Konnichiwa Nuusbrief – Elmar & Nadine (Missie Japan)

 Liewe ondersteuner,In Japan is daar ‘n gebruik om te sê 久しぶり (hisashiburi) vir iemand wat jy vir ‘n lang tydperk nie gesien het nie. Aangesien ons elkeen van julle lank terug gesien het sê ons aan julle elkeen Konnichiwa, 久しぶり Hisashiburi.
In hierdie brief wil ons baie belangrike nuus met julle deel. Hierdie nuusbrief sluit in ‘n brief vanuit die Missie Japan kantoor sowel as ‘n video waarin ons meer verduidelik.

   Brief vanuit die Missie Japan kantoor  Liewe Ondersteuner/voorbidder/vriend(in) van Missie Japan 
Verwys: Terugvoer van die Algemene Jaarvergadering van Missie Japan
Dit is ‘n voorreg om julle te groet te midde van ‘n baie moeilike tydperk in die bestaan van die hedendaagse wêreld. Die Covid-19-pandemie het die wêreld onkant gevang met die uitbreek daarvan in 2020, en voortgegaan om miljoene mense se lewens omver te werp, die ekonomie in chaos te dompel en die wêreld vir altyd te verander soos ons hom geken het. Ons het vinnig besef dat almal dieselfde storm beleef, maar nie almal se bote is ewe goed toegerus om die storm te hanteer nie.
Die afgelope bykans jaar en ‘n half hier by Missie Japan het, vir beide ons ondersteuners en sendelinge in die veld, gesorg vir heelwat uitdagings. Daar is ondersteuners wat, weens persoonlike finansiële redes, ons nie meer kon ondersteun nie. Daar is gemeentes wat ewe skielik nie meer hulle eie leraars kon bekostig nie en dus ook nie meer sendelinge in die veld kon ondersteun nie. Dit was die realiteit wat die pandemie gebring het. Dan was daar ons sendelinge wat nie kon terugkeer na Suid-Afrika toe weens die inperking nie. Voeg daarby ook die onsekerheid wat trotseer moes word van dalende ondersteuning en vinnig bevind jy jouself in ‘n amperse “perfekte” storm.  
Dit als gesê, is daar by almal van ons ‘n diepe dankbaarheid teenoor God as die gewer en onderhouer van die lewe. Ons staan maar net verslae en dalk ook verleë, as ons sien hoe die Here ons ondersteuners én ons sendelinge hierdie afgelope jaar gedra het en ook voorsien het in baie behoeftes! Al wat ons kan sê is: Soli Deo Gloria!
 
2021 Deputasie van sendelinge
Soos die inentings gevorder het, het internasionale reise weer toegeneem en kon ons sendelinge middel 2021 terugkeer na Suid-Afrika vir deputasie, rus en Missie Japan se Algemene Jaarvergadering. Die Du Rand’s was vir twee en halwe jaar in Japan en het so pas hulle eerste fase in Japannese taalstudies voltooi en het ten doel gehad om hulle ondersteuningsbasis uit te brei.
Daarom gee ek graag terugvoer rakende van die besluite wat geneem is tydens die Algemene Vergadering van Missie Japan wat plaasgevind het op 12 en 13 Oktober.
 
Finansies
Twee areas staan uit in die finansiële verslae (ons finansiële sisteem word in totaal hanteer deur die Sinodale Kantoor van die NG Kerk Vrystaat met verslag aan die bestuur van Missie Japan) naamlik wisselkoersskommelings en inkortings op ondersteuning. Soos reeds genoem het die pandemie ‘n groot invloed gehad op die finansiële posisie van gemeentes en ondersteuners. Daarom: ons dank aan u elkeen vir u volgehoue ondersteuning van Missie Japan te midde van ekonomiese afswaai en (soms) persoonlik moeilike finansiële omstandighede.
Die wisselkoers is ‘n tweede faktor wat ons koste geweldig beïnvloed. Die wisselvalligheid van die Rand teen groter geldeenhede soos die Yen, maak maandelikse begrotings baie moeilik. Die taak van die bestuur is om seker te maak dat die sendelinge in Japan ‘n leefbare bedrag kry wat in pas is met die hoë lewenskoste in Japan. Daar is na verskeie moontlikhede gekyk om die wisselkoers invloed op ons betalings na Japan te verminder. Ons vra u voorbidding in die verband.
Intern is daar verskeie pogings aangewend om kostes te besnoei. Daar is bv. oorgeskakel na Zoom as vergaderings platform, die Algemene Jaarvergadering is verkort na 2 dae en is gehou aan huis van Annalie en Tobie de Wet en waar moontlik is die vergoedings van die sendeling so gestruktureer dat dit koste besparend is. Met die beplanning van die deputasies na Suid-Afrika, het ons u as ondersteuners genader vir addisionele bydraes om koste binne die begroting laag te hou. ‘n Spesiale woord van dank aan u wat wel in die moeilike tye addisioneel bygedra het. Hierdie bydraes vir die deputasie projek het gehelp met die betaling van PCR (Covid) toetse, motors is verskaf waarmee die sendelinge kon reis en ander finansiële bydraes het oral iets gedek wat addisioneel betaal moes word.
In die geheel beskou wil ons tog ‘n ernstige appèl/versoek aan u almal rig om biddend te oorweeg om u huidige bydra met tussen 3-5% te verhoog. Ons is deeglik bewus van die moeilike tye waarin baie mense hulle self of gemeentes hulle bevind. Daarom ons versoek dat u dit biddend sal oorweeg.
  
Terugvoer en besluite oor sendelinge
 Elmar en Nadine
Daar is besluit dat die Du Rand’s voorlopig terug kom na Suid Afrika vir een jaar. Die afgelope jaar het ons die volgende uitdagings geïdentifiseer in hulle bediening in Japan. Dit is soos volg:
 
Hulle bedienings status in die Reformed Church in Japan (RCJ)  Tans is hulle sendelinge in ooreenstemming met die ooreenkomste wat Missie Japan het met die RCJ. Na die voltooiing van hulle aanvanklike taalstudies moet hulle nou kwalifiseer om as lekepredikers toegelaat te word in die RCJ. Van alle kandidate word verwag om ‘n sekere vlak van teologiese opleiding te hê, asook ‘n vereiste drie vakke: kerkbestuur, homiletiek/prediking en grondige kennis van die kategismus. Laasgenoemde drie moet in Japannees voltooi word deur die teologiese skool in Kobe. Dit laat hulle met die taak om hulle teologiese studies hier plaaslik by SATS (South African Theological Seminary) te voltooi asook die drie vakke by KRTS te voltooi in ‘n beraamde bestek van twee jaar.
         Die bestuur is van oordeel dat hierdie nie haalbaar gaan wees nie veral wanneer in ag geneem word dat hulle ook binne die plaaslike kerk daar werksaam gaan wees binne ‘n gebied (Shikoku) wat heelwat taal – en kulturele uitdagings het. As die doel nou is om teologiese studies te voltooi, dan is dit beter dat hulle dit hier voltooi teen ‘n verminderde lewenskoste as in Japan. As die SATS-studies voltooi is, kan hulle terugkeer en saam met die kerk daar die verdere studies voltooi ten einde toegelaat te word as lekepredikers. Die bestuur sal hulle vordering monitor en verdere aanbevelings maak aan die einde van 2022.

Finansiële situasie         
Die tuis-ondersteuningsbasis van die Du Rand’s moet uitgebrei word om hulle voortgesette werk in Japan volhoubaar te maak. Soos reeds uitgewys in die finansiële beriggewing, is die koste geweldig hoog om sendelinge in Japan te hou. Die Du Rand’s het vertrek na Japan met ‘n ondersteuningsbasis wat net-net hulle uitgawes gedek het. Soos aangedui is ondersteuners onder druk en speel die wisselkoers ‘n geweldige rol in volhoubaarheid. Terwyl hulle werk aan hulle studies, hulle Japannees aanlyn in stand hou, gaan hulle ook werk daaraan om hulle ondersteuningsbasis te vergroot. Ons pleit dus by u, hulle huidige ondersteuners, om hulle aan te hou ondersteun vir hierdie jaar. Bid ook vir hulle vir die jaar se ontwrigting en dat hulle gefokus sal bly op die taak wat voor hulle lê.
 
Ten slotte
Daar is verskeie sake rakende beide ons sendelingegpare wat so spoedig moontlik met die RCJ, Kobe Reformed Theological Seminary en die Ring van Shikoku uitgeklaar moet word. ‘n Aantal vergaderings via Zoom word beoog asook ‘n besoek (sodra regulasies dit moontlik maak) van die Missie Japan sekretaris aan Japan.
  
Ons dank u vir u volgehoue ondersteuning van Missie Japan. Dit het net weer tydens die Algemene Jaarvergadering vir ons duidelik geword dat die Here bevestig dat ons steeds ‘n roeping in Japan het. Die bykans 1% Christene in Japan (waarvan die RCJ deel is) kan nie hierdie getuienistaak alleen verrig nie. Hulle het ons (en ander vennote van regoor die wêreld) nodig. Bly bid vir Japan, sendelinge in Japan, die kerk in Japan en vir die sendingorganisasies (soos Missie Japan) dat hulle die nodige hulpmiddele en ondersteuning sal hê om juis hierdie taak voort te sit.
 
In Christus
  
Dr Nico Mostert
Sekretaris: Missie Japan
  Nuusvideo van Elmar en Nadine 

 
Weens die ernstige situasie in Suid-Afrika, moes ons ‘n vroëer vlug na Suid-Afrika bespreek. Ons het 29ste November in Suid-Afrika geland. Ons is huidiglik in Johannesburg by familie. Ons is opsoek na ‘n woonstel in Johannesburg omgewing. Indien u weet van enige moontlikhede, laat weet ons gerus. 

Ons plaas gereeld fotos en videos op facebook. Indien jy toegang tot facebook het volg ons gerus daar.  Fotos van onlangse geleenthede 
 Ons deel ‘n boodskap uit die Bybel by die Sondagskool.  
 Kiyoko san neem ons na Himeji Kasteel. Sy is ‘n kosbare Japanese persoon wat al so baie vir ons gedoen het.   
Middagete by Nakashima san. Sy het vir ons “Taco Rice” wat ‘n bekende maaltyd in Okinawa is gemaak.  
Ansaki san het ‘n goeie vriend geword. Hy is een van ons min Japannese vriende wat ons korregeer wanneer ons ‘n foute in Japannese maak.   
 ‘n Foto saam Jowald en Christina. Hulle is mede Suid-Afrikaaners wat in Japan woon.                                                          Dankbaar 
Ons is dankbaar dat ons veilig terug is in Suid-Afrika. Terwyl ons baie hartseer is dat ons Japan moes verlaat is ons opgewonde vir die nuwe seisoen wat vir ons voorle. Ons sien hierdie as ‘n geleentheid om onsself beter toe te rus vir die groot taak waarvoor die Here ons geroep het. Ons is diep oortuig van ons roeping na Japan en begeer om goed toegeruste sendelinge te wees. Daarom sal ons hierdie geleentheid om ons studies te voltooi en ons ondersteuning meer uittebrie aangryp met twee hande. Ons is ook baie dankbaar vir die voertuig wat die Here alreeds vir ons voorsien het.  
                                                  Gebedsversoeke
Bid asseblief vir die volgende:

Ons aanpassing in Suid-Afrika
Ons Teologiese studies
Ons Japannese aanlyn taalstudies
Ons is opsoek na ‘n woonstel om te huur (bid asseblief dat die Here die regte woonstel vir ons sal stuur)
    
FacebookWebsiteInstagram Share  Forward  |2019| |Elmar & Nadine du Rand|
|Japan News|

Vir Ondersteuning:
Bankbesonderhede:
Rekening naam: Missie Japan
Bank: ABSA
Takkode: 632005
Rek nr. 4049690248
Verwysing: U Naam + E&N

Our mailing address is:
3-chōme-1-3 Shōbugaoka, Kita-ku, Kobe, Hyogo 651-1306

*View in your browser*

Want to change how you receive these emails?
You can update your preferences or unsubscribe from this list.