Stof tot nadenke: Die Lig in ons lewe

Toe het Jesus weer met hulle gepraat en gesê: Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal beslis nie in die duisternis leef nie, maar sal die lig van die lewe hê.”

Joh. 8: 12

Wanneer ons kyk gefokus is op hierdie wêreld en al sy aktiwiteite, is dit so moeilik om hoop te hê vir die toekoms. Die oorloê, gerugte van oorloë en siektes en misdaad van hierdie wêreld skep vir ons ‘n baie duister prentjie, en kan ons so maklik in hopelose moedeloosheid laat verval. Dis wanneer ons soms so maklik luister na die praatjies en afleidings van hierdie wêreld, waar die duisternis alles in sy vermoë doen om ons te oorval met hulle niksseggende redenasies en onvrugbare werke, wat uiteindelik uitloop op niks (“Laat niemand julle verlei met niksseggende redenasies nie, want daardeur kom die toorn van God oor die seuns van die ongehoorsaamheid. Moet dus nie deel van hulle wees nie. Want vroeër was julle wel duisternis, maar nou, in die Here is julle lig. Leef as kinders van die lig!” (Eff. 5: 7-8)).

In hierdie tyd wat ons in afwagting is vir die Christusfees herinnering, kan ons weereens besef dat ons nie sonder hoop hoef te leef nie, want die lig van die wêreld, en van ons lewens, het reeds meer as tweeduisend jaar gelede gekom en het die Lig gebring, en daarmee saam die hoop wat ons nodig het om in die donker aardse tye te oorleef, soos Christus Jesus ons in sy eie woorde beloof na die vraag of die blinde man of sy ouers gesondig het? (“Jesus het geantwoord: “Nóg hy, nóg sy ouers het gesondig; maar dit het gebeur sodat die dade van God in hom geopenbaar kan word. Ons moet die dade doen van Hom wat My gestuur het terwyl dit nog dag is; die nag kom wanneer niemand kan werk nie. So lank as wat Ek in die wêreld is, is Ek die lig vir die wêreld.”” (Joh. 9: 3-5)). Johannes maak dit vir ons baie duidelik in sy inledende hoofstuk dat Jesus die lig is vir die wêreld en na Sy eiendom gekom het (“Die ware lig wat elke mens verlig, was aan die kom na die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en tog het die wêreld Hom nie erken nie. Maar aan almal wat Hom aanvaar het, het Hy die reg gegee om kinders van God te word – Hulle wat in sy Naam glo. Hulle is nie uit bloed nie, ook nie uit liggaamlike drang nie, ook nie uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore. En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos dié van die unieke Seun van die Vader – vol genade en waarheid.” (Joh. 1: 9-14)).

Daardie klein unieke seuntjie wat in Bethlehem gebore is, op daardie stil nag, het as die Lig van hierdie wêreld gekom om ons te kom red, en dit kan nie uitgedoof word nie (“In Hom was lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. En die lig skyn in die duisternis , en die duisternis kon dit nie uitdoof nie.” (Joh. 1: 4-5); (“Jesus het uitgeroep en gesê: “Wie in My glo, glo nie in My nie maar ook in Hom wat My gestuur het! En wie My sien, sien Hom wat My gestuur het. Ek het as ‘n lig na die wêreld gekom, sodat elkeen wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie.”” (Joh. 12: 44-46)). Ons kan dus die Christus fees met vreugde in die herinnering vier, want dit was ‘n daad wat dit vir elkeen van ons moontlik gemaak het om eendag saam met God te kan leef. Dit is deur hierdie gebeure dat dit vir ons moontlik is om in geloof en deur die genade van God self na Hom toe te kan gaan (“Maar wie volgens die waarheid leef, kom na die lig, sodat sy dade bekend kan word, dat hulle in God gedoen is.” (Joh 3: 21); (“Ons verkondig immers nie onsself nie, maar Jesus Christus as Here, en onsself as julle diensknegte, ter wille van Jesus. Want God wat gesê het, “Laat daar uit die duisternis lig skyn,” dit is Hy wat in ons harte geskyn het om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, in die aangesig van Jesus Christus . Hierdie skat het ons in kleipotte, sodat die buitengewone krag duidelik van God kom en nie van ons nie.” (2 Kor. 4: 5-7)).

Laat ons dus ons wapenrusting van die lig aantrek (“Die nag het reeds ver gevorder; dit is amper dag. Kom ons doen dan afstand van die praktyke van die duisternis en trek die wapenrusting van die lig aan.” (Rom. 14: 12)), en die vrug van die Heilige Gees deel van ons daaglikse bestaan maak (“Die vrug van die lig bestaan immers uit alle goedheid en geregtigheid en waarheid. Beproef wat vir die Here aanneemlik is. Ja, moenie deel hê aan die onvrugbare werke van die duisternis nie, stel dit eerder aan die kaak.” (Eff. 5: 9-11)). Ons moet besef dat God lig is en geen duisternis in Hom is nie (“Dit is die boodskap wat ons van Hom gehoor het, en wat ons aan julle bekend maak: God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie.” (1 Joh. 1: 5)).

Mag elkeen, wat ‘n kind van God is, ‘n Geseënde en naby God ervaring in hierdie tyd beleef!