Gemeentefees: 3 Mei 2025

Die gemeente fees van 3 Mei was ‘n heerlike saamwerk en saamkuier geleentheid. Die dag is geopen met ‘n gebed deur Ds Danie Goosen.

Die tafels met hul interessante name soos, ‘Kole & konfyt’, ‘Skatte & snaaksighede”, ‘Soet sondes’, ‘Kerrie ‘n bietjie’, ‘Stok & smul’, ‘Koek & klets’, ‘Strooi & rol’, ‘Kraakvars natuurlekkers’ en ‘JAM’ was genoeg om die aptytwekkers aan te skakel. Al die gebak, gebraai, vars groente en vleis, die wit olifant tafel, boeke; asook die kinders se Jam (Jesus and Me) tafels was keurig versier. In die agtergrond was die musiek’ n wonderlike toevoeging om van die dag ‘n reuse sukses te maak.

Die kinders kon heerlik speel, en die ‘Sea Rescue’ span het die kinders ingelig oor strand veiligheid. Daarna moes die kinders vasskop en toutrek teen die pulley en draad koord van hulle voertuig. Dit was verseker ‘n ongelyke stryd.

Dit was ‘n gesellige oggend midde in al die vooraf beplanning en harde werk wat daarmee gepaard gegaan het. Die Gemeente fees span kan net bedank word vir die heerlike oggend.

Stof tot nadenke: “Wat laat ons groei?”

Laat altwee saam groei tot met die oes. In die oestyd sal ek vir dié wat oes, sê: ‘Maak eers die onkruid bymekaar en bind dit in bondels om dit te verbrand, maar bring die koring na my skuur toe.’

Matt. 13: 30

Ons weet dat ons hele lewe hier op aarde ‘n proses van groei is. Van voor geboorte vind daar groei plaas vanaf saad. Ons ontwikkel in baie klein mensies en ons hou nooit op groei tot ons fisiese volwassenheid bereik nie. Tydens hierdie fisiese groei proses, en selfs nadat ons fisiese volwassenheid bereik het, moet ons egter ook leer groei in begrip van ons aardse bestaan. Ons moet leer en groei om ook emosionele volwassenheid te bereik. Sodoende leer ons om werklik te lewe. Daar is ‘n bekende Ierse spreekwoord: “Dit maak nie saak hoe lank jou oupa was nie, jy moet self groei.” So moet ons elkeen groei tot volle potensiaal, wat ons slegs kan doen, as ons besef dat ons nooit regtig op ‘n punt kom waar ons kan ophou groei in hierdie lewe nie.

Daar is vele gesegdes en spreekwoorde oor groei, waarvan die een van Robert Browning nogal treffend is. “As jy tevrede is met wat jy is, het jy alreeds ophou groei. As jy sê’ “Dit is genoeg!” is jy verlore. Hou aan met loop, beweeg immer vorentoe, streef na die eindstreep. Moenie op die pad stilhou nie, of terugdraai nie, of van die pad afwyk nie.” So is ook die gesegde van Frank A Clark baie toepaslik op hierdie aardse bestaan: “Ons vind veiligheid en vertroosting tussen hulle wat met ons saamstem, maar groei tussen hulle wat van ons verskil.” In Matt. 13: 30 se gelykenis van die koring en die onkruid, hoor ons duidelik in die woorde van Jesus Christus ‘dat die onkruid en die koring saam sal groei op die land, maar dat dit aan die einde van mekaar geskei sal word’. Ons moet dus groei in die teenwoordigheid van die wat anders as ons is en selfs soms vir ons wil verdring.

Die groei van ‘n gelowige Christen is nou gekoppel aan God. Want dis God wat die groei nader aan Hom, in ons bewerkstellig. IL de villiers het dit so mooi gestel: “Maar wat ons vir God doen, is deel van die koninkryk, sê Jesus. Dit groei en word ongemerk ‘n groot boom. Laat ons maar werk en glo: God sal laat groei. God voorsien die saad in ons lewens wat ons laat groei nader aan Hom.

Ek het geplant, Appolos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het. Dit gaan dus nie om die een wat plant of die een wat natgooi nie, maar om God wat laat groei. Die een wat plant en die een wat natgooi, staan op gelyke voet: God sal elkeen beloon volgens sy werk.” (1 Kor 3: 6-8); “God wat saad verskaf om te saai en brood om te eet, sal ook aan julle saad gee en dit laat groei en julle vrygewigheid ‘n ryk oes laat oplewer.” (2 Kor. 9: 10); “Uit Christus groei die hele liggaam, ondersteun deur die gewrigte en saamgebind deur die spiere, soos God dit laat groei.” (Kol. 2: 19)

Wat is die belangrikste groeipunt vir ons lewens? Ons moet groei in die liefde. Liefde vir God en die liefde vir ons medemens. Daardie medemens waartussen ons geplaas is, deur God self. Dit is hoe ons nader aan God en Jesus Christus groei. Al kan ons as mense vergelyk word met die belangrike daaglikse speserye, soos sout, peper en ook ander kruie, vul ons mekaar aan om die perfekte samestelling vir God se verheerliking te bewerkstellig. Ons moet besef dat wanneer ons ons oorgee aan die groei wat God in ons bewerkstellig, maak dit vir ons die pad oop om meer soos Christus te wees.

Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdelee pas by mekaar en vorm saam ‘n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homselfop in liefde.” (Eff. 4: 15-16); “Mag God on Vader self en ons Here Jesus ons pad na julle toe oopmaak! En mag die Here julle liefde vir mekaar en vir alle mense laat groei en oorvloedig maak, net soos ons liefde vir julle. So sal Hy julle innerlik sterk maak dat julle onberispelik en heilig voor God ons Vader sal staan wanneer ons Here Jesus kom saam met al sy heilige engele.” (1 Tess. 3: 11: 13)

Laat ons groei in die liefde vir God en die liefde vir mekaar en dan sal ons dalk ook soos Israel van harte liefgehê kan word, wanneer God se toorn afgewend is. Want dan sal God vir ons wees soos die dou vir die plante, en ons sal geil kan groei en sterk wees soos die olyfboom.

Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag. Die tweede is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Geen ander gebod is groter as dié twee nie.” (Mark. 12: 30-31); “Ek sal hulle van harte liefhê. Wanneer my toorn van hom afgewend is, sal Ek vir Israel wees soos die dou. Hy sal bloei soos ‘n lelie en hy sal vas staan soos die Libanon. Hy sal geil groei. Hy sal so sterk wees soos die olyfboom en hy sal ruik soos die plante van Libanon.” (Hos. 14: 5-7))

Skep asem vir vandag: 4 Mei 2025

Dagstukkies April

4 Mei

Liewe ….

Ek hoop dat jy ware innerlike genesing van enige seer in jou lewe sal kry. Hier is ‘n boodskap van God vir jou.

Tema: Alles sal weer regkom

Teks: “God het my alles laat vergeet: al my swaarkry en alles wat my familie my aangedoen het.” (Gen 41:51)

  • Emosionele herstel gebeur nie dadelik nie. Josef moes eers wag vir die geboorte van sy oudste seun om dit te kry.
  • Die Here God wat trane afdroog, sal ook jou innerlike pyn gesond maak. 
  • Jy is vir Hom kosbaar. Hy ag jou hoog. Hy het jou ook lief (Jes. 43:4).
  • Jy is op jou naam geroep en jy behoort aan Hom (Jes. 43:1).
  • Dank die Groot Geneser God vir jou genesing.

Gebed

Liewe Vader, baie dankie dat U my volkome van elke letsel van my verlede sal genees.

In Jesus se Naam.

Amen.

Vorige dagstukkies

© NG Kerk Lynnwoodrif – word gebruik met toestemming.

Nuusflitse Week 19+ van 2025

Nuusflitse

Sondag 4 Mei 2025 erediens gelei deur ds Danie Goosen.
Woensdag 7 Mei 2025 Geen Bolkbyeenkoms
Woensdag 7 Mei 2025 Koor oefening 16:45
Sondag 11 Mei 2025 : Erediens om 09:00 – Dr Gerrie van Deventer.
Wolwedans Boodskap Sop en Brood – 7 & 21 Mei en 4 & 18 Junie.
Vrydag 20 Junie 2025 – Magda Louw – (K)Letterkunde 18:30

Afkondigings 4 – 11 Mei 2025

Afkondigings

Sondag 4 Mei 2025 :

  • Baie welkom by die erediens gelei deur ds Danie Goosen.
  • Ons skriflesing kom vanoggend uit Psalm 30.
  • Die tema van die prediking is: Die Pad saam met God…
  • Arbeidsondag.
  • GEEN Kategese.
  • Sinodale offer vir Gemeenteondersteuning by die deure.
  • Tee sal bedien word in die kerksaal na afloop van die erediens. Almal is welkom.
  • Groenkloof preek om 10:00 – Digitaal.
  • Paul Smuts besoek – terugvoer oor Die Gideons
Lees meer “Afkondigings 4 – 11 Mei 2025”

Skep asem vir vandag: 3 Mei 2025

Dagstukkies April

3 Mei

Liewe ….

Ek hoop dat jy saam met die Here hard sal werk. Jy sal sien hoeveel geluk die Here vir jou harde werk gee. Hier is Sy Woord vir jou.

Tema: Sorg vir jouself

Teks: Josef het so baie koring bymekaargemaak dat dit net soveel was as die sand van die see. Hy het later opgehou om aan te teken hoeveel daar was, want dit was te veel om te tel. ” (Gen 41:49)

  • Maak jou planne dadelik. Doen jou planne deeglik. Voer jou planne uit. Werk hard.
  • Sukses kom na goeie beplanning en weens harde werk.
  • As jy vooruit beplan en vooruit werk, sal jy in tye van moeilikhede veilig wees.
  • Die Here sorg vir jou as jy vir jouself ook sorg (2 Tess 3:10, 12).

Gebed

Liewe Vader, help my sodat ek hard werk.

In Jesus se Naam.

Amen.

Vorige dagstukkies

© NG Kerk Lynnwoodrif – word gebruik met toestemming.

Skep asem vir vandag: 2 Mei 2025

Dagstukkies April

2 Mei

Liewe ….

Vandag bid ek dat dit met jou baie goed sal gaan. Mag die Here jou goeie lewe en gesondheid gee. Net so bid ek dat wie nie goeie beplanners is nie, daardie talent van die Here sal kry. Hier is Sy Woord  vir jou.

Tema: Leer om te beplan

Teks: “Die graan moet vir die land in reserwe gehou word, dit moet vir die sewe jaar van hongersnood beskikbaar wees in Egipte. Dan sal die hongersnood nie die land uitroei nie.” ” (Gén 41:36)

  • Die lewe gebeur nie net sommer nie. Daar is orde, ritme, harmonie en balans.
  • Daarom dat jy georden moet leef – in jou privaat lewe en in jou werk.
  • Sommige mense dink beplanning is onnodig.
  • Jy het dalk nie noodwendig die talent om te beplan nie, maar God se Gees help jou dit aanleer.
  • Beplanning is noodsaaklik vir sukses.
  • Wanneer jy jou lewe en werk beplan, sal jy met meer grasie hier op aarde leef.

Gebed

Liewe Vader, gee my wysheid, insig en die wilsvermoë om my lewe te beplan.

In Jesus se Naam.

Amen.

Vorige dagstukkies

© NG Kerk Lynnwoodrif – word gebruik met toestemming.

Skep asem vir vandag: 1 Mei 2025

Dagstukkies April

1 Mei

Liewe ….

My gebed is dat jy vandag sal besef dat God dinge kan doen wat jy nie kan doen nie. Hier is Sy Woord vir jou.

Tema: God laat die onmoontlike plaasvind

Teks: “Josef het vir Farao gesê: Nie ek nie! God gee die goeie antwoord vir u” (Gen 41:16)

  • Soms moet jy by die einde van jou vermoë, talente en eie planne kom en dit eers erken.
  • Erken dat God kan doen wat jy nie kan doen nie, al wou jy dit doen.
  • Die oplossings van die Here is ‘n prent van Sy krag, mag, wysheid, optrede en alom-teenwoordigheid.
  • Laat toe dat die Here jou lewe se verhaal en reis skryf. Staan terug.
  • Vanuit die Here God kom net liefde, genade, empatie, deernis en omgee, ja, tweede kanse.

Gebed

Liewe Vader, baie dankie dat U my lewe in geleenthede verander.

In Jesus se Naam.

Amen.

Vorige dagstukkies

© NG Kerk Lynnwoodrif – word gebruik met toestemming.

Nuusflitse Week 18+ van 2025

Nuusflitse

Sondag 27 April 2025 : GEEN Kategese. Erediens om 09:00
Maandag 28 April – Kerkkantoor gesluit
Dinsdag 29 April: Bestuurspan vergader om 17:30 in Lokaal 8
Woensdag 30 April Blokbyeenkoms om 18:00 in Blok: 9A
Woensdag 30 April GEEN Kooroefening..
Donderdag 1 Mei : Kerkkantoor gesluit
Saterdag 3 Mei: Gemeentefees
Sondag 4 Mei 2025 : GEEN Kategese. Erediens om 09:00
Woensdag 7 & 21 Mei : Wolwedans boodskap sop en brood.

Afkondigings 27 April – 4 Mei 2025 NG Kerk Groot-Brakrivier

Afkondigings - NGK Groot-Brakrivier

Sondag 27 April 2025 :

CAD

Die Christelike Afhanklikheids Diens is ‘n dinamiese organisasie vir die ondersteuning van substansafhanklikes en hul gesinne. Ons hoofdoelwit is om te verseker dat die herstellende stof afhanklike weerhou van die gebruik van afhanklikheid-produserende stowwe. Hulle ondersteun die afhanklike en hul gesin fisies, sielkundig, sosiaal en godsdienstig om meer produktief en gelukkig te wees. Uit persoonlike ondervinding weet ons dat daar hoop is, en as sodanig het ons ‘n opregte begrip van die probleem. Die CAD is nie ‘n behandelingsfasiliteit nie, dit is ‘n ondersteuningsgroep.

Maandag 28 April 2025 :

  • Publieke Vakansiedag – Kerkkantoor Gesluit.
Lees meer “Afkondigings 27 April – 4 Mei 2025 NG Kerk Groot-Brakrivier”

Gemeentefees 3 Mei 2025

Gemeentefees Mei 2025

3 Mei 2025
09:00 – 12:00

Hope kindervermaak
Vleis verkope teen goeie pryse
Basaar gunstelinge
Kom kuier vanaf 09:00 tot 12:00 saam en geniet die lekker atmosfeer geskep deur plaaslike kunstenaars.
10 Langstr Groot-Brakrivier.

🧁 Roosterkoeke Tafel – “Kole & Konfyt”: Vars van die kole – vuurwarm stoomtrek-lekkerte soos net ‘n roosterkoek kan wees! Heel (Plein) R20 elk / Konfyt R25 elk / Kaas R25 / Konfyt & Kaas R30 elk / Hoender Mayo R30 elk / Kudu Kerrie Mince R35. Enige bydrae van tuisgemaakte konfyt sal waardeer word.📞 Amelia le Roux 📞 Kevin van Tonder

🐘 Wit Olifant Tafel – “Skatte & Snaaksighede”: Kommervrye koop met reuse winskopies – iets vir elkeen! Skenkings welkom by Lokaal 6 (Ma, Wo, Vr). 📞 Annalene de Swardt

📚  Boek Tafel – Kom snuffel rond tussen pragtige tweedehandse boeke! Lees en Lag en Leer ! Skenkings welkom by die kerkkantoor (Ma, Wo, Vr). 📞 Annalene de Swardt

🍨 Smullekker Nagereg Tafel – “Soet Sondes”: Nog steeds die beste in die Weste! Poedings en nageregte teen net R17 per bakkie. Indien u poeding skenk, dui asb net aan of dit ‘n warm of koue poeding is. Roomys- en  foeliebakke beskikbaar. 📞 Dirk & Dorette Visser

🍛 Kerrie & Rys Tafel – “Kerrie ‘n Bietjie”: Geurig en vol huislike smaak – Ouma sou trots wees! R40 vir ‘n lekker groot porsie. 📞 Barbara Gericke 📞Corita du Preez

🍢 Sosatie Tafel – “Stok en Smul”: Ons skakel hoenders om in ‘n feesmaal op ‘n stokkie – perfek gebraai en propvol geur! R18 per sosatie. Indien jy lief is vir braai en ‘n handjie wil bysit, kontak gerus vir 📞 Eddie 

🥪JAFFLES:  R25 elk. Kom geniet ons kraakvars Jaffles met geurige maalvleis vir oud en jonk!👨‍👩‍👦‍👦 Wenk: Jaffles kan gevries word, kan skoolpouse ‘n lafenis wees en bejaardes ‘n maaltyd soos van ouds.🤹‍♀ 🍪🍴Kom koop en geniet! 📞 Annatjie Janse van Rensburg – 📞 Corrie Pieters –

🍰 Tee Tuin – “Koek & Klets”: Kom sit onder die sambreel en geniet ’n koppie koffie of tee met ’n stukkie vars gebakte koek. ☕ Koffie/Tee – R15 | 🍰 Koek – R20 📞 Michelle Roon

🍽   Pannekoek Tafel – “Strooi & Rol”: Ons pannekoeke is sag, warm en vol geur. R6 elk. 📞 Elsabé Richards – 📞 Piet Terblanche

🥕 Groente Tafel – “Kraakvars natuurlekkers”: Vars uit die tuin – gesond, geurig en g’n   preserveermiddels! 📞 René Vorster .

🥳 JAM (Jesus And Me) KINDERTAFEL: Treintjie – R5 per rit , “Soft Play” – eenmalige R10, Springkasteel – eenmalige R10, Tombola – kom geniet jou gate uit! Ons benodig asb geldelike bydraes of oulikhede om op die dag by die kindertafel te verkoop. 📞 Tanya Heath

🍴 LEWERKOEKIES: Slegs vir vooraf bestelling en om Saterdag af te haal. Groot (9cm deursnit) @ R10 elk of 6 vir R50. Bestellings sluit Maandag 28 April. Vries goed. 📞 Corrie Pieters

NG Kerk Groot-Brakrivier Gemeentefees 3 Mei 2025

Basaar Mei 2025 NG Kerk Groot-Brakrivier

Gemeentefeeslyste sirkuleer tans. Bydraes kan ook by die kerkkantoor of deur die internet inbetaal word.

Enige bestanddele is ook baie welkom. Dui dit asb op u lys aan of kontak die betrokke persone. Die bestanddele moet asb ‘n week voor die gemeentefees by die betrokke sameroeper  of by die kerkkantoor ingehandig word.

Ons rekening is:

NG Kerk Groot-Brakrivier, FNB, Rek no 53083186511, takkode 210314. (Indien ‘n EFT gedoen word, moet u dit asb as “GFees” & Bloknr  & Van,  merk).

Ons neem nie vooraf bestellings nie, maar Groenkloof kan met die kerkraad gesels om hulle aankope by die fees af te haal.

Lees meer “NG Kerk Groot-Brakrivier Gemeentefees 3 Mei 2025”

Sendingnuus – Madagaskar: Vonjy maika!

Save urgently!  The English translation for ‘vonjy maika’, is emergency.  We had an emergency when we visited Lovako School in Ampamata at the end of April.  You might wonder why I haven’t mentioned any of it, but besides being caught up in the aftermath, I prayed that God would provide the deliverance and that I could share it as a testimony to God’s grace.

Lees meer “Sendingnuus – Madagaskar: Vonjy maika!”

Nuusflitse Week 22+ van 2024

Nuusflitse

Woensdag 29 Mei 2024 : • Nasionale Stemdag. • Daar is GEEN kooroefening die week nie
Sondag 2 Junie 2024 : • Erediens om 10:00. • Prediker – Ds Danie Goosen. • Doop. • Kategese
Wolwedans boodskap, sop en brood: 5 & 19 Junie

Afkondigings 26 Mei tot 2 Junie 2024

Afkondigings - NGK Groot-Brakrivier

Sondag 26 Mei 2024 :
• Baie welkom by die erediens.
• Ons skriflesing kom vanoggend uit Johannes 3:1-17.
Die tema van die prediking is: Nuwe Lewe.
• Kategese.
• Sinodale offer vir Buitelandse Sending (Zimbabwe/Malawi/Mosambiek) by die deure.
• Tee word bedien in die kerksaal na afloop van die erediens. Almal is welkom.

Woensdag 29 Mei 2024 :
• Nasionale Stemdag.
• Daar is GEEN kooroefening die week nie.
• Blokbyeenkoms om 18:00 in Blok 10A (Tergniet-Oos) en 10B (Tergniet-Sentraal & Wes) by Maja Wagener, Luckhoffstraat 2 – 083 476 6147.

Sondag 2 Junie 2024 :

Erediens om 10:00.
• Prediker – Ds Danie Goosen.
• Biddag vir Ekologie.
• Doop.
• Kategese.
• Spesiale offer vir Ramot by die deure.
• Tee word bedien in die kerksaal na afloop van die erediens. Almal is welkom.

Die eredienstye verskuif na 10:00 gedurende die maande van Junie, Julie en Augustus.

Gebedsgidse :

Gebedsgidse vir Junie 2024 is beskikbaar in die voorportaal.
Die gebedsgidse, dankofferkoeverte, Kerkbode en Gemeentebriewe is ook by die traliehek van die kerkkantoor beskikbaar.

Dankie vir die persoon wat na vore gekom het om te help met die gebedsgidse!
Ons benodig nog een persoon wat kan help met die opstel van maandelikse gebedsgidse. Elke persoon kry 3 beurte per jaar (elke 4de maand) om ’n gebedsgids op te stel, dit kan oor enige onderwerpe handel. Indien u wil betrokke raak skakel Mona de Wet – 084 628 2866.

Nuwe lidmate en lidmaatbesoeke :

Ons nooi nuwe lidmate om asb na die erediens tot voor die kansel te kom waar ons u graag wil ontmoet. In die voorportaal is ook vorms beskikbaar wat u kan voltooi en by die kerkkantoor inhandig of u kan dit in die posbus by die kerkkantoor ingooi.
Ds Danie Goosen besoek nuwe intrekkers. Indien u nog nie ’n besoek ontvang het nie kontak of kom loer gerus in by die kerkkantoor om ’n afspraak te maak.
Bestaande lidmate wat ’n besoek verlang kan ook gerus die kerkkantoor kontak of kom inloer om ’n afspraak te maak – Maandae, Woensdae en Vrydae tussen 08:00 en 13:00.

Getuienisbediening :
Wolwedans boodskap, sop en brood:

Ons nooi die gemeente om deel te neem aan ons projek – om 2 liter sop, ‘n brood en ‘n bemoedigende boodskap te voorsien aan 100 gesinne elke 2de week. Die oorblywende datums vir die tweede kwartaal is 5 & 19 Junie. By voorbaat baie dankie vir julle getroue ondersteuning.

Behoeftes vir Getuienisprojekte:

• Daar is ‘n deurlopende behoefte aan wol, materiaal, gare, borduurgare, linne, eetgerei en gebreekte keramiek/porselein (vir mosaïk projekte). Baie dankie vir alles wat deurlopend voorsien word.
◦ Daar is steeds ’n spesifieke behoefte vir ’n baba stootwaentjie. Indien u een kan skenk kan dit gedurende kantoorure by die kerkkantoor afgegee word/gereël word vir afhaal. Vir navrae skakel asb vir Aletia – 084 783 1308.

Ondersteuningsgroep :
Ons groep wil graag mense ondersteun met:
• Vervoer na doktersafsprake of vir inkopies.
• Emosionele ondersteuning weens verlies van een of ander aard.
Soms het ’n mens net iemand nodig om te luister of by jou te sit.
Skakel ons gerus: Riana Briers – 081 039 8853 / Riëtte Jansen van Rensburg – 082 928 9625.

KOLLEKTE SAKKIES
Ons benodig vrywilligers wat kan help met die mooimaak van ons kollekte sakkies. Indien u bereid is kontak asseblief die kerkkantoor.

Dankies

Bloedskenking :
Die bloedskenking op 23 Mei 2024 het 54 volpinte bloed opgelewer.

Baie dankie vir die 60 mense wat opgedaag het om te skenk, u skenkings kan lewens red. Ons sal u in kennis stel wanneer die volgende geleentheid plaasvind.

Bybelgenootskap :
’n Bedrag van R20 404 is ingevorder vir Bybelgenootskap met die Pinksterdienste se deurkollekte. Baie dankie vir elkeen se bydrae.

Omgeebediening :
• Indien u bewus is van iemand met nood, siekte of wat eensaam is en hulp benodig kontak u kerkraadslid of die kerkkantoor.
• Ons wil gemeentelede kans gee om prakties betrokke te raak! By die deure is houers om enige nie-bederfbare kosprodukte in te plaas soos suiker, pasta, rys, konfyte, blikkieskos, seep, tandepasta, koffie, tee, ens. Enige bydraes help om nood te verlig.
• Enige persoon wat graag by die Omgeebediening betrokke wil raak skakel asseblief vir Corrie Pieters – 082 327 9527.

Die webwerf (nggrootbrak.co.za)
26 Mei 2024

1. Erediensbediening:
Skakel na die YouTube Erediens van 26 Mei 2024.

  1. Getuienisbediening:
    Die weeklikse nuus uit Madagaskar.
  2. Bybelstudiereeks:
    Die Weeklikse: “Stof tot nadenke: Verskillende Gawes”.
  3. Gemeentenuus:
    a) ‘n Kort oorsig en fotogallery van die Ekumeniese Pinksterdiens 2024 wat by VGK
    gehou is op 19 Mei 2024.
    b) Sien die veranderde tye van die Eredienste vir Junie, Julie en Augustus.
  4. Die Afkondigings word weekliks op die webwerf geplaas.

Ons dank u vir u volgehoue bydrae en ondersteuning van die werk van die Here.

Leraars: Danie Goosen – 079 525 3624
Charné Viljoen – 083 294 6640

Lanstraat 10, Groot-Brakrivier, 6525  044 620 2205
e-pos: kerkkantoor@nggrootbrak.co.za / kassiere@nggrootbrak.co.za
Webwerf adres: https://www.nggrootbrak.co.za

Bankbesonderhede: FNB tjekrekening
Rek Nr. 530 831 865 11
Takkode 210314