Stof tot nadenke: “Nuwe lewe in Christus”

Deur die doop is ons dus saam met Hom in die dood begrawe, sodat, net soos Christus deur die magtige heerlikheid van die Vader uit die dood opgewek is, ook ons só ‘n nuwe lewe kan lei.

(Rom. 6: 420)

Afsterwe en wedergeboorte

In hierdie maand van die lente, sien ons daagliks blomme verskyn wat nie oënskynlik daar was, die res van die jaar nie. Ook die bladwisselende bome wat deur die winter dood lyk, en weer in die lente begin bot, herinner ons daaraan dat ons ons ou lewens moet afsterf, om nuwe lewe te kry in die lente van ons geloof. God is die dou wat ons as mens weer laat lewe soos so mooi beskryf word in Hosea.

Christus self het vir Nikodemus daarop gewys dat ons beide deur water én Gees gebore moet word. Dit dui dus op die afsterwe van die vleeslike om in die Gees gebore te word. Paulus wys die gelowige Romeine daarop dat hulle nie uit verganklike saad is nie, maar uit die onverganklike saad van die Woord van God.

Dit is dus God self wat die waarheid in ons wek en vir ons dit moontlik maak, nadat ons tot geloof en die vernuwing van ons gedagtes deur die Heilige Gees gekom het. Ook in Spreuke word ons daarop gewys dat om die wil van die Here te doen tot ‘n lewe lei wat lewens red.

Teksverse:

… sal Ek vir Israel wees soos die dou. Hy sal bloei soos ‘n lelie en hy sal so vas staan soos die Libanon. Hy sal geil groei. Hy sal so sterk wees soos ‘n olyfboom en hy sal ruik soos die plante van Libanon.” (Hos. 14: 6-720);

Nikodemus sê vir Hom: “Hoe kan ‘n mens weer gebore word as hy reeds oud is? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die moederskoot ingaan en gebore word nie?” Jesus antwoord: “Amen, amen, Ek sê vir jou: As iemand nie uit water én Gees gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie binnegaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees, en wat uit die Gees gebore is, is gees. Moenie daaroor verbaas wees dat Ek vir jou gesê het, ‘Julle moet van bo gebore word’ nie. Die wind waai waar hy wil en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waarvandaan hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.” (Joh. 3: 420);

Julle is immers weer gebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad – deur die lewende en blywende woord van God.” (1 Pet. 1: 2320);

Wie die wil van die Here doen, is ‘n bron van lewe; die mens wat wysheid het, red lewens.” (Spr. 11: 3083)

Verlossing van die kruis

God het alles vir ons moontlik gemaak deur die kruisdood van Jesus Christus, Sy eniggebore, en unieke Seun. Ons moet net in stilte hoop en vertroue in die Vader en die verlossing van die kruisdood van Jesus Christus.

Ons hoef ons nie te skaam vir die evangelie van Jesus Christus nie, want dit is die krag van die verlossing. Dit het Jesus Christus vir die Jode gedoen, maar ook vir die heiden nasies, dwarsoor die aarde. Ons as mens is soms verstom oor mense wat dié roeping so sterk voel, dat hulle soos Paulus tot aan die uithoeke van die aarde die woord en lewende evangelie verkondig.

Dit is die Heilige Gees wat mense dring om die woord wereldwyd te verkondig, want dit is die reddings daad van die mens, wat die evangelie verkondig, onder leiding van die Heillige Gees.

Teksverse:

Goed is dit om stil te hoop op die verlossing van die Here.” (Kla. 3: 2620);

My oë het inderdaad die verlossing gesien, wat U ten aanskoue van al die volke bewerk het, ‘n lig wat vir die nasies tot openbaring dien, en eer bring aan u volk Israel.” (Luk. 2: 30-3220);

Want die verlossende genade van God het verskyn vir alle mense.” (Tit. 2: 1120);

Ek skaam my immers nie vir die evangelie nie, want dit is die krag van verlossing vir elkeen wat glo, eerste vir die Jood, maar ook vir die Griek.” (Rom. 1: 1620);

In Hom is julle, toe julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het, verseël met die Heilige Gees, wat beloof is. Die Gees is die waarborg van ons erfenis, om ons los te koop as God se eiendom, tot lof van sy heerlikheid.” (Ef. 1: 13-1420)

Nuwe lewe in Christus

Daar is vir elkeen wat glo ‘n nuwe lewe in Christus. Jesaja het reeds geweet dat sy verlossing in die Here is. Selfs die Smairitaanse vrou by die put, met wie Christus ‘n ontmoeting gehad het, het reeds geweet dat Christus oppad is, en alles aan hulle bekend sou maak. Jesus kon aan haar bevestig dat Hy die Een is.

Soos beide Jesaja en Paulus bevestig, is beide geroep om as ligdraers, diensknegte vir God te wees. Hulle moes die Woord verkondig van die evangelie van Jesus Christus.

Laat ons die Nuwe lewe in Christus aangryp en die lewe met oorgawe leef.

Teksverse:

Kyk, God is my verlossing; ek vertrou en is nie ontsteld nie. Ja, die Here, die Here is my toevlug en my sterkte; Hy het my tot hulp gekom. Julle sal met vreugde water skep uit die fonteine van verlossing.” (Jes. 12: 2-320);

Julle aanbid wat julle nie verstaan nie; ons aanbid dit wat ons verstaan, want die verlossing kom uit die Jode. Daar kom egter ‘n tyd, en dit is nou, dat die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis sulke aanbidders hê. God is Gees, en wie Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.” Die vrou sê vir Hom: “Ek weet die Messias kom wat Christus genoem word. Wanneer Hy kom, sal Hy alles aan ons bekend maak.” Jesus sê vir haar: “Ek Is, is die Een wat met jou praat.”.” (Joh. 4: 22-2620);

Want so het die Here dit aan ons opgedra. “Ek het jou aangewys as ‘n lig vir die nasies, sodat jy verlossing kan bring tot aan die uiteindes van die aarde.” (Hand. 13: 4720);

Hy het gesê: Dit is nie genoeg dat jy vir My ‘n dienskneg is om die stamme van Jakob op te rig nie, om dié wat bewaar gebly het van Israel, te laat terugkeer nie. Ek gee jou as ‘n lig vir nasies, sodat my heil sal strek tot aan die uiteindes van die aarde.”” (Jes. 49: 620)