Michele Potgieter – Reni, Oekraïne

Liewe gebedsvriende en familie 
Gister was dit twee weke vandat die Here vir Ockert kom haal het. Presies twintig dae na my pa.
Wat ek hierdie maand deur gegaan het, kan ek nie woorde om sit nie. Maar ek gaan probeer. My hart is stukkend, gebreek. Ek kan dit nog nie tenvolle begryp nie. Maar, die Here is goed en Hy is getrou. Hy gee krag. Ek wil net Sy naam loof en prys want Hy dra ons wanneer ons op ons swakste is, dan maak Hy ons sterk.


Wanneer ek nou terug kyk, sien ek hoe Vader alles beplan het. ‘n Volle sirkel. Hy het vir my, Ockert, pa Hannes en ma Magda en die kinders wat in Oekraine was, ‘n hele twee weke saam gegee in Lviv.Dit was Pappa Hannes se droom om weer Lviv toe te gaan. Lviv, met sy ou straatjies en mooi ou geboue. Pappa en Mamma het vir ons ‘n plekkie in daar gekry in die ou dorp. Dit was ‘n kosbare tyd. Ek en Ockert het in die aande hand aan hand, in die straatjies rondgestap en na die straat-musikante geluister.  Ons laaste uitgaan aand in Lviv het ons onder bome vol liggies gesit en sop eet, so langs die ou stadsmuur.   Net ons twee. Verlief, meer as die dag toe ons getroud was.  Soveel mooi herinneringe. Ockert het Pa Hannes se arm gevat en ondersteun terwyl ons stadig die hele ou stad verken het.Elke dag was ‘n nuwe avontuur, ‘n nuwe plekkie om te gaan koffie drink. Dit was goue dae, vol dae. Die mooiste, mooiste dae. Herinneringe vir die jare wat kom.Ons het almal saam Suid-Afrika toe gevlieg en vir ‘n paar dae in Pretoria oorgebly. Daarna is ons af Oos Kaap toe. Ockert kon nie wag om te begin ry nie! Ons was soos kinders opgewonde.Sommer in die Karoo gestop en in die pad gestaan en foto’s geneem. Soos twee kinders het ons hoog gespring terwyl ons kinders ons afneem. Hierdie jaar was dit Ockert se begeerte om weer in tannie Anna se huis te gaan bly, in Kleinbrak. Ons was vir ongeveer 10 jaar nie daar nie, maar die jaar wou hy so graag terug gaan na dié  huis. Ma Magda het gereël en ons was so opgewonde. Kleinbrak se huis is deel van ons storie. Ek en Ockert het mekaar so vier maande geken, toe hy my gevra het om saam met hom, Jan, Petro (wat ons aanmekaar voorgestel het) en hulle kinders na Kleinbrak te gaan. Terwyl ons daar was, sommer op die eerste dag, het hy vir die Here gevra om vir hom te bevestig, ‘n teken te gee, of ek sy vrou is. Terwyl ons op die strand gestap het, het hy vir die Here gevra dat een van die kinders iets moet sê oor ons twee. Hy het skaars klaar gebid, toe Talita na hom toe hardloop met die vraag: Oom Ockert en tannie Michele gaan mos trou?
Ons is die volgende Januarie getroud en twee weke na ons troue is ons sak en pak Oekraine toe. Met sakke geloof en ‘n belofte van die Here. Reni gaan ‘n stad van geloof word.Deur al die jare was ons ‘n paar keer weer Kleinbrak toe. Soveel herinneringe van toe ons kindertjies klein was. Die huis is reg op die strand en ons kan sommer net met die paadtjie afgehardloop en gaan swem. Deur die jare het die Here ons geseën met vyf pragtige kinders. Op 30 September 2021 het ons vir die eerste keer in jare in die huis ingestap. Dit het gereën. Ons het die blindings weggetrek en musiek aangesit, terwyl ons in stilte na die storm op die see gekyk het. Vangelis – Conquest of Paradise. Net die regte musiek vit ‘n storm op die see. Ons het vir mekaar oor en oor gese hoe mooi dit is.  Ons het net daar gesit en gekyk na die branders en elke oomblik geniet. Pappa en Mamma het ook af gevlieg en by ons aangesluit en ons het ‘n wonderlike paar dae gehad. 
Die 4de Oktober het Ockert begin siek word. Hy is na die staatshospitaal in George waar hy heel oggend, in ‘n ry by ongevalle gesit het. Niemand het hom gebel nie. Teen midddagete het ons besluit om maar Medi Clinic toe te gaan.Daar is plate geneem van sy longe en die dokter het gese dat hy pneumonia het.  Ons is huistoe gestuur met medikasie. Die laaste twee dae, het hy net op die bank gesit en oor die see uitgekyk. Ek het my kop teen sy skouer gesit. Na ‘n rukkie het hy gese: “Ek is moeg. Geestelik moeg. Ons is moeg. Dit was ‘n moeilike jaar. Ons is op uitbranding”  Weer in stilte na die golwe gekyk. Ons het nie besef hoe siek hy was nie. Ockert het nie gekla nie. Ons het sy suurstofvlakke dopgehou en ook vir hom, na ‘n lang gesukkel, ‘n bottel suurstof gekry. Hy het die Vrydagaand met die suurstof geslaap, maar teen vroegoggend was sy suurstofvlakke nog laer.Vriende in George het gehelp om ‘n ambulans te kry. Ek kon saam met hom in die ambulans ry en in ongevalle die hele dag by hom wees. Die dokter het weer laat plante neem en vier keer bloed getrek om te toets. Hy het gese dat Ockert ICU toe moet gaan. Na ure se wag het hy kom sê dat Ockert se longe baie sleg lyk. Hy het gevra of hy vir Ockert kan bid. Hy het sy hand op Ockert se bors gesit en kragtig begin bid. Daarna het hy vir ons gese, dat dit dalk die laaste keer sal wees, wat ons mekaar gaan sien. Julle moet mekaar groet. Ek en Ockert het lank na mekaar gekyk. Dit was onwerklik. Dit kan nie waar wees nie. Ons is saam geroep vir die bediening. Die werk in Reni is nie klaar nie. Reni is nog nie ‘n stad van geloof nie. Dit is onmoontlik, want ons kan nie sonder mekaar nie. Ons is heeltyd bymekaar. Ons gaan oral saam. Ons kan nie geskei word nie. Ek vat dit nie. Die Here gaan hom gesond maak.  Ek het net in daardie blou, blou oë gekyk en het geen woorde gehad nie. Ek het die gedagte uit my kop geskuif en net vir hom gese dat ons vir hom bid, almal bid vir hom. Hy gaan gesond word en ek wag net hier vir hom en dat ek hom amper weer sien.
Teen laatmiddag het hulle gesê dat hulle vir Ockert na ICU gaan skuif. Ockert het die dokter gevra om aan te teken dat hy net nie op ‘n ventilator wil wees nie. Dit is sy besluit. Hy het dit oor en oor vir die dokter geseEk het hom oor en oor op sy wang gesoen langs die suurstof masker en al die pypies. Oor en oor, oor sy hare gestreel. In sy diep blou oë gekyk. Dit is onmoontlik dat ek hom nie weer gaan sien nie.Hulle het sy suurstof ontkoppel en uit die muur en gekoppel aan ‘n suurstof bottel op sy bed. Net toe hulle sy bed begin wegstoot, spring Ockert regop, kyk by die venster uit en waai. Net buite die venster staan ons liewe vriende Philip en Andiah. Philip stop die verpleegster en vra of hulle net gou saam met ons kan bid. Ek lê my hand op Ockert en deur die venster hou ek hulle hande vas. Philip bid. Ons almal huil. Hulle het om die hospitaal geloop en gekyk met die hoop om ons dalk sien en indien nie, loop hulle maar en bid, want niemand word binne toegelaat nie. Die verpleegsters begin om vir Ockert weg te stoot. Deur die masker sê hy vir oulaas vir my, met soveel liefde in sy oë…Love you. Hulle stoot hom weg, Vinnig. Ek probeer byhou en begin agter hulle aan hardloop in die lang gang. Verder en verder weg. Ek begin onbegeerlik huil en dit voel asof die lang gang my insluk. Hulle gaan met Ockert by ‘n deur in aan die einde van die gang en ek word voorgekeer. Op die deur staan Covid ICU.  Ek draai om. Waarheen gaan ek nou? Ek huil so terwyl ek deur al die mense stap. Buite die hospitaal wag Andiah en Philip. Hulle is pastore by Familie Huis Gemeente in George. Andiah ken my vandat ek 18 is. Sy was my selleier in die koshuis in my eerstejaar en deur al die jare hartsvriende vir my en Ockert. 
Die ICU het ‘n ipad gehad waarheen ons, tydens besoektye kon bel. Ons kon mekaar sien. Ons almal se gesigte op die skerm aan die kant en aan daardie kant Ockert, my lief, wat deur die masker probeer glimlag en met groot moeite ‘n paar woorde probeer uitkry. Dan het ons maar gegroet dat hy kon rus. Maandag oggend die 11 de, het ek vroeg oggend die verpleegster gebel. Sy het gese dat Ockert ‘n onrustige nag gehad het. Die dokter het vir hom iets gegee om hom rustig te maak. Ek het gedink dat dit goed is dat hy slaap en ek gaan hom dadelik 2 uur gaan  bel wanneer dit besoektyd is. Ek, Pa en Ma en die kinders het Mosselbaai toe gery. Ons het om die punt gery en Pappa het onthou hoe ons verlede jaar daar roomys geëet het en vir die duiwe kos gegee het. Al die kinders was by ons, behalwe Benjamin Cor wat gevoel het hy wil in Oekraine moet agterbly en aangaan met die kerk en jeug.  Hy studeer  Teologie aanlyn. 
Ons het presies twee uur by die huis ingestap. Ek het net my handsak neergesit en dadelik die hospitaal gebel, om met Ockert te praat. Ek het gesien dat daar op my telefoon 12 uur ‘n oproep was van ‘n privaat nommer, maar ek het die foon eers hoor lui nie. Ek het met die verpleegster gepraat en gevra of ek met Ockert kan praat. Haar antwoord was, “Is Mevrou alleen? Is daar iemand by Mevrou? Meneer Potgieter is vanmore 11:20 oorlede”
Dit is soos ‘n groot golf wat oor die huis gespoel het, ons almal het onbeheerlik begin huil. Ek het vir Benjamin in Oekraine gebel. Hy was juis op daardie oomblik besig met ‘n belangrike aanlyn toets, wat hy net daar gestop het. Ek het vir Andiah gebel en van daardie oomblik het sy al die begrafnisreëlings oorgeneem. Sy het vir my gesê om net op die strand te gaan sit en huil.Ek het dit gedoen, maar eers wou ek met die verpleegsters praat, wat by hom was. “Hy het groot vrede gehad”, het sy gesê en sy klere en skoene in ‘n sakkie vir my gegee. Ek kon daardie aand nie slaap nie en toe dit lig word, het ek afgestap in ons paadjie tot op die strand. Ons paadjie waar ons twee afgehardloop het, as jong verliefdes. Ek was dronk van hartseer en het uit my maag soos ‘n baba gehuil. Die golf het my toegemaak en ek het gevoel asof ek verdrink. Die strand was leeg. Net ek en die Here. Ek het voor Hom op die sand, gaan lê en huil. Ek het alles in my uitgehuil. Gewonder wat nou? Ek kan nie sonder Ockert terug gaan Oekraine toe nie. Ek kan niks sonder hom doen nie. Ek gaan net hier bly, ek gaan sommer hier by die see bly waar ek kan gesond word. Ek sien nie kans om terug te gaan nie. Ek is swak en ek is ‘n klein mensie sonder Ockert. Ek weet nie hoe om in Russies ‘n Visum vir Ivan oop te maak nie. Ockert het alles gedoen. Ek kan niks sonder hom doen nie. Ek wou net daar op die strand lê en nooit weer opstaan nie. Ek het nie die krag gehad nie. Ek kan nie sonder Ockert nie. Ek is niks. My kop kan nie om die idee kom dat ek nou ‘n weduwee is nie. 
MAAR die Here het gekom en in my binneste met my begin praat. “Jou Maker is jou Man”. In Jesaja 54, deur die hele hoofstuk, gee die Here vir my soveel beloftes. Hy tel my op uit die sand en laat die branders oor my voete spoel en Hy sê vir my: “Gaan terug Reni toe, die werk is nie klaar nie. Ek is met jou. Die oes is gereed en die werkers is min. Ek sê vir jou, as ‘n koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, kan dit nie vrug bring nie. Dit moet doodgaan om bring baie vrug te bring. Staan op. Ek is met jou en Ek maak die deure voor jou oop. Ek gee vir jou krag en sal jou lei. Terwyl dit nog daglig is, moet die werkers uitgaan en werk want die nag kom en dan sal niemand meer kan werk nie. Ek is naby die wat gebroke van hart is, se die Here en verlos die wat verslae van gees is. Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou. Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.Op daardie oomblik het die Here my kom versterk en my opgetel en ek sal Hom prys vir Sy goedheid selfs voor die oop graf. Ek ek sal Sy lof besing want Hy is so, so goed. Hy gee my en die kinders elke dag nuwe krag. Hy vertroos ons en dra ons. Ek wil soos daardie vrou aan die Here se voete lê en my lewe uitgiet tot die laaste druppel. Ek wil getrou wees aan Sy roeping en terug gaan Reni toe. Ek weet nie hoe ek dit gaan doen nie. Ek weet nie hoe ek in ons huis gaan instap sonder hom nie. In ons slaapkamer, waar hy alles nog so gelos het. Daar is 25 jaar se herinneringe. Ek weet nie hoe ek ‘n dag sonder hom in Reni gaan oorleef nie, maar die Here belowe dat Hy my die krag gaan gee. Sover gaan ek en ons twee jongstes terug Reni toe. Benjamin Cor wat amper 19 word en Ivan wat 15 is. Maar in volle afhanklikheid van die Here en saam met ons leiers as ‘n span, met klein treetjies, in nederigheid sal ons dag vir dag aangaan tot die Here die deure toemaak of ons kom haal. In gehoorsaamheid en in stil wees voor Hom.
Die Here maak my sterk. Ek staan op in Sy Naam en sal saam met my God doen waarvoor Hy ons geroep het. 
Bid asseblief vir ons kinders. Vir Ivan wat op 15 sy pa verloor het. Hy het nog so baie vrae. Bid vir Benjamin Cor wat wil teruggaan Reni toe en wil aanhou om met die jeug te help. Bid vir Mari-Alena. Sy en Ockert was so naby aanmekaar. Hulle het so mooi verhouding gehad. Sy was haar pappa se prinses. Sy is nou tweede jaar onderwys student by Aros en assistent onderwysers by Lynwood laerskool. Sy is in hierdie tyd besig met haar eksamen. Bid vir Cilliers, wat nou in sy finale jaar is met Bedryfs Ingenieur studies. Bid vir werk by die regte plek, waar die Here hom wil hê. Hy is verloof aan Tanya, ‘n Oekraïeniese meisie wat in ‘n Christen huis grootgeword het. Hulle wil graag Desember in Reni trou.Bid vir Hannes-Joshua en sy vroutjie Anastasia. Hulle woon in Pretoria,  Centurion. Hannes-Joshua is al ‘n jaar sonder werk, nadat hulle saam internskap by ‘n gemeente gedoen het. 
Ek prys die Here vandag dat ek en Mamma vir Pappa Hannes uit die hospitaal kon gaan haal het. Hoe bly was hy nie om ons te sien nie! Hy kon huistoe gaan! Ons prys die Here daarvoor! 

Hou asseblief aan met bid vir ons as gesin, vir Ockert se ouers, vir die gemeente in Reni.Vir Reni. Soveel mense het begin skryf en bid en dit voel asof ek al bo op die golf dryf en asof al die gebede en liefde en omgee van almal wat geskryf en gebel het soos borreltjies lug is wat my boontoe druk. Jongmense skryf en vra of Masada en Love Reni gaan stop en ek het gesê, nee, dit gaan voort. Hulle vra of daar nog jeug aande gaan wees en ons sê dat alles voortgaan. Met die Here, gaan ons voort met  alles wat Ockert begin het. Nie ek nie, ek is swak en klein, maar met my God, spring ek oor ‘n muur. En met die leiers wat die Here opgerig het, as ‘n span, sal ons die werk voltooi, tot Hy ons kom haal. Tot Reni ‘n stad van geloof is!
Ockert het ‘n voorbeeld gestel vir ons. Hy het voetspore in die sand gelos sodat ons kan volg, vir my en ons kinders en die mense van Reni.Ek kan sien dat die mense van Reni se harte gedraai het na die Here. Hulle harte is oop. Hulle wil nou meer weet van hierdie Jesus wat Ockert geleef het.Soveel mense skryf van die liefde wat Ockert uitgeleef het, van die lig wat uit hom gestraal het. Een persoon wat nie in die gemeente is nie, skryf dat Reni nou ‘n weeskind is sonder Ockert. Laat hulle almal nou na Jesus draai, die Jesus wat Ockert al die jare verkondig het, deur sy dade en woorde.
Bid ook asseblief, want die stryd met die gebou gaan voort. Die gebou wat die Here vir ons gegee het, waar die kerk is en van waar uit ons die bediening doen. Die aasvoels wil toeslaan. Ons het gehoop dat Aliona en Kolya nou, ons aandele gaan terug gee, wat hulle twintig jaar gelede gevat het. Hulle het keer op keer gese dat hulle weet dat dit eintlik Ockert se aandele is. Ockert het daarvoor betaal en dit op Kolya se naam gesit omdat hy as buitelander nie al 70% van sy aandele op sy naam mag gesit het nie. Ons het vir Kolya so vertrou. Hulle was ons beste vriende en leiers in die gemeente.  Een van die jong manne in die gemeente het eendag vir Aliona sonder respek geantwoord. Sy was so kwaad en wou hê dat Ockert die jongman  voor al die leiers moes teregwys en verneder. Maar Ockert wou eerder alleen met die jongman praat en bid en dat hy self vir Aliona vergifnis vra. Aliona het haar is daar weg en het hart verhard. Dit is die doring in ons vlees al die jare. Sy hou net ons aandele om vir Ockert “terug te kry”. (Wat Ockert vir hulle gesin gedoen het. Toe ons vir Aliona ontmoet het  het sy met ‘n ander man gebly in groot armoede. Sy is daarna gered, haar huwelik is herstel en sy het die Here begin dien.) Sy het selfs op ‘n dag gese dat sy ons aandele in die “gees” terug gee, want sy weet dat die aandele nie aan haar behoort nie… Hulle het die afgelope week vir Valia, ons direkteur van die gebou geteister met oproepe, briewe dreigemente.  Bid asseblief vir Kolya en Aliona. Bid vir bekering. Bid vir my en Valia vir wysheid hoe om hierdie te hanteer. Sy gaan more ‘n prokureur in Izmail sien.  Ek weet dat die stryd aan die Here behoort en dat Hy vir ons veg. Ons bid ook om op die regte datum terug te gaan, soos die Here wil. Of einde November of wanneer Mari-Alena se vakansie begin. 
Met my afsluiting wil ek net sê dat die Here goed is, getrou is en so vol liefde is. Alle lof en eer kom Hom toe! 
En ek vra dat julle my asseblief sal vergewe vir enige foute in hierdie brief, want Ockert het dit altyd geproeflees wanneer ek geskryf het.   🙂 Baie liefde en seën 

Michele Potgieter
Reni, Ukraine