Konnichiwa Nuusbrief Liewe ondersteuner, Ons skryf hierdie nuusbrief nie uit ‘n koue Japan nie, maar hier vanuit ‘n sonnige Suid-Afrika. Terwyl ons harte verlang om weer in Japan te wees, is ons dankbaar vir elke oomblik saam ons geliefde familie en vriende. Ons koester hierdie tyd en sien dit as ‘n geskenk uit die Here se Hand. Ons sien ook uit na toekomstige geleenthede waar ons met julle, ons ondersteuners, kan tyd saam spandeer. Ons bid dat hierdie tyd in Suid-Afrika mag dien as ‘n tyd waarin ons dieper verhoudings met u kan bou. In hierdie nuusbrief wil ons baie graag groot nuus met u deel. Ons deel graag met u ‘n brief spesifiek gerig aan u, inligting oor waar onsself nou in Suid-Afrika bevind en waarmee ons tans besig is. Brief aan u, ons ondersteuner. |
“Die hart van die mens dink sy weg uit, maar die Here rig sy voetstappe” Spreuke 16:9 “En Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, sterke God, Ewige Vader en Vredevors”. Jesaja 9:5b Hierdie twee verse het die afgelope paar maande vir ons dieper betekenis gekry. In ons menswees kan ons soms ons hele lewe vooruit wil beplan, maar soms gebeur dinge wat die koers en rigting van ons lewe baie duidelik in ‘n ander rigting stuur. Die Here is ons Wonderbare Raadsman. As ons terug kyk op die afgelope paar maande kan ons duidelik sien hoe die Here, ons Raadsman op ‘n baie spesifieke manier, ons leiding oor ons toekoms gegee het. Die Here is immers die Een wat die toekoms ken en daarom is Hy die Een wat ons in al Sy weë kan lei. Ons het met van julle, ons ondersteuners, telefonies gekommunikeer rondom die besluit wat ons geneem het om van sending organisasie te verander. Graag wil ons deur hierdie brief vir u verduidelik waarom ons tot hierdie beslissing gekom het. Ons wil baie graag oop en eerlik met u, ons ondersteuners, wees. Julle is die mense wat die Here gebruik om ons in staat te stel om ons roeping in Japan uit te leef, daarom is dit vir ons belangrik om met u ons ervaring te deel. Ons dink dit is belangrik om te beklemtoon dat ons roeping na Japan nogsteeds so sterk is soos die dag toe ons dit ontvang het. Ons begeer met ons hele harte om te sien dat meer Japannese mense Jesus as Verlosser en Saligmaker sal aanneem. Dit is slegs hierdie sterk oortuiging van ‘n roeping wat ‘n sendeling op ‘n sendingveld soos Japan kan hou. Soos ons al verskeie kere geskryf het is Japan ‘n baie moeilike sendingveld daarom is dit uiters belangrik om in jou roeping vas te kan staan. Daarom kan ons u verseker dat ons roeping na Japan in geen manier verander het nie, inteendeel het ons roeping net versterk. Die besluit om van organisasie te verander was ‘n besluit wat ons in geen opsig ligtelik opgeneem het nie. Ons kan eerlik getuig dat ons uitgeroep het na die Here om ons te lei. Ons deputasie in SA en die AGM As gevolg van verskeie redes, insluitend dat ons Teologiese graad studies nog onvoltooid is nie, was daar onsekerheid oor ons toekomstige bediening in die RCJ (die kerk) in Japan. Tydens ons deputasie verlede jaar het Missie Japan 3 opsies in verband met ons toekoms in Japan aan ons voorgehou. Opsie 1: Keer terug na Japan, voltooi ons SATS-graad studies, voltooi 3 vakke by die RCJ kweekskool en raak betrokke by bediening in die Tokushima Gemeente. Opsie 2: Keer terug na Suid-Afrika, voltooi beide ons graad studies, N3 Japannese taaleksamen en wees betrokke by ‘n plaaslike gemeente in Laudium. Opsie 3: Ons verander na ‘n ander organisasie wat meer in lyn is met ons missionale metodologie. Hierdie 3 opsies is verder bespreek by die AGM wat in Oktober 2021 plaasgevind het. Opsie 1 was nie meer ‘n opsie nie omdat die Shikoku Ring (met wie Missie Japan ‘n ooreenkoms gehad het) Missie Japan ingelig het dat hulle Ring nie die fondse het vir ons behuising in Tokushima nie. Ons het baie begrip vir ‘n sukkelende Ring (veral in Japan aangesien daar so min lidmate is wat die kerk kan ondersteun), maar ons voel wel teleurgesteld in die feit dat hulle ons eers na die voltooiing van ons twee jaar taalstudie ingelig oor hul finansiële behoeftes tydens ons deputasie in SA. Dit was nie die enigste rede waarom opsie 1 nie uitgewerk het nie. Missie Japan het besluit dat dit vir ons beter sou wees om eers ons SATS-studies onder minder druk hierin SA te voltooi. Alhoewel dit vir ons baie moeilik was om terug te keer na SA veral nadat soveel tyd en energie in ons taalstudies ingegaan het, het ons saamgestem dat dit beter sou wees om ons SATS-studies in SA te voltooi. Gedurende die tweede dag van die AGM, moes beide ek (Elmar) en Nadine ‘n verslag in verband met ons twee en ‘n half jaar in Japan aan die lede van Missie Japan voorhou. In die verslag was ons baie oop en eerlik oor die uitdagings wat ons beleef het in Japan. Ons is beide baie bewus van ons swakhede. Ons getuig gereeld dat ons soos krom stokke in die Hand van die Here voel. Ons is net eenvoudige sendelinge wat so graag begeer om vir die Here te werk. Gedurende die gesprekke tussen die Missie Japan lede was ons nie altyd deel van die gesprekke nie, maar van die komiteelede het aan die einde van die aand ons voorberei dat die vergadering gelei voel om aan te beveel dat ons eerder van organisasie moet verander. Dit het gekom as ‘n groot skok. Ons het glad nie verwag dat nadat ons twee en ‘n half jaar in Japan gewerk het, Missie Japan aan wou beveel dat ons van organisasie moes verander het nie. Alhoewel die vergadering duidelik vir ons gesê het dat die besluit op ‘n mespunt geneem was, het Missie Japan die volgende dag die oorweging wel verander dat hulle nogsteeds ‘n pad saam met ons wou stap. . Dit was ‘n geweldige emosionele tyd vir ons. Tussen die vergadering in Oktober het ons vir ‘n maand terug Japan toe gegaan (wat ook ‘n moeilike tyd was, omdat ons eerlik kan sê ons harte is in Japan).In 2019 moes ons ontwortel word uit SA en nou moet ons weer ontwortel geword het uit Japan en terugkeer na SA. In Desember het ons tyd uitgesit om die Here te vra om ons te lei oor ons toekoms in Japan. Die AGM was regtig vir ons ‘n keerpunt, waarin ons begin bevraagteken het of Missie Japan, maar meer die RCJ die voertuig was waarmee ons Japan toe mos gaan. Ons het eerlik voor die Here ons harte en toekoms oopgelê. Ons het gesê: “Here as ons in Missie Japan moet aanbly dan sal ons U gehoorsaam”, maar ons het ook gesê, “Here as U wil hê ons moet skuif na ‘n ander organisasie dan sal ons dit ook doen”. Ons het die hele Desember geneem en die Here gesoek. Natuurlik moet ons as kinders van die Here altyd die Here raadpleeg, maar ons wou veral hê die Wonderbare Raadsman moes ons in hierdie besluit lei sodat ons geen besluit uit emosie, teleurstelling of uit die vlees maak nie. Nadat die Missie Japan kantoor weer heropen het in Januarie het ons Bloemfontein toe gegaan, sodat ons, ons oorwegings met Missie Japan se sekretaris Dr. Nico Mostert kon gaan bespreek het. Daarna het ons ‘n afspraak met OMF (die nuwe sending organisasie) gehad wat gelei het na ons finale besluit om Missie Japan te verlaat. Ons het in ‘n brief wat verduidelik hoekom ons die besluit geneem het aan al die lede van Missie Japan lede gestuur. Intussen het ons verskeie vergaderings met Missie Japan lede gehad en beplan ons om Vrydag, die 4de Februarie, met die RCJ lede van Shikoku Ring te vergadering sodat ons ook aan hulle sorgvuldig ons besluit kan verduidelik. Ons besluit is gebaseer op die volgende: Roeping In die begin van die brief het ons gesê, ‘n sendeling se roeping is die fondasie wat ‘n hom op ‘n moeilike sendingveld sal hou, dus is dit baie belangrik dat ‘n sendeling se roeping moet ooreenstem met die stuur liggaam. In 2018 het ons aansoek gedoen by Missie Japan om jeug sendelinge in die Shikoku Ring te word. Die behoefte van die RCJ het in die tyd wat ons in Japan was verander na ‘n behoefte aan leke-predikers. Terwyl ek (Elmar) nie sal omgee om by gemeentes te preek nie, voel ek en Nadine nie geroepe om leke-predikers te wees nie. Daar is vir ons ‘n duidelike onderskeid tussen ‘n roeping vir die kerk en ‘n roeping buite die kerk. In die Japanese konteks is daar net 1% Christene, wat beteken dat die behoefte aan sendelinge wat uitgaan met die doel om die Evangelie te verkondig geweldig groot is. Ons skryf hierdie brief met eerlikheid en opregtheid. Ons is baie dankbaar is vir alles wat Missie Japan en elke lid van die komitee vir ons gedoen het. Ons wil graag deur hierdie brief ons ervaring van gebeure aan u ons ondersteuners deur gegee het. Dit is ons gebed dat die Here die regte geestelike werkers vir die behoeftes van Missie Japan en die RCJ sal stuur. Die oes is so groot en die arbeiders so min. Mag die Here van die oes, arbeiders vir die sendingveld stuur. Ons rig ‘n versoek deur hierdie brief om te vra dat u as ons ondersteuners asseblief biddende en soos die Here lei sal oorweeg om voort te gaan om ons te ondersteun. Indien die Here u so lei, kan u vanaf Februarie maand enige finansiële bydraes na die nuwe rekening oorplaas. Neem asseblief kennis van die volgende:1. Ons e-pos adresse het verander. Ons Missie Japan epos adresse werk nie meer nie. Elmar e-pos adres: durandelmar226@gmail.com Nadine se e-pos adres: nadine.bezuidnhout@gmail.com 2. Ons bankbesonderhede het verander na: Naam van Rekening: Aksie 1:8 Bank: ABSA Rekeningnommer: 5260146779 Verwysing: Naam E&N Vriendelike groete, Elmar en Nadine OMF (Overseas Missionary Fellowship) is gestig in 1865 deur die bekende sending Hudson Taylor. Die sending het eers bekend gestaan as “China Inland Mission”. OMF is ‘n Evangeliese sendingorganisasie met ‘n groot hart vir die onbereikte Asiatiese mense. Die sending se hoofkantoor is in Singapoer. OMF Japan werk alreeds 70jaar in Japan en het sendelinge van verskeie lande. Binne OMF se sendingstruktuur is daar baie ruimte om jou roeping uit te kan leef. Daar is verskeie kreatiewe bedieninge wat gebruik word om binne gemeenskappe in Japan verhoudings te bou en die Evangelie te verkondig. Ons is diep oortuig dat ons, ons roeping binne OMF sal kan uitleef en dis ons gebed dat die Here hierdie nuwe voertuig vir ons roeping tot Sy eer sal gebruik. Ons is ook diep bewus, dat die gras nooit groener is aan die anderkant nie, maar temidde van toekomstige uitdagings sien ons uit na die pad wat vir ons voorlê. Lees gerus meer oor OMF op hulle webwerf: https://omf.org/about-us Ons aansoekvorms vir OMF is ingedien en ons het alreeds 2 onderhoude gehad. Ons aansoek sal deur die OMF SA kantoor sowel as die OMF Japan kantoor oorweeg word en DV as ons goedgekeur word sal ons dan indiens geneem word deur OMF. Ons sal u ophoogte hou. Die woonstel wat ons huur in Johannesburg. 1 Februarie het beide van ons met 3 vakke by SATS (South African Theological Seminary) begin. Ons beoog om so gou as moontlik ons graad-studies te voltooi sodat ons so gou as moontlik na Japan toe kan terug keer. Ons eer die Here vir Sy voorsieining in ons studie behoeftes. ‘n Studie hulpfonds het vir ons studiebeurse aangebied. Hulle betaal ten volle ons studie uitgawes. Ons beplan om in hierdie jaar ondersteunende gemeentes sowel as nuwe gemeentes te besoek. Ons sien uit daarna om julle te kan besoek. Ons hou ook ons Japannese taal instand deur weeklikse klasse en beoog om kontak te maak met enige Japannese mense wat in Johannesburg of Pretoria woon. Ons huur tans ‘n twee slaapkamer woonstel in Johannesburg. Ons huur ook ‘n voortuig vir die beoogde jaar wat ons in SA sal wees.. Fotos van onlangse geleenthede Nadine, Suzette (sussie) en Mia (susterskind) Elmar, Albie (broer) en Armin (broerskind) Dankbaar: *Die voorsiening vir ons teologiese studie uitgawe. *Ons nuwe woonstel. (Na 2 maande vop die pad en in verskillende huise is ons dankbaar vir ‘n huis van ons eie.) *Familie, vriende en ondersteuners wat ons bystaan en help met die aanpassing in SA. *Meubels, ons woonstel is amper volledig gemeubeleerd deur ondersteuners en familie se vrygewigheid. *Voertuig Gebedsversoeke Bid asseblief vir die volgende: Die oorskuif van organisasie en al die administrasie.. Ons verhouding met Missie Japan en die RCJ. Ons Teologiese studies. Ons Japannese aanlyn taalstudies. Ons gesondheid. Bid assblief dat die Here in hierdie jaar diep werk in en deur ons lewe sal doen. Die redding van Japannese siele. |