Stof tot nadenke: Gawes

Ons het gawes wat van mekaar verskil, volgens die genade wat aan ons gegee is…
Rom. 12: 6

Elkeen van ons het gawes ontvang, wat deur God aan ons gegee is. Dit is nie noodwendig van die begin van ons bestaan reeds in ons besit nie. Deur ons lewenspad wat God vir ons gewil het, word elkeen van ons in uniekheid geskep, net soos deur die pottebakker elke unieke klei eindproduk vorm op die pottebakkerswiel. Elkeen van ons word dus voorberei om deel van God se koningkryk te word, en elkeen van ons het ‘n spesifieke doel, daar gestel deur die genade en God gegewe gawes, wat ons langs die pad ontvang. Dit laat mens met die vraag: “Nou wat is my gawes? Hoe weet ek waar God wil hê ek moet inpas in Sy raadsplan? Waar wil God hê ek moet my gawes gebruik? Hoe weet ek wanneer om my gawes te gebruik?”

Daar is so ‘n verskeidenheid van gawes, dat dit haas onmoontlik is om alles op te noem. Die mees bekende gawes waarvan ons hoor is om te profeteer, te predik, geestelike leiding te neem, om te dien, om onderrig te gee; en so kan ons aangaan (“Ons het gawes wat van mekaar verskil, volgens die genade wat aan ons gegee is: As dit die gawe van profesie is, beoefen dit dan in ooreenstemming met die geloof; as dit is om ander te dien, gebruik dit dan vir dienswerk. Wie onderrig kan gee, moet onderrig; wie kan bemoedig, moet bemoediging gee; wie mededeelsaam kan wees, moet die met opregtheid doen; wie leiding kan gee moet dit met toewyding doen; wie barmhartigheid kan betoon, moet dit met blydskap doen.” (Rom. 12: 6-8)). Wat ons gawes ookal mag wees, moet ons dit in opregtheid en met blydskap doen. As ons na 1 Kor. 12 kyk, word die verskeidenheid van gawes nog verder uitgebou, en word ons duidelik daarop gewys dat die gawes deur die Heilige Gees in ons bewerkstellig word (“Daar is ‘n verskeidenheid genadegawes, maar dit is dieselfde Gees; en daar is ‘n verskeidenheid dienste, maar dit is dieselfde Here; en daar is ‘n verskeidenheid aktiwiteite, maar dit is dieselfde God wat al hierdie dinge in almal bewerk. Aan elkeen egter word die openbaring van die Gees gegee, met die oog op wat bevorderlik is. Aan een word ‘n woord van wysheid deur die Gees gegee, aan ‘n ander ‘n woord van kennis deur dieselfde Gees; aan een geloof deur dieselfde Gees; aan ‘n ander gawes van genesing deur die één Gees; aan een dinamiese kragte, aan ‘n ander weer die gawe van profesie; aan een die onderskeiding van geeste, aan ‘n ander verskillende soorte tale, en aan nog ‘n ander die uitleg van tale. Een en dieselfde Gees bewerkstellig al hierdie dinge, wat Hy aan elkeen afsonderlik uitdeel volgens sy wil. Want soos die liggaam ‘n eenheid is, maar uit baie ledemate bestaan, en al die ledemate van die liggaam, alhoewel hulle baie is, een liggaam vorm, so I dit ook met Christus.” (1 Kor. 12: 4-12)). Ons gawes moet dus tot bervordering van God se koningkryk ingespan word en dit moet bevorderlik wees vir die koningkryk van God. Paulus wys ons ook op die heel belangrikste gawe in die bekende 1 Kor 13, naamlik die liefde en ook profesie (“Jaag die liefde na, en streef na die gawes van die Gees, veral om te profeteer.” (1 Kor. 14: 1); “Julle lê julle toe op die belangriker genadegawes, maar ek wys julle die heel beste weg.” (1 Kor. 12: 31)).

Hoekom is die gawes wat ons ontvang so belangrik? Paulus wys ons duidelik dat die hoofdoel is om die gemeente en samehorigheid van die gelowiges te bevorder (“So ook moet julle, aangesien julle julle beywer vir die gawes van die Gees, streef daarna om uit te munt met die oog op die uitbou van die gemeente.” (1 Kor. 1: 12)). Ons moet ook ons verganklikheid onder oë hou (“Elke mens is soos gras, en al sy prag soos ‘n veldblom; die gras verdroog en die blom val af; maar die woord van die Here bly tot in ewigheid.” (1 Pet. 1: 24)), want ons elkeen is net hier vir ‘n kort tydjie, daarom moet ons alles insit wat ons het, in die tyd wat aan ons gegee word.

Daar is een gawe wat ons saambind hier op aarde, naamlik die genadegawe wat Jesus Christus vir ons tot uitvoering gebring en vir ons tot werklikheid laat kom het. Dit is die genadegawe vir ons, indien ons glo, dat Hy deur Sy dood, die ewige lewe in die palm van ons hand kom gee het (“Want die loon van die sonde is die dood; maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.” (Rom. 6: 23); (“Maar die genadegawe is nie soos die oortreding nie. Want as deur die oortreding van een mens baie gesterf het, het die genade van God, ja, die genadegawe wat deur die een mens, Jesus Christus, gekom het, vir baie mense nog soveel oorvloediger geword. En die gawe is nie soos die gevolg van een mens se sonde nie; want die oordeel oor een mens se oortreding het tot veroordeling gelei, maar die genadegawe het tot vryspraak van baie oortredings gelei. ” (Rom. 5: 15-16)).

Vind uit wat jou gawes is. Dit wat jou in harmonie met God stel. Daar waar jy voel dat jy ‘n verskil kan maak, omdat die Heilige Gees ‘n rustigheid in jou gemoed bring, omdat jy die lewe ly wat God wil hê dat jy moet ly en omdat jy doen wat vrede bring in jou lewe. Laat ons dus gaan lewe in beskeidenheid (“Maar doen dit met beskeidenheid en met eerbied vir God. Sorg dat julle gewete skoon bly, sodat dié wat julle oor julle goeie lewenswandel in Christus belaster, daaroor skaam kan kry dat hulle kwaad van julle gepraat het.” (1 Pet. 3: 21)) in die wete dat God die Vader ons so lief gehad het, dat Hy ons ‘n genadegawe in Jesus Christus gegee het, en omdat ons sekerheid het dat die Heilige Gees in ons werk en ons bewus maak van wat die wil van God vir ons lewe is. So kan ons tot eenheid in geloof en kennis van die Seun van God en tot volwassenheid in die geloof kom (“totdat ons almal kom tot eenheid in geloof en kennis van die Seun van God, en tot volwassenheid wat in ooreenstemming is met die volgroeide gestalte van die volheid van Christus. ” (Eff. 4: 13)), sodat ons in liefde aan die waarheid kan vashou en nader aan Jesus Christus kan groei (“maar dat ons eerder, terwyl ons in liefde aan die waarheid vashou, in alle opsigte na Hom toe sal groei. Hy, Christus, is die Hoof uit wie die hele liggaam, harmonieus saamgevoeg en saamgebind, deur die ondersteuning van elke gewrig , volgens die werking van elke deel afsonderlik, die groei van die liggaam bewerk tot sy eie opbou in liefde. ” (Eff. 4: 15-16)). Laat ons in eensgesingheid, goedgesind wees teenoor mekaar, en mekaar aanvaar met elkeen se eie unieke eienskappe en gawes wat deur God in ons lewens bewerkstellig is (“Laat vaar alle bitterheid en woede en gramskap en geskreeu en gelaster, saam met elke vorm van kwaad. Wees goedgesind teenoor mekaar, met innige meelewing, terwyl julle mekaar vergewe, soos God in Christus julle ook vergewee het.”(Eff. 4: 31-32)).