Gebedsgids – Lente 2024
29 Sep-5 Okt
Nieu-Seeland
Ons is in vennootskap met kerke, kapelaanskappe en ander organisasies om die hoop van die Bybel vir al die mense in Nieu-Seeland te bring. Bid dat ons meer as 100 000 Bybels, Nuwe Testamente, Evangelies en kinderboekies sal versprei.
Papoea-Nieu-Guinee
Bid vir ons Bybelverspreidingsprogram. Ons wil Christenskap in ons land versterk deur die Bybel in mense se hande te plaas sodat hulle meer van God kan leer.
Stille Suidsee
Bid vir die hedendaagse vertaling van die Bybel in Tongaans wat in 2025 voltooi moet word. Hierdie nuwe Bybel sal jonger generasies help om by God se Woord betrokke te raak en dit makliker te verstaan.
6-12 Okt
Oos-Timor
Bid vir Christene wat hier woon. Alhoewel hierdie land nie ’n Bybelgenootskap het nie, bid ons dat Bybelwerk wel hier sal plaasvind.
Indonesië
Bid dat ons Bybelleesplatform die jeug in ons land sal help om by die Bybel betrokke te raak en dat hulle so in hul geloof sal groei. Bid ook vir ons kerke wat deel is van hierdie projek.
Australië
Dank die Here vir die New Beginnings Bybel en die Read This Jeugbybel. Bid dat diegene wat hierdie Bybels ontvang, gelei sal word om dieper in God se Woord te delf. Ons is ook dankbaar vir die nuwe Bybelhulpmiddels wat vir die inheemse gemeenskappe beskikbaar is.
13-19 Okt
Hongkong
Dank die Here vir die Christengemeenskap in Hongkong. Bid vir die Bybelwerk wat hier plaasvind en dat God ons sal help om met sy werk voort te
gaan sodat meer mense die Bybel sal wil lees.
Taiwan
Die Bybelgenootskap wil die inwoners van Taiwan help om ’n verhouding met God deur die Bybel te bou. Bid vir God se seën oor al die vertalers en
individue wat hulle kennis en hulpbronnne gebruik om Bybelvertaling en -publikasie in die land te bevorder.
Filippyne
Bid vir die suksesvolle vertaling van die eerste Bikol Miraya Nuwe Testament. Bid veral vir die regte personeel en vennote om die projek finansieel en geestelik te ondersteun. Bid vir goeie kommunikasie en verhoudinge met plaaslike kerkleiers.
Mikronesië Vennootskap
Die klein bevolking van Mikronesië kon tot dusver nie daarin slaag om ’n plaaslike Bybelgenootskapkantoor te onderhou nie. Die Filippynse Bybelgenootskap behartig Bybelwerk in Mikronesië. Bid vir die sukses van ons doelwitte en projekte om Bybelmateriaal beskikbaar te stel en bekostigbaar te maak om Bybelbetrokkenheid te bevorder.
20-26 Okt
Bangladesj
Bid vir ons projek om die Bybel in Bangla Gebaretaal te vertaal. Hierdie projek is daarop gemik om die Gebaretaalbybel onder die Dowe gemeenskap te versprei, sodat hulle van Christus se lewe kan leer. Bid vir die koördineerder en hersieners wat vir die vertaalwerk verantwoordelik
is.
Indië
Die Bybelgenootskap van Indië se missie is om betrokke te raak by die vertaling, publikasie, druk en verspreiding van die Bybel asook die bevordering van Bybelbetrokkenheid deur die Woord van God. Bid vir ons missie en visie om in al die Bybelbehoeftes in ons land te voorsien en dat ons hulpbronne sal vermeerder.
Maledive
Bid dat ons land se leiers Christenskap en Christelike beginsels sal aanvaar. Bid dat diegene wat hulle geloof in die geheim uitleef, toegang sal kry tot ’n Bybel in hul taal en dat hulle eendag openlik hul geloof in Christus kan verklaar sonder vervolging.
Sri Lanka
Die projek Literacy for Sri Lankan Children & Youth is daarop gemik om ongeletterdheid onder jong Christene in ons land aan te spreek. Bid dat ons
’n donateur vir die voltooiing van hierdie projek sal vind en dat daar opgeleide professionele persone beskikbaar sal wees om die klasse te fasiliteer.
27 Okt-2 Nov
Honduras
Die gesinslewe in Honduras is in ’n krisis. Die Family Bible beskik oor die volledige Bybelteks, asook 500 bladsye bykomende kindermateriaal. Bid vir die sukses van hierdie projek en dat gesinne hoop sal vind in die Woord van God.
El Salvador
Bid vir ons God and the Gangs-projek wat daarop gemik is om ’n volledige Bybel onder 50 000 gevangenes in El Salvador te versprei. Ons land se gevangenisse huisves ’n aansienlik aantal gevangenes en baie van hulle het nog nooit toegang tot hul eie Bybel gehad nie. Bid dat almal wat God se Woord ontvang ’n persoonlike transformasie en rehabilitasie sal ondergaan.
3-9 Nov
Suriname
Die Bybelgenootskap wil die inheemse mense in Guyana met die Bybel bereik. Bid vir ons projek om die Ou Testament in Akawaio te vertaal. Bid vir goeie samewerking tussen die vertalers en hersieners van hierdie groepsprojek, asook vir wysheid vir almal wat betrokke is.
Guatemala
Grow and Learn is ’n projek wat poog om die skadelike gewoontes van kinders te verhoed deur hulle aan Bybelonderrig bekend te stel. Daar word elke jaar gepoog om 3 000 kinders in die stad se krotbuurte en armste gedeeltes van die platteland deur hierdie projek te bereik. Bid vir God se genade oor elke onderwyser en kind wat deel is van die projek.
10-16 Nov
Dominikaanse Republiek
Die Grow and Learn-projek is daarop gemik om die Sondagskoolbediening in verskillende stede te versterk. Bid dat God die nodige hulpbronne vir hierdie projek sal voorsien en vir die kinders wat daardeur geraak sal word.
Oos-Karibbiese Eilande
Bid steeds vir ons missie om die Woord van God te gebruik om sy teenwoordigheid onder Oos-Karibbiese inwoners te bekragtig. Bid dat ons sal kan voortgaan om die gemeenskappe getrou en doeltreffrend met Bybelmateriaal te voorsien.
Nederlands-Antille en Aruba
Bid vir ons missie om ’n Bybel vir elke inwoner beskikbaar te stel en dat dit gereeld gelees sal word as ’n bron van hoop. Bid dat alle kinders die Bybel ’n integrale deel van hul lewe sal maak voor die ouderdom van 15.
Puerto Rico
Bid vir die sukses van ons visie en missie om God te eer deur die verspreiding van sy Woord en om dit vir meer mense toeganklik te maak in verskeie formate. Bid dat meer mense in ons land die Bybel sal lees en dat dit lewens sal verander.
17-23 Nov
Kuba
Bid vir ons projek om die Bybel in Kubaanse Gebaretaal te vertaal. Met hierdie projek sal Dowe Christene in die Dowe gemeenskap insig te gee oor die lewe van Jesus. Bid vir al die dowe mense in Kuba en die dowe vertalers wat gereed is om met hierdie langtermynvertalingsprojek te begin.
Haïti
Haïti gaan tans gebuk onder toenemende geweld, politieke onstabiliteit en protesaksie. Bendegeweld is erger as ooit tevore. Die Bybelgenootskap is sedert Februarie 2024 gesluit en werknemers moet van die huis af werk. Bid vir ons projek wat poog om die personeelkoste te dek asook vir hul huidige behoeftes.
Wes-Indiese Eilande
Bid vir ons doel om ’n suksesvolle bron vir die Kerk te wees. Bid dat ons genoegsame Bybelmateriaal teen die beste pryse en in die gewenste tale
en formate aan ons inwoners, insluitende skole, kan verskaf.
24-30 Nov
Panama
Hoewel Spaans die land se hooftaal is, word verskeie tale in Panama gepraat. Die End-to-End Panama-projek wil die goeie nuus van Jesus met die inheemse bevolkings in hul moedertaal deel. Bid vir die personeel wat by hierdie projek betrokke is en die raadsleiers wat ons help met die
ontwikkeling daarvan.
Nicaragua
Ons End-to-End-projek wil God as die bron van vertroosting en hoop aan die mense van Nicaragua bekendstel. Die mense leef in angs weens sosio-ekonomiese faktore en die impak van natuurrampe. Bid vir diegene wat hulle werk verloor het en wie se verhouding met God onder druk is.
Costa Rica
Bid vir ons projek om Bybelgedeeltes in Spaanse braille vir volwassenes en kinders beskikbaar te stel. Bid vir die personeel wat aan hierdie projek werk en dat die Here vir hulle wysheid en krag sal gee om voort te gaan om met die siggestremde gemeenskap te werk.
1-7 Des
Kanada
Dank God vir al ons suksesvolle projekte en die teenwoordigheid van die Bybelgenootskap in ons land. Bid steeds vir ons visie en missie om die Bybel as die Woord van God te bevorder. Bid dat ons kan voortgaan met nuwe innoverende formate en bedieningskanale om selfs ’n groter groep mense te bedien.
Mexiko
Bid vir die Bybelgenootskap van Mexiko wat aan die uiteenlopende Bybelbehoeftes van ’n massiewe bevolking moet voorsien. Bid vir ons missie om die Woord van God vir alle vlakke van die samelewing beskikbaar te stel en dat die Bybel regoor Mexiko beskikbaar sal wees.
Verenigde State van Amerika
Bid dat die mense van Amerika die liefde van Jesus sal leer ken. Bid vir diegene met intense seer in hulle liggame, verstand en siel en dat God se Woord, asook ons Bybelgebaseerde Trauma Healing-projek, vir hulle genesing sal bring.
8-14 Des
Kazakstan
Kasakstan beslaan ’n enorme oppervlak van meer as 2,7 miljoen vierkante kilometer en het ’n bevolking van meer as 20 miljoen. Bid vir ons werk om die Bybel in geskikte formate te produseer sodat dit vir elke landsburger in hul taal toeganklik sal wees.
Kirgisië
Bid vir ons pogings om tot die geestlike ontwikkeling van die sowat 7 miljoen mense by te dra deur die Bybel en verstaanbare interkerklike Bybelvertalings beskikbaar te stel. Bid ook vir ’n verdraagsame gemeenskap waar enigeen die Bybel kan lees.
15-21 Des
Armenië
Bid vir ons projek om Armeniese skoolleerders deur middel van Bybellees te verenig. Ons Bybelvasvra-kompetisie vir skole regoor die land stel
kinders in staat om op ’n prettige manier meer omtrent die Bybel te leer terwyl hulle pryse kan wen en nuwe vriende kan maak. Bid dat die Woord van God vir alle tieners toeganklik en verstaanbaar sal wees en dat hulle met die liefde en vrede van God gevul sal word.
Azerbeidjan
Bid vir ons projek om ’n stel nuwe kinderboeke aan die plaaslike jeug bekend te stel. Hierdie boeke bevat stories uit die Nuwe Testament. Daar is
tans geen Christelike literatuur vir kinders in hul moedertaal nie. Hierdie boekies sal veral help om kinders in afgeleë streke sonder kerke van die Evangelie te leer.
22-28 Des
Pakistan
Die geletterdheidsyfer onder vroue in Pakistan is laag, veral Christenvroue wat in landelike gebiede woon. Ons Beacon in the Darkness of Illiteracy-projek sal hulle toerus sodat hulle die Bybel op hul eie kan lees en Jesus se onderrig kan volg. Ons beplan om deur hierdie projek 3 000 Christenvroue in 2025 te bereik.
Afganistan
As volgelinge van Jesus bid ons vir die veiligheid van ons Afgaanse broers en susters. Bid dat die Heilige Gees hulle met hoop, vrede en liefde sal
vul en dat hul geloof in Christus hul nie in ’n plek van vervolging of gevaar sal plaas nie.
29-31 Des
Georgië
Bid vir ons Bybelwerk en dat meer mense sal besef dat God se Woord vir almal bedoel is.
Russiese Federasie
Bid vir ons strategie vir voortdurende ontwikkeling binne verskeie aspekte van Bybelwerk en vir finansiële onafhanklikheid om ons visie en missie uit te voer.


