Sendingnuus uit Oekraïne – Nuusbrief van Michelle vir September 2026

Hiermee Michele van Oekraïne (tans nog in SA) se maandelikse nuusbrief met gebedsversoeke vir julle inligting en voorbidding asb. Sy sukkel om haar verliese te verwerk, maar soos sy sê, is die Here haar Verlosser en trooster. Die nuus rakend die gebou is die beste nuus wat ek die afgelope 25 jaar ontvang het – ons kan die Here net prys vir Sy goedheid en verhoring van soveel gebede. Lees ook gerus die verslag vanaf Oekraïne vir die wonderlike werk wat gedoen word, tydens Michele se fisiese teenwoordigheid. Geniet die leesstof en mag die Gees ons elkeen rig en lei na die Wil van Die Here.

 Liewe vriende en familie

September beteken nie meer vir my lente nie.

Vandag vyf jaar gelede, op 22 September, het my pa Hemel toe gegaan. Net negentien dae later, op 11 Oktober 2021, het Ockert, my man, na die Here gegaan.

En op 23 September sal dit ’n jaar wees sonder my enigste dogter, Mari-Alena.

Hoe dra ’n mens soveel verlies?

My hart is swaar. Ek mis hulle elkeen meer as wat woorde ooit kan sê. Daar is dae wat die gemis amper ondraaglik voel.

Maar God.

Maar Jesus, my Here en Verlosser.

Maar die Heilige Gees, my Trooster.

Dit is waar my hoop lê.

Die Here is die rede waarom ek elke oggend kan opstaan. Hy dra my wanneer ek self nie meer die krag het nie. Ek weet nie hoe ek deur hierdie jare sou gekom het sonder Hom nie.

Hy is getrou. Hy is goed. En Hy genees die gebroke hart.

En tussen al die hartseer is daar ook soveel mooi herinneringe. Die lag. Die gesprekke. Die grappies en gebede. Die gewone klein oomblikke wat nou so kosbaar geword het. Dinge wat ek vir altyd in my hart sal bêre.

Ons treur nie soos mense wat geen hoop het nie.

Ek het hulle nie verloor nie. Ons is net vir ’n kort tydjie van mekaar geskei.

En eendag sal ons weer saam wees.

In die Hemel.

Daarom kies ek vandag, al is my hart seer, om God te dank. Here, dankie dat U hulle vir my geleen het. Dankie vir elke jaar, elke herinnering, elke lag en elke kosbare oomblik.

En wanneer die gemis te groot word, hou ek vas aan U Woord:

“Daarom gee ons nie moed op nie. Al vergaan ons uiterlike mens ook, tog word ons innerlike mens dag vir dag vernuwe. Want ons ligte en tydelike verdrukking bewerk vir ons ’n allesoortreffende ewige heerlikheid wat alles verreweg oortref. Daarom rig ons ons oë nie op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.”

2 Korintiërs 4:16–18

In Oekraïne woed die oorlog voort.

Ek kan nie dink dat die oorlog steeds ná soveel jaar voortgaan nie. Die grenspos by die ferry, waar ek gewoonlik vanaf Roemenië na Oekraïne oorgaan, is vernietig. Ek bid dat die grenspos teen die tyd wat ek weer teruggaan, herstel sal wees. Alles is in die Here se hande.

Met Lig vir die Wêreld-gemeente gaan dit goed, onder omstandighede. al het soveel mense die land verlaat. Elkeen van die bedienings gaan voort. Elke leier is getrou in hul bediening.

Vatvi en Yanca het gehelp dat ons gemeente weer vragmotors met hulp in Oekraïne bring en humanitêre hulp noodsaaklike toerusting vir die hospitale asook ‘n ouetehuis. Die hulp kom al die pad uit Nederland. Ons en die hospitale in Oekraïne en Iimail is baie dankbaar. 

Intussen doen Rema en haar span wonderlike werk in die pro-life sentrum. Ek heg haar maandelikse verslag ook aan die Gebedsbrief. 

Op 1 September het die nuwe skooljaar begin. Ons het op die punt gestaan om die kleuterskool toe te maak, totdat ons die fondse het om voort te gaan, aangesien ons elke maand in ’n stryd is om die kleuterskool oop te hou en die werkers se salarisse te betaal. Elke maand is dit ’n geloofsaak.

Die ouers het met Oli kom praat en gevra dat ons asseblief nie moet toemaak nie. Daar is kindertjies wat geen ander heenkome het nie, aangesien die ander kleuterskole betalend is. 

Ons bid vir ’n deurbraak vir die kleuterskool, asook vir die Pro-Life-sentrum. Ons bid vir nog gemeentes en vriende wat hierdie bedienings sal aanneem, of wat van die kindertjies maandeliks sal borg. 

Ons is so dankbaar vir wat ons reeds elke maand ontvang! Daar sonder was die Raduga lankal gesluit. Ons is dankbaar vir elkeen wat maandeliks gee en steeds ’n kindjie borg. Ons is dankbaar vir elkeen wat saam met ons glo.

Vir die Here is alles moontlik. Ons bid vir ’n deurbraak.

Die Here is besig om ’n nuwe ding te doen. Al voel dit nie soos lente binne-in my nie, is Hy besig om groot dinge te doen!

Ek is so dankbaar!

Na amper 30 jaar se stryd met Univermag se aandele is daar nou ’n uitweg! Die Here het ’n wonderwerk gedoen!

Ons moes nou die laaste deel bymekaar kry vir die 17% aandele wat te koop is.

Ek was by ’n leiers retreat om net stil te word voor die Here. Tydens nagmaal het die persoon wat die nagmaal bedien het, ons uitgenooi om met ons behoeftes na die Here te kom. Ons was reeds 5 dae laat om die hele bedrag gereed te hê.  Ek het gebid en vir die Here gevra vir ‘n deurbraak vir Univermag. Vir ons is dit onmootlik, maar vir die Here is alles moontlik. Die Here antwoord daardie selfde dag! ‘n Persoon bied aan om vir Geria en Lyca se dogter se studies te betaal en so ook die kerk help om die aandele te koop! Albei partye word geseën! Hoe goed is die Here! Ons is so dankbaar! Hy is so getrou! Dankie vir elke persoon wat gehelp het om dit moontlik te maak om hierdie aandele te kan koop! Dankie vir elke bydrae! Prys die Here! 

Na soveel jare se stryd vir Univermag is daar ‘n uitkoms! Prys die Here! 

In Oekraïne, bid asseblief vir die leiers. Vir die gemeente. Mense sê hulle is moeg. Moeg vir die oorlog. Bid asseblief vir Raduga en Gateway to Life sentrum. Bid asseblief vir die bou van die Ark, toevlug vir kindertjies. 

Ons kan nie, maar vir die Here is alles moontlik! 

Na my operasies sterk ek goed aan en die dokter is tevrede na die gedeeltelike knie vervanging. Ek is dankbaar. 

Die Here gee vanaand vir my Jesaja 43. Strome water in die woesynland. My oë is op Jesus. 

Baie liefde en seën

Michele Potgieter

https://www.zeffy.com/en-GB/donation-form/donate-to-lovereni

🌿Projekte rekening:

Standardbank,
Lynnwood Ridge tak (met kode 012445),
rekeningnommer 014330067 
in die naam Nuwe Dag

🌿My persoonlike besonderhede:

Capitec
MRS M POTGIETER
Savings Account Number: 1554335599
Branch: 470010
 SWIFT/BIC code (CABLZAJJ)
 International Sort/Routing/Clearing Code: 470010
Account number/IBAN: 1554335599