
Hierdie is dalk een van die belangrikste vrae wat jy moet antwoord. Dit wil voorkom asof daar altyd ’n sterk verband bestaan tussen wat mense verwag en wat hulle kry. ’n Mens sou kon sê jy kry gewoonlik wat jy verwag. Verwag jy min, sal jy min kry – en omgekeerd.
Dit is dus belangrik dat jy eers hierdie saak met jouself uitmaak:
Waarom pak ek hierdie 9 weke van transformasie aan?
Doen ek dit vrywillig; of is ek deur persone of groepe onder druk geplaas?
Wat verwag ek van die volgende 9 weke?
Ek wil jou aanmoedig om hierdie studies met ’n reuse verwagting aan te pak.
Hoekom sê ek so?
Eerstens, omdat die materiaal op die Bybel, op die Woord van die lewende God, gegrond is. Die Woord van die Here is lewendig en skerper as ’n tweesnydende swaard – sy Woord keer nooit leeg terug nie.
Tweedens, omdat die materiaal te make het met ’n werkwinkel wat al vir meer as twee jaar by gemeentes aangebied word en wat telkens deur die Here gebruik word om die lewens van mense (soms radikaal) te verander.
Derdens is hierdie ’n besondere bundel omdat dit die insette en bydraes van besondere kundiges bevat. Kyk gerus op die agterblad en jy sal verstaan waarom ek so sê.
Vierdens is die materiaal lekker leesbaar, maklik om te verstaan en word vars en nuwe maniere gebruik om te verseker dat hierdie 9 weke ’n besondere ervaring sal wees.
Vyfdens, omdat daar ’n hele netwerk van voorbidders is wat daagliks intree vir elke persoon wat met die materiaal besig is.
Laastens, omdat hierdie materiaal iets probeer openbaar van God se besondere liefde vir en betrokkenheid by sy mense. Dit gaan dus oor God; en hoe kan ons dan ooit in die teenwoordigheid van God kom sónder ’n verwagting?
Ek wil voorstel dat jy eers weer jou verwagting oordink voordat jy verder lees.
Ek wil waag om te sê dat jy met vrymoedigheid kan verwag dat jy die volgende 9 weke ’n besondere ervaring met God sal hê. Ek wil waag om te sê dat jou lewe verryk, verdiep en verander sal word. Ek wil durf sê dat jy na 9 weke sal terugkyk na vandag en erken dat jy nooit weer dieselfde sal wees nie!



