Stof tot nadenke: Loop die pad net eenmaal…

Laat dan die gesindheid wat daar in Christus Jesus was, ook in julle wees: Hoewel Hy in die gestalte van God was, het Hy gelykheid aan God nie beskou as iets om aan vas te klem nie, maar Hy het Homself daarvan leeggemaak, deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem…
Fil. 2: 5-7

Elkeen van ons se paaie verskil. Lewens ervarings laat ons elkeen ‘n unieke pad stap, wat nie regtig met mekaar se paaie vergelyk kan word nie, maar ons kom so dikwels in situasies waar ons kan help. En tog draai ons so dikwels ons rug, of dink ons ons sal volgende keer help, wanneer ‘n soortgelyke situasie by ons verby kom. Daar is altyd iets wat ons dring om tog te reageer op wat oor ons pad kom. Tog bly daardie knaende skuldgevoel, wanneer mens nie na die innerlike stem geluister het, en reageer het op dit waartoe jy gedring was nie. Ons besef nie dat die pad wat ons stap, elke oomblik, elke geleentheid wat verby kom, waar ons kan help, net eenmaal op die spesifieke manier gebeur nie. Daar is geen herhaling van situasies waar die presiese omstandighede weer voorkom nie. Dit wat jy beleef het, sou die ideale geleentheid gewees het om oombliklik te reageer, maar heeltemal te dikwels laat ons dit by ons verbygaan in hierdie gejaagde lewe wat ons lei. In Suid Afrika waar ons so dikwels gekonfronteer word met ondankbaarheid, afjakke of onverstaanbare teen-reaksies van mense, maak dat dit volgende keer vir ons moeiliker is om te help, waar ons wel kon. Daarteenoor is dit soms, wanneer ons tog reageer op daardie innerlike stem van die Heilige Gees wat ons dring, met ‘n heerlike, verassende aanvaarbare erkentlikehheid wat ons ontvang, dat dit die volgende keer makliker is om na daardie innerlike stem te luister.

Die aangehaalde voorneme (ek weet nie wie die oorspronklike krediet hiervoor moet kry nie) waarvolgens mens moet leef het my opgeval in ‘n vriend se huis, en my daaroor laat dink oor hoe mens dit sou kon uitleef.

Ek verwag om net eenmaal deur hierdie wêreld te gaan; enige goeie daad wat ek derhalwe kan doen, of enige vriendelikheid wat ek aan my medemens kan bewys, laat ek dit nou doen; laat ek dit nie uitstel nie, want ek sal hierdie pad nie weer bewandel nie. ”

As Christene wil ons meer en meer soos Jesus Christus wees. Ons wil so graag op elke geleentheid wat verbykom, help waar dit binne ons vermoë is om te help. Op hierdie pad wat ons net eenmaal bewandel. Ons moet dus Christus se voorbeeld navolg. Ons moet ons leegmaak van enige selfwaan, en die gestalte van dienende mense aanleer. Dit is nie iets wat sommer net vanself gebeur nie, en dit is nie maklik nie. Die enigste manier om dit te probeer regkry, is om biddend tot God te nader (“Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.” (Fil. 1: 6-7)) en die daaglikse bystand van die Heilige Gees te vra om ons elke dag, die geleenthede waar ons ‘n verskil kan maak, te wys en ons dring om wel iets te doen wat ‘n verskil aan iemand anders kan maak. Jesus wys ons duidelik dat mense wat ‘gesond’ is en Hom ken nie ‘n dokter nodig het nie (“Toe Jesus dit hoor, het Hy gesê: “ Gesonde mense het nie ‘n dokter nodig nie, maar wel die siekes. Gaan leer wat beteken, “Ek wil barmhartigheid hê nie offerhande nie”. Ek het immers nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars.” (Matt. 9: 12-13)). Jesus waarsku ook dat ons nie barmhartigheid moet doen, sodat die mense ons kan raaksien nie, want dan het ons reeds ons beloning ontvang (“Wanneer jy liefdadigheid beoefen, moet dit nie uitbasuin soos die skynheilliges in die sinagoges en in die strate maak, sodat hulle deur mense geëer kan word nie. Amen, Ek sê vir julle: Hulle het reeds hulle volle beloning ontvang. Maar wanneer jy liefdadigheid beoefen, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie, sodat jou liefdesdaad verborge kan bly. En jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon.” (Matt 6: 2-4)). Dit is sekerlik vir ons as mense een van die moeilikste dinge, om nie te vertel waarmee jy jou besig hou nie; maar God sien elke ding wat jy doen, elke goeie en slegte daad wat jy doen. By God is niks verborge nie, want Hy is by ons; elke tree, elke hartseer oomblik, elke vreugde oomblik, elke oomblik van wanhoop.

Op Jesus Christus se pad hier op aarde het Hy vir ons kom wys hoe om in soveel omstandighede te reageer. Hy het aan elke persoon wat by Hom verby gekom het ‘n permanente herinnering gegee. Soms was dit skrikwekkend vir die mense wat aan die ontvangkant was (“Maar Jesus het hom skerp aangespreek: “Bly stil en gaan uit hom uit.” Die onrein gees het die man stuiptrekkings laat kry, hard geskreeu en toe uit hom gegaan.” (Mark. 1: 25-26)), maar die meeste van die tyd het Hy ‘n genesende en blywende indruk op mense gelaat (“Hy het baie siekes wat allerhande kwale gehad het, gesond gemaak en baie bose geeste uitgedrywe.” (Mark. 1: 34)). Ons moet leer om geduldig te luister, ook na mense wat ons versoek (“En dit het hulle gesê om Hom te versoek, sodat hulle iets kon hê om Hom te beskuldig; maar Jesus het neergebuk en met die vinger op die grond geskrywe. Maar toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy Hom opgerig en vir hulle gesê: mLaat dié een van julle wat sonder sonde sonde is, die eerste klip gooi.” (Joh. 8: 6-7)), ons moet tyd maak vir mense (“Hy het rondom Hom gekyk om te sien wie dit gedoen het. Die vrou het geskrik en gestaan en bewe, want sy het besef wat met haar gebeur het . Sy het toe voor Hom op haar knieë kom val en vir Hom haar hele geskiedenis vertel. Daarna sê Hy vir Haar: “Dogter jou geloof het jou gered. Gaan in vrede…” (Mark. 5: 32-34)), ons moet mense ‘n bestaansreg gee (“Daar kom toe ‘n melaatse man na Hom wat smekend op sy knieê voor Hom neerval en vir Hom sê: “As U wil, kan U my gesond maak.” Jesus het hom jammer gekry, sy hand uitgesteek en hom aangeraak. Hy sê toe vir hom: “Ek wil. Word gesond!”” (Mark. 140-41)), selfs al verskil hulle hemelsbreed van hoe ons is, lewe, of wat vir ons aanvaarbaar is.

Oral waar Jesus beweeg het, het Hy die mense verbied om oor Hom te praat (“Jesus het die mense belet om dit vir iemand anders te vertel, maar hoe meer Hy hulle belet het, hoe meer het hulle dit verkondig. Hulle is geweldig aangegryp en het gesê: “Alles wat Hy doen, is goed: die dowes laat Hy hoor en die stommes laat Hy praat.”” (Mark. 7: 36-37)), maar die dinge wat Hy gedoen het was wonderwerke wat die mense nie kon verstaan nie, en die stories het geloop. So kan ons voortgaan om voorbeelde van al Christus se wonderwerke aan te haal en hoe Hy by niemand verbygegaan het, sonder om ‘n blywende indruk te laat. Tot so ‘n mate dat mense nou nog, meer as tweeduisend jaar na Hy ons kom verlos het, nie kan ophou praat nie!

Laat ons dan Fil. 1: 4-9 (“Verbly julle altyd in die Here! Ek herhaal: Verbly julle! Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby. Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God beken. En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak. Verder broers, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat reeg is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat lof verdien, ja watter deug of watter prysenswaardige saak daar ook mag wees: rig julle gedagtes daarop. Wat julle van my geleer en ontvang en gehoor en in my gesien het: hou aan om dit te doen. En die God van vrede sal met julle wees”) uitleef, en geen geleentheid by ons laat verby gaan waar ons ‘n verskil kan maak aan enigiemand anders om ons.