Stof tot nadenke: Struikelblokke

Wie een van hierdie kleintjies wat in My glo, laat struikel, dit is vir hom beter dat ‘n maalklip van ‘n donkie om sy nek gehang word en hy wegsink in die dieptes van die see. Wee die wêreld as gevolg van die struikelblokke. Struikelblokke sal onvermydelik kom, nogtans, wee die mens deur wie die struikelblokke kom.
Matt. 18: 6-7

Baie kras woorde uit die mond van Jesus Christus, maar Hy het dit met oortuiging gesê en bedoel. Hy wat mens geword het om vir ons sondes te sterf. Hy het gesien hoe mense vir mekaar struikelblokke op hulle pad kom sit. Hy wat as Seun van God ook geweet het wat in mense se harte is, en wat hulle ware bedoelings is. Hy wat weet dat vir die reines van hart, alles rein is, maar vir die besoedeldes en ongelowiges is niks rein nie (“Vir die reines is alles rein, maar vir die besoedeldes en ongelowiges is niks rein nie, want hulle verstand en hulle gewete is besoedel” (Tit. 1: 15)).

Wat beteken dit om ‘n struikelblok op iemand anders se pad te sit? Ons doen tog nie sulke dinge nie! Ons sit elke dag en bedink die dinge van God. Die beste voorbeeld is seker die Fariseërs wat Christus wou vastrek en ‘n slinkse plan beraam het om Hom te kry om ‘n verkeerde antwoord te gee na hulle ‘n vrou wat owerspel gepleeg het en na Hom toe gebring het, en Hy sy baie bekende antwoord gegee het (“Laat die een wat sonder sonde is, eerste ‘n klip na haar gooi” (Joh. 8: 7). Hulle het regtig gedink dat hulle Jesus kan versoek, met ander woorde hulle het gedink hulle is slinks genoeg om ‘n struikelblok in Jesus Christus se pad te plaas.

Die Bybel is vol van voorbeelde, wat tereg nie direk as struikelblokke vir mense genoem word nie, maar elkeen van ons wat al daarmee gekonfronteer is, weet watter struikelblok dit in jou lewe kan word, indien jy nie daarop bedag is nie. Dinge soos haat, afguns, leuens en gemene dade. Dinge wat so in die alledaagse lewe as normaal en bruikbaar geadverteer word (“Wie onder julle is wys en verstandig? Laat hy deur goeie gedrag sy dade met sagmoedige wysheid toon. Maar as daar bittere afguns en selfsug in julle harte is, moet julle dan nie op wysheid beroem, en teen die waarheid lieg nie. Dit is nie wysheid wat van bo kom nie, maar aards, nie-geestelik en demonies. Want waar afguns en selfsug heers, kom wanorde en allerlei gemene dade voor. Maar die wysheid van bo is in die eerste plek suiwer, en verder ook vredeliewend, bedagsaam, inskiklik, vol deernis en goeie vrugte, onpartydig en ongeveins. En die vrug van geregtigheid word in vrede gesaai vir hulle wat vrede maak.” (Jak. 3: 13-18)). In Levitikus word daar van die vroegste tye af gewaarsku teen baie bedrywe, wat ons nog steeds in ons hedendaagse tyd beleef (“Julle mag nie steel nie, julle mag nie lieg nie, en julle mag as volksgenote mekaar nie bedrieg nie. Julle mag nie in my Naam ‘n vals eed aflê en so die Naam van julle God ontheilig nie. Ek is die Here. Jy mag nie jou naaste uitbuit en beroof nie. Jy mag nie die loon van ‘n dagloner deur die nag by jou hou tot die oggend nie. Jy mag ‘n dowe nie vervloek nie en voor ‘n blinde nie ‘n struikelblok lê nie. Jy moet vir jou God ontsag hê. Ek is die Here. “’Julle mag nie onreg pleeg in die regspraak nie. Jy mag nie partydig wees vir armes of voorkeur gee aan belangrikes nie. Oordeel jou volksgenoot regverdig. Jy mag nie as kwaadstoker tussen jou mense rondgaan nie; jy mag nie jou medemens se lewe in gevaar stel nie. Ek is die Here. Jy mag nie jou broer in jou hart haat nie. Wys jou volksgenoot openhartig tereg. Jy mag nie ‘n misstap teen hom bly hou nie. Jy mag nie haatdraend wees en ‘n wrok koester teen die kinders van jou volk nie. Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Ek is die Here.“ (Lev. 19: 11-18)). Ons word ook gemaan om nie te sweer nie, nie by die hemel en ook nie by die aarde nie (“Bo alles, my broers, moenie sweer nie – nie by die hemel nie, en nie by die aarde nie – en moet ook geen ander eed aflê nie. Maar laat julle “ja” ‘n “ja” wees, en julle “nee” ‘n “nee”, sodat die oordeel julle nie tref nie.” (Jak. 5: 12)).

Daar is soveel toepaslike voorbeelde van struikelblokke in die Bybel, asook in hierdie hedendaagse lewe, dat ons ‘n hele boek daarvan kan volmaak (“Hulle silwer sal hulle in die strate weggooi, hulle goud sal as onrein afval beskou word. Hulle silwer en goud – dit kan hulle nie red op die dag van die Here se gramskap nie. Hulle eetlus sal hulle nie daarmee kan stil nie, hulle ingewande nie kan vul nie. Want dit was die struikelblok.” (Eseg. 7: 19)). Esegiël maan ons om ons te bekeer van al ons oortredinge en bydrae tot struikelblokke vir ander (“die uitspraak van die Heer, die Here. “Bekeer julle! Draai weg van al julle oortredings, sodat dit nie vir julle ‘n struikelblok word wat sondeskuld meebring nie. Werp al julle oortredings van julle af weg, dit waarmee julle oortree het, en maak vir julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees.” (Eseg. 18: 30-31)). Selfs die goedbedoelende Petrus, wat as die rots van Jesus Christus se evangelie beskou word, was ook ‘n struikelblok van Jesus self (“Petrus het Hom eenkant geneem en Hom begin teregwys: “Mag God dit verhoed, Here, dit sal beslis nie met U gebeur nie! Maar Hy het omgedraai en vir Petrus gesê: “Gaan weg agter my , Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, want jy bedink nie die dinge van God nie, maar die dinge van mense.” (Matt. 16: 22-23)).

Daar is ook selfs verwysing na regverdige mense wat van hulle regverdige lewe afwyk, soos ons deesdae dikwels van hoor. Vir hulle is daar reeds in Esegiël die waarskuwing van ‘n struikelblok waardeur hulle sal sterf. Hierdie struikelblok verwys na Jesus Christus self (“Wanneer ‘n regverdige van sy regverdige lewe afwyk en onreg pleeg, en Ek ‘n struikelblok voor hom neersit, sal hy sterf. As jy hom nie waarsku teen sy sonde nie, sal hy sterf, sy regverdige dade wat hy gedoen het, sal nie onthou word nie. Sy bloed sal Ek egter van jou hand eis. En jy, as jy ‘n regverdige waarsku om nie te sondig nie, en hy, die regverdige, sondig nie, sal hy beslis bly leef, omdat hy hom laat waarsku het; en jy, jy het dan jou eie lewe gered.” (Eseg. 3: 20-21)). Ons moet besef dat God wel die oordeel sal vel oor die wat nie in Hom glo nie; dit is ook ‘n waarskuwing wat na ons toe kom (“Al weet julle al hierdie dinge, wil ek julle daaraan herinner dat, hoewel die here een maal sy volk uit Egipte verlos het, Hy tog daarna dié wat nie geglo het nie, laat omkom het.” (Jud. 1: 5)).

Net soos in Paulus se woorde, laat daar nie van ons gesê word dat ons afgodsbeelde en ander struikelblokke in mense se pad lê nie (“Julle moenie vir Jode of Grieke of die gemeente van God ‘n struikelblok wees nie. Net soos ek ook probeer om alle mense in alle opsigte in ag te neem, en om nie my eie voordeel nie, maar dié van die meerderheid, na te streef, sodat julle verlos mag word.”(1 Kor. 10: 32-33)). Laat ons versigtig wandel en nie ‘n struikelblok wees vir enigiemand wat in sekere opsigte swakker as onsself is nie (“Pasop dat hierdie vryheid van julle nie vir die swakkes ‘n struikelblok word nie. Want as iemand jou, wat die kennis het, in ‘n afgodstempel aan tafel sien, sal hy nie, omdat sy gewete swak is, aangemoedig word om afgodsoffers te eet nie?” (1 Kor. 8: 9-10)). Ons het ‘n verantwoordelikheid teenoor alle ander mense, hetsy Jode of nie-jode, hetsy sterk mense of die swakkeres; want ons glo en verkondig die waarheid (“Ons egter, verkondig ‘n gekruisigde Christus. Vir Jode is dit ‘n struikelblok en vir nie-Jode ‘n dwaasheid. Maar vir diegene wat geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God.” (1 Kor. 1: 23-24); (“Julle het goed gehardloop. Wie het julle verhinder om aan die waarheid gehoorsaam te bly? Dié oortreding kom nie van Hom wat julle roep nie.’n Bietjie suurdeeg maak al die deeg suur. Wat julle betref: Ek is in die Here daarvan oortuig dat julle nie anders as ek sal dink nie, maar die een wat julle in verwarring bring, sal die straf dra, wie hy ookal mag wees.” (Gal. 5: 7-10)).

Die enigste Een wat toegelaat word om ‘n struikelblok, wel tot hulle redding mag wees, is die Seun, Jesus Christus (“Wat sal ons dan sê? Dat die heidene die geregtigheid wat hulle nie nagejaag het nie, verkry het, naamlik die regverdiginge deur die geloof, terwyl Israel, wat geregtigheid deur die wet nagejaag het, die eis van die wet nie kon nakom nie? Waarom nie? Omdat hulle dit nie op grond van geloof wou verkry nie, maar op grond van hulle dade. Hulle het oor die struikelblok gestruikel, soos daar geskryf staan: “Kyk, Ek sit in Sion ‘n klip neer waaroor ‘n mens kan struikel, ja, ‘n rots wat jou kan laat val; maar wie in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.” (Rom. 9: 30-33)). Laat ons gaan lewe tot voordeel van ander en nie struikelblokke in enigiemand se lewe wees nie!