“14Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei, is kinders van God….16Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.”
Rom 8. 14&16
In hierdie tyd wat ons in afwagting is op die herdenking van die hemelvaart en uitstorting van die Heilige Gees, word ons daagliks herinner aan hoe God ons liefhet; hoe Hy Hom oor ons ontferm het deur vir ons homself in die gestalte van Jesus Christus te gee, en wat gesterf het vir ons afdwalinge; hoe Hy ons gedurig omarm, beskerm en lei in woorde en dade.
Dit is alleenlik deur die betrokkenheid van die Heilige Gees in ons lewens, dat ons kan sê dat ons kinders van God is. Ons kan seker weet dat die Heilige Gees by ons is as ons bewus is van ons swakhede en besef dat dit nie uit onsself is dat woorde in ons mond gelê word, of dat ons die krag ontvang om aanvalle te weestaan nie; of dat ons Sy liefde kan uitleef nie.
Dit is God die Vader, wat ons van voor geboorte beplan, gelei en beskerm het. Dit is alleenlik deur die kruisdood, opstanding en hemelvaart van Jesus Christus wat gelei het tot die heerlike belofte dat God altyd by ons sal wees deur die Heilige Gees. Dit is deur die bystand van die Heilige Gees dat ons God die Vader kan loof vir Sy skepping en al Sy wonderdade in ons lewe. Dis deur Sy bystand dat ons bewus word van die wonderwerke wat in en om ons plaasvind, waarvoor hierdie wêreld soms blind is.
Ons kan dus net in dankbaarheid en met die bewustelike wete dat ons klein en nietig is, maar belangrik genoeg vir God is om altyd by ons te wees, leef tot eer van God.


