Stof tot nadenke: ons Kragbron

Weet jy dit nie? Het jy dit nie gehoor nie? ‘n Ewige God is die Here, Skepper van die eindes van die aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie – ondeurgrondelik is sy insig. Dit is Hy wat vermoeides krag gee, wat lewenskrag vermeerder vir dié wat geen vermoëns het nie. Jong seuns word moeg en raak afgemat; jong manne struikel en val. Maar wie op die Here wag, herwin hulle krag; hulle kry nuwe vere soos arende. Hulle hardloop, maar raak nie afgemat nie, hulle loop, maar word nie moeg nie.

Jes. 40: 28-31

Hier in Suid Afrika weet ons maar te goed hoe maklik ons sonder eletriese krag gelaat word. Tans gaan dit beter, maar daar was ‘n tyd wat die tekort aan krag ‘n daaglikse realiteit was, en het ons soms moedeloos gelaat. Krag sentrales wat breek, nie gereeld genoeg onderhou word nie, of wat net eenvoudig nie meer die aanvraag aan krag kan voorsien nie. Dit laat ons dikwels afgemat en moedeloos voel, soos die jong seuns wat in Jesaja 40 genoem word. Daar is egter ‘n permanente en ewige kragbron, wat nooit uitgeput of afgemat raak nie.

Jesaja gee ons egter die antwoord in Jes. 40. Hy kan nie verstaan dat almal nie weet of gehoor het nie! Dat die Ewige God en Skepper nie moeg en afgemat word nie. Dit is by Hom wat krag is, wat Hy mildelik uitdeel aan mense wat dit nodig het. Job het deur al sy moeilike omstandighede, vas bly glo aan die krag van God (“As dit oor krag gaan – Hy is die Sterke! As dit oor reg gaan, sê Hy, ‘Wie kan My dagvaar?’“ (Job 9: 16); (“By God is wysheid en krag; aan Hom behoort raad en insig. ” (Job 12: 13)). Ook Dawid het vasgehou aan die wete dat sy krag van God kom, en herinner ons telkemale daaraan (“U omgord my met krag vir die geveg; U laat my teenstanders die knie voor my buig. ” (Ps. 18: 40); (“U, Here, moet tog nie ver van my bly nie; my bron van krag, kom my gou te hulp.” (Ps. 22: 20); (“Die Here is my krag en my skild; op Hom vertrou my hart. Ja, ek het hulp ontvang en my hart jubel, met my lied wil ek Hom prys:” (Ps. 28: 7); (“Een saak het God bevestig, twee, wat ek gehoor het: Krag is by God:” (Ps. 62: 12)).

In die Nuwe Testament is daar ook verskeie van die dissipels wat na die krag van God verwys, en wat dit vir ons aangeteken het. Petrus wys ons daarop dat God deur Sy krag alles aan ons gegee het (“Sy goddelike krag het ons immers reeds alles gegee wat ons nodig het vir ‘n godvresende lewe, deur die kennis van Hom wat ons deur sy majesteit en goddelike krag geroep het.” (2 Pet. 1: 3)). Deur die briewe van Paulus, Silvanus en Timoteus aan die Thessalonisense word die kragbron genoem (“…want ons evangelie het nie alleen deur die woord nie, maar ook met krag en deur die Heilige Gees en in volle versekering na julle gekom.” (1 Thes. 1: 5)). Timoteus wat aandui dat ons deur die krag van God en die Heilige Gees in liefde en selfbeheersing kan leef (“God het ons tog nie ‘n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing. Maar dra jou deel van die lyding vir die evangelie deur middel van die krag van God.” (2 Tim. 1: 7-8)). Judas stel dit ook so goed. (“Aan Hom wat die mag het om julle daarvan te bewaar dat julle struikel, en om julle onberispelik en jubelend voor sy heerlikheid te stel, aan die enigste God ons Verlosser, deur Jesus Christus ons Here, behoort die heerlikheid, majesteit, krag en mag – van voor alle tye, en ook nou, en tot in alle ewigheid. Amen.” (Jud 1: 24 – 25)).

Ons kan dus verseker weet dat ons nie uit onsself tot enigiets n staat is, wat die moeite werd is nie, maar alleen deur die krag wat God genadiglik aan ons skenk (“Daarvoor span ek my ook in, terwyl ek die worstelstryd voer, in ooreenstemming met sy krag, wat met mag in my werk.” (Kol. 1: 29)). Dit alles omdat God, die Vader ons so lief gehad het dat Hy sy enigste seun vir ons as Verlosser gegee het, en ook die Heilige Gees vir ons gestuur het om ons krag te wees (“Omdat julle in die doop saam met Hom begrawe is, is julle ook saam met Hom opgewek deur die geloof in die krag van God, wat Hom uit die dood opgewek het.” (Kol. 2: 12)). Dit is vir ons moontlik as God ons skild en skuilplek is (“God is vir ons ‘n skuilplek en ‘n bron van krag; as hulp in benoudheid is Hy altyd te vinde. Daarom sal ons nie bang wees wanneer die aarde skud, en die berge wankel in die hart van die see nie.” (Ps. 46: 2-3)). Ons sal weet dat ons tot alles in staat is deur Hom wat ons krag gee (“Tot dit alles is ek in staat deur Hom wat my krag gee. ” (Fil. 3: 21)), wanneer ons, ons krag in God vind (“Ten slotte: Vind jou sterkte in die Here en in sy geweldige krag.”(Ef. 6: 10); (“Maar Hy het vir my gesê: “My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.” Daarom sal ek my baie liewer op my swakhede beroem, sodat Christus se krag my kan beskut.” (2 Kor. 12: 9)).

Laat ons dus elke dag bid soos Jesaja dat God elke dag ons krag sal wees (“Here, wees ons genadig! Op U wag ons. Wees elke oggend ons krag, ja, ons verlossing in ‘n tyd van nood.” (Jes. 33: 2)). Dan sal ons ook elke aand soos die Psalmdigter kan sê dat God ons krag is (“My krag en sterkte was die Here; Hy het my tot hulp gekom.” (Ps 118: 14)).