“Uit Myself kan Ek niks doen nie. Ek oordeel volgens wat Ek hoor, en My oordeel is regverdig, omdat Ek nie my wil nastreef nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.”
Joh. 5: 30
In hierdie aardse bestaan van ons, soek ons altyd iemand of iets om te beskuldig, wanneer dinge nie volgens ons eie plan of menslike oordeel gebeur nie. Wanneer iets verkeerd gaan, soek ons ‘verskonings’ oor hoekom dit nie ons eie skuld is nie, om so enige blaam van onsself af weg te keer. Ons is altyd baie vinnig om ‘n oordeel oor die situasie te fel, sonder dat ons die wil van God gevra het. Ons blameer selfs ons menslike natuur en begeertes, waarteen ons sogenaamd geen verweer het nie. Ons moet egter besef dat ons verantwoordelikheid moet neem vir enigiets, waar ons, teen die wil van God, verkeerde besluite geneem het en dus na enige verkeerde dinge en oordele gelei het. Die eintlike vraag vandag is of ons wel regverdig oor enigiets kan oordeel? Ons word herhaaldelik gemaan om nie net te oordeel nie!
(“”Moenie oordeel nie, “ sodat julle nie geoordeel word nie. Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word, en die maat waarmee julle meet, sal vir julle afgemeet word. Waarom sien julle die splinter in jou broer se oog raak, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? ” (Matt. 7: 1-3))(“”Moenie oordeel nie, dan sal ook julle beslis nie geoordeel word nie. Moenie veroordeel nie, dan sal julle ook nie veroordeel word nie. Vergeef, dan sal julle ook vergewe word. Gee, en aan julle sal gegee word – ‘n goeie maat, saamgepers, ingeskud en tot oorlopens vol, sal in julle skoot val. Want die maat waarmee julle meeet, sal vir julle afgemeet word.” (Luk. 6: 37-38))(“Moenie op die oog af oordeel nie, maar oordeel regverdig.” (Joh. 7: 24))
Hoe moet ons dus verkeerde dinge wat teen mense gepleeg word hanteer? Hier kry ons ook antwoorde in Christus se eie woorde (Joh. 5: 30). Hy kan regverdig oordeel, omdat Hy die wil van die Vader nastreef, wat Hom gestuur het. Christus het gereeld in gebed tot die Vader geroep ook in die Lydenstyd voor die kruisiging. Soek ons eers die wil van die Vader voordat ons oordeel? Is ons sosiale sisteme en regstelsel só ingestel dat almal die wil van God soek? Bid ons genoeg om die versoekinge van ons af weg te hou, deur gebed? Ons word herhaaldelik daarop gewys dat ons tot God moet nader in gebed. Dit is ook wat ons moet doen as ons enige beslissings en oordele oor ander sou oorweeg. Gebed is dus dié eerste stap vir ons om tot besinning te kom voordat ons enige oordeel fel, wat dalk eintlik ‘n oordeel oor onsself kan word.
(“In dié tyd het Jesus uitgegaan na die berg om te bid, en Hy het die nag deurgebring in gebed met God.” (Luk. 6: 12))
(“Toe Hy ná sy gebed opstaan, gaan Hy na die dissipels, en vind hulle van droefheid aan die slaap. En Hy het vir hulle gesê: “Waarom slaap julle? Staan op en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie.”” (Luk. 22: 45-46))
(“Verbly julle in die hoop; wees standvastig wanneer julle swaarkry; volhard in gebed.” (Rom. 12: 12))
(“Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend.” (Fil. 4: 6))
(“Volhard in gebed. Wees waaksaam en dankbaar as julle bid.” (Kol. 4: 2))
Hoe moet ons bid? Is dit nodig om in lang gebede te verval? Mag ons partydig in ons gebede wees, en ons eie wil soek? Ook hieroor is daar herhaaldelike skrywes en voorbeelde wat ons kan volg in ons gebed; waarvan die ‘Onse Vader gebed’ die kort, kragtige en omvatende gebed is wat Christus self vir ons kom gee het. Laat ons nooit ons eie wil soek in gebed nie, maar die wil van God. Laat ons nie van God vra om ons kant in enige situasie te neem, sonder dat ons baie seker is dat dit die wil van God is nie.
(“”Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene ‘n stortvloed woorde gebruik nie, want hulle dink dat hulle op grond van hulle baie woorde verhoor sal word.” (Matt. 6: 7))
(“En vergeef ons ons skulde, soos ook ons hulle vergeef wat teen ons skuldig staan.” (Matt. 6: 12))
(“Julle mag geen onreg doen in die gereg nie. Jy mag vir die geringe nie partydig wees nie en die aansienlike nie voortrek nie. Met geregtigheid moet jy oor jou naaste oordeel.” (Lev. 19: 15))
(“Julle mag in die gereg nie partydig wees nie; julle mag niemand ontsien nie, want die gereg is die saak van God. Maar die saak wat vir julle moeilik is, moet julle na my toe bring, en ek sal dit in verhoor neem.” (Deut. 1: 17))
Dit beteken nie dat ons ons menslike oordeel stil moet hou voor God nie, maar voor mense moet ons nie uitsprake uiter nie! Seker hier waar my Ma se motto “If you can’t say something nice, don’t say it” vandaan gekom het. Dis hier waar ons ons tonge in toom moet hou. Ons moet seker maak van alle ‘sogenaamde feite’, en as ons nie seker is dat wat ons gesien of gehoor het, waar is nie, moet ons die oordeel aan God oorlaat. Want God sal self op regverdige en billike wyse oordeel, wanneer die tyd reg is. Ons weet nooit waar God oppad heen is met ander mense nie. Elkeen van ons is nie noodwendig op ‘n dieselfde plek in ons geloof, en ons pad wat God vir ons beplan het, nie. Laat ons liewer enige oordeel oorlaat aan God!
(“Maak jou mond oop, oordeel regverdig, en handhaaf die reg van die magtelose en behoeftige. ” (Spr. 31: 9))
(“Wanneer die tyd aanbreek wat Ek bepaal het, sal Ek self met billikheid oordeel.” (Ps. 75: 3))
(“”Ek sal na julle toe kom vir die oordeel en Ek sal sonder om te huiwer ‘n getuie wees teen towenaars, egbrekers en wie vals sweer; teen hulle wat dagloners, weduwees en vaderlose kinders verdruk en hulle wat vreemdelinge wegwys en nie ontsag vir My het nie,” sê die Here, Heerser oor alle magte.” (Mal. 3: 5))


