Stof tot nadenke: Lydenstyd, ondersteuning en uitbou.

Julle, geliefdes, moet egter voortgaan om julle lewe te bou op julle allerheiligste geloof. Bid altyd deur die krag van die Heilige Gees. Bly in die liefde van God. Vestig steeds julle verwagting op die barmhrtigheid van ons Here Jesus Christus wat die ewige lewe aan julle sal gee”.
Jud. 1: 20-21

Dit is reeds die tweede week van die kerklike Lydenstyd, waar ons herinner word aan Jesus Christus se werk hier op aarde, wat Hy onder leiding van God die Vader kom voltooi het. Ons is reeds besig om onsself voor te berei vir die herdenking van Christus se kruisdood, wat die middelpint is van ons geloof en die verlossing van ons sondes. Ons moet egter waak daarteen dat ons onsself nie blindstaar teen hierdie lydenstyd nie, want Jesus Christus het reeds die verlossing gebring. Hy het reeds duisende jare gelede die dood oorwin. Ons moet eerder onsself beywer om die uitbou van die koninkryk, deur die wêreld te wys hoe die liefde van God, die Vader, deur die Verlosser, Jesus Christus, en die bystand en krag van die Heilige Gees, ons lewens verryk en vreugde en omgee verskaf. Dan sal ons ook soos Paulus voorskryf in Hand 20: 35 (“Deur my voorbeeld het ek in elke opsig vir julle gewys dat ons hard moet werk sodat ons die armes kan help. Onthou die woorde van die Here Jesus. Hy het self gesê: Om te gee, maak mens gelukkiger as om te ontvang”) hard moet werk aan die uitbou van die Koninkryk.

In Jesus se eie woorde help dit ons niks om ‘Here, Here’ te sê, maar ons doen nie wat Hy vir ons gesê het nie. (“Watter sin het dit dat julle My aanspreek met ‘Here, Here!’ en nie doen wat Ek sê nie? Elkeen wat na My toe kom en na my woorde luister en doen wat Ek sê – Ek sal vir julle verduidelik soos wie hy is: Hy is soos ‘n man wat by die bou van sy huis die grond diep uitgrawe en die fondament op die rotsbodem gelê het. Toe daar ‘n oorstroming kom en die vloedwater die huis tref, kon dit hom nie beweeg nie, want die huis was goed gebou”(Luk. 6: 46-48)). Kan ons alleen staande bly sonder die kragtige werking van die Heilige Gees? Stellig nie! (“Die Here het my egter ondersteun en my versterk, sodat ek die verkondiging kon voltooi, en al die heidene dit kon hoor; en ek is uit die bek van die leeu gered. Die Here sal my van elke bose daad red, en Hy sal my verlos, met die oog op sy hemelse koninkryk. Aan Hom die heerlikheid vir ewig en ewig! Amen” (2 Tim. 4: 17-18); “So kom die Gees ons ook in ons swakheid tot hulp, want ons weet nie mooi waarvoor ons behoort te bid nie; maar die Gees tree self vir ons in met versugtinge wat nie verwoord kan word nie. Hy wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, dat Hy volgens die wil van God vir die Heiliges intree” (Rom. 8: 26-27)), in die woorde van Paulus.

Laat ons die werk wat Jesus Christus hier op aarde begin het, nie tot stilstand bring nie! Laat ons in vrede en liefde met ander leef, sodat God verheerlik kan word en die Koninkryk van God hier op aarde na die hele wêreld kan rysmier. Ons kan daartoe bydra as ons die aanbevelings in 1 Tes. 5: 12-22 navolg (“Maar ons vra julle, broers, om respek te betoon aan diegene wat ywerig onder julle werk, en julle in die Naam van die Here voorgaan en teregwys, en om, op grond van hulle werk, in liefde en met die hoogste agting teenoor hulle op te tree. Leef in vrede met mekaar. En ons moedig julle aan, broers, om die leegleërs aan te spreek; bemoedig die moedeloses; ondersteun die swakkes; wees geduldig teenoor almal. Sorg dat niemand kwaad met kwaad vergeld nie, maar streef altyd na wat goed is vir mekaar en vir alle mense. Wees altyd bly; bid sonder ophou; wees in alle omstandighede dankbaar; want dit is God se wil vir julle in Christus Jesus. Moenie die Gees blus nie; moenie profesieë geringskat nie, maar ondersoek alle dinge; behou die goeie; vermy elke vorm van boosheid”(1 Tes. 5: 12-22)). Ons word gemaan om te alle tye nugter te bly (“Maar bly in alles nugter, verduur jou lyding, doen jou werk as verkondiger van die evangelie, beoefen jou bediening voluit” (2 Tim. 4: 5)), en in die woorde van Johannes die Doper om vrugte te dra wat aan die hele wêreld kan wys dat jy bekeer is (“Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is” (Matt. 3: 8)).

Laat ons dan in hierdie Lydenstyd periode in herinnering leef onder die ondersteuning van die drie-enige God (“Die Here ondersteun almal wat val, en help almal regoop wat neergboë is. ” (Ps. 145: 14); “En as ‘n aantal takke van die mak olyfbome uitgebreek is, en jy, die wilde olyf, tussen die takke ingeënt is, en so aan die voedingskrag van die mak olyfboom se wortel deel gekry het, moet jy nie teenoor die ander takke spog nie. As jy wel spog – jy ondersteun nie die wortel nie, maar die wortel jou. ” (Rom. 11: 17-18)). Laat ons voortbou op wat Jesus Christus duisende jare gelede vir ons moontlik gemaak het. Laat ons voortbou op die rots, sodat die bose magte ons nie sal kan oorweldig nie (“En ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” (Matt. 16: 18)). Laat ons op God vertrou, want Jesus is groter as enige mens (“Maar nou vertrou ek julle aan God toe en aan die woord van sy goeie dade. Die woord is magtig om julle op te bou en julle in die seëninge te laat deel wat Hy aan al die gelowiges as erfdeel belowe het. ” (Hand. 20: 32); (“Maar Jesus is groter heerlikheid waardig geag as Moses, net soos die een wat ‘n huis bou, meer eer waardig is as die huis. ” (Heb. 3: 3); (“Toe al die mense hulle laat doop het, is Jesus ook gedoop, en terwyl Hy staan en bid, het die hemel oopgegaan en het die Heilige Gees in sigbare gestalte soos ‘n duif op Hom neergedaal. Daar was ook ‘n stem uit die hemel: “Jy is my geliefde Seun. Oor jou verheug Ek My.”” (Luk. 3: 21-22)). In hierdie Lydenstyd kan ons soos die Psalmdigter sing vir God se ondersteuning, sodat ons vol vreugde kan wees (“Laat my weer die vreugde oor u verlossing ervaar, laat ‘n gewillige gees my ondersteun. ” (Ps. 1 18-19): (“Ja, ek sal voortdurend bly wees, want ek weet dat dit alles tot my verlossing sal lei, omdat julle vir my bid, en die Gees van Jesus Christus my ondersteun. ” (Fil. 1: 18-19)).

Laat ons in ootmoed en dankbaarheid dink aan wat God, die Vader, die Seun, Jesus Christus, en die Heilige Gees vir ons moontlik gemaak deur Christus se werk en lyding hier op aarde!