Week 02 Dag 06 – Padkaart – Ons is die plan: 9 Weke van Transformasie

Jy gaan hierdie week weer met ’n luistersessie begin.
As ek jou sou vra wat die Here se spesifieke en besondere wil vir jou lewe is, wat sal jy antwoord? Ek weet ons kan maklik verval in ’n klomp mooiklinkende en korrekte geestelike cliches, byvoorbeeld: Om elke dag vir Hom te leef, of om tot sy eer te lewe, of Hom met alles wat ek doen te verheerlik. Dit is nie waarvan ek praat nie – ek soek ’n praktiese antwoord. Sou jy ’n padkaart kon teken van waarheen die Here met jou op pad is?

Dink na / Besin

Miskien moet jy eers diep dink oor die volgende vraag: Het die Here ’n spesifieke, besondere en unieke doel met jou lewe, of het Hy net ’n breë, algemene plan waarby alle mense op een of ander manier inskakel?

Gebed

Moenie net oor hierdie wesenlike vraag dink nie – praat ook met Hom daaroor.

Skryf / Vul in

Die Bybel gee vir ons die beeld dat God Homself met die kleinste en fynste detail van sy skepping en skepsels bemoei. Kan jy dink aan Bybelse voorbeelde? Skryf die voorbeelde waaraan jy dink hier neer:


Lees die Skrif

Lees gerus Jer 1:5; Luk 12:7, of dink aan Bybelse profesieë wat in die fynste detail waar word, of dink sommer net aan die skepping en die ongelooflike presisie wat ons daarin kan sien…

Jer 1:5
5“Nog voordat Ek jou gevorm het
die baarmoeder,
het Ek jou geken;
nog voordat jy uitgegaan het
uit die moederskoot,
het Ek jou geheilig.
As profeet vir die nasies
het Ek jou bestem.”

Luk 12:7
7Selfs die hare op julle kop is almal getel. Moenie bang wees nie – julle is meer werd as baie mossies.”

As ons saamstem dat God met jou lewe ’n baie besondere doel het, wil ek vra dat jy vandag daaroor sal dink en bid. Kom ek probeer jou daarmee help.

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF (oor God se plan): Vgl ook Jes 46:11; 49:3; Jer 29:11a; 30:24; Miga 4:12.

Jes 46:11
11Ek wat uit die ooste ‘n roofvoël roep,
van ‘n ver land af iemand roep
vir my raadsbesluit.
Ja, Ek het dit aangekondig;
Ek sal dit beslis laat gebeur.
Ek het dit gereedgemaak;
Ek sal dit beslis uitvoer.

49:3
3Hy het vir my gesê:
“Jy is my dienskneg, Israel,
deur wie Ek my heerlikheid toon.”

Jer 29:11a
11Ja, Ek ken die planne wat Ek vir julle het,” is die uitspraak van die Here. 

30:24
24Die brandende toorn van die Here
sal nie bedaar nie,
totdat Hy die planne van sy hart uitgevoer,
dit tot stand gebring het.
Aan die einde van die dae
sal julle dit verstaan.

Miga 4:12
12Húlle weet egter nie
wat die Here beplan nie
en hulle verstaan nie sy besluite nie,
dat Hy hulle soos gerwe
op ‘n dorsvloer
bymekaargemaak het.

Die Here maak nie jakkalsdraaie met sy kinders nie. Hy is ook nie met ’n raai-raai speletjie besig waarin Hy sy wil wegsteek en ons dit moet probeer vind nie. Hy wil hê ons moet sy wil ken – en uitvoer! Ek het al agtergekom dat ons baie te wete kom van waarheen God met ons op pad is as ons terugkyk na ons verlede. Meermale is daar ’n duidelike lyn wat deur ons verlede loop en iets openbaar van wat God in en deur ons lewens wil doen. Probeer gerus terugdink aan die bakens in jou verlede.

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Vgl ook Miga 6:8; Jak 1:22-27; Matt 7:21-23; 15:8-9; Rom 2:13.

Miga 6:8
8Hy het aan jou, mens,
bekend gemaak wat goed is:
Wat anders eis die Here van jou
as om net te doen wat reg is,
om troue liefde te bewys
en om nederig die pad
saam met jou God te loop?

Jak 1:22-27
22Wees doeners van die woord, en nie slegs hoorders wat julleself mislei nie. 23Want wie ‘n hoorder van die woord is en nie ‘n doener nie, is soos iemand wat sy eie gesig in ‘n spieël sien. 24Hy sien homself, gaan weg en vergeet onmiddellik hoe hy gelyk het. 25Maar wie diep in die volmaakte wet van vryheid inkyk en daaraan hou, sal gelukkig wees in wat hy doen, omdat hy nie ‘n vergeetagtige hoorder is nie, maar ‘n doener. 26As iemand dink dat hy godsdienstig is en nie sy tong kan beheer nie, mislei hy homself; so ‘n mens se godsdiens is vergeefs. 27Dít is suiwer en onbesmette godsdiens voor ons God en Vader: om na weeskinders en weduwees om te sien in hulle ellende, en jouself onbesmet van die wêreld te hou.

Matt 7:21-23
21“Nie elkeen wat vir My sê, ‘Here, Here,’ sal ingaan in die •koninkryk van die hemele nie, maar net diegene wat die wil doen van my Vader in die hemele. 22Baie sal op daardie dag vir My sê, ‘Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam demone uitgedryf en in u Naam baie kragtige dade verrig nie?’ 23Dan sal Ek openlik vir hulle sê, ‘Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat wetteloosheid bedryf!’ ”

15:8-9
8“ ‘Hierdie volk eer My met die lippe,
maar hulle harte is ver van My af;
9tevergeefs vereer hulle My,
want hulle onderrig as leerstellings die voorskrifte van mense.’

Rom 2:13
13Dit is tog nie die blote hoorders van die wet wat voor God regverdig is nie, maar dit is die daders van die wet wat geregverdig sal word. 

Skryf / Vul in

Hieronder is ’n leë strokiesprent – behalwe vir jou geboorte. Begin deur jou geboortedatum in die blokkie in te vul. Nou kan jy die blokkies voor jou geboorte invul – jy kan prentjies daarvan teken of woorde gebruik. Miskien is dit opmerklik dat baie van jou voorsate miskien sendelinge was – dan teken jy dit in die voorgeboorte blokkies. Nou kan jy belangrike momente in jou eie lewe invul – dit help soms om datums of tydperke hieraan te koppel. Teken, skryf, dink voltooi die strokiesprent van jou lewe waarin jy die hoofkarakter is.



Geboortedatum:
_ _ _ _ / _ _ / __














Gebed

Geleentheid om te bid; stil te word; te luister …
Waarskynlik het die Here reeds die afgelope paar minute met jou gepraat. Ek wil voorstel dat jy geestelik en emosioneel stil word in die teenwoordigheid van jou hemelse Vader. Verlustig jou in sy teenwoordigheid en in die wete dat jy nie maar net vir Hom ’n nommer is nie, nie maar net nog een van sy kinders nie, maar iemand wat spesiaal is – iemand met ’n besondere doel, iemand wat selfs voor geboorte – inteendeel van voor die skepping af (Ef 1:4-5 4So het Hy ons voor die grondlegging van die wêreld in Hom uitgekies, sodat ons heilig en onberispelik in liefde voor Hom sou wees, 5nadat Hy ons voorbestem het om ons deur Jesus Christus as sy kinders aan te neem, soos Hy dit volgens sy wil goedgedink het, ) – ’n besondere rol in God se ewigheidsplan moet vervul. Jy is uniek!

Luister na lied

Luister na snit 3 (NEDERIG KNIEL EK) op die ingeslote CD.

Johann Botes – Nederig Kniel ek


Nederig kniel ek voor U neer, Heilige Heer
In aanbidding voor u troon, buig ek, o Heer
Amen
Al my lof en dank aan U, neem dit, o Heer
Ewig is u majesteit, en U regeer
Amen

Skryf / Vul in

Ten slotte – skryf hier neer wat jy beleef wat God vir jou sê…


God het n plan met jou lewe
God het n plan met jou lewe
Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: handboek, p 27-29
Kyk wat leer Ps 139:13-18 ons van God se betrokkenheid by ons lewens reg van die begin af! Lees gerus ook: Jes 10:5-6, 15-16; 44:24-28; 45:1.

Ps 139:13-18
13Dit is immers U wat my niere
geskep het,
my in die moederskoot geweef het.
14Ek prys U omdat ek
op ‘n ontsagwekkende,
wonderbaarlike wyse gemaak is.
Wonderbaarlik is u werke
en ek besef dit maar te goed.
15My skelet was nie vir U verborge
toe ek in die geheim gemaak is nie,
toe ek kunstig geweef is
in die dieptes van die aarde.
16U oë het my vormloosheid gesien.
En in u •boekrol is hulle almal
opgeteken –
dae wat beplan is,
toe nie een daar was nie.
17En vir my, hoe kosbaar
is u gedagtes, o God –
hoe oorweldigend
is die volle getal daarvan!
18As ek dit tel,
is dit meer as die sand.
Word ek wakker,
dan is ek steeds by U.

Jes 10:5-6
5“Wee Assirië,
die stok van my toorn!
My verontwaardiging –
‘n staf is dit in hulle hand.
6Teen ‘n nasie, vervreem van God,
stuur Ek hom;
teen die volk op wie my gramskap rus,
gee Ek hom volmag,
om oorlogsbuit te roof
en buit te maak,
om van hulle ‘n vertrapte ding,
soos die kleigrond van strate,
te maak.

15-16
15Kan ‘n byl spog teen die een
wat met hom kap;
of kan ‘n saag hom groot hou
teen die een wat met hom saag,
asof ‘n stok die een swaai
wat hom optel,
of ‘n staf die een optel
wat nie hout is nie?
16Daarom sal die Heer, die Here,
Heerser oor alle magte,
onder Assirië se vet mense
‘n uitterende siekte instuur,
en onder sy geëerdes
sal ‘n brand uitbreek
wat soos ‘n egte vuur sal brand.

44:24-28
24So sê die Here, jou losser,
Hy wat jou in die moederskoot
al gevorm het:
“Ek is die Here
wat alles gemaak het,
wat alleen die hemel oopspan,
wat die aarde uitbrei
– wie was by My? –
25wat die voortekens
van orakelpriesters verydel,
wat van voorspellers gekke maak,
wat wyses laat terugdeins
en hulle kennis belaglik maak,
26wat die woord
van sy dienskneg bevestig,
wat die plan
van sy boodskappers uitvoer,
die Een wat oor Jerusalem sê,
‘Sy sal bewoon word,’
en oor die dorpe van Juda,
‘Hulle sal herbou word,
Ek sal sy puinhope weer oprig,’
27die Een wat vir die diepsee sê,
‘Word droog!
Jou seestrome gaan Ek drooglê,’
28die Een wat oor Kores sê,
‘Hy is my herder;
en alles wat Ek wil, sal hy uitvoer,’
deur oor Jerusalem te sê,
‘Sy sal herbou word,’
en die •tempel –
‘sy fondament sal gelê word.’ ”

45:1
451“So sê die Here vir sy gesalfde,
vir Kores,
wie se regterhand Ek vasgegryp het
om nasies voor hom te verslaan,
deur konings te ontwapen
om voor hom deure oop te maak,
sodat poorte nie vir hom
gesluit sal bly nie,

Wenk

WENK: Dit is goed om in woorde te probeer neerskryf wat jy as jou lewensdoel sien – jy sou dit ook ’n lewensmissie kon noem. Dit help om van tyd tot tyd weer daarna te kyk, daaroor te bid en besin – en dalk verstellings aan te bring as jy daarvan oortuig is.
(Agter in die gids is ’n bladsy met kaartjies vir hierdie doel wat uitgeskeur kan word.)

Doen die volgende

Onthou om die bladsy vir die week se groepgesprek te voltooi!

Inhoudsopgawe

Kopiereg:
Dr. Frans Hancke.

Hierdie werk word deur kopiereg beskerm. Dit word aan u gebring deur die NG Kerk Groot-Brakrivier onder kopieregtoestemming soos verleen deur Dr. Frans Hancke aan die NG Kerk Groot-Brakrivier webtuiste. Enige kopieering of herverspreiding van hierdie materiaal is onderhewig aan goedkeuring van die kopiereghouer (Dr. Frans Hancke).

Sien ook die volgende kopiereg bepalings:
Kopiereg: Ons is die plan – 9 Weke van Transformasie

Skrifaanhalings geneem uit:
die Bybel in Afrikaans 2020-vertaling
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020.
Gebruik met toestemming.
Alle regte voorbehou.
www.bybelgenootskap.co.za / www.biblesa.co.za.
Kontak:
copyright@biblesociety.co.za