Voorwoord: Ons is die plan – 9 Weke van Transformasie

Na ’n periode van bykans twee-en-’n-half jaar waartydens Frans Hancke die Ons-is-die-Plan werkwinkel by verskeie gemeentes en ander geleenthede aangebied het, was die enigste “negatiewe” kommentaar wat ek van kerkleiers gehoor het: “Wow! … Hoe kry ons hierdie inligting by ons lidmate?”
Ek het verstaan wat hulle bedoel. Alhoewel die werkwinkel primêr op die kerkleierskap gerig word, is die inhoud van so ’n aard dat enigeen wat dit bywoon, werklik besef: Die Bybelse verstaan van die roeping en taak van die Kerk weerklink in hierdie tyd van teologiese verwarring verrassend suiwer en Woordgetrou deur hierdie materiaal. Juis daarom is dit belangrik om lidmate hieraan bloot te stel! Verder het ek verskeie van hierdie werkwinkels self bygewoon en kan daarom getuig dat die Heilige Gees mense se lewens aanraak en in sommige gevalle selfs radikaal verander! Dan moet daar mos ’n antwoord gevind word vir hierdie versugting van kerkleiers!
Die antwoord wat Frans (saam met ’n span) by die Here gekry het, was om die inligting in die vorm van ’n Bybelstudieboek beskikbaar te stel. Nou kan gelowiges self vanuit God se Woord deur die Heilige Gees gelei word tot ’n nege weke proses van transformasie en groei in hul kennis van en verhouding met God – asook hul geloof in Hom!
Frans het verskeie kundiges genader wat bereid was om as medewerkers op te tree. Prof Dons Kritzinger, Prop Ensie Enslin, Ds Evert Bergh, Dr Gideon van der Watt, Me Melanie Strydom, Ds Peet Grobbelaar, Ds Pieter Pretorius, Prof Pieter Verster, Ds Riaan van der Mescht en Ds TC du Toit het bygedra tot hierdie boek wat jy in jou hand het. Wat ’n voorreg was dit nie vir elkeen van ons wat hiertoe meegewerk het nie!
Self kan ek getuig van wat die besig-wees met hierdie Bybelstudiestukke die afgelope paar maande vir my persoonlik beteken het! Miskien is dit beter gestel om te sê dat God hierdie tyd met my op ’n besondere manier besig was … en ek loof en aanbid Hom daarvoor!
Mag dit ook jou ervaring gedurende die volgende nege weke wees!

“Soli Deo Gloria”.

Ensie Enslin