Stof tot nadenke: Groei…

Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar God laat groei. Daarom is nóg hy wat plant, nóg hy wat natgooi iets, maar slegs God wat laat groei.”

(1 Kor. 3: 6-720)

Hoe verstaan ons groei?

Ons assosieer meer dikwels groei met kinders of plante. Babas ontwikkel en groei in die moederskoot; word versorg en opgepas, om te verseker dat hulle normaal en gesond opgroei. Ons plant saad of jong plantjies en hou dit angstiglik dop, om te sien dat hulle die nodige groei toon, sodat ons in die blom of vrugdra seisoen, plesier daaruit kan kry.

Ons is nie altyd ten volle bewus daarvan dat daar konstante verandering is in hierdie groei fases nie. Selfs al sien ons verstommende verandering van bv. ‘n pap babatjie na ‘n tweejarige kindjie, wat reeds alle tekens van eie menswees toon. Dis dieselfde verstommende verandering wat in ‘n plantsaad opgevang lê. Daardie saadjie is ontwerp om ten volle te ontwikkel en blomme te ontwikkel wat dan weer siklies saad voort te bring.

Blote verandering is egter nie op sig self groei nie. Groei is die sintese van verandering en volharding. Dus waar volharding kortkom, is daar nie groei nie. Wanneer mens ophou groei, dis wanneer ons begin sterf.

Teksverse:

Kyk, dit is verplant. Sal dit gedy? Sal dit nie, as die oostewind dit tref, heeltemal verdroog, in die bedding waar dit groei, verdor nie.” (Eseg. 17: 1020);

En Hy het gesê: “Die koninkryk van God is soos ‘n man wat saad op die land uitstrooi, en nag ná nag gaan slaap, en dag ná dag opstaan, en die saad ontkiem en groei – hoe weet hy self nie. Die land bring die graan vanself voort: eers ‘n halm, dan ‘n aar en dan die koring vol in die aar.”” (Mar 4: 26-2820);

Dit is immers u wat my niere geskep het, my in die moederskoot geweef het.” (Ps.139: 1320)

Bybelse voorbeelde van geloofsgroei

Daar is verskeie voorbeelde in geloofsgroei. Ons kan gaan kyk na Petrus en Paulus. Beide mans wat deur God naamsveranderinge ontvang het. Petrus het Jesus blindelings gevolg, maar was ‘n wispelturige en emosionele man. Hy is egter ook deur Christus as die Rots van die evangelie aangewys, Ten spyte van sy verloëning van Christus. Die liefde waamee Jesus hom bejeën het, het Hom uiteindelik ‘n vurige kampvegter en apostel vir die evangelie gemaak, onder leiding van die Heilige Gees.

Paulus is tydens sy vervolging van die Christene, deur Christus tot stilstand geruk, en het ook ‘n draer van die evangelie geword. Hy het gelei en geleef vir die uitdrae van die evangelie, na die destyds ongeoorloofde lande. Die leiding en ondersteuning wat hy van God ontvang het, deur die genade gawe van die Heilige Gees, het hom gedring om aan te hou en te volhard.

Deur die werk van al die apostels, het daar menige mense tot geloof gekom, en ook gegroei in die geloof, soos duidelik uit die briewe van Paulus aan die Efesiërs, Kolosense en Petrus se briewe aan ander midde ooste dorpies. Die groei in geloof was duidelik gestel as mylpaal, “Om soos Christus te wees”, te kom.

Teksverse:

…totdat ons almal kom tot eenheid in geloof en kennis van die Seun van God, en tot volwassenheid wat in ooreenstemming is met die volgroeide gestalte van die volheid van Christus. Die doel hiervan is dat ons nie meer klein kindertjies sal wees nie, wat deur die onstuimige golwe rondgeslinger word en rondgewaai sal word deur elke wind en lering, deur mense se slinksheid en die gekonkel waardeur hulle dwaling beplan; maar dat ons eerder, terwyl ons in liefde aan die waarheid vashou, in alle opsigte na Hom toe sal groei. Hy, Christus, is die Hoof…” (Ef. 4: 13-1520);

…op grond van die hoop wat in die hemel op julle wag, Julle het al hiervan gehoor toe die woord van die waarheid, die evangelie, julle bereik het. Soos oral in die wêreld, het die evangelie, van die dag dat julle van God se genade gehoor en dit werklik verstaan het, ook onder julle begin vrug dra en groei.” (Kol. 1: 5-620);

Daarom dan, van die dag dat ons dit gehoor het, hou ons nie op om vir julle te bid nie. Ons bid dat julle vervul mag word met die volle kennis van God se wil, deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, om ‘n lewe te lei wat die Here waardig is, en Hom in alles tevrede stel, terwyl julle vrug dra deur elke goeie werk, en groei in die kennis van God,…” (Kol. 1: 9-1020)

Groei deur verandering

Dit is vir elkeen van ons moontlik om na bekering verder te groei in geloof.

Dat ons gedurig deur moet verander is ‘n voldonge feit. Slegs deur verandering kan ons groei. Ons moet stil raak voor God in gebed en smeking. Dit is wanneer ons lewegewende water van God af ontvang. Dan sal ons kan vrugdra en verder groei in geloof. Dis dan wanneer ons as Christene, diensbaar kan wees in die koninkryk en as voedsel sal kan dien vir ander mense, wat smag na God se lewegewende water. Laat ons almal saam groei in die genade en kennis van ons Here, Jesus Christus.

Ons moet net altyd waak om nie soos die Fariseërs hoogmoedig te word in geloof nie. Ons moet mekaar nederig dien en liefhê. Dis nie uit eie krag dat ons die genade gawe van God ontvang nie, maar in ons swakheid as mens.

Teksverse:

Aan weerskante van die stroom, op sy walle, sal allerhande vrugtebome groei. Hulle blare sal nie verwelk nie, en hulle vrugte sal nie opraak nie. Elke maand sal hulle nuwe vrugte dra, want dit is uit die heiligdom wat hulle water vloei. Hulle vrugte sal as voedsel dien en hulle blare tot genesing.” (Eseg. 47: 1220);

Soos dit gepas is, moet ons God altyd oor julle dank, broers, omdat julle geloof uitermate groei, en een en almal van julle se liefde vir mekaar toeneem.” (2 Thes. 1: 320);

Sorg dat julle aanhou groei in die genade en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus. Aan Hom behoort die heerlikheid, nou en ook tot op die dag van die ewigheid. Amen.” (2 Pet. 3: 1820)