Week 7 Dag 34 – “Geestelike” groei- Ons is die Plan – 9 weke van Transformasie

Miskien dink jy dadelik: Van watter groei word hier gepraat? Geestelike groei? Dit sou tog immers pas by ’n Bybelstudie oor die Kerk en Koninkryk van die Here Jesus Christus. Tog is dit nie geestelike groei waarvan in hierdie volgende twee dae gepraat gaan word nie, maar wel numeriese groei, met ander woorde, groei in getalle.

Weer kan ’n mens se gedagtes op loop gaan: Gaan dit dan oor koppe-tel ? Die Bybel plaas mos nie ’n premie op (uiterlike) getalle nie?

Gebed

Miskien moet jy nou eers vir die Here vra om jou los te maak van alle eie vooropgestelde idees en sienings. Ondersoek dan sy Woord met ’n oop gemoed asof vir die eerste keer…

Lees die Skrif

Lees Joh 3:16-17;Joh 20:21.

Joh 3:16-17;

16Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy unieke Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê. 17God het immers nie sy Seun na die wêreld gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom verlos kan word. 

Joh 20:21.

21Jesus sê toe weer vir hulle: “Vrede vir julle! Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Lees gerus ook: Rom 10:13-15; 1 Kor 4:20; Ef 1:10; Op 7:9

Rom 10:13-15;

13Want “elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal verlos word.”

14Hoe kan hulle Hom dan aanroep, as hulle nie tot geloof in Hom gekom het nie? En hoe kan hulle in iemand glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder iemand wat dit verkondig? 15En hoe kan hulle dit verkondig as hulle nie gestuur word nie? Soos daar geskryf staan: “Hoe lieflik is die voetstappe van diegene wat die goeie boodskap verkondig!”

1 Kor 4:20;

20want die •koninkryk van God bestaan nie uit ‘n gepraat nie, maar uit krag. 

Ef 1:10;

10om die volheid van die tye te bestuur,
en om alle dinge
– die dinge in die hemel en die dinge op die aarde –
onder een Hoof in Christus saam te bring,

Op 7:9

9Hierna het ek gesien, en kyk, daar was ‘n baie groot skare, wat niemand kon tel nie. Hulle was afkomstig uit elke nasie en stam en volk en taal, en het voor die troon gestaan, en voor die Lam. Hulle het lang wit stolas gedra, met palmtakke in hulle hande.

Skryf / Vul in

Bid en besin daaroor of “stagnasie”, of “selfs ’n oorlewing-sindroom” , ooit ter sprake is as Jesus van sy Kerk en Koninkryk praat? Wat sê die Here vir jou?


Lees nou ook Ps 22:28-29; 67:1-8; 2 Pet 3:9; Eseg 18:23, 30-32.

Ps 22:28-29;

28Almal tot aan die uithoeke
van die aarde
moet daaraan dink
en hulle tot die Here bekeer.
Al die familiegroepe van die nasies
moet voor U in aanbidding buig;
29want aan die Here
behoort die koningskap,
en Hy heers oor die nasies.

Ps 67:1-8;

671Vir die •musiekleier. Met snarespel. ‘n Psalm. ‘n Lied.
2Mag God ons genadig wees
en ons seën;
mag Hy die lig van sy aangesig
by ons laat skyn. •Sela
3Mag U pad op die aarde bekend wees,
u verlossing onder al die nasies.
4Mag volke U prys, o God,
mag al die volke U prys.
5Mag nasies bly wees en jubel,
want U oordeel volke billik;
en nasies, mag U hulle
op die aarde lei. Sela
6Mag volke U prys, o God,
mag al die volke U prys.
7Die aarde het sy opbrengs gelewer.
Mag God, ons God, ons seën.
8Mag God ons seën,
sodat al die uithoeke van die aarde
vir Hom ontsag sal hê.

2 Pet 3:9;

9Die Here stel nie die belofte uit, soos party mense dink nie. Inteendeel, Hy is geduldig met julle, omdat Hy nie wil hê sommige mense moet verlore gaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom.

Eseg 18:23, 30-32

23Sou Ek enige vreugde vind in die dood van ‘n goddelose?” is die uitspraak van my Heer, die Here. “Is vreugde nie eerder daarin geleë dat hy van sy verkeerde paaie terugkeer en leef nie?

30Daarom sal Ek julle oordeel, huis van Israel, elkeen volgens sy optrede,” is die uitspraak van die Heer, die Here. “Bekeer julle! Draai weg van al julle oortredings, sodat dit nie vir julle ‘n struikelblok word wat sondeskuld meebring nie. 31Werp al julle oortredings van julle af weg, dit waarmee julle oortree het, en maak vir julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees. Waarom moet julle sterf, huis van Israel? 32Ja, Ek vind nie vreugde in die dood van een wat moet sterf nie,” is die uitspraak van die Heer, die Here. “Bekeer julle en leef!”

Wat verstaan jy onder numeriese (getalle) groei in terme van die Kerk en Koninkryk? Dink jy dit verwys na dinge soos geboorte-aanwas, nuwe intrekkers of eerder na nuwe bekeerlinge? Met dit in gedagte: Watter boodskap oor numeriese groei gee die Bybel ons in die tekste hierbo? Is dit regtig vir God belangrik dat sy Koninkryk sal uitbrei, of nie? (Kyk weer na Joh 3:16-17.)


Dink na oor die volgende stellings en reageer soos die Gees jou lei: Numeriese groei weerspieël ’n hunkering na die uitbreiding van die Koninkryk van God. Watter hunkering weerspieël jou lewe?


Numeriese groei is die gevolg van ’n polsende verlange om meer mense ingesluit te sien binne God se Koninkryk (Rom 15:20; 2 Kor 5:20).

Rom 15:20;

20So het ek my dit ten doel gestel om die evangelie te verkondig, nie waar Christus reeds bekend was en ek dus op iemand anders se fondament sou bou nie,

2 Kor 5:20

20Ons tree dan op as gesante ter wille van Christus, asof God self deur ons ‘n beroep op julle doen. Ons pleit by julle, om Christus ontwil: Laat julle met God versoen!


Die Skrif gebruik nêrens woorde soos “kleiner” , “verdwynend” of selfs “stagnerend” om God se Koninkryk en Kerk te beskryf nie. Dink na oor watter woorde die Bybel wél in hierdie verband gebruik. (Sien die implikasie van Jesus se woorde in Matt 28:19. 19Gaan dan en maak dissipels van al die nasies, deur hulle te doop in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees, )


Geen gemeente kan ooit tevrede wees met die status quo nie! Dan ignoreer die Kerk sy roeping om ’n verskil te maak (Joh 1:4; 8:12; Matt 5:14-16; Fil 2:15-16a).

Joh 1:4;

4In Hom was lewe,en dié lewe was die lig vir die mense.

Joh 8:12;

12Toe het Jesus weer met hulle gepraat en gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal beslis nie in die duisternis leef nie, maar sal die lig van die lewe hê.”

Matt 5:14-16;

14“Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie. 15Mens steek ook nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n maatemmer nie, maar op ‘n lampstaander, en so gee dit lig vir almal in die huis.

16“Laat julle lig só voor die mense skyn, sodat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, kan verheerlik.”

Fil 2:15-16a

15sodat julle sonder blaam en onskuldig kan wees, kinders van God, smetteloos, te midde van ‘n krom en ontaarde geslag. Julle skyn onder hulle soos sterre in die heelal, 16deurdat julle vashou aan die woord van die lewe.


Skape wat bloot van een kraal (kerk-denominasie) na ’n ander verskuif word, is nie numeriese groei in die kudde (Koninkryk) nie.


Wanneer jy opnuut die waarheid uit God se Woord oor numeriese groei hoor: Wat beteken dit vir jou as gelowige? En vir die gemeente? Kan ons dan nog sê: “Sending is vir ánder mense. Dis nie vir my nie!”?


Hond
Iemand vertel dat hy eendag saam met ’n vriend op die trappies van hul kerkgebou gestaan het toe ’n man met ’n 1000cc motorfiets daar aangery kom. Die vreemdeling se vuil klere en lang poniestert-haarstyl het hom dadelik teen die bors gestuit. Tog het sy vriend die motorfietsryer vriendelik gegroet en later die storie vertel. Hierdie poniestert-man het ’n woeste, onverskillige lewe gelei, maar het die vorige week radikaal tot bekering gekom. Hy het die vorige Sondag geleentheid gehad om sy verhaal vir die gemeente te vertel. Hy sê toe dat sy naam Hond is – want so het hy grootgeword en uiteindelik met hierdie skelnaam saamgeleef. Hierdie gemeente het egter hul harte vir hom oopgemaak en geweier om hom só te noem. Van toe af het hulle sy regte naam, Gideon, gebruik.

Wat sou jy (julle gemeente) doen as Hond met sy poniestert en vuil klere op sy 1000cc motorfiets by julle kerkgebou se trappies opdaag? Sou julle belangstel om sulke lidmate by te kry? (Hunker jy / julle gemeente nog na groei in God se Koninkryk – ook in en deur julle plaaslike gemeente?)

Gebed

Bid en dink ’n bietjie eerlik hieroor.

Skryf / Vul in

Wat sê die Here vir jou? (Vgl Jes 6:1-8.)

61In die sterfjaar van koning Ussia het ek my Heer sien sit op ‘n hoë en verhewe troon. Die some van sy kleed het die •tempel gevul. 2Serafs het bo Hom gereedgestaan. Elkeen het ses vlerke gehad: Met twee vlerke het elkeen sy gesig bedek, met twee het hy sy voete bedek en met twee kon hy vlieg. 3Hulle het na mekaar geroep en gesê: “Heilig, heilig, heilig is die Here, Heerser oor alle magte! Die hele aarde is vol van sy heerlikheid.” 4Die deurpenne in die drumpel het gebewe van die geluid van die een wat roep. Die tempel het vol rook geword.

5Ek het gesê:
“Wee my, want ek is verlore!
Want ek is ‘n mens
met onrein lippe,
en by ‘n volk met onrein lippe
woon ek.
Ja, my oë het die Koning,
die Here, Heerser oor alle magte,
gesien.”

6Een van die serafs het na my toe gevlieg met ‘n gloeiende kool by hom wat hy met ‘n tang van die altaar af geneem het. 7Hy het my mond aangeraak en gesê:

“Kyk, dit het jou lippe aangeraak,
jou sondeskuld het gewyk,
daar is vir jou sonde
versoening gedoen.”
8Toe hoor ek die stem van my Heer wat sê:
“Wie sal Ek stuur
en wie sal vir ons gaan?”
Ek sê toe:
“Hier is ek, stuur my!”


Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Lees gerus ook Luk 7:34; Eseg 2:3.

Luk 7:34;

34“En die •Seun van die Mens
het gekom en geëet en gedrink,“en julle sê,
“ ‘Kyk, Hy is ‘n vraat en ‘n suiplap,
‘n vriend van tollenaars en sondaars.’

Eseg 2:3

3Hy het vir my gesê: “Mensekind, Ek stuur jou na die Israeliete toe, na daardie rebelse nasies wat teen My in opstand gekom het. Hulle en hulle voorouers het teen My oortree tot op die dag van vandag.

Gebed

Die engel van die lig (Satan) kan ons so maklik verlei om negatief of apaties ingestel te wees teenoor numeriese groei in die Koninkryk van God. Hy kan ons aan die ander kant ook weer mislei om só op groei te fokus, dat dit niks anders as ’n selfgerigte basis vir trots word nie. Dan gaan dit nie oor meer mense wat tot aanbidding van die lewende God kom nie! Raak daarom stil en laat die Gees jou lei om op God en sy wil te fokus.

Skryf / Vul in

Is daar iets wat jy by die Here gehoor het? Skryf dit hier neer en koester die gedagte.


Week 7 Dag 34 God bou sy Koninkryk deur Numeriese groeii
Week 7 Dag 34 God bou sy Koninkryk deur Numeriese groeii
Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: handboek, p 138-144
Lees gerus ook Hand 2:1-11, 37-41, 47; Rom 1:14-18; 10:13-15; Ef 1:10; 1 Tim 2:1-7; 2 Tim 2:2.

Hand 2:1-11, 37-41, 47;

21Toe die dag van die Pinksterfees aanbreek, was hulle almal op een plek bymekaar. 2Onverwags het daar uit die hemel ‘n geluid soos dié van ‘n kragtige stormwind opgeklink, en dit het die hele huis gevul waar hulle gesit het. 3Tonge, asof van vuur, het aan hulle verskyn, verdeel en op elkeen van hulle neergedaal. 4En almal is vervul met die Heilige Gees, en het in ander tale begin praat, soos die Gees aan hulle gegee het om hardop uit te spreek.

5Destyds het daar vroom Jode uit elke nasie onder die hemel in Jerusalem gewoon. 6Toe daardie geluid opklink, het die menigte saamgedrom, en was verward, omdat elkeen gehoor het hoe daar in sy eie taal gepraat word. 7Verstom en verbaas het hulle gevra: “Kyk, is almal wat daar praat, dan nie Galileërs nie? 8Hoe hoor elkeen van ons hulle dan praat in die taal waarmee ons grootgeword het? 9Ons – Parte en Meders en Elamiete, inwoners van Mesopotamië, Judea en Kappadosië, Pontus en Asië, 10Frigië en Pamfilië, Egipte en streke van Libië in die omgewing van Sirene, en Romeine wat hier vertoef, 11Jode en proseliete, mense van Kreta en Arabiere – ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God praat.” 

37Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir •Petrus en die ander •apostels gevra: “Wat moet ons doen, broers?” 38Petrus antwoord hulle: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van julle sondes gedoop word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. 39Want die belofte is bedoel vir julle, en ook vir julle kinders, en vir almal daar ver, almal wat die Here ons God na Hom toe roep.” 40Met nog baie ander woorde het hy getuig en hulle aangespoor: “Laat julle uit hierdie korrupte geslag red.” 41Diegene wat sy boodskap aangeneem het, is gedoop, en op daardie dag is ongeveer drieduisend mense toegevoeg.

47Hulle het God bly prys, en die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het daagliks verlostes by hulle getal gevoeg.

Rom 1:14-18;

14Teenoor Grieke sowel as nie-Grieke, teenoor wyses sowel as onverstandiges, staan ek in die skuld – 15vandaar my hartsbegeerte om ook aan julle in Rome die evangelie te verkondig.

16Ek skaam my immers nie vir die evangelie nie, want dit is die krag van God tot verlossing vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood, maar ook vir die Griek. 17Want daarin word geopenbaar dat die •geregtigheid van God geheel en al op geloof berus, soos daar geskryf staan: “Die regverdige op grond van geloof sal leef.”

18Die toorn van God word vanaf die hemel geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van mense wat volhou om die waarheid deur ongeregtigheid te probeer onderdruk, 

Rom 10:13-15;

13Want “elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal verlos word.”

14Hoe kan hulle Hom dan aanroep, as hulle nie tot geloof in Hom gekom het nie? En hoe kan hulle in iemand glo van wie hulle nie gehoor het nie? En hoe kan hulle hoor sonder iemand wat dit verkondig? 15En hoe kan hulle dit verkondig as hulle nie gestuur word nie? Soos daar geskryf staan: “Hoe lieflik is die voetstappe van diegene wat die goeie boodskap verkondig!”

Ef 1:10;

10om die volheid van die tye te bestuur,
en om alle dinge
– die dinge in die hemel en die dinge op die aarde –
onder een Hoof in Christus saam te bring,

1 Tim 2:1-7;

21Heel eerste versoek ek dat smekinge, gebede, voorbidding en dankgebede vir alle mense gedoen word, 2vir konings en vir almal wat gesagsposisies beklee, sodat ons ‘n rustige en stil lewe, in alle godvresendheid en waardigheid, kan lei. 3Dit is goed en reg in die oë van God, ons Verlosser, 4wat wil hê dat alle mense verlos word en tot kennis van die waarheid kom.

5Want daar is een God,
en een Middelaar tussen God en die mense:
die mens •Christus Jesus,
6wat Homself as losprys vir almal gegee het,
tot getuienis op die bestemde tyd.

7Hiervoor is ek aangestel as prediker en •apostel – ek praat die waarheid, ek lieg nie – as leermeester om die heidene in geloof en waarheid te onderrig.

2 Tim 2:2.

2en dra dit wat jy deur baie getuies van my gehoor het, oor aan betroubare mense wat bekwaam sal wees om ook ander te onderrig.


Sien Figuur 7 van Bylae 2, p 172

Doen die volgende

Onthou om die bladsy vir die week se groepgesprek te voltooi!

Inhoudsopgawe

Kopiereg
Dr. Frans Hancke.

Hierdie werk word deur kopiereg beskerm. Dit word aan u gebring deur die NG Kerk Groot-Brakrivier onder kopieregtoestemming soos verleen deur Dr. Frans Hancke aan die NG Kerk Groot-Brakrivier webtuiste. Enige kopieering of herverspreiding van hierdie materiaal is onderhewig aan goedkeuring van die kopiereghouer (Dr. Frans Hancke).

Sien ook die volgende kopiereg bepalings:
Kopiereg: Ons is die plan – 9 Weke van Transformasie

Skrifaanhalings geneem uit:
die Bybel in Afrikaans 2020-vertaling
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020.
Gebruik met toestemming.
Alle regte voorbehou.
www.bybelgenootskap.co.za / www.biblesa.co.za.
Kontak:
copyright@biblesociety.co.za