Augustus 2022
“U is my skuilplek en my skild; op u woord wag ek.”
PSALMS 119:114
Gebedsgids vir Augustus 2022
Maandag 1 Augustus: Ons Kerk
Ons kerke is by ‘n kruispad. Baie mense verlaat die kerk of woon nie meer eredienste by nie. Kom ons dra dit aan die Here op en bid vir herbesinning en ‘n omkeer.
Dinsdag 2 Augustus: Eensaamheid
“My God My God waarom het u My verlaat” was Sy woorde met Sy kruisiging. Eensaamheid kan erg wees en daar kan tye kom dat ons ook so mag voel. Kom ons bid tot die Here vir Sy alomteenwoordigheid en nabyheid.
Woensdag 3 Augustus: Misbruik van kinders (Markus 9:42)
Miljoene kinders van alle ouderdomme word dwars oor die wêreld misbruik en verniel. Hulle word seksueel misbruik, hulle word as slawe verkoop, op allerlei wyses mishandel en verniel. Ons dra die kinders se lot deur ons gebede aan die Here op.
Donderdag 4 Augustus: Verwoesting van die aarde
Adam en Eva is uit Eden uitgegooi oor ongehoorsaamheid. Ons bly steeds in ‘n Eden en verwoes dit deur ons onverantwoordelike optrede mbt. besoedeling. Bid vir ‘n verandering in gesindheid wêreldwyd.
Vrydag 5 Augustus: Terneergedrukte mense
Vele mense om ons leef om een of ander rede as terneergedruktes. Kom ons dra hulle aan die Here op en vra vir vreugde in hulle lewens.
Saterdag 6 Augustus: Bekommerde mense
In ons gemeenskap kan vele bekommerde geliefdes wees. Bekommerd oor finansies, behuising, gesondheid, kinders, ouers ens. Kom ons dra hulle almal aan Vader op.
Sondag 7 Augustus: Stop van bendegeweld
Bendegeweld is ‘n groot probleem in ons samelewing. Gepaardgaande daarmee ook baie misdaad en moord. Kom ons vra Vader vir vrede op hierdie gebied en dat Hy dit sal omskakel na iets wat Sy grote naam tot eer sal strek.
Maandag 8 Augustus: Sending regoor die wêreld
Reg oor die wêreld is daar pragtige mense wat hierdie saak onderneem. In vele gevalle is hulle lewens en die wat hulle bedien in doodsgevaar. Kom ons dra hulle veiligheid en beskerming en sukses aan die Here op.
Dinsdag 9 Augustus: Nasionale Vrouedag
Ons rig ons gebede tot Vader om sy vleuels van liefde en beskerming oor die ganse vroulike geslag uit te sprei en hulle te seën vir die enorme positiewe bydrae wat vroue oor die wêreld, in die wêreld maak.
Woensdag 10 Augustus: Plaasmoorde
Ons land word geteister met plaasmoorde en sommige politici hits dit aan. Ons gaan Vader vra om drasties hier in te tree ter beskerming van ons land se boere, maar ook om die hele ingesteldheid van moordenaars en potensiële moordenaars en aanhitsers te verander.
Donderdag 11 Augustus: Hawelose mense
Dit is winter en snags bitter koud buite. Hawelose mense moet hierdie toestande op sypaadjies trotseer. Kom ons bid dat ons gemeente se program vrugte sal afwerp en dat ons sal help waar ons kan.
Vrydag 12 Augustus: Radelose mense
Vele mense in ons omgewing en in ons land is raadop met omstandighede wat hulle deel is. Dit mag hulle finansies wees, hulle kinders, hulle ouers, hulle vriende en dalk nog hulle kerk ook. Kom ons dra hulle aan die Here op vir verligting van hulle omstandighede.
Saterdag 13 Augustus: Ekonomiese oplewing
Miljoene mense in ons land is werkloos. Miljoene se huislike ekonomië is aan flarde. Miljoene kan niks meer bekostig nie en ly gebrek. Ons gaan Vader deur ons gebede vra om ons land se ekonomie sodanig te verbeter dat hierdie tragiese omstandighede die hoof gebied kan word.
Sondag 14 Augustus: Werkskepping
Die Staat en nywerhede kan nie al die werkloses akkommodeer nie. Laat ons in ons gebede die Here vra om die werkloses sodanig met kennis, insig, ywer en entoesiasme te bemagtig dat hulle hul eie werk kan skep en sodoende ook ‘n bydrae tot die land se ekonomie kan lewer
Maandag 15 Augustus: Ons skole
Dit is van groot belang dat ons jeug ‘n goeie skoolopleiding kry. Ongelukkig is dit nie oral die geval nie en is daar groot leemtes. Kom ons pleit ons Here om ons skolestelsel ter wille te wees en dit sodanig op te hef dat ons dankbaar trots sal wees op die kinders wat dit sal lewer en wat hierdie pragtige land van ons die toekoms sal kan inlei.
Dinsdag 16 Augustus: Ons Universiteite
Op ons universiteite is daar tans geweldig baie studente. Ons vra Vader om met elke jong mens daar te wees en ‘n verantwoordelikheid te kweek in die sin dat elkeen sal besef dat hy/sy een of ander toekomstige leier sal wees en so ‘n posisie met verantwoordelikheid sal moet beklee wat die Vader se naam ter ere sal wees.
Woensdag 17 Augustus: Ons plaaslike regerings
Met meeste plaaslike regerings gaan dit nie goed nie. Dienslewering en herstelwerk het tot stilstand gekom, korrupsie vier hoogty, miljarde Rande word aan leweransiers geskuld en inwoners ly daaronder. Ons bid tot God om hier in te tree en ‘n verantwoordelikheid by amptenare te skep wat hierdie tragiek sal regstel.
Donderdag 18 Augustus: Vermiste mense
Gereeld word daar op sosiale media fotos van volwassenes en kindertjies so jonk as 10 jaar en selfs jonger gesirkuleer wat op een of ander tragiese wyse vermis geraak het. Ons bid vir kalmte en hoop by families en gesinne, maar ook vir die ingesteldheid of vrees wat by die vermistes aanwesig mag wees. Ons vra vir Vader vir hulle veiligheid en spoedige terugkeer.
Vrydag 19 Augustus: Dwelmverslawing
Baie volwassenes, jong mense en jong-jong kinders is verslaaf aan dwelms. Ons kan maar net vir God vra om hulle van hulp te wees met genesing, want dit vra Goddelike krag om van die verslaafdheid ontslae te raak. Mag God se gramskap ook fel neerkom op hulle wat die dwelms verskaf sodat hulle eerder smokkelaars van Sy Woord sal word.
Saterdag 20 Augustus: Bybelverspreiding
Die opdrag in Markus 16:15 is duidelik. Kom ons dra almal wat met hierdie taak besig is aan Vader op. Ons bid vir sukses maar ook vir hulle veiligheid.
Sondag 21 Augustus: Verdraagsaamheid
In ons pragtige land is daar ‘n groot mate van onverdraagsaamheid en veral tussen verskillende rasse. God het ons almal saam hier aan die Suidpunt van Afrika met ‘n doel geplaas. Bid God dat Hy deur Sy Heilige Gees ‘n gees van verdraagsaamheid tussen almal hier sal skep sodat ons nie Sy doel sal verydel nie.
Maandag 22 Augustus: Siekes en mense wat terminaal siek is
Jesus het vele siekes genees tydens Sy verblyf by ons. Ons vra Hom deur gebed om ook weer die siekes in ons midde te genees en hulle wat terminaal siek is, styf vas te hou en hulle te oorlaai met Sy liefde, krag en bemoediging, en as dit Sy wil is hulle ook met genesing te bevry van hulle bekommernis.
Dinsdag 23 Augustus: Beskermingsdienste
Die land se Beskermingsdienste verkeer onder groot druk. Ons dra hulle aan Vader op.
Woensdag 24 Augustus: Eerbiedwaardige optrede
Ons kan ons soms so skuldig maak aan ruwe en onbeskofte optrede teenoor ons medemens en naaste. Kom ons vra Vader deur gebed om Sy Heilige Gees in ons harte te vestig en dat ons gelei kan word tot eerbiedwaardige en vreugdevolle optrede.
Donderdag 25 Augustus: Gestremdes
Gestremdheid van watter aard ookal is nie maklik nie. Die gestremde asook hulle gesinne het ‘n swaar las om te dra. Ons smeek God in Sy almag om Sy genade oor gestemdes en hul gesinne in oormaat uit te stort
Vrydag 26 Augustus: Onrus en oorloë in die wêreld
Die wêreld word geteister deur onrus en oorloë. Miljoene onskuldige mense en kinders word daardeur dood of vreesbevange gelaat. Kom ons vra die Heer om vrede te bring en die wat daarteen stribbel soos in die dae van Israel uiteen te jaag en te verstrooi.
Saterdag 27 Augustus: Beskerming van gelowiges in die Middeooste
Ons broers en susters in die Here in die Middeooste het dit geweldig swaar. Word hulle geïdentifiseer, is dood hulle voorland. Ons bid God vir ‘n versoenende gees aldaar en dat Hy hulle sal beskerm om Hom vrylik te kan aanbid en dien.
Sondag 28 Augustus: Oues van dae
In ons omgewing is daar vele oues van dae. Hulle woon by kinders, of ouetehuise of sorgsentrums. Van hulle is ook enkellopend en woon alleen. Ons bid vir hulle en vir mekaar en vra ons Almagtige Vader vir Sy liefde en beskerming en dat die laaste jare met vreugde, lag en liefde gevul sal wees
Maandag 29 Augustus: Klimaatsverandering
Klimaatsverandering is stadig besig om God se Skepping te verwoes. Die mens is direk daarvoor verantwoordelik deur die die atmosfeer te besoedel. Kom ons bid vir kennis en ‘n ingesteldheid om dit te bekamp.
Dinsdag 30 Augustus: Ons land se jeug
U, Here het eenkeer gesê dat die een wat die kinders leed aandoen, dit vir hom beter sal wees om met ‘n meulsteen om die nek in die see gewerp te word. Kom ons bid vir hulle en dat God Sy vleuels van beskerming oor elkeen sal hou
Woensdag 31 Augustus: Werkende mense
Ons dank en gebede gaan uit na werkende mense wat ons land instand hou. Ons vra vir Vader om hulle te onderskraag, ook in so ‘n mate dat hulle Hom nooit sal vergeet nie.
Erediens Sondag 31 Julie 2022
Prediker: Ds. Danie Goosen
Skriflesing: Lukas 12: 13 -21
Tema: Bou en vertrou
Begeleiding: Annelene de Swardt
Liedere
Lied 251: 1-3
Nuusflitse Week 31+ van 2022
Sondag – 7 Augustus 2022 • Kategese om 09:00. • NAGMAAL om 10:00 • Prediker: Ds. Danie Goosen.
Getuienisbediening 10 en 24 Augustus 2022, 7 en 21 September 2022
Omgeebediening – Skakel Corrie Pieters (082 327 9527) vir verdere inligting
Ondersteuningsgroep 4 Augustus 2022
Klub 50+ hou hulle jaarlikse pannekoekdag op 10 Augustus in die kerksaal.
Bloedskenking – Donderdag 4 Augustus 2022, vanaf 15:00 tot 19:00 in die kerksaal.
Lief en Leed Week 31 van 2022
Afkondigings 31 Julie – 7 Augustus 2022
Vandag – Sondag 31 Julie 2022:
• Baie welkom by vanoggend se erediens.
• Ons skriflesing vanoggend kom uit Lukas 12 vers 13 tot 21. Die tema van die prediking is: Bou en vertrou?
• Sinodale offer vir Gemeentebediening.
• Kategese om 09h00.
Nuwe lidmate in ons gemeente:
Ons nooi nuwe lidmate om asb. na die erediens tot voor die kansel te kom waar ons u graag wil ontmoet. In die voorportaal is ook vorms beskikbaar wat u kan voltooi sodat ons u vinnig kan leer ken. U is welkom om ons te kontak of te kom inloer by die kerkkantoor Maandae, Woensdae & Vrydae tussen 08:00 & 13:00.
Oekraine – Michelle Potgieter – Gebedsbrief Julie 2022
Liewe vriende en familie.
Die Here is goed. In Psalm 56:8 sê Dawid dat die Here ons trane in ‘n bottel bymekaar maak en hulle tel! (Amplified Bible) Hy gee soveel vir ons om. Verder sê Dawid, Wat kan mense aan my doen? Ons is in die holte van Sy hand. Die Here is getrou. Elke dag mis ek vir Ockert so baie. Wanneer ‘n mens ‘n paartjie sien, hand aan hand stap, hoe geliefdes mekaar groet. Ons was altyd saam. Altyd hand aan hand alles saam gedoen. Ek het nooit gedink ek gaan…Nou is my woorde op. Ek weet dat Vader elke traan tel.
Ek hou styf aan Hom vas. Soos ek vandag hier begin skryf, sit ek en Ivan erns in Berlyn in ‘n koffie winkel en wag. Ons wag vir Liz wat vroeg vanmôre, uiteindelik oor die grens is na baie lang wag. Sy is van Engeland en Corbin wat saam met haar ry, is ‘n jong seun uit Amerika. Hulle bring medikasie en hulp na Oekraine en het aangebied om vir my en Ivan saam terug te neem Oekraine toe. Hulle het ‘n klein karretjie met waentjie en dakrak vol bokse. Daar lê twee dae se pad tussen ons en Reni. Corbin en Liz dien nog nie die Here nie, maar hulle was al saam met ons in Reni na die dienste. Bid asseblief vir hulle. Ek glo nie dit is toevallig dat ons soveel ure het om saam met hulle in ‘n kar te wees nie. Ons gaan eers Lviv toe en van daar Kiev toe om humanitêre hulp af te laai. Daarna is dit Odessa en Reni. Bid asseblief dat ek en Ivan sonder probleme in Oekraine sal kan ingaan en bid asseblief vir oop deure. Daar is die grens uit Poland na Oekraine. Bid asseblief dat die Here vir ons die deur sal oopmaak. Die pad gaan vol padblokkades, soldate en tenks wees. Bid dat die Here Sy engele voor ons uitstuur.
Dit was goed om my kinders te sien. Dit was goed om onder ‘n boom te sit en roomys eet en lag oor al hulle stories van toe hulle klein was. Cilliers en Tanya bly nou in Duitsland en Mari-Alena het ook gekom. Dit was so goed vir ons almal. Mari-Alena is nou weer terug in Suid-Afrika, maar sy voel alleen. Bid asseblief vir haar.
Bid asseblief vir hierdie lang pad, vir ons beskerming wanneer ons deur Oekraïne ry. Daar was hierdie week soveel missiele wat Zatok getref het. Die plek lê tussen Reni en Odessa, aan die Swartsee.
Reni se hawe was die maand soveel keer in die nuus. Aan die eenkant is ons bly dat die hawe floreer en daar werk is vir soveel mense, maar aan die anderkant maak dit vir Reni ‘n teiken. Daar word soveel graan uitgevoer. Ons hou aan die Here se beloftes vas. Ons vertrou op Hom. Daar is steeds soveel vlugtelinge wat Oekraine verlaat en Reni toe kom. Veral nou van Odessa af. Ons gee steeds elke dag middagetes, kospakkies en klere uit.
Bid asseblief vir ons span wat elke dag kos maak vir nuwe krag.
Selfs die oorlog kon nie ons jeugleiers stop nie. Al kon ons nie hierdie jaar Masada hou nie, aangesien al die kampplekke vol is met vlugtelinge. Hulle het sommer agter in ons erf gekamp. Die meisies in die huis en die seuns in tente. Speletjies was sommer op die dorp se sportgebied. Elke aand het hulle om ‘n vuur gesing en woord gebring. Benjamin Cor en die jeugleiers het woord gebring en ek het soveel getuienisse gehoor van jongmense wat die Here opnuut aangeraak het.
Raduga is nog met groot genade oop en ons is dankbaar dat ons elke dag in soveel kindertjies se lewens kan saai.
Baie dankie dat julle aanhou bid. Dankie dat julle vir ons intree. Dankie vir elke bydrae en ondersteuning. Daar sonder kan ons niks doen nie. Die vurige gebed van ‘n gelowige het groot krag.
Wanneer ek terug kyk oor hierdie jaar, is dit met soveel dankbaarheid. Die Here het so vir ons gesorg in hierdie moeilike tyd. Alle lof en eer aan Hom. Hy is altyd getrou, altyd betyds en altyd so goed vir ons.
Baie liefde en seën
Michele
Projekte rekening:
Standardbank,
Lynnwood Ridge tak (met kode 012445),
rekeningnommer 014330067
in die naam Nuwe Dag
My persoonlike
besonderhede:
Capitec
MRS M POTGIETER
Savings Account Number: 1554335599
Branch: 470010
Whatsapp:
+380938126060
Facebook:
Gerrie en Arlene se Nuusbrief
Mei/Junie/Julie Nuus
Ons is uiters dankbaar asook ietwat verbaas om te besef dat ons agter geraak het met die uitstuur van ons nuusbrief! Ons was vir die afgelope 2 maande besig met die tweede EMT (ETHNOS Mission Training) van die jaar, ek kan net getuig van God se wonderlike genade, getrouheid en voorsiening in die tyd.
Ons het met hierdie inname 11 studente gekry. Weereens ‘n baie spesiale groepie wat die Here gestuur het. In die groep is daar ‘n egpaar wat in Rusland, sending werk doen.
Madagaskar – THE WEEK – 17/07/2022
| Lynettemadanews Jul 25 |
Today is the big day! After a week of lots of last minute things to do, I am ready to leave for Germany. I am filled with excitement, somewhat nervous, but above all thankful to be blessed in this way.
Lees meer “Madagaskar – THE WEEK – 17/07/2022”Erediens 24 Julie 2022
Prediker: Ds. Danie Goosen
Skriflesing: Lukas 11: 1 – 13
Tema: Die vrygewige vriend
Begeleiding: Elize Hancke
Liedere
Halleluja 444
Afkondigings 24 – 31 Julie 2022
Vandag – Sondag 24 Julie 2022:
- Baie welkom by vanoggend se erediens.
- Ons skriflesing vanoggend kom uit Lukas 11 verse 1 tot 13. Die tema van die prediking is: Die Vrygewige Vriend?
- Spesiale offer vir Studente bearbeiding.
Studente bearbeiding fokus op die ondersteuning van studente in Stellenbosch, Tygerberg en Wellington, asook die post-matriek fees. Navorsing word ook gedoen oor die veranderende aard van bediening aan studente en jong volwassenes, om die bediening aan te pas en te verbeter.
- Kategese om 09h00.
Madagaskar: Embrace your Place…JoshGen School Building Project
I picked up a little book titled “Run the Race” when I visited Freda. I found what I read so valuable and relevant to our present situation. The book’s main focus was on us as Christians passing the baton to others and enabling and equipping other believers. One of the stumbling blocks that we encounter to run our race until the end, is times of trials and disappointments.
Lees meer “Madagaskar: Embrace your Place…JoshGen School Building Project”Lief en Leed Week 30 van 2022
Nuusflitse Week 30+ van 2022
Wolwedans boodskap, sop- en broodbediening is as volg: 27 Julie 2022, 10 en 24 Augustus 2022, 7 en 21 September 2022
Sondag – 31 Julie 2022 Kategese om 09:00. Prediker: Ds. Danie Goosen. Sinodale offer vir Gemeentebediening
Ondersteuningsgroep 4 Augustus 2022 Kontak gerus vir Riana Briers (081 039 8853)
Klub 50+ hou hulle jaarlikse pannekoekdag op 10 Augustus in die kerksaal.
Omgeebediening Skakel Corrie Pieters (082 327 9527) vir verdere inligting
Erediens 17 Julie 2022
Prediker: Dr. Frans Hancke
Skriflesing: Psalm 148
Tema: Die lewe is ‘n lied
Begeleiding: Elize Hancke
Liedere
Psalm 148
Lief en leed week 29 van 2022
Madagaskar: Lynette – Urgent Prayer Request
| ynettemadanewsJul 12 |
I received a notification to collect my passport yesterday, just to be told that my application was denied. I was even more shocked when the following was given as a reason:
“There are reasonable doubts as to your intention to leave the territory of the Member States before the expiry if the visa.”
Lees meer “Madagaskar: Lynette – Urgent Prayer Request”Afkondigings 10 – 17 Julie 2022
Vandag – Sondag 10 Julie 2022:
- Baie welkom by vanoggend se erediens en ‘n spesiale verwelkoming aan Dr Frans Hancke wat vanoggend se erediens lei.
- Ons skriflesing vanoggend kom uit Markus 9. Die tema van die prediking is: ‘n Bergtopervaring.
- Spesiale offer vir die Hartenbos Versorgingsoord.
- Geen kategese.
Erediens 10 Julie 2022
Prediker: Dr. Frans Hancke
Skriflesing: Markus 9: 2 – 9
Tema: ‘n Bergtopervaring
Voorlesing: Johan Smit
Begeleiding: Elize Hancke
Liedere
Lied 509: 1
Nuusflitse Week 28+ van 2022
Ds. Danie is met verlof vanaf 4 tot 18 Julie 2022
Gebedsgidse vir Julie 2022 is beskikbaar met hierdie skakel (GebedsGids Julie 2022) op die webtuiste of in die ingangsportaal.
Klub 50 Woensdag 10 Julie 2022 – Bingo-, Sop-, en Sjerriedag
Ondersteuningsgroep 4 Augustus 2022
Wolwedans boodskap, sop en brood bediening. Die derde kwartaal se uitreike is 13 & 27 Julie, 10 & 24 Augustus en 7 & 21 September 2022 Benodig: Sop en brood.
Omgeebediening Ons probeer met die gemeente se hulp help waar daar nood is. Skakel Corrie Pieters (082 327 9527) vir verdere inligting.

