“Ek roep vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle. Die lewe en die dood, die sëen en die vervloeking, hou ek aan jou voor” Kies dan die lewe, sodat jy kan leef, jy en jou nageslag, deur die Here jou God lief te hê, na sy stem te luister en aan Hom vas te hou. ”
Deut. 30: 19-20
Ons hele lewe is deurspek met keuses wat ons moet maak. Volgens Nina Smit kan ‘Verkeerde keuses jou lewensritme versteur, terwyl die regte keuses jou in harmonie brng met hoe die Here jou gemaak het. Net soos jou verhouding met God jou hele lewe bepaal, word ook jou keuses gebore uit jou eie verhouding met die Here. Omdat jy Hom ken en dien, weet jy baie goed watter keuses jou negatief sal beïnvloed en watter positief.’ Ons het dus ook die keuse om vrylik te besluit watter keuses ons maak. Omdat dit vandag moedersdag is het ek dit goed gedink om ook ‘n paar vroue uit die Bybel uit te lig, wat lewens-omkeerende keuses moes maak.
Maar ons kies dikwels die verkeerde pad, of is selfs dit deur God so gewil? As mens nou dink aan Jakob wat eerstens sy broer se eergeboortereg van hom afgekoop (afgepers?) het. Esau darenteen het nie baie erg gehad aan die eersgeboortereg op daardie stadium nie, want hy was uiters moeg, en honger. Toe Rebekka Jakob aanpraat om sy Pa, Isak, om die bos te lei, het hy besef dat alhoewel sy Pa nie meer goed kan sien nie, hy defnitief die verskil tussen die twee broers sou kon onderskei, as gevolg van hulle fisiese verskille. Hy het dus geweet wat hy doen is verkeerd, maar het tog voort gegaan om die eersgeboortereg van Isak te ontvang. En so het Jakob met bedrog die seën ontvang wat staande sou bly. Maar hy moes vlug vir sy lewe.
”Jakob was besig om ‘n gereg gaar te maak, toe Esau van die veld af kom – hy was uitgeput. Esau sê toe vir Jakob: “Gee vir my asseblief ‘n sluk van die rooi goed, hierdie rooi goed, want ek is uitgeput.” Jakob het geantwoord: “Verkoop eers jou eersgeboortereg aan my,” Toe sê Esau “Kyk, ek is op die punt om dood te gaan; wat is ‘n eersgeboortereg dan vir my werk?” ” (Gen. 25: 29-33); “Jakob sê toe vir sy vader: “EK is Esau, u eersgeborene. Ek het gedoen wat u vir my gesê het. Kom regop, sit en eet van my wildsvleis, sodat u my kan seën.”” (Gen. 27: 19).
Dan is daar die vrou Hanna, Samuel se ma. Wat kinderloos was, en so ‘n groot behoefte gehad het om kinders te hê. Haar man Elkana het nie verstaan hoekom hy nie genoeg vir haar was nie, maar in ‘n moederhart, waarvan die skoot leeg bly, is dit ‘n dringende behoefte. Sy het besluit om vir die Here te bid, en het ‘n eed afgelê dat sy, indien die Here vir haar ‘n seun sal gee, sal sy hom aan die Here teruggee. Die Here verstaan ons pyn hier op aarde en sal mens nie versaak, wanneer jy jou gelofte aan Hom nakom nie, net soos hy met Hanna gedoen het nie. Kan u dit indink om jou kindjie af te gee aan die opvoeding van ‘n ander? Dis verseker ‘n uiters traumatiese ervaring vir ‘n vrou.
”Sy was bitter ongelukkig en het tot die Here gebid terwyl sy onbedaarlik huil. Sy het ‘n gelofte afgelê en gesê: “Here, Heersere oor alle magte, as U tog net die ellende van u slavin raaksien een aan my sal dink en u slavin nie vergeet nie, en as U aan u slavin ‘n manlike nasaat sal gee, dan sal ek hom aan U, Here, teruggee so lank as hy leef.” (1 Sam. 1: 10-11)
As ons ook aan Rut dink, wat die keuse gemaak het om haar skoonmoeder, Naomi, te volg na ‘n land wat sy nie geken het nie. Sy was bereid om hierdie vrou wat ‘n baie goeie skoonmoeder moes gewees het, te volg, en die keuse vir God is op die einde ryklik beloon. Sy kon nie die manier van geloof en lewe van haar skoonma agterlaat nie. Sy moes ‘n besondere liefde ervaar het uit die hart van Naomi, asook die lewenswyse en aanbidding van God, om so ‘n keuse te maak.
”Naomi sê vir haar : “Kyk, jou skoonsuster het omgedraai na haar volk en haar gode toe. Gaan terug, agter jou skoonsuster aan.” Maar Rut het geantwoord: “Moet my nie probeer dwing om u te verlaat nie of om van u af weg te gaan nie, want waar u gaan, sal ek gaan, en waar u bly, sal ek bly. U volk is my volk en u God is my God. Waar u sterf, sal ek sterf, en daar sal ek begrawe word. Die Here kan my maar swaar straf as ek nie woord hou nie: Net die dood sal ons skei.”” (Rut 1: 15-17)
Wanneer ons aan die verhaal van Ester dink, wat bereid was om te sterf ter wille van haar volk, laat dit mens besef dat daar op verwagte en onverwagte plekke keuses gemaak moet word. Sy was geliefd deur die koning, maar sou sterf indien sy sonder om geroep te word, aan die koning sou verskyn. Ter wille van al die mense wat sou sterf, het sy die keuse gemaak om tog tot begenadiging van haar volk te vra.
”Gaan versamel al die Jode wat hulle in SUsan bevind, en vas ter wille van my. Moet drie dae lank, dag en nag, niks eet of drink nie; ook ek en my diensmeisies sal so vas. Daarna sal ek na die koning gaan, al is dit teen die wet. As ek so moet omkom, kom ek so om.” (Est. 4: 16)
So plaas die Here ons ook in situasies, soms onverwags en onbeplan. Dit is dan wanneer ons die keuse vir God moet oorlaat. Want Hy help ons om te kies. Hy onderrig ons en rig ons gesonde verstand deur die voorbeeld van Jesus Christus en deur die leiding van die Heilige Gees, om die regte keuses te maak. Sodat ons nie weeskinders in die heelal hoef te wees nie; soos die wat bewustelik of onbewustelik kies om God te ignoreer nie. Want God gee altyd die beste aan hulle wat Hom toelaat om te kies.