“Kyk hoe groei die lelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie, maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. 28 As God die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre in die vuur gegooi word, só mooi maak, hoeveel te meer sal Hy julle versorg, julle kleingelowiges!“)
Luk 12: 27-28
Die mens se Achilles heel, van die vroegste tye af, was hul oorskatting van eie belangrikheid. Daardie gedagte dat jy onmisbaar is, dat niemand anders kan doen wat jy doen nie. Die oomblik dat mens roem en bekendheid verwerf, begin jy glo dat dit jou toekom. Dat dit al jou harde werk is; dat dit jou hoë intelligensie is; dat dit jy is wat maak dat jy goed is in elke ding wat jy regkry met sukses; dat jou vermoë uit jouself kom. Dit is hierdie persepsie van mense wat hulle telkemale tot ‘n val laat kom, want hoogmoed sal val, waarsku die Bybel ons, dikwels (“Op hoogmoed volg ondergang, op selfverheffing volg die val. Liewer eenvoud saam met nederiges as om saam met hoogmoediges van roof te lewe.” (Spr. 16: 18-19); “Hoogmoed bring ‘n mens tot ‘n val; nederigheid bring eer.” (Spr. 29: 23)).
Ons sien hierdie vertrou op eie insigte en vermoëns van die vroegste tye af, en ook in die hedendaagse lewe. (“Toe sê hulle: “Kom ons bou vir ons ‘n stad met ‘n toring waarvan die punt tot in die hemel reik en ons maak so vir ons ‘n naam. Dan sal ons nie oor die hele aarde versprei nie.”” (Gen. 11: 4)). Wetenskaplikes wat glo hulle is in staat om alles te verstaan, en God na te doen in Sy skeppings daad, terwyl hulle eintlik net, van die vroegste tye af, alles probeer verstaan en nadoen. Hulle, wat so dikwels glo dat daar nie ‘n Skepper is nie! Hulle glo dat hulle vermoëns om dinge te ondersoek, te skep en soms gedeeltelik verstaan, hulle verhef tot ‘gode’. Mense wat glo hulle kan nie wetenskaplikes wees asook Christene nie!
Aan die ander kant is daar die mens wat weet dat hulle soekend is. Wat weet dat hulle iets of iemand moet aanbid, en sodoende die pad heeltemal byster raak (“Toe die volk sien dat Moses talm en nie van die berg af kom nie, het hulle om Aäron saamgedrom en vir hom gesê: “Kom maak vir ons ‘n god dat hy ons kan lei. Hierdie man Moses het nou wel vir ons uit Egipte laat wegtrek, maar ons weet nie wat van hom geword het nie.” Aäron het hulle geantwoord: “Haal die goue oorringe van julle vrouens, julle seuns en julle dogters se ore af en bring dit vir my.” Die hele volk het toe die goue ringe van hulle ore afgehaal en dit vir Aäron gebring. Hy het dit van hulle ontvang, dit verwerk en daarvan ‘n beeld in die vorm van ‘n bulkalf gemaak. Toe sê die volk: “Hier is jou God wat jou uit Egipte bevry het, Israel!” Toe Aäron dit hoor, het hy ‘n altaar voor die beeld gebou en uitgeroep: “Môre is daar fees vir die Here!” Vroeg die volgende môre het die volk brandoffers en maaltydoffers geoffer. Daarna het die volk begin feesvier en losbandig te kere gegaan. Toe sê die Here vir Moses: “Klim van die berg af, want jou volk wat jy uit Egipte laat wegtrek het, het iets vreesliks gedoen. Hulle het gou die pad verlaat wat Ek vir hulle aangewys het en hulle het vir hulle ‘n beeld van ‘n bulkalf gemaak. Nou aanbid hulle hom en bring vir hom offers en sê: Hier is jou God wat jou uit Egipte bevry het, Israel.”” (Eks. 32: 1-8)).
Lukas stel dit so mooi (“Kyk hoe groei die lelies: hulle swoeg nie en hulle maak nie klere nie, maar Ek sê vir julle: Selfs Salomo in al sy prag was nie geklee soos een van hulle nie. As God die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre in die vuur gegooi word, só mooi maak, hoeveel te meer sal Hy julle versorg, julle kleingelowiges!” (Luk 12: 27-28)). Dit is God wat Konings aangestel het (“‘n Dag voor die koms van Saul het die Here vertroulik aan Samuel geopenbaar: “Môre teen hierdie tyd sal Ek ‘n man uit die gebied van Benjamin na jou toe stuur. Jy moet hom tot regeerder oor my volk Israel salf. Hy sal my volk red uit die mag van die Filistyne, want Ek het op my volk ag geslaan. Ja, hulle hulpgeroep het My bereik.” Net toe Samuel vir Saul sien, het die Here vir hom gesê: “Dit is die man van wie Ek jou gesê het hy sal oor my volk regeer.” (1 Sam. 9: 15-17)); en dit is God wat koninkryke, stede en mensgemaakte instansies tot ‘n val bring (“Daarom het hulle die stad Babel genoem, want daar het die Here in die taal van die aarde verwarring gebring, en van daar af het Hy die mense oor die hele aarde verstrooi.” (Gen. 11: 9): “Ek sal die land straf oor sy boosheid, die goddeloses vir hulle sonde. Ek sal ‘n einde maak aan die hoogmoed van die vermeteles, Ek sal dié wat hoogmoedig en verwaand is, verneder.” (Jes. 13: 11); (“Ons het gehoor van die hoogmoed van Moab, van sy trots, sy vermetelheid, sy hoogmoed, sy hovaardigheid, maar sy grootpratery het tot niks gelei nie!” (Jes. 16: 6); (“Die Here die Almagtige het dit besluit. Hy breek die trots, Hy maak die hoogmoed tot niks, Hy verneder dié wat oor die hele aarde geëer word!” (Jes. 23: 9); (“Jou suster Sodom se sonde was dat sy en haar dogters selftevrede en rustig in hoogmoed en oorvloed geleef het en vir die mens in nood en die arme niks oorgehad het nie. Hulle was hooghartig en het voor my oë afskuwelike dinge gedoen. Daarom het Ek hulle laat verdwyn, soos jy gesien het.” (Eseg. 16: 49-50)).
God het reeds vanaf die ontstaan van hierdie wêreld, soos ons dit ken, Sy Liefde aan ons betoon (“Terwyl Hy by Moses verbygaan, roep die Here: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie. Ek reken kinders en kleinkinders die sondes van vaders toe selfs tot in die derde en vierde geslag.”” (Eks. 34: 6-7); (“God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. God het nie sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word.” (Joh. 3: 16-17)). Ons kan die presisie van Sy skepping elke dag aanskou, as ons bietjie stilstaan en die mooi, en die ongelooflike detail waarmee God alles geskep het, aanskou.
Laat ons die hoogmoed in ons mense bestaan afskud, sodat ons ook soos Dawid van ouds tot die besef kan kom dat ons redding alleen in die teenwoordigheid van God gesetel is. (“Die Here is my krag en my beskerming. Hy het tot my redding gekom. Hy is my God, Hom roem ek, die God van my voorvaders, Hom prys ek. Die Here is oorwinnaar in die stryd, sy Naam is ‘die Here’!” (Eks. 15: 2-3); (“Hoogmoed en vermetelheid verdra ek nie.” (Ps. 101: 5); (“Selfverheffing en hoogmoed is daar nie by my nie, Here. Ek maak my nie besorg oor groot dinge nie, dinge wat bo my vermoë is. Ek het rus en kalmte gevind. Soos ‘n kindjie wat by sy moeder tevredenheid gevind het, so het ek tevredenheid gevind. Wag op die Here, Israel, nou en vir altyd.” (Ps. 131: 1-3)).


