Week 6 Dag 30 – As jy aan my druk… – Ons is die Plan – 9 weke van Transformasie

Mense wat die hart van God nie ken nie en sy Kerk en roeping nie verstaan nie, voel dikwels bedreig sodra hulle die woord sending of getuienis hoor. Vir hierdie stiltetyd is dit nodig dat jy bereid sal wees om alle moontlike voorkeure, vooroordele, eie standpunte, of wat ookal, te ignoreer en om jou volgens sy Woord en wil deur die Heilige Gees te laat lei. Wees ook bereid om eerlik met Hom te praat en jou gevoelens teenoor Hom te erken wanneer jy voel dat jy van Hom verskil – Hy weet in elk geval hoe jy oor dinge voel en dink (Ps 139:1- 6; 1 Kron 28:9).

Ps 139:1- 6;

1Vir die •musiekleier. Van Dawid. ‘n Psalm.
Here, U ondersoek my
en U ken my.
2U is die een wat my sit en opstaan ken;
U verstaan van ver af
wat ek in gedagte het.
3My omswerwinge en waar ek rus –
U het dit afgemeet;
al my paaie is aan U bekend.
4Ja, daar is nog nie ‘n woord
op my tong nie,
kyk, dan ken U, Here,
dit volledig!
5Van agter en van voor omsluit U my;
U plaas u handpalms op my.
6Om dit te verstaan,
is ‘n te groot wonder vir my;
dit is te hoog,
ek kan dit nie begryp nie.

1 Kron 28:9
9En jy, my seun Salomo, erken die God van jou vader, en dien Hom met ‘n onverdeelde hart en ‘n gewillige gees, want die Here ondersoek alle harte, en in elke bedoeling van die gedagtes het Hy insig. As jy Hom soek, sal Hy Hom deur jou laat vind; maar as jy Hom verlaat, sal Hy jou vir altyd verwerp.

Gebed

Bid nou Ps 63:2-4; 139:23-24

Ps 63:2-4;

2God, U is my God,
na U soek ek;
my •siel dors na U,
my liggaam smag na U in ‘n droë,
uitgeputte land sonder water.
3So het ek uitgesien na U
in die heiligdom,
om u krag en glorieryke
teenwoordigheid te ervaar,
4want u troue liefde is beter as die lewe.
My lippe sal U roem;

Ps 139:23-24

23Ondersoek my, o God,
en ken my hart;
toets my,
en ken my ontstellende gedagtes.
24Kyk of ek nie op ‘n pad
van verdriet is nie,
en lei my op die ewige pad.

Lees die Skrif

Lees 1 Pet 1:14-17; 2:1-5, 9; 3:1-7; 4:1-4.

1 Pet 1:14-17;

14As gehoorsame kinders moet julle nie lewe in ooreenstemming met julle natuurlike begeertes van vroeër, toe julle nog sonder kennis was nie. 15Inteendeel, soos Hy wat julle geroep het, heilig is, moet julle in julle hele lewenswandel heilig wees. 16Daarom staan daar geskryf: “Wees heilig, want Ek is heilig.”

17En as julle Hom wat nie volgens die uiterlike oordeel nie, maar ooreenkomstig elkeen se optrede, wel as Vader aanroep, tree dan met ontsag op in die tyd van julle vreemdelingskap.

1 Pet 2:1-5, 9;

1Lê daarom alles wat sleg is, en alle bedrog en geveinsdheid en jaloesie, en alle geskinder af, 2en smag soos pasgebore babatjies na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan groei, met die oog op julle verlossing, 3noudat “julle die goedheid van die Here gesmaak het”.

4Kom na Hom toe, die lewende klip, wat wel deur mense afgekeur is, maar voor God uitverkore, en vir Hom kosbaar is; 5en laat julle as lewende klippe opbou tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat, deur Jesus •Christus, vir God aanneemlik is. 

9Julle, egter, is “’n uitverkore geslag”, “’n koninklike priesterdom”, “’n heilige nasie”, “’n volk wat aan God behoort”, “sodat julle die deugde kan verkondig” van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderlike lig –

1 Pet 3:1-7;

1Net so, vroue, moet julle aan julle eie mans onderdanig wees, sodat, selfs indien sommige aan die woord ongehoorsaam is, ook hulle, sonder ‘n woord, gewen kan word deur die manier waarop julle leef 2omdat hulle julle rein, eerbiedige leefwyse raaksien.

3Julle skoonheid moet nie op uiterlike dinge berus nie – soos die vleg van hare, die dra van goue juwele, of die aantrek van elegante klere nie; 4maar op dit wat in die mens se hart verborge is – die onverganklike skoonheid van ‘n saggeaarde en rustige gees, wat in God se oë baie kosbaar is. 5So het ook die heilige vroue wat op God gehoop het, hulleself immers destyds versier deur aan hulle eie mans onderdanig te wees – 6soos Sara aan Abraham gehoorsaam was, toe sy hom as “heer” aangespreek het. Julle het haar dogters geword, as julle doen wat goed is, en julle nie deur enige dreigement laat afskrik nie.

7Net so, mans, moet julle in julle lewe saam met julle vroue begrip toon vir hulle, as die swakker geslag, en hulle, as mede-erfgename van die gawe van die lewe, met respek behandel, sodat julle gebede deur niks belemmer word nie.

1 Pet 4:1-4

1Omdat •Christus dan liggaamlik gely het, moet julle ook julleself bewapen met dieselfde insig, naamlik dat iemand wat liggaamlik gely het, met die sonde klaar is. 2Daarom laat hy hom, gedurende die oorblywende tyd van sy liggaamlike bestaan, nie langer deur menslike begeertes lei nie, maar wel deur die wil van God. 3Immers, julle het in die tyd wat verby is, al oorgenoeg deel gehad aan dit wat die heidene wil doen: uitspattigheid, begeerte, dronkenskap, brassery, drinkpartytjies en verfoeilike afgodediens. 4Hulle verstom hulle daaroor dat julle nie meer meedoen aan hierdie selfde stroom losbandigheid nie, en sê lasterlike dinge –

Skryf / Vul in

Die Here wil ook vandag deur sy Woord iets in jou lewe doen (Jes 55:11).

Jes 55:11

11net so sal my woord wees
wat uit my mond uitgaan:
Dit sal nie vrugteloos na My terugkeer nie,
maar doen wat Ek wil hê,
en die doel bereik waarvoor
Ek dit gestuur het


Wat sê die Here vir jou deur die gedeeltes wat jy gelees het?


Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Lees gerus ook 1 Pet 2:10-21; 3:13-18; 4:15-16.

1 Pet 2:10-21;

10julle wat eers nie ‘n volk was nie,
maar nou volk van God is;
wat eers nie ontferming ontvang het nie,
maar nou ontferming ontvang het.

OPROEP TOT ‘N VOORBEELDIGE LEWE ONDER DIE HEIDENE
11Geliefdes, ek dring daarop aan dat julle, as bywoners en vreemdelinge, julle weerhou van liggaamlike begeertes wat stryd voer teen die •siel. 12Gedra julle goed onder die heidene, sodat hulle, wanneer hulle julle beswadder, asof julle misdadigers is, God op die dag van besoeking kan verheerlik, omdat hulle julle goeie dade gesien het.

13Wees, ter wille van die Here, onderdanig aan elke menslike instelling, sowel aan die keiser, die hoogste gesagsdraer, 14as aan die prokurator – die mense deur die keiser gestuur om die misdadigers te straf, en dié wat goed doen, aan te prys. 15God wil immers hê dat julle, deur goed te doen, die onkunde van dwase mense stopsit. 16Leef as vry mense – nie soos hulle wat vryheid as dekmantel vir die kwaad beskou nie, maar as diensknegte van God. 17Julle moet alle mense respekteer, die medegelowiges met liefde bejeën, ontsag vir God hê, die keiser respekteer.

NAVOLGING VAN CHRISTUS SE VOORBEELD
18Huisbediendes, wees met groot ontsag aan julle werkgewers onderdanig, nie net aan die goeies en vriendelikes nie, maar ook aan die onredelikes. 19Dit is immers genade as iemand, omdat hy met God rekening hou, onregverdig lyding verduur. 20Want watter aanprysing is daar vir julle wanneer julle oortree, lyfstraf ontvang, en nogtans daarmee volhard? Maar as julle volhard terwyl julle goed doen, en dan tog ly – dit is genade by God.

21Julle is immers hiertoe geroep,
want •Christus het ook
ter wille van julle gely;
Hy het vir julle ‘n voorbeeld nagelaat,
sodat julle in sy voetspore kan volg.

1 Pet 3:13-18;

13Verder, wie sal julle sleg behandel as julle julle beywer vir wat goed is? 14Maar selfs al sou julle ly ter wille van wat reg is, gelukkig is julle. Moenie hulle intimidasie vrees, of ontsteld raak nie. 15Inteendeel, eerbiedig •Christus as Here in julle harte, altyd gereed om julle te verantwoord teenoor elkeen wat van julle rekenskap eis oor die hoop wat in julle leef. 16Doen dit egter met beskeidenheid en respek, met ‘n goeie gewete, sodat, wanneer julle beswadder word, dié wat smalend is oor julle goeie leefwyse in Christus, beskaamd kan staan. 17Dit is immers beter, as dit God se wil sou wees, dat julle ly omdat julle goed doen, as dat julle ly omdat julle kwaad doen.

18Immers, ook Christus
het eens en vir altyd vir sondes gely,
Hy, die Regverdige,
ter wille van onregverdiges,
sodat Hy julle na God kon bring.
Hy is wel liggaamlik doodgemaak,
maar deur die Gees is Hy lewend gemaak.

1 Pet 4:15-16.

15Niemand van julle moet immers as moordenaar of dief of kwaaddoener of bemoeisieke ly nie; 16as iemand egter ly omdat hy ‘n Christen is, moet hy hom nie skaam nie, maar God verheerlik op grond van hierdie Naam.

Petrus se roeping om mense te vang (onthou jy gister se Bybelstudie?), word uiteindelik ’n wesentlike deel van sy bestaan. Met sy Pinksterpreek neem dit ’n besondere wending wanneer 3 000 mense tot bekering kom. Hierdie roeping verdiep verder wanneer die Heilige Gees dit aan hom openbaar dat God se fokus nie net Jode is nie, maar ook die heidennasies.

Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: Lees gerus ook Hand 2:14-42; 10:1-33

Hand 2:14-42;

14Daarop staan •Petrus op, verhef sy stem en spreek hulle toe: “Jode, en julle almal wat in Jerusalem woon – dit moet julle weet, luister goed na my woorde: 15Hierdie mense is nie dronk soos julle dink nie; dit is immers nog net die derde uur van die dag. 16Wat hier gebeur, is deur die profeet Joël aangekondig:

17“ ‘En dit sal in die laaste dae gebeur,’ sê God:
‘Ek sal my Gees op alle mense uitstort –
julle seuns en julle dogters sal profeteer,
en julle jongmense sal visioene sien,
en julle ou mense sal drome droom.
18Ja, ook oor my slawe en slavinne
sal Ek in daardie dae my Gees uitstort,
en hulle sal profeteer.
19En Ek sal bo in die hemel wonders bewerk
en tekens onder op die aarde:
bloed en vuur en rookwolke.
20Die son sal verander in duisternis
en die maan in bloed,
voordat die groot en glorieryke dag van die Here kom.
21Dan sal elkeen wat die Naam
van die Here aanroep, verlos word.’

22“Israeliete, luister na hierdie woorde! Jesus van Nasaret was ‘n man wat deur God aan julle bekend gemaak is deur kragtige dade en die wonders en tekens wat God deur Hom in julle midde verrig het, soos julle self ook weet. 23Julle het hierdie man, wat deur die vaste plan en voorkennis van God uitgelewer is, deur die hand van wettelose mense gekruisig en doodgemaak. 24God het Hom egter laat opstaan en van die lyding van die dood bevry, omdat dit onmoontlik was dat Hy deur die dood vasgehou word. 25Dawid sê immers oor Hom:

“ ‘Ek het die Here altyddeur voor my gesien,
want Hy is aan my regterkant,
sodat ek nie wankel nie.
26Daarom juig my hart
en jubel my tong;
ja, ook my liggaam sal in hoop voortleef,
27want U sal my siel nie aan Hades oorlaat,
en u Heilige nie ontbinding laat beleef nie.
28U het vir my die paaie
na die lewe bekend gemaak –
deur u teenwoordigheid
sal U my met blydskap vervul.’

29“Broers, wat die stamvader Dawid betref, kan ek vir julle met sekerheid sê dat hy gesterf het en begrawe is, en sy graf is tot vandag toe by ons. 30Omdat hy ‘n profeet was, en geweet het dat ‘God met ‘n eed aan hom beloof het om iemand van sy nasate op sy troon te plaas,’ 31het hy, in vooruitskouing oor die opstanding van die Christus, gesê:

“ ‘Hy is nóg aan Hades oorgelaat,
nóg het sy liggaam ontbinding beleef.’

32“God het hierdie Jesus laat opstaan – daarvan is ons almal getuies. 33Nadat Hy tot aan die regterhand van God verhoog is en die belofte van die Heilige Gees van die Vader ontvang het, het Hy die Gees uitgestort, en dit is wat julle sien en hoor. 34Dawid het immers nie na die hemele opgevaar nie, maar sê self:

“ ‘Die Here het vir my Here gesê:
Sit aan my regterhand,
35totdat Ek jou vyande
‘n voetbank vir jou voete
gemaak het.’

36“Laat die hele huis van Israel dan vir seker weet dat God Hom Here en Christus gemaak het – hierdie Jesus wat julle gekruisig het.”

37Toe hulle dit hoor, is hulle diep in die hart getref en het vir •Petrus en die ander •apostels gevra: “Wat moet ons doen, broers?” 38Petrus antwoord hulle: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van julle sondes gedoop word, en julle sal die Heilige Gees as gawe ontvang. 39Want die belofte is bedoel vir julle, en ook vir julle kinders, en vir almal daar ver, almal wat die Here ons God na Hom toe roep.” 40Met nog baie ander woorde het hy getuig en hulle aangespoor: “Laat julle uit hierdie korrupte geslag red.” 41Diegene wat sy boodskap aangeneem het, is gedoop, en op daardie dag is ongeveer drieduisend mense toegevoeg.

42Hulle het bly volhard in die leer van die •apostels, die verbondenheid met mekaar, die breek van die brood, en gebede.

Hand 10:1-33

1Daar was ‘n man in Caesarea bekend as Cornelius, ‘n centurio van die sogenaamde Italiaanse kohort soldate. 2Hy, en ook sy hele huis, was godsdienstig en godvresend, het baie liefdadigheid aan die volk bewys en gereeld tot God gebid. 3Hy het teen die negende uur van die dag in ‘n visioen duidelik ‘n engel van God na hom sien binnekom wat vir hom sê: “Cornelius!” 4Hy het stip na hom gestaar en beangs gevra: “Wat is dit, Meneer?” Toe antwoord hy hom: “Jou gebede en jou liefdadigheid het tot ‘n gedenkoffer voor God opgestyg. 5Stuur dan nou mans na Joppe om iemand met die naam Simon, ook bekend as •Petrus, te gaan haal. 6Hy gaan tuis by ‘n sekere Simon, die leerlooier, wie se huis langs die see staan.” 7Toe die engel wat met hom gepraat het weg is, roep hy twee van sy huisbediendes en ‘n godvresende soldaat, een van hulle wat hom dien, 8en nadat hy hulle alles vertel het, stuur hy hulle na Joppe.

9Die volgende dag, terwyl hulle op reis was en al amper by die stad, het Petrus teen ongeveer die sesde uur na die dakstoep opgeklim om te gaan bid. 10Hy het honger geword en wou eet. Terwyl hulle besig was om die maaltyd voor te berei, het hy in geestesvervoering geraak. 11Hy sien toe die hemel geopen, en iets soos ‘n groot linnedoek wat afsak en aan sy vier hoeke op die aarde neergelaat word. 12Daarin was allerhande viervoetige en kruipende diere van die aarde en voëls van die hemel. 13Toe kom daar ‘n stem tot hom: “Staan op, Petrus, slag en eet!” 14Maar Petrus het geantwoord: “Onder geen omstandighede nie, Here! Want ek het nog nooit iets wat besoedel of •onrein is geëet nie.” 15Maar die stem het weer, ‘n tweede keer, na hom gekom: “Wat God rein gemaak het, mag jy nie as onrein beskou nie.” 16Dit het drie maal gebeur, en die voorwerp is dadelik weer in die hemel opgeneem.

17Petrus was nog aan die twyfel oor wat die visioen wat hy gesien het, kon beteken, toe die mans wat deur Cornelius gestuur is, skielik by die poort aankom, nadat hulle oor Simon se huis navraag gedoen het. 18Hulle roep toe en vra of Simon, ook bekend as Petrus, daar tuisgaan. 19Terwyl Petrus nog nadink oor die visioen, sê die Gees vir hom: “Kyk, daar is drie manne wat na jou soek. 20Maak gereed, klim af en gaan sonder aarseling saam met hulle, want Ek het hulle gestuur.” 21En Petrus het afgeklim na die mans en gesê: “Kyk, dit is vir my wat julle soek. Waarom is julle hier?” 22En hulle het geantwoord: “Cornelius, die centurio, ‘n regverdige en godvresende man, iemand oor wie die hele Joodse volk goeie getuienis gelewer het, het deur ‘n heilige engel ‘n openbaring ontvang om u na sy huis te laat kom en te luister na u woorde.” 23Toe het Petrus hulle binnegenooi en as gaste verwelkom.

En nadat hy die volgende dag gereedgemaak het, het hy saam met hulle vertrek, en sommige van die broers uit Joppe het hom vergesel. 24Die dag daarna het hy in Caesarea aangekom. Cornelius was hulle te wagte, en het reeds sy familie en naaste vriende bymekaar laat kom. 25Toe Petrus binnekom, het Cornelius hom tegemoetgegaan, voor sy voete neergeval en hom begin aanbid. 26Maar Petrus het hom opgehelp met die woorde: “Staan op, ek self is ook net ‘n mens.” 27En terwyl hy met hom praat, het hy na binne gegaan en daar baie mense bymekaar aangetref. 28Hy het vir hulle gesê: “Julle weet dat dit vir ‘n Joodse man verbode is om met iemand van ‘n ander volk te assosieer of hom te besoek. God het egter aan my getoon dat ek geen mens as besoedel of onrein mag beskou nie. 29Daarom het ek sonder huiwering gekom toe ek ontbied is. Nou vra ek, waarom het julle my ontbied?” 30Cornelius antwoord toe: “Vier dae gelede was ek teen hierdie tyd, op die negende uur, besig om in my huis te bid. Opeens staan daar toe ‘n man in ‘n stralende gewaad voor my 31en sê, ‘Cornelius, jou gebed is verhoor en jou liefdadigheid het voor God in herinnering gekom. 32Stuur dan iemand na Joppe en laat haal Simon, ook bekend as Petrus. Hy is ‘n gas van Simon, die leerlooier, by ‘n huis langs die see.’ 33Ek het toe onmiddellik mense na u gestuur, en dit is goed dat u gekom het. Hier is ons nou almal in die teenwoordigheid van God aanwesig om alles te hoor wat deur die Here aan u opgedra is.”

Die manier waarop Jesus se roeping Petrus aangryp, is duidelik in sy eerste brief aan verskeie gemeentes (1 Pet 1:1). Sy bedoeling is duidelik: Die roeping as getuies, is nie net ’n onderafdeling van die gemeentelike lewe nie! Nee: Gemeentewees ís getuies-wees. Kyk hoe vorm hierdie gedagte deel van sy brief: (Vgl ook Jesus se belofte in Hand 1:8 8Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle moet my getuies wees in Jerusalem, in die hele Judea en Samaria, en tot aan die einde van die aarde.”.)

  • 1 Pet 1:14-17; 2:11-12 – die andersheid van ’n heilige lewe tussen ongelowiges;
  • 1 Pet 2:5 – die opdrag om ’n heilige priesterdom te wees, behels onder andere dat jy sal opoffer deur aan ander goed te doen en mededeelsaam te wees (sien Heb 13:16);
  • 1 Pet 2:9-10 – in die prediking en mondelinge getuienis (verkondiging van die verlossingsdade van God);
  • 1 Pet 2:13-17 – die onderwerping aan die regering van die dag, die goeddoen aan mense wat kwaad van jou praat, en die respek teenoor alle mense, gelowiges en ongelowiges, is ter sprake;
  • 1 Pet 2:18 – die onderwerping aan jou werkgewers;
  • 1 Pet 3:1-7 – die huwelik;
  • 1 Pet 3:13-18 – die doen van dit wat reg is, selfs ten spyte van spot en vervolging;
  • 1 Pet 4:1-4 – die daaglikse breek met ’n sondige lewe op sedelike en morele vlak, spreek die heidene aan en bring eer aan God; en
  • 1 Pet 4:15-16 – die bereidheid om selfs te ly ter wille van jou Christenskap.

Die getuienistaak van die Kerk is nie maar net die liefhebbery van ʼn paar belangstellende individue nie. Uit Petrus se eerste brief, is dit glashelder dat hierdie getuieniskarakter in en deur álle aktiwiteite van die héle gemeente sigbaar sal wees. (Vergelyk die opskrif hierbo: As jy aan my druk – verwysende na ’n poeierhouer wat wit poeier sigbaar uitblaas as dit gedruk word – iets onmiskenbaar gebeur )

Alhoewel alles wat die gemeente doen natuurlik nie sending is nie, moet alles wel daarop dui dat die gemeente ’n praktiese verskil in die wêreld wil maak. Die hantering van finansies, administrasie, Bybelstudies, prediking, jeugwerk, gesinslewe, geestelike toerusting van lidmate, hantering van armoede, bejaardesorg – alles moet van die gemeente se andersheid getuig.

Skryf / Vul in

Dink hieroor: Watter bydrae kan jy maak sodat die gemeente waarvan jy deel is, toenemend op haar Bybelse doel en aard fokus?


Nader aan jou eie vel: Watter aanpassings moet jy in jou lewe (huwelik, huisgesin, werk, vriendekring, ontspanning, deelname aan gemeentelike lewe, ens) maak om die andersheid van ʼn volgeling van Jesus sigbaar te maak? (Gewoonlik is dit altyd die ANDER mense wat moet verander ) Skryf neer watter aanpassings die Here van jou vra.


Gebed

Ons weet mos dat dit onmoontlik sal wees om te verander as dit van onsself sou afhang. Vra die Here om jou hiermee te help. (Vgl Klaagl 5:21.
21Bring ons terug na U toe, Here,
sodat ons kan terugkeer;
maak ons dae nuut soos voorheen,
)

Raak stil en laat die Gees jou lei.

Week 6 Dag 30 Die missionele karakter van die gemeente
Week 6 Dag 30 Die missionele karakter van die gemeente
Delf dieper
Delf dieper

DIEPER DELF: handboek, p 113 -125
Lees gerus ook Matt 5:13-16; 1 Kor 9:14-27; Ef 6:5-9; Fil 1:29; 2:12-16; Kol 1:23

Matt 5:13-16;

BERGREDE: SOUT EN LIG

(Mark 9:50; 4:21; Luk 14:34-35; 8:16)

13“Julle is die sout vir die aarde, maar as die sout sy smaak verloor het, waarmee sal dit weer sout gemaak word? Dit deug vir niks meer nie, behalwe om buite gegooi te word sodat dit deur die mense vertrap kan word.

14“Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie. 15Mens steek ook nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n maatemmer nie, maar op ‘n lampstaander, en so gee dit lig vir almal in die huis.

16“Laat julle lig só voor die mense skyn, sodat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, kan verheerlik.”

1 Kor 9:14-27;

14So het die Here ook bepaal dat hulle wat die evangelie verkondig, uit die evangelie moet leef. 15Maar ek het nie van een van hierdie regte gebruik gemaak nie, en ek skryf ook nie hierdie dinge sodat dit op my van toepassing moet wees nie. Ek sterf eerder as dat iemand my dié roem ontneem! 16Want as ek die evangelie verkondig, is dit nie vir my rede om my daarop te beroem nie? Daar rus immers ‘n verpligting op my, en wee my as ek nie die evangelie verkondig nie. 17As ek dit uit vrye wil doen, is daar vir my beloning; as ek dit egter nie uit vrye wil doen nie, doen ek dit as ‘n taak wat aan my toevertrou is. 18Wat is my beloning dan? Dat ek deur my verkondiging die evangelie gratis aanbied, sonder om van die regte wat met die verkondiging saamgaan, ten volle gebruik te maak.

19Want hoewel ek vry is van almal, het ek almal se slaaf geword, om soveel mense as moontlik te wen. 20Vir die Jode het ek soos ‘n Jood geword, om Jode te wen; vir diegene onder die wet, soos iemand onder die wet – al staan ek self nie onder die wet nie – om diegene onder die wet te wen. 21Vir diegene sonder die wet, het ek soos iemand sonder die wet geword – al is ek nie sonder die wet van God nie, maar juis onder die wet van Christus – om hulle wat sonder die wet is, te wen. 22Vir die swakkes het ek swak geword, om die swakkes te wen; vir almal het ek alles geword, sodat ek ten minste sommige kan red. 23Dit alles doen ek ter wille van die evangelie, sodat ook ek daarin mag deel.

24Weet julle nie dat die atlete wat in ‘n stadion aan ‘n wedloop deelneem, wel almal hardloop, maar dat net een die prys ontvang nie? Hardloop dan só dat julle dit ontvang. 25Almal wat deelneem, pas in alle opsigte dissipline toe – hulle nogal om ‘n verganklike oorwinningskrans te ontvang, maar ons ‘n onverganklike. 26Ek hardloop daarom so, dat dit nie doelloos is nie; ek boks so, dat ek nie in die lug slaan nie. 27Maar ek dissiplineer my liggaam en maak dit diensbaar, sodat ek nie, terwyl ek vir ander gepreek het, dalk self gediskwalifiseer word nie.

Ef 6:5-9;

5Slawe, wees met vrees en bewing aan julle aardse eienaars gehoorsaam, met opregte harte, soos aan •Christus – 6nie met lippediens om mense se guns te wen nie, maar as slawe van Christus wat die wil van God van harte doen, 7terwyl julle met blymoedigheid julle diens verrig, soos vir die Here, en nie vir mense nie. 8Want julle weet dat elkeen, indien hy iets goeds doen, dit van die Here as loon sal terug ontvang, of hy ‘n slaaf is of ‘n vryman.

9En julle, eienaars, tree net so op teenoor die slawe, en staak julle dreigemente, omdat julle weet dat julle en hulle Here in die hemel is, en dat Hy niemand volgens die uiterlike beoordeel nie.

Fil 1:29;

29Dit is immers ter wille van Christus aan julle as gawe gegee om nie net in Hom te glo nie, maar ook vir Hom te ly. 30Julle stry dieselfde stryd wat julle my sien stry het, en waarvan julle nou hoor dat ek nog steeds stry.

Fil 2:12-16;

12Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam was – nie net in my teenwoordigheid nie, maar nou ook nog veel meer in my afwesigheid – werk met vrees en bewing aan julle verlossing. 13Want Hy wat die gewilligheid en die optrede in julle bewerk soos Hy dit goedvind, is God. 14Doen alles sonder kla en teenpraat, 15sodat julle sonder blaam en onskuldig kan wees, kinders van God, smetteloos, te midde van ‘n krom en ontaarde geslag. Julle skyn onder hulle soos sterre in die heelal, 16deurdat julle vashou aan die woord van die lewe. Op hierdie manier sal julle op die dag van •Christus my rede tot roem wees, sodat ek nie vergeefs gehardloop of my vergeefs ingespan het nie.

Kol 1:23

23mits julle in die geloof bly, stewig gevestig en standvastig, sonder om weg te beweeg van die hoop wat die evangelie bring. Dit is die evangelie wat julle gehoor het, en wat in die hele skepping onder die hemel verkondig is, en waarvan ek, Paulus, ‘n dienaar geword het.

Doen die volgende

Onthou om die bladsy vir die week se groepgesprek te voltooi!

Inhoudsopgawe

Kopiereg
Dr. Frans Hancke.

Hierdie werk word deur kopiereg beskerm. Dit word aan u gebring deur die NG Kerk Groot-Brakrivier onder kopieregtoestemming soos verleen deur Dr. Frans Hancke aan die NG Kerk Groot-Brakrivier webtuiste. Enige kopieering of herverspreiding van hierdie materiaal is onderhewig aan goedkeuring van die kopiereghouer (Dr. Frans Hancke).

Sien ook die volgende kopiereg bepalings:
Kopiereg: Ons is die plan – 9 Weke van Transformasie

Skrifaanhalings geneem uit:
die Bybel in Afrikaans 2020-vertaling
© Bybelgenootskap van Suid-Afrika 2020.
Gebruik met toestemming.
Alle regte voorbehou.
www.bybelgenootskap.co.za / www.biblesa.co.za.
Kontak:
copyright@biblesociety.co.za