VISIO DIVINA #36
Deel 1
Sommige van Jesus se gelykenisse is so deel van die volksmond dat daar idiome bestaan wat vele mense dalk nie eers besef hul oorsprong kom direk uit Jesus se mond nie, soos byvoorbeeld, ‘n blinde kan nie ‘n blinde lei nie.
In 1568 het die Nederlandse kunstenaar, Pieter Bruegel, ‘n skildery gemaak, genaamd “Die gelykenis van die blinde.” Dit was ‘n tyd in Europe toe protestantse bloed gevloei het. In die agtergrond staan die kerkgebou met sy hemelwaartse toring hoog; op die voorgrond lei ses gesiggestremdes mekaar, selfs ‘n kruisie om die hals; tog, duidelik, sáám, oppad na ‘n afgrond.
Maak ons regtig erns met mekaar se lewens en hoe ons mekaar – met woorde en met gedrag – begelei?
Deel 2
TEKSVERS:
“Die hart is bedriegliker as enigiets anders, hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan? Ek, die Here, deurgrond en toets hart en verstand,” (Jer 17:9-10).
Jesus se oordeel was baie skerp teenoor die Fariseërs wat ‘n stel reëls vir hulself gehad het, maar nie self daarvolgens geleef het nie. “Witgepleisterde grafte” het Jesus hulle genoem. Geestelike blindes. Buitekant was hulle diep gelowige maar verdor van binne. Hulle kon die regte dinge sê, selfs uit die Wet van Moses aanhaal, maar van die God van Moses het hulle niks verstaan nie.
Geestelike blindheid is ‘n gevaarlike ding. Jy maak jouself wys dat jy reg is en glo dan jou eie leuen. Dit is oral om ons – selfs in die kerk! Dit is so volop rondom ons dat ons nie daaraan dink dat dit op onsself ook van toepassing kan wees nie.
Geestelike blindheid doen skade – nie net aan jouself nie maar aan almal om jou. Is wat ons sien in die wêreld gebeur nie juis die gevolg van geestelike blindheid (en geestelike hoogmoed) nie!
Ons beweeg al nader aan die Heilige Week. Moet ons nie ook eerlik worstel met die bedrieglikheid wat dalk in ons eie hart en gemoedere gekoester word nie?
GEBED:
Ek pleit vir ‘n eerlike hart en ‘n eerlike verstand, my Here. Ek pleit dat U my van enige geestelike blindheid sal genees.
Jesse Manibusan – “Open my eyes, Lord.”
Op Dag 36 van ons Lydenstydreeks #VisioDivina luister ons na ‘n lied, geskryf deur Jesse Manibusan, getiteld, “Open my eyes, Lord.”

Kopiereg: Dr. R.M. Bezuidenhoudt
Hierdie reeks ‘Visio Divina‘ word deur Kopiereg beskerm.
Geen gedeelte van hierdie reeks mag gedupliseer of herversprei word sonder die eksplisiete goedkeuring van die outeur: Dr. R M Bezuidenhout nie.
Indien hierdie reeks u geïnspireer het kan u haar bediening finansieel ondersteun deur die volgende skakel te volg:
https://ronellbezuidenhout.co.za/steun

