Royal Rangers in Nosy Be, Madagaskar
“Royal Rangers is julle gereed!”
“Altyd gereed! Gereed vir alles! Gereed om te werk, te speel, te dien, te aanbid, om gehoorsaam te wees en te leef volgens God se Woord!”
Dit is altyd die hoogtepunt van ‘n Ranger samekoms, wanneer die kinders die leuse van die Royal Rangers uit volle bors voordra. Die “scouts” of padvinders is een van die effektiefste bedienings onder kinders. Dries het destyds kennis gemaak met die bediening terwyl hy boot gebou het in Suid-Afrika. Rangers vanuit Duitsland wat op ‘n vrywillige basis in Kaapstad bedien het, het hom gereeld op die boot gehelp en die nederigheid en ywerigheid van hierdie jong manne het hom baie beïndruk.
Dit was dus ‘n uitgemaakte saak dat ons Royal Rangers op ons eiland as deel van die skoolbediening sou begin. Royal Rangers is ‘n internasionale padvinderbediening en hulle hoofkantoor is in Amerika, maar ons werk ook nou saam met die Rangers in Duitsland en Suid Afrika. Lynette het die besondere voorreg gehad om die agt-jaarlikse “Bundeskamp” in Gotha, Duitsland te kon bywoon verlede jaar. Dit was ‘n belewenis om byna twintig duisend Rangers van regoor die wêreld saam op ‘n kamp van enorme proporsies te kon ervaar. Dit het ons aangespoor om selfs meer in ons eie Ranger bediening in te ploeg.
Die skoolgroep bestaan uit die ‘Kids Rangers’ (Graad 1 en 2) en die “Discovery Rangers” of Ontdekkers (Graad 3 – 5) . Hulle word verder opgedeel in kleiner groepies en dit is wat die Rangers so effektief maak. Daar is soveel geleentheid om individueel inspraak in elkeen se lewe te gee. Seuns en meisies is in aparte groepe en dit dra by om ook spesifieke kwessies aan te spreek. ‘n Groot gedeelte van elke week se samekoms word spandeer aan Bybelstudie en ons bestudeer elke boek van die Bybel. Die lesse is prakties en gee geleentheid vir bespreking. Die memorisering van Bybelverse is vir ons baie sinvol, want dit help die kind om in sekere situasies die Woord van God in herinnering te bring en so met die leiding van die Heilige Gees kan hulle dan die uitdagings van die lewe hanteer. Ons doen ook ‘merits’ of vaardigheidsontwikkeling. Dries fokus op die praktiese kundigheid soos tou en knoopwerk, hoe om met gereedskap te werk, hoe om ‘n kompas te gebruik, en algemene vaardighede om hulle in die alledaagse lewe te kan help. Lynette behartig kuns, speletjies en bewusmaking en bewaring van die omgewing. Dit is belangrik dat kinders leer dat diere en plante deur God geskape is en dat hulle ‘n verantwoordelikheid het om dit te bewaar. Madagaskar het so ‘n unieke fauna en flora en daar word ongelukkig min gedoen in ander skole om hierdie besondere erfenis met hulle te deel.
Ons het ook ‘n Royal Ranger groep wat Saterdagmiddae byeenkom. Dit is die Avonturier en Ekspedisie outjies wat alreeds in die hoërskool is en dit gee ons dus geleentheid om ‘n pad met hierdie jongmense te loop. Ons fokus ook op Bybellering, en die vaardighede sluit in; studiemetodes, Frans en Engelse taalvaardigheid, byvoorbeeld hoe om ‘n toespraak te lewer. Ons het ook baie pret met drama en kuns. Dit is altyd ‘n hoogtepunt wanneer van die oud-Rangers wat al studeer of werk, kom kuier. Ons gee hulle altyd geleentheid om te vertel waarmee hulle besig is en getuienis te lewer. Elkeen moedig die jongmense aan om getrou aan die Rangers te bly en getuig van die verskil wat dit in hulle lewens gemaak het. Dit is interessant dat hulle dit almal dieselfde ervaar; self-dissipline, goeie werks-etiek en dat hulle as leiers ontwikkel.
‘n Studie wat jare gelede in Engeland gedoen is, het gekyk na seuns wat padvinders was en hoe hulle lewens as volwassenes verloop het. Daar is oor die algemeen gevind dat hulle makliker werk bekom het en gehou het, minder egskeidings en dat hulle ook betrokke is in hulle gemeenskappe. Dit bevestig vir ons dat die voordele van dinamiese padvinders, blywend is.
Kampe is ‘n hoogtepunt vir elke Ranger. Dit is waar Gabriël tot sy volle reg kom. Ons hou gewoonlik die kampe in Russian Bay, so vier ure se seil van ons eiland af. Dit is ook ‘n goeie geleentheid om die outjies te leer van die see en hoe om te seil. Elkeen kry ‘n kans om die boot te stuur al kan van hulle nie eers verby die stuurwiel sien nie. Kampe is ‘n geleentheid om gedurende ‘n paar dae baie inspraak in hulle lewens te gee, aandag te gee aan die herplanting van die ‘mangrove’ of wortelboom wat uitgeroei word vir boumateriaal en natuurlik om die see ten volle te benut deur visvang en swem. Wat ‘n wonderlike voorreg!
Die trots van elke Ranger is natuurlik sy uniform en dit is dus belangrik dat ons kentekens toeken vir kampe en vaardighede. Dit is baie werk, maar Dries is baie vaardig met ‘n naaimasjien. Die optog in die dorp op die jaarlikse onafhanklikheidsdagvieringe is ook spesiaal aangesien dit die Rangers geleentheid gee om so ‘n bietjie te spog met hulle uniform en kry hulle gewoonlik baie applous en aandag.
Die belangrikste vir ons is dat elke padvinder die Rangerbelofte op ‘n daaglikse basis sal uitleef:
‘Met God se hulp sal ek my beste doen om God, my kerk en my medemens te dien en te leef volgens die Goue Reël;
Mattheus 7:12 “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen.”’


