Stof tot nadenke: “Verganklikheid van die mens…”

Ek wil weet hoe verganklik ek is.

Ps. 39: 5

Ons hardloop deur die lewe, van kinderdae tot in die ouderdom, sonder baie gedagte aan hoe verganklik ons is. DIs eers wanneer ons met die dood gekonfronteer word, op welke manier ook al, wat dit mens laat besef hoe verganklik ons as mens is. Vir my was die dood van my pa op 24-jarige ouderdom ‘n skok, maar dit was eers jare later toe ‘n werksvriend, wat toe pas getroud was, en mateloos gelukkig was, oorlede is wat dit ‘n baie traumatiese ervaring was. Hy moes vir werk Suid-Amerika toe gaan, en met die uitry uit die lughawe perseel is hy opslag gedood in ’n motorongeluk, saam met ‘n ewe jong mede werker. Hulle dood, in die fleur van hulle jare, het my totaal en al omgegooi.

Dit is hierdie besef van die verganklikheid van mens se lewe, wat jou aanspoor om alles wat jy kan of wil doen, so gou as moontlik te doen. Mens wil dit so goed as moontlik doen met die lig en krag wat aan mens gegun word.

Net ‘n asemteug is die mens, onbetroubaar is mense; op ‘n skaal weeg hulle byna niks, saam is hulle ligter as ‘n asemteug.” (Ps 62: 10);
‘n Mens is soos ‘n asemteug, sy lewensdae soos ‘n vlugtige skaduwee.” (Ps. 144: 4)

Soms besef mens dit vroeg in jou lewe, maar dikwels neem dit mens jare. Dat die tyd wat ons hier op aarde gegun word ook ‘n gawe van God is. Ons wens dikwels dat ons kan weet hoe lank ons sal leef, net soos die Psalmdigter. Sodat ons kan weet wat ons nog hier kan doen en beleef. Ons maak bymekaar en versamel, sonder om te weet waarheen dit gaan. Soms is ons selfs afgunstig op die mense wat kwaad doen aan almal om hulle, sonder die besef dat hulle net soos die gras verdor en die blomme verwelk. Elke ding het sy tyd en plek, en ons moet die beste daarvan maak.

Here, maak my einde aan my bekend en die getal van my dae, hoeveel dit is. Ek wil weet hoe verganklik ek is. Kyk, U het my lewensdae net ‘n paar handbreedtes gemaak, en my lewensduur is soos niks voor U. Elke mens wat stewig staan, is ‘n blote asemteug. As ‘n blote skaduwee gaan mense deur die lewe. Ja, terwyl hulle ‘n blote asemteug is, werskaf hulle – mense maak bymekaar, maar weet nie wie dit gaan kry nie.” (Ps. 39: 5-7);
Moet jou nie ontstel oor kwaaddoeners nie; moenie afgunstig wees op hulle wat kwaadwillig optree nie, want soos gras verdor hulle vinnig, en soos groen plante verwelk hulle.” (Ps. 37: 1-2);
Want die skepping is onderwerp aan ‘n sinlose bestaan, nie uit eie keuse nie, maar deur Hom wat dit daaraan onderwerp het. Die skepping hoop om self vrygemaak te word van verslawing aan die verganklikheid, met die oog op die heerlike vryheid van die kinders van God. Ons weet immers dat die ganse skepping tot nou toe saam met ons sug, ja, in geboortepyne verkeer. En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees as God se eerste gawe ontvang het, sug innerlik, terwyl ons uitsien na ons aanneming tot kinders, die bevryding van ons liggame.” (Rom. 8: 21-23)

Laat ons bewus wees van ons verganklikheid, maar laat ons ons nie te veel bekommer daaroor nie. Laat ons na die Woord van God luister wat vir altyd stand hou, want ook dit wat gesaai word in verganklikheid, word opgewek in onsterflikheid. Dit is belangriker dat ons fokus op Jesus Christus en sy genade gawe van Verlossing, want ons egtheid van geloof is baie kosbaarder as goud. Wanneer ons Groot Herder verskyn om Sy skape bymekaar te maak, sal ons die erekrans ontvang wat nooit sal verwelk nie.

Gras verdor, ‘n blom verwelk wanneer die asem van die Here daarop blaas. Waarlik, die volk is maar net gras! Ja, gras verdor, ‘n blom verwelk, maar die woord van ons God hou stand vir altyd. ” (Jes. 40: 7-8);
So sal dit ook wees met die opstanding van die dooies: Wat gesaai word in verganklikheid, word opgewek in onsterflikheid.” (1 Kor. 15: 42);
Die doel was dat dit duidelik sou blyk dat die egtheid van julle geloof – ‘n egtheid wat baie kosbaarder is as goud, wat verganklik is, maar nogtans met vuur getoets word – uitloop op lof en heerlikheid en eer wanneer Jesus Christus geopenbaar word.” (1 Pet. 1: 7);
En wanneer die Groot Herder verskyn, sal julle die erekrans van heerlikheid ontvang, wat nooit sal verwelk nie.” (1 Pet. 5: 4)

Een antwoord op “Stof tot nadenke: “Verganklikheid van die mens…””

Kommentare is gesluit.