Die feesseisoen is verby en 2023 het reeds sy pad gevind – dit is die natuurlike ritme soos geskep deur God die Vader. Ek vertrou dat dit vir elkeen ‘n baie geseënde tyd was en dat ons, ons dankbaarheid dat ons so bevoorreg is om Koninkrykskinders te kan wees, teenoor mekaar erken en bely het. As ons luister na mense om ons, die impak van beurtkrag op elkeen maar veral op die verskillende sektore, fabrieke, boere en die ekonomie, dan kan ‘n mens sommer vinnig moedeloos of swartgallig word. Dit is egter nou die tyd dat ons die goeie boodskap van Jesus onverskrokke en doelgerig moet uitdra – om hoop aan mense te gee, nieteenstaande die moeilike omstandighede. Ons reis op aarde is maar kort en sal moeilik wees, maar ons moet dit gebruik om ons verhouding met die Here Jesus te laat groei en skatte in die Hemel bymekaar te maak. Dit moet ons doen sodat ons die Ewige Lewe in vrede en harmonie saam met die Here Jesus kan deurbring.
Die eerste Petrusbrief bied lewensbelangrike padwysers vir ons as kinders van die Here oor hoe om vir Hom te leef in ‘n nie-gelowige wêreld. Hier is ‘n paar verse wat vanjaar as my eie kompas gaan dien: (aangehaal uit: Die Nuwe Nuwe Testament.)
- 1 Petrus 2:21: “Dit is julle roeping: Christus het vir julle gely. So het Hy vir julle ‘n voorbeeld gegee sodat julle in Sy voetspore kan volg.” – In 2023 gaan ek in Jesus se voetspore volg. Ek gaan opnuut by Hom leer hoe om in liefde te leef. Ek gaan nooit kwaad met kwaad vergeld nie. Woede en haat gaan geen blyplek in my hart kry nie. Skerp woorde gaan nooit welkom op my tong wees nie.
- 1 Petrus 2:17: “Respekteer almal. Julle moet julle medegelowiges liefhê; julle moet vir God ontsag hê en die Koning eer.” – in 2023 gaan ek aan ander in die Here se Naam, goed doen.
- 1 Petrus 5:5: “Almal, sonder uitsondering, moet onderlinge nederigheid soos klere aan hulle lyf dra. God wil niks van mense weet wat dink hulle is belangriker as ander nie, maar Hy is baie genadig teenoor hulle wat hulle regte plek ken.” – in 2023 gaan ek opkyk na oud en jonk. Ek gaan nooit dink ek is te belangrik om ander mense met deernis raak te sien nie. Ek gaan nederig wees.
- 1 Petrus 5:6-7: “Wees daarom opreg nederig voor die kragtige God, sodat Hy julle op Sy tyd tot ‘n posisie van eer kan verhoog. Hy gee baie vir julle om. Gee daarom al julle angs en bekommernis vir Hom.” – in 2023 gaan ek nederig leef in die teenwoordigheid van God. Ek gaan al my bekommernisse by Hom neersit en Hom vertrou met my hele lewe. Ek gaan oopkop en sober leef. Ek gaan my nie deur elke nuwe wind van koers af laat waai nie. Ek gaan sterk staan in my geloof.
Hierdie is my rigtingwysers vir my reis van 2023 en ek vertrou dat dit julle sal motiveer om jou eie rigtingwysers op te stel en aan die einde van die jaar jouself daaraan te meet.
Gebed: Liefdevolle Here Jesus baie dankie vir U genade, vrede en seën vir 2023 en help my asb. om in U voetspore te volg met die hulp van die Heilige Gees, aangesien ek dit nie in my eie kragte kan doen nie. Amen.


