“Want as julle die mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.”
Matt. 6: 14-15
Wie van ons het nie al mense wat ons reken is nie in ons klas, of hoort nie in ons geselskap nie, net eenvoudig geïgnoreer, en soos die verhaal van die barmahartige Samaritaan (Luk. 10: 25-37) net eenvoudig ver verby gehou, sodat ons tog net nie met die seer, pyn en smart van die ander betrokke hoef te raak nie. Ons is so besig met netelighede, wat ons as mens belangrik ag, dat ons net eenvoudig nie tyd het vir iemand wat dalk meer van ons tyd nodig mag kry, as wat ons bereid is om te gee nie.
Om iemand te ignoreer, is een vorm van oordeel oor ‘n ander, wat ons as ons reg beskou. As ek iemand nie ‘raaksien’ nie, kan niemand my tog kwalik neem as ek nie help nie. Selfs as dit een van jou familie is, is dit soveel makliker. Jy ignoreer daardie mens of kyk af op so iemand, en in die proses fel jy eintlik ‘n oordeel oor jouself. Maar Prediker waarsku ons dat God elke mens sal oordeel, want Hy is alomteenwoordig en ken ook ons gedagtes. (“Want oor elke daad sal God self oordeel, oor alles wat verborge is, of dit goed is of kwaad. Pred. 12: 14.)
In Psalms word mense wat hulleself as ‘magtig’ reken gewaarsku teen geweld en onreg.(“Magtiges, is julle werklik besig met regspraak, oordeel julle mense billik? Selfs in julle harte beoefen julle onreg; in die land maak die geweld van julle hande vir julle die pad skoon.” Psm. 58: 2-3). Hulle wat misdaad en oorloë gebruik. Dit kom egter baie nader aan ons wanneer Maleagi ons waarsku oor wat God se oordeel kan inhou wanneer ons nie gehoor gee aan Sy oproep om ons oor ander te ontferm nie. (“Ek sal na julle toe kom vir die oordeel en Ek sal sonder om te huiwer ‘n getuie wees teen towenaars, egbrekers en wie vals sweer; teen hulle wat dagloners, weduwees en vaderlose kinders verdruk en hulle wat vreemdelinge wegwys en nie ontsag vir my het nie,” sê die Here, Heerser oor alle magte.” Maleagi 3: 5)
Ons kan ook soos in die gebed van Ps 119: 66 (“Leer my goeie oordeel en kennis, want ek vertrou op die Here,volgens u woord.”) van die Here vra om ons insig en goeie oordeel te gee. Sal ons soos Samuel kan vra dat God sal oordeel, en dat ons nie ons eie hand teen iemand sal lig om oordeel te fel nie (1 Sam 24:13)? Sodat ons kan voldoen aan die vereiste van Matt 7: 1-2 (“ Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie. Want met die maat waarmee julle meet, sal vir julle afgemeet word.”). Ons kan net bid dat soos in die dae van Hiskia, ons, ons sal verootmoedig, sodat die toorn van die Here nie teen ons sal voortduur nie. (2 Kronieke 32:26) “
Christus self noem in Joh. 5: 30 dat Hy kan oordeel, omdat Hy die wil van God nastreef (“Uit Myself kan Ek niks doen nie. Ek oordeel volgens wat Ek hoor, en my oordeel is regverdig, omdat Ek nie my wil nastreef nie, maar die wil van Hom (God) wat my gestuur het.”) Christus kan vergewe omdat Hy ons harte ken (1 Kon 8:39; Matt 18). In Kol. 3: 13 word ons gemaan om mekaar te verdra en, as enigiemand ‘n klagte teen iemand anders het, mekaar te vergewe . Net Soos die Here ons vergewe het, so moet ons ook vergewe, tot selfs sewe maal ‘n dag (Luk 17:3-4).
Daar is egter ‘n uitsondering op hierdie vergifnis beleid van God, soos duidelik in Markus genoem word. Alle sondes en lasteringe sal vergewe word, maar enige lastering teen die Heilige Gees, sal skuldig wees tot in alle ewigheid en sal geen vergifnis kry nie. (“Ek sê vir julle: Alle sondes en lasteringe wat mense ook al uitgespreek het, sal hulle vergewe word, maar wie teen die Heilige Gees laster, kry tot in ewigheid geen vergewing nie, maar bly skuldig aan ‘n ewige sonde.” (Mark 3: 28-29).