – Christus die Koning
Ons vier vandag die afsluiting van die kerkjaar en ook dat Christus die ware koning is wat oor die hele wêreld is.
23 November – Maandag – Prys God
Kom ons sing ‘n nuwe lied vir God vir al sy seëninge en ons dank Hom spesiaal vir ‘n wêreld so mooi waarin ons mildelik uit Sy Hand ontvang.
24 November – Dinsdag – Gevangenes
Mag ons vandag bid vir alle gevangenes dat hulle deur die sendingwerk van ons gemeentelede ook die Gees van God sal aanvaar en God sal leer ken en Hom sal aanvaar as Hul Heer en Meester.
25 November – Woensdag – Gesondheidsdienste
Vra Jesus se direkte leiding vir die ambulansmense, doktors, verpleegsters asook die personeel in hospitale en bid ook vir hulle families om hulle die nodige ondersteuning te gee.
26 November – Donderdag – Sosiale Media
“Jesus, ons bid vandag vir mense wat op sosiale media besigheid doen of heeldag op dit is en wat in die donker web vasgevang word en so nie by die Here uitkom nie.”
27 November – Vrydag – Kerssangdiens
Loof en prys U grote Naam in elke land. Kom ons juig en bring al ons eer aan God die Heer en aan Sy Seun wat vir ons sondes gesterf het.
28 November – Saterdag – Up with Downs Fonds
Sondag gee ons fondse vir Up with Downs om hulle te help met fondse om hierdie onbaatsugtige diens te lewer en hul versorging te steun, waar mense nie altyd bydra tot hul geldelike nood nie.
29 November – Sondag – Eerste Advent
Dit is die eerste Sondag van vier weke van afwagting en voorbereiding op die viering van Jesus se geboorte. Die tydperk herinner gelowiges ook aan Jesus se beloofde wederkoms.
30 November – Maandag – Groenewald Fonds
Die Groenewaldfonds is gestig om ‘n gemeentelid se kind geldelik te help om te gaan leer en bid ons dat die fonds reg aangewend sal word en die regte kind sal ondersteun.


