“Ja, die Naam van die Here roep ek uit, erken die grootheid van ons God, die Rots! Volmaak is sy werk, ja, al sy paaie is ‘n maatstaf. ‘n Betroubare God, sonder onreg, regverdig en onkreukbaar is Hy.”
Deut. 32: 3-4
Is daar genoeg woorde om dié enigste, lewende God te beskryf? In hierdie stukkie haal ek enkele beskrywings van God, wat my opgeval het, aan. Die Vader is die enigste, lewende God van lewendes! In Jesus se eie woorde, asook die woorde van Petrus:
“Jesus het geantwoord: “Die eerste is, ‘Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here.” (Mark. 12: 29); “En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en ook Hom wat U gestuur het – Jesus Christus.” (Joh. 17: 3); “Simon Petrus het geantwoord: “U is die Christus, die Seun van die lewende God.”” (Matt. 16: 16); “…Hy is nie die God van dooies nie, maar van lewendes.” (Matt 22: 32)
Ons God is volkome volmaak! Wonderlike sinomieme van volmaak, wat dit vir ons duideliker maak, is ‘foutloos’, ‘ideaal’, perfek’ en ‘ voortreflik’, om maar ‘n paar te noem. Daar is geen ander wat beter is nie. Geen mens kan, uit eie krag, voldoen aan hierdie beskrywing nie. Jesus maan tog in die bergpredikasie dat ons ook volmaak moet wees.
“God, sy weg is volmaak; die woord van die Here is gelouter. Hy is ‘n skild vir almal wat by Hom skuil. Ja, wie is God behalwe die Here? Wie is ‘n rots buiten ons God? God is my sterk toevlug;…” (2 Sam. 22: 31-33); “Wees dus volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.” (Matt. 5: 48); “Beskou dit as ‘n groot vreugde, my broers, wanneer allerhande versoekings julle oorval, omdat julle weet dat as julle geloof getoets word, dit volharding meebring. Maar julle volharding moet tot volledige ontwikkeling kom, sodat julle volmaak en sonder gebrek kan wees, en in geen opsig tekort skiet nie.” (Jak. 1: 2-4); “Elke goeie geskenk en elke volmaakte gawe kom van bo af, van die Vader van die hemelligte, by wie daar geen afwyking of skadu van verandering is nie.” (Jak. 1: 17);
Ons God is altyd dieselfde, onveranderlik en onkreukbaar. Wanneer Hy ‘n verbond sluit, hou Hy dit gestand. Hy wyk nie af van Sy besluite en beplande paaie nie.
“Ek, die Here, het immers nie verander nie. Maar julle Jakobskinders kry nie end nie. Sedert die tyd van julle voorouers wyk julle van my voorskrifte af en kom dit nie na nie.” (Mal. 3: 6-7); “Wanneer die boog in die wolke is, sal Ek dit sien, om so herinner te word aan die ewigdurende verbond tussen God en alle lewende wesens, alle vlees wat op die aarde is.” (Gen. 9: 16)
Verstaan ons genoeg van Hom wat Skepper en Almagtige God is? Oor die eeue heen het mense hulle verstom aan die Skepping.
“Toe hulle hoor, het hulle God eensgesind aangeroep en gesê: “Here, U is die Een wat die hemel en die aarde en die see en alles daarin gemaak het.” (Hand. 4: 24)
Besef ons elke dag hoe Hy die enigste standvastige entiteit in ons lewens is? By Hom is daar nuwe lewe en nuwe lewenskrag te vinde.
“Die wet van die Here is volmaak, dit gee nuwe lewenskrag; die bepalings van die Here is betroubaar, dit gee wysheid aan die onkundiges. Die opdragte van die Here is reg, dit maak die hart bly; die gebod van die Here is suiwer, dit verhelder die oë.”(Ps. 19: 8-9)
Kan ons Hom vertrou met alles wat ons binne ons dra? Hom en Hom alleen!
“En dit is die vrymoedigheid wat ons voor Hom het: Dat Hy ons gebede verhoor as ons iets volgens sy wil vra.” (1 Joh. 5: 14); “So ‘n hoëpriester (Jesus Christus) was ook vir ons gepas: een wat heilig, onskuldig, onbevlek, afgesonder van die sondaars, en hoër as die hemele verhef is, wat, anders as die hoëpriesters (aardse), nie elke dag nodig het om eers ter wille van hulle eie sondes offers te bring, en daarna vir die volk nie. Want dit het Hy eens en vir altyd gedoen toe Hy Homself as ‘n offer gebring het. Die wet stel mense met swakhede as hoëpriesters aan, maar die eedswering wat ná die wet gekom het, stel die Seun aan, wat vir ewig volmaak is.” (Heb. 7: 26-28)
By God is alles moontlik, ongeag hoe onmoontlik dit vir ons lyk vanuit ons aardse perspektief. Dit het Jesus wat die Vader ken, vir ons verseker. Hoe dikwels lyk omstandighede vir ons onmoontlik, tot so ‘n mate dat ons moed verloor en geen uitkoms kan sien nie. Ons word verseker dat ons nietige mense gered kan word, te midde van alles wat ons dink, doen, uitleef?
“”Wie kan dan gered word?” Maar Jesus het stip na hulle gekyk en vir hulle gesê: “By mense is dit onmoontlik, maar by God is alles moontlik.”” (Matt. 19: 25-26); “Jesus het stip na hulle gekyk en gesê: “By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie, want by God is alles moontlik.”” (Mark. 10: 27)
‘n Liefdevolle God? Daaraan is daar geen twyfel nie. Die Bybel is deurspek met die bewyse van die liefde van God. Hy het vir ons Sy liefde gedemonstreer deur die koms van Jesus Christus, en verwag dat ons, na die voorbeeld wat die Seun vir ons kom wys het, ook deur so te leef, ons liefde aan Hom bewys. Ons moet bedag daarop wees dat ons nie aan hierdie wêreld gelykvormig moet word nie. Ons hoef nie meer te vrees nie, want ons leef in die liefde van God, die Vader, die verlossing van die Seun, met leiding van die Heilige Gees.
“Maar beklee julle, bo en behalwe al hierdie dinge, met die liefde, wat die band is wat alles volmaak saambind. Verder, laat die vrede van Christus in julle harte regeer.” (Kol. 3: 14-15); “In die liefde is daar geen vrees nie. Inteendeel, volmaakte liefde dryf die vrees na buite; want vrees het te doen met straf, en wie vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie. Ons het lief, omdat Hy ons eerste liefgehad het. As iemand sê, “Ek het God lief”, en sy broer haat, is hy ‘n leuenaar. Want wie sy broer, wat hy gesien het, nie liefhet nie, kan nie God liefhê, wat hy nie sien nie. En dit is die gebod wat ons van Hom ontvang het: Wie God liefhet, moet ook sy broer liefhê.” (1 Joh. 4: 18-21); “Die genade, barmhartigheid en vrede van God die Vader, en van Jesus Christus die Seun van die Vader, sal met ons wees – in waarheid en liefde.” (2 Joh. 1: 3); “Wie nie liefhet nie, het God nie leer ken nie, want God is liefde.” (1 Joh. 4: 8); “Ons ken en vertrou die liefde wat God vir ons het. God is liefde. En wie in die liefde bly, bly in God, en God bly in hom.” (1 Joh. 4: 16); “Iemand wat sê, “Ek ken Hom,” maar sy gebooie nie onderhou nie, is ‘n leuenaar, en die waarheid is nie in hom nie; maar we sy woorde gehoorsaam – in hom het die liefde van God waarlik volmaak geword, en hieruit weet ons dat ons in Hom is. Wie sê dat hy in Hom bly, behoort self ook te leef soos Hy geleef het.” (1 Joh. 2: 4-6); “Liefde faal nooit nie. Maar profesieë, dit sal tot ‘n einde kom; of tale, dit sal ophou; of kennis, dit sal tot niet gaan. Want ons ken gedeeltelik, en ons profeteer gedeeltelik, maar wanneer die volmaakte gekom het, sal wat gedeeltelik is, ophou bestaan.” (1 Kor. 13: 8-10); “Julle moenie aan hierdie wêreld gelykvormig wees nie, maar verander word deur die vernuwing van julle denke, sodat julle goed kan onderskei wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is.” (Rom. 12: 2)
God is goed! In Jesus se eie woorde, is net God goed.
“Jesus het hom geantwoord: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, en dit is God!” (Mark. 10: 18)
Ons kan dus ook soos Judas, elke dag, God se lof besing. God is vir ewig van voor alle tye en tot in ewigheid. Daar is geen ander as ons enigste lewende God, van lewendes, nie!
“Aan Hom wat die mag het om julle daarvan te bewaar dat julle struikel, en om julle onberispelik en jubelend voor sy heerlikheid te stel, aan die enigste God, ons Verlosser, deur Jesus Christus ons Here, behoort die heerlikheid, majesteit, krag en mag – van voor alle tye, en ook nou, en tot in ewigheid. Amen. ” (Jud. 1: 24-25)


