Detail
Prediker: Ds. Charné Viljoen
Skriflesing: Numeri 27: 1-11
Tema: Vir mekaar!
Datum: 10 Augustus 2025
Gedig vir ‘n vrou
Ek skryf ‘n gedig oor jou,
jy is ‘n inspirerende vrou
‘n roos waaraan mens kan vashou ,
dis hoe almal jou beskou
Iemand wat my kan help en leer,
selfs kan bystaan in tyd van seer.
Vertroostende woorde, sag en teer,
jy sien nooit op iemand neer.
Raad het jy om ‘n wond te genees,
te verwyder ‘n doring uit die vlees.
Verstommend is jou passievolle gees,
nog meer, jou kreatiewe idees.
Blomme is vir jou niks nuut,
jy kan rangskik, met selfs een riet.
Uit iets oud skep jy iets nuut,
tot ‘n geroeste yster kan jy so geniet.
Jy wys my hoe om te bak en brou,
om room te klop, sommer gou.
Hoe om te stik ‘n soom, ‘n mou,
hoe diep om ‘n plant se gat te grou.
Wat om te maak met ‘n plein wit blaai,
wanneer om nuwe blomme te saai.
Van ‘n lappie maak jy iets so fraai,
hoe jy dit doen kan ek net raai.
Ek wonder soms,
is jy by die huis net soos ons?
Moet jy ook koskook en bed op maak,
om nie eers van skottelgoed te praat?
Hoe kry jy dit reg om ma te wees en vrou,
en dan nog by al jou verpligtinge te hou?
Raak jy ook moeg, raak jy ook flou,
Jy is ‘n wonder mens, jy is ‘n vrou.
- Lyzette Botha
Seën:
Mag die Here jou seën met ongemak oor
maklike antwoorde, halwe waarhede
en oppervlakkige verhoudings sodat jy
uit die diepte van jou hart kan leef.
Mag die Here jou seën met woede oor onreg,
onderdrukking en die uitbuiting van mense
sodat jy kan werk vir geregtigheid,
vryheid en vrede.
Mag die Here jou seën met trane om te stort
vir mense wat pyn, verwerping, honger
en oorlog ervaar sodat jy ’n hand kan
uitreik en hulle pyn in blydskap kan verander.
En mag God jou seën met genoeg dwaasheid
om te glo dat jy ’n verskil kan maak in hierdie
wêreld, sodat jy dinge sal kan doen
wat ander mense dink nie gedoen kan word nie.
– Ou Franciskaanse seënbede


