Spanning, Bingo, Sjokolade en ’n Toekomsplan: ’n Oggend van Samesyn saam met Seeds of Hope en die Ondersteuningsbediening

2026-04-15 Ondersteuningsbediening en Seeds of Hope - 60 jariges Bingo NG Kerk Groot-Brakrivier

Op Woensdag, 15 April 2026 het die Seeds of Hope Community Project, in samewerking met ons gemeente se Ondersteuningsbediening, weereens die 60+ -jariges van ons gemeenskap bederf met ’n oggend wat die perfekte balans tussen erns en plesier getref het. Dit is in hierdie ruimte waar geloof nie net in banke bely word nie, maar in die lag van vriende en die gee van mekaar se tyd uitgeleef word.

Die oggend het op ’n praktiese noot begin. In ’n wêreld wat dikwels onseker voel, is goeie raad goud werd. Johan Lochner van PSG Wealth George het sy kundigheid met ons gedeel tydens ’n insiggewende sessie oor Boedels. Vir baie was dit ’n gerusstelling om te weet dat die nalatenskap waarvoor hulle ’n leeftyd lank gewerk het, met die regte beplanning beskerm kan word. Maar namate die laaste vrae oor testamente beantwoord is, het die atmosfeer in die saal begin verander. Die ernstige penne is neergesit en die oë het begin blink met ’n heel ander soort afwagting. Dit was tyd vir die groot trekpleister: Bingo.


Ek sit op die punt van my stoel. Voor my lê die telkaart, ’n ruitnet van moontlikhede wat staar na my. Ek voel hoe my palms effens klam word terwyl ek die pen styf vashou. Rondom my hoor ek die sagte geritsel van papier en die gedempte stemme van vriende wat mekaar uitdaag.

“Nog net een nommertjie,” fluister ek vir myself.

Ronel staan voor by die rekenaar. Sy druk die knoppie vir die volgende nommer, my hartklop klink harder as ’n dromslag in my ore.
“Rooi, ses!” roep sy uit.
Nee, nie hy nie. My kaart bly leeg op daardie plek.
“Blou, vyf-en-veertig!”
Amper. My buurman langs my merk syne met ’n triomfantelike plakker, maar ek kort nommer drie-en-veertig. Die lug is dik van die konsentrasie.

BINGO!” skree iemand aan die ander kant van die saal. ’n Sug van teleurstelling, gemeng met goeie geaardheid, rimpel deur die groep. Dit was so naby of dit was myne. Maar die wedstryd is nog nie verby nie. Hierdie keer speel ons vir die ‘Full-House’. Al sestien blokkies moet toegeplak wees.

Tien rondtes gaan verby. My kaart lyk soos ’n woestyn – nie een enkele nommer is uitgeroep nie. Ek begin hoop verloor, maar dan, skielik, verander my geluk. Een… twee… drie nommers na mekaar! Nou is dit my beurt; ek kan dit sommer in my gebeente aanvoel. Die kaart word stadig maar seker voller. My oë spring tussen Ronel en my kaart.

Kort nog twee… amper daar.
Kort nog een alleenstaande nommertjie.
Die spanning bou op tot breekpunt. Die saal is doodstil, behalwe vir die angstige voet getik op die hout vloer. “Kom aan,” bid ek saggies.
Ronel kyk op, ’n vonkel in haar oog. “Watter kleur kort julle nog?”
“Geel!” roep iemand links. “Rooi!” skree ek amper te hard terug.

Sy roep die volgende nommer stadig uit. Die sekondes voel soos ure. Sy lees dit af… my hart bons in my keel…
JAHOOO! BINGO!
Die woord bars uit my mond voordat ek dit kan keer. Ek kan nie help om te straal nie. Peet kom nader om die nommers te kontroleer terwyl die res van die tafel met groot oë toekyk.
“Jip, dis in die kol!” kondig hy aan.
Onder luidrugtige gejuig bring hulle my prys vir my: ’n heerlike, groot slab sjokolade. Dit het nog nooit so goed gelyk nie.

Dankie Ronel en Peet.


Na al die opwinding van die Bingo, was dit tyd om asem te skep en die samesyn te geniet. Wat ’n wonderlike oggend was dit nie om saam met vriende te ontspan nie. Die reuk van vars tee en koffie het deur die saal getrek, en die bedref in die bordjies met melktertjies, goudbruin hoendernuggets en daardie onweerstaanbare vleiskolwyntjies (resep is gou gedeel op ‘n afval stukkie papier) waarvoor ons gemeenskap so bekend is.

Hier gaan dit oor meer as net inligting of speletjies; dit gaan oor die konneksie tussen mense wat saam oud word in hierdie pragtige dorp. Ons harte is vol (en ons mae ook!).

Dagboek dit nou:

Ons kan nie wag vir die volgende keer nie! Ons volgende byeenkoms vind plaas op 22 Julie 2026, en die tema is die immergewilde “Christmas in July”.

Onthou asseblief:

  • Bring jou eie tuisgemaakte geskenkie saam om uit te ruil.
  • Ons gaan bederf word met spesiale gaskunstenaars wat gaan optree.

Kom deel in die vreugde, die musiek en die vriendskap. Ons sien uit om julle almal daar te hê!

Ondersteuningsbediening: Valentynsontbyt 2026

Valentynsdag 2026 Odersteuningsbediening

Die Ondersteuningsbediening van die NG Kerk Groot-Brakrivier het in samewerking met Seeds of Hope, ‘n heerlike gesellige ontbyt aangebied by De Dekke op 11 Februarie 2026.

Dit was ‘n vrolike, musiek gevulde geleentheid. Musiek is verskaf deur Herman Grobbelaar. Die tafels was soos altyd keurig gedek en was in wit en rooi getooi. Dankie vir almal wat so wonderlik gehelp het om van die oggend ‘n groot sukses te maak.

‘n Musikale Herinnering

Dinsdag, 18 November 2025, het die Ondersteuningsbediening, van die NG Kerk Groot-Brakrivier, in same werking met Seeds of Hope, ‘n heerlike Musikale Herinnering gereël.

Francois en Elizabeth Fourie het opgetree met Konsert Tema: “Wil jy dans Carina” en die groep mense saamgesleur deur die lewe. Van jonk wees, met drome…tot by die ouderdom waarin baie van ons vandag lewe. Ons is op humoristiese wyse deur hierdie wonderlike sangpaar, deur die verhaal van hulle lewe, geneem. Dit was regtig ‘n onvergeetlike belewenis, met lekker lag, maar ook soms ‘n hartseer traan in die oog.

Lees meer “‘n Musikale Herinnering”

’n Bederfdag deur Seeds of Hope en die Ondersteuningsbediening

Seeds of Hope en Ondersteuningsgroep Bederf 2025-09-17

’n Bederfdag

Op 17 September 2025 het die kerksaal gevul met gelag en musiek tydens Seeds of Hope en die Ondersteuningsbediening se spesiale viering vir ons lieflike 60 jaar en ouer gemeentelede. Die doel was eenvoudig én kragtig: om harte te verwarm met ’n heerlike bederfdag.

Daar was lekkernye, koffie en tee in oorvloed, maar die ware kos was die vreugde van verbinding. Ouer mense het aan tafels gesit, nuwe vriende gemaak en selfs telefoonnommers uitgeruil, wat die bande van gemeenskap versterk het. Die talentvolle Wilidia Crause, op klavier begelei deur Franco Engelbrecht, het die saal betower met haar lieflike sang.

Die pret het ’n hoogtepunt bereik met die Voete Skommel-speletjie, wat lag en vrolikheid ontketen het. Die dag was ’n pragtige herinnering dat ons nooit te oud is om te speel, te kuier en nuwe vriende te maak nie. Dit is deur sulke prettige oomblikke dat ons saam die skaduwees van eensaamheid verdryf en hoop laat blom.

#SeedsOfHope #Ondersteuningsbediening #Bederfdag #Gemeenskap #Verbinding #EensaamheidBekamp

Ondersteuningsgroep: 60+ Funksie

Wolwedans 60Plussers Gemeenskapsprojek

Die Ondersteuningsgroep van die NG Kerk Groot-Brakrivier het op 9 Julie 2025 ‘n pragtige funksie in die Kerksaal aangebied saam met Seeds of Hope, vir die 60+groep. Die oggend was gevul met die veelsydige musiek van Paul Hoffman, Coosie de Beer en Jaconette Brink.

Die keurig gedekte tafels het beloof om die oggend in styl af te sluit met sop en broodjie, terwyl daar ook heerlike warm komberse verskaf is.

Ondersteuningsgroep 2024 Afsluitingsfunksie

Ondersteuningsgroep Ng Kerk Groot-Brakrivier

Op 20 November 2024 het die Ondersteunings groep in samewerking met die organisasie ‘Seeds of Hope’ , ‘n afsluitings funksie in NG Kerk Groot-Brakrivier se kerksaal gehou. Die funksie is bygewoon deur ongeveer 50 mense van Groot-Brakrivier.

Minette van Zyl het die oggend geopen, Annatjie van Rensburg het ‘n kort praatjie gegee, en die dag is gereel deur Riana Briers. Die funksie was baie goed beplan en smaakvol voorgesit.

Lees meer “Ondersteuningsgroep 2024 Afsluitingsfunksie”

Seeds of Hope en die Ondersteuningsgroep van die NG Kerk Groot-Brakrivier vat hande

In Mei vanjaar het die dames van Seeds of Hope organisasie na Riana Briers, wat voorsitter van die Ondersteuningsgroep van die NG Kerk Groot-Brakrivier is, uitgereik.

Na ‘n gesprek met hulle, het ons hulle na ons maandelikse byeenkoms genooi om beter begrip vir mekaar se doelwitte en waardes te he. Hulle het aan gedui dat hulle graag ons hande wil versterk met dit wat reeds gedoen word.

Daar is besluit op ‘n Lentetee vir alleenlopendes wat op 2 September 2024 plaasgevind het. Dit was ‘n prettige oggend met Bingo, geskenkpakkies en pryse, wat goed bygewoon is. Soortgelyke geleenthede word beplan vir elke twee maande.

Lees meer “Seeds of Hope en die Ondersteuningsgroep van die NG Kerk Groot-Brakrivier vat hande”

Ondersteuningsgroep se bekendstelling by Groenkloof

Die doel van die besoek was om die dienste van die bediening aan Groenkloof (Groot-Brakrivier) se mense bekend te stel, en om hulle persoonlik te kan ontmoet.

Daar was wonderlike belangstelling op 8 Februarie 2024 toe ons saam in Groenkloof se eetsaal tee en versnaperinge geniet het, wat deur Eben van die oord voorberei is.

Die Bestuurspan van NG Kerk Groot Brakrivier ondersteun die aksie finansieel wat dit moontlik maak om gratis vervoer te verskaf. Daar word bystand verleen met:

Lees meer “Ondersteuningsgroep se bekendstelling by Groenkloof”

Ondersteuningsgroep besoek Youth Cafe en ander aksies

Die Ondersteuningsgroep bied hoofsaaklik rygeleenthede aan persone in die gemeenskap vir doktersafsprake en so meer. Wat dit so besonders maak, is die feit dat die bestuur van ons Kerk ons so goed gesind is en ons finansieël bystaan om dit te doen. Ek het ook groot waardering vir die gewillige groep mense wat soms op kort kennisgewing bereid is om iemand te help. Kosbare vriendskappe word ook hierdeur gesmee.

Ons het as groep die Youth Cafe in Greenhaven besoek op 7 September.

Lees meer “Ondersteuningsgroep besoek Youth Cafe en ander aksies”

Ondersteuningsgroep – 4 Augustus 2022

Depressie - Photo by Kat Smith: https://www.pexels.com/photo/woman-holding-her-head-551588/

Ons bestaan uit ‘n groepie passievolle mense wat daarop ingestel is om ‘n verskil te maak in ons gemeente en ons gemeenskap.

Die afgelope byeenkoms van 23 Junie, het ons gesprek hoofsaaklik gegaan rondom besondere behoeftes wat ons in ons omgewing raaksien en hoe ons dit kan aanspreek.

Indien iemand opsoek is na enige emosionele of fisiese bystand, kontak ons by die onderstaande telefoonnommer en ons sal ons bes doen om van hulp te wees.

Lees meer “Ondersteuningsgroep – 4 Augustus 2022”

Ondersteuningsgroep byeenkoms, 5 Mei 2022: Ons gesels oor: Depressie

In samewerking met Caritas Care Mosselbaai.

Die byeenkoms word geopen  deur Mardine Strauss.

Mia Bruhns [Pastorale Narratiewe Terapeut] is ons gasspreker oor Depressie.

Mia verduidelik kortliks die plastisiteit van die brein t.o.v depressie. Daar is voorheen geglo dat die mens se breinselle afsterf en dat dit dan finaal is. 

Nuwe navorsing wys dat die brein se plastisieit die vermoë het om sy struktuur te verander met leer.

Met depressie word daar ‘n probleem storie vasgelê, maar deur die gebruik van taal, kan ‘n alternatiewe verhaal geskep word. 

Lees meer “Ondersteuningsgroep byeenkoms, 5 Mei 2022: Ons gesels oor: Depressie”

Ondersteuningsgroep

Eensaamheid is ‘n probleem wat toenemend voorkom in ons moderne samelewing en ook in ons eie gemeente, daarom het ons dit goed gedink om ‘n ondersteuning netwerk en groep te begin vir:

  • enkellopendes;
  • mense wat gemarginaliseerd voel;
  • nuwe intrekkers wat uitgesluit voel;
  • selfs mense binne ‘n verhouding wat eensaam voel;
  • of wat ookal jou omstandighede is, dalk weens verlies of siekte.
    Indien jy wil inskakel by so ‘n groep, of nodig het om net met iemand vertroulik te praat, kontak of whatsapp my.
    Riana Briers
    Sel: 081 039 8853