Stof tot nadenke: “Die goedheid van die Here”

“Lê daarom alles wat sleg is, en alle bedrog en geveinsdheid en jaloesie, en alle geskinder af, en smag soos pasgebore babatjies na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan groei, met die oog op julle verlossing, noudat “julle die goedheid van die Here gesmaak het”.

(1 Pet. 2: 1-320)

Wat is jou ervaring van God se goedheid?

In 1 Petrus 2 word ons daarop gewys dat ons alles wat sleg is moet aflê omdat ons ‘die goedheid van die Here gesmaak het‘. Wat verstaan elkeen van ons in hierdie woorde?

Sal ons terugkeer na die huis van die Here net omdat die goedheid en guns van die Here ons volg, soos vir die Psalmdigter? Dink ons dat die goedheid van die Vader daarin geleë is dat ons ontsag vir Hom het?

Of is die goedheid van die Here daarin gesentreer dat ons die goeie dinge van hierdie aarde beleef? Die dinge wat ons laat groei in aansien by die mense? Ons voorspoed en goedheid van die Here word so dikwels gemeet aan alles wat ons het, en nog kan kry! Ons sien hierdie uitkyk ook by Bybelse figure.

Teksverse:
“Net goedheid en troue liefde sal my volg al die dae van my lewe, en ek sal terugkeer na die huis van die Here, tot in lengte van dae.” (Ps. 23: 620);

“Hoe groot is u goedheid wat U bewaar vir dié wat vir U ontsag het, wat U voorberei vir dié wat by U skuil, terwyl die mense toekyk.” (Ps. 31: 2020);

“Gee my ‘n teken van goedheid sodat hulle wat my haat, dit kan sien en beskaamd Staan. U, Here, het my immers gehelp en getroos.” (Ps. 86: 1720);

“Mag die goedheid van my Heer, ons God, oor ons wees. En ons handewerk, hou dit vir ons in stand, ja, ons handewerk, hou dit in stand.” (Ps. 90: 1720);

“Hulle sal kom en jubel op die hoogte by Sion; hulle sal van vreugde straal oor die goedheid van die Here, oor koring, nuwe wyn en olie, en oor lammers en beeste. Hulle sal wees soos ‘n natgeleide tuin; hulle sal nie weer wegkwyn nie.” (Jer. 31: 1220)

Doel van die Here se goedheid?

Daar is ‘n inherente dankbaarheid by die Bybelse figure te sien. Hulle besef dat hulle seën van die Here kom. Dat dit Sy goedheid is wat lei tot hulle ‘voorspoed’.

Ons moet elke dag onthou daar is ‘n doel agter God se goedheid. God is goed en regverdig. Hy wil ons tot bekering bring in ons verkeerde aardse maniere.

Die goedheid van die Here is gesentreer in Sy liefde. Hy wil ons deur sy genade die ware lewe laat smaak. Sy Seun, Jesus Christus, is die bewys van Sy omgee en liefde. Hy het alles gegee sodat elkeen van ons, wat in Hom glo, Sy goedheid kan ervaar.

Laat ons in dankbaarheid lewe en alle slegte eienskappe aflê, sodat ons die Verlossing van die evangelie kan ervaar. Sodat ons kan groei in geloof, deur die bystand van die Heilige Gees. Wees ontvanklik vir hierdie grootse gawe van God, en ervaar die volheid van die goedheid van die Here.

Teksverse:
“Dink jy, o mens, wat ander veroordeel wat sulke dinge doen terwyl jy dieselfde dinge doen, dat jy God se oordeel sal vryspring? Of verag jy die rykdom van sy goedheid, verdraagsaamheid en geduld, en besef jy nie dat God se goedheid jou tot bekering wil bring nie?” (Rom. 2: 3-420);

Rom. 11: 22
“Sien daarom God se goedheid sowel as sy strengheid raak: sy strengheid oor hulle wat afvallig geword het, maar sy goedheid oor jou – mits jy in sy goedheid bly,* want ook jy kan uitgekap word.” (Rom. 11: 2220);

Ef. 2: 6-8
“Ja, Hy het ons in Christus Jesus saam opgewek, en saam laat sit in die hemel, sodat Hy in tye wat kom, bewys kan lewer van die allesoortreffende rykdom van sy genade deur sy goedheid aan ons in Christus Jesus. Want uit genade is julle verlos, deur geloof. En juis dit kom nie uit julle self nie; dit is die gawe van God.” (Ef. 2: 6-820)