Missie Japan – 20 April 2022

Missie Japan Nuusflits – 20 April 2022Lees hierdie e-pos via die internet
      
Annlie saam met ander jongmense by ‘n onlangse RCJ kerk kamp ‘n Ontevrede Sendeling?  KLIEK HIER OM NA HIERDIE NUUSFLITS TE LUISTER  Beste Ondersteuner
 
So ‘n vae gevoel van ontevredenheid … wat laag-laag lê. Dit krap hier, en skaaf daar… jy probeer dit peil en die bron daarvan vind. Jy probeer dit weg “entertain”… maar dit kruip altyd weer terug.   
 
Ontevrede … onvergenoegd. Maak nie saak wat die bron daarvan is nie … dit gebeur meestal omdat ons op onsself fokus. Ek fokus op wat EK ontvang. Die produk van MY werk – wat EK vermag het. Of die terugvoer wat EK kry nadat ek baie tyd en moeite in iets ingesit het. En wanneer die uitset skraal blyk te wees en wanneer die terugvoer meestal afwesig is, of ek nie ontvang wat ek dink ek behoort te ontvang nie, dan is ek ontevrede en onvergenoegd.
 
Hier in Japan is dit moeilik om nie te trap in die strik van klagtes nie. Sjoe, ‘n mens sien min vrug. Dit lyk asof nie veel gebeur nie. In elk geval nie (sigbaar) bó die oppervlak nie. In die kerklike bediening is die getal deelnemers meestal klein. Mense se terugvoer is gedemp. Japannese is nie juis bekend vir hulle groot emosionele reaksies of hul toegeneentheid tot die Christendom nie. Dis hoe dit was van vóór Covid af.
 
En nou?
 
Miskien moet julle dit sien voor julle dit sal glo, want in Suid-Afrika (soos in talle ander Westerse lande) het meeste mense besluit: dis sommer nonsens, ons gaan nou weer kuier soos in die ‘goeie ou dae’. Maskers waai; mense braai saam en speel saam en kuier lekker in groot groepe. 
 
Hier in Japan is daar nog baie huiwering. Covid-19 is nog daagliks in die nuus met presiese getalle en waarskuwings dat die nuwe XE variant blykbaar nog vinniger versprei. Aktiwitete word nog gereeld onverwags afgestel. Baie afsprake is nog op Zoom. As jou werk enigsins ‘n konneksie met die mediese wêreld het, word daar van jou verwag om glad nie na restaurante te gaan nie ensovoorts.
 
Ons Van der Watts, met Westerse bloed wat sterk deur ons are bruis, tesame met ons Janaurie Covid-infeksie vuurdoop, het weer baie mense in ons huis. Amper weekliks kry ons gaste, maar met die groot verskil dat almal hul maskers heeltyd ophou. Letterlik. Tydens ete word dit vinnig afgehaal, maar tussen die hoofgereg en die koffie is die masker dadelik weer op.  
 
Onthou jy nog hoe jy gevoel het gedurende die ergste tye van Covid inperkings? Die sterk behoefte aan interaksie. Die ewe skielike diep besef dat isolasie op die lang termyn lei na ‘n amper hopelose en ‘n magtelose eensaamheid. Ons het mekaar nodig. Ons het lewende warm-bloedige mense om ons nodig wat ons nie-virtueel kan aanraak, vashou. Nietemin is selfopgelegde isolasie (of sosiale druk isolasie) steeds baie mense in Japan se realiteit. 
 
Ohnishi sensei – wat vir twee jaar in Suid-Afrika (Bloemfontein) studeer het, saam met sy vrou Miho en drie dogters – kuier by ons. Hy en Miho san is baie bekommerd oor die Japanese kerk. Die emosionele en geestelike nood wat in die kerk ervaar word was natuurlik voor Covid al daar, miskien net meer onsigbaar. Die kerk is immers baie klein, met min jong mense. Maar nou het die pandemie al die angs, eensaamheid en isolasie soos ‘n groot golf oor almal laat spoel.
 
Natuurlik het Covid-19, asook die individualistiese tydsgees, ook ‘n negatiewe effek op Suid-Afrikaanse gemeentes. Maar die getalle in Japannese kerke is reeds so klein. Mense voel ontmoedig en magteloos. Predikante is moeg. Stéphan begin onlangs weer gereeld by kerke oraloor Japan preek – waar daar nie leraars is nie, of waar hulle uitgeput en onder druk is. Japanese predikante het een Sondag per jaar af. Op daardie Sondag (wat hulle af is), sal hulle steeds baie duidelik en pertinent vir hulle gemeente vertel waar hulle wel ‘n erediens gaan bywoon. Want eredienste beteken gemeenskap. En bemoediging.
 
En ek dink dis miskien op hierdie punt wat ek ‘n nuwe vlaag van ontevredenheid begin ervaar het. Ons het al in baie nuusbriewe eerlik gedeel dat Christene in Japan maklik geïsoleerd voel. Wag! Geïsoleerd klink heeltemal te abstrak. Ons voel ALLEEN. Die geleenthede raak al hoe minder. Daarom bid ons. En ons wag en wonder hoe God opnuut wel deure sal oopmaak. Dis waar dat ons al ‘n geruime tyd met baie groter vrymoedigheid weer baie gaste ontvang. Maar dit bly ‘n gesukkel om mense selfs in die kerk in hierdie Covid-versigtheid te bereik, wat nog van diegene ‘buite’ die kerk.
 
Verlede week, op die Sondag voor Jesus gekruisig is, preek Kawase sensei – ‘n Japanese predikant wat nou saam met sy vrou en sy vier kinders na Hongarye as sendeling gestuur word. As ons aan die sendingveld in Japan dink is die Groot Opdrag (Matt. 28) op ons harte. Ons dink ook aan die veld wat ryp is vir oes, maar die arbeiders min (Matt. 9:37). En verder, hoe lieflik die voetstappe is van die een wat die goeie boodskap bring (Jes. 52:7). Ons wonder hoe mense kan glo as hulle nog nooit die evangelie gehoor het nie (Rom. 10:14).  Elke liewe gedeelte in die Bybel wat sending aanraak eggo vir Japan. Hier waar mense dink paasfees is letterlik ‘n fees van hase en eiers, en Kersfees is Santa-san (Kersvaderse verjaardag. Hoekom dan, as Japan self so dringend sendelinge nodig het, stuur hulle een van hul eie predikante na Hongarye as sendeling om die Gereformeerde Kerk in Hongarye te ondersteun?  
 
Kawase sensei kan dit beter verduidelik. Die Japanese kerk (en ons en julle) is OF ‘n pyp OF ‘n emmer. Die lewende water van Jesus kan óf opgegaar word in ‘n emmer, en as dit oorloop doelloos vermors word … OF dit kan soos deur ‘n pyp die lewende Woord vrylik laat vloei na ander. 
 
Die Japanese kerk, en ons wat hier probeer om ook ‘n pyp te wees vir die enigste water wat jou nooit weer sal laat dors raak nie, is so breekbaar. Skraal. Weerloos. Maar tog lê hierin, in die swakheid wat vir die wêreld na onsin klink, die krag van sy opstanding.
 
En om te keer dat ons raak soos die Israeliete wat begin kla het oor die sonder-afwisseling-manna-elke-dag, die Israeliete wat onvergenoegd vergeet het van wat God reeds gedoen het en wat hy belowe het vir hul toekoms, praat ons hard met onsself (of/en laat ons toe dat die Heilige Gees ons bemoedig en lei):
 
Want, in die gee, in die dankbare vertroue dat wat ek nou het, genoeg is … en dat God weet van ons stofwees en van ons drome vir Japan en vir Suid-Afrika, lê ons elkeen se vrede. Deur te vertrou en te glo: Die Here voorsien (Genesis 22:14).  En in die gee en die soeke om tydig en ontydig die boodskap te verkondig, loop die lewende water en spoel die onvergenoegheid weg. Want om te gee (ook in die klein Japannese kerk), ontvang jy terselftertyd vrede, en word jy die geleier van Jesus se vrede en van sy kruisdood wat nie verniet was nie.  
 
Ek vermoed Christina Rosetti verduidelik dit baie beter as wat ek sukkelend probeer doen. 

A Better Resurrection
I have no wit, no words, no tears; 
My heart within me like a stone 
Is numb’d too much for hopes or fears; 
Look right, look left, I dwell alone; 
I lift mine eyes, but dimm’d with grief 
No everlasting hills I see; 
My life is in the falling leaf: 
O Jesus, quicken me. 
 
My life is like a faded leaf, 
My harvest dwindled to a husk: 
Truly my life is void and brief 
And tedious in the barren dusk; 
My life is like a frozen thing, 
No bud nor greenness can I see: 
Yet rise it shall—the sap of Spring; 
O Jesus, rise in me. 
 
My life is like a broken bowl, 
A broken bowl that cannot hold 
One drop of water for my soul 
Or cordial in the searching cold; 
Cast in the fire the perish’d thing; 
Melt and remould it, till it be 
A royal cup for Him, my King: 
O Jesus, drink of me. 
 
Dankie, Here, dat U steeds deur alle omstandighede ons vorm en verander om vir U bruikbaar te word.
 
Groete,
Carina

——————————————
 
Galasiërs 6: 9-10: Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel. Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen, veral aan ons medegelowiges.  

——————————————    Van links bo na regs onder:
1. Stéphan preek RCJ Tajimi se Paasfees erediens 
2. Ons nuwe leraar (ds. Nishibori) saam met sy vrou en seun eet by ons
3. Gesellige kuier saam met die Ohnishi gesin
4. Annlie kuier saam met twee vroue uit ons gemeente
5. Annlie speel gitaar by ons Paasfees (buitelug) Kinderdiens  MAAK ‘N BYDRAE VIR MISSIE JAPAN  GEBEDSVERSOEKE
Bid asseblief saam vir die Here se sorg en leiding met:Maandag, 24 April kom ‘n groep vroue na ons huis waar ek ‘n powerpoint aanbieding sal doen oor die geskiedenis van brood, die simboliek van brood in die Bybel, en dan sal ons almal saam brood bak (meeste Jappanese het nog nooit brood gebak nie).’n Sport(s)- en Braaivleisdag wat ons beplan vir jong mense uit gemeentes in ons omgewing. Die tema: Wysheid voor jy Grys word.  FacebookWebsite
Copyright © 2022 Mission Japan, All rights reserved.
Jy ontvang hierdie e-pos omdat jy op ‘n manier betrokke is by Missie Japan.

Our mailing address is:Mission JapanKita KuShobu Ga Oka 3-1-3Kobe City, Hyogo Prefecture 651-1306Japan
Add us to your address book