Sondag 15 Februarie 2026.
Die afsluiting van nog ‘n periode in ons lewe en bediening, ons laaste erediens en liefdesmaal in Niihama, ‘n afskeid😢Nogal emosioneel dreinerend. Tog ‘n vreugdevolle hoogtepunt met die doop van een van ons lidmate na meer as ‘n jaar van saam weeklikse Dondernamiddag Bybelstudie en sy getroue erediens bywoning onafgebroke elke liewe Sondag🙏🏻‼️
Nog ‘n hoogtepunt vandag was dat van Annalie se Engelsklas twee vroue vir eerste keer in hul lewe die erediens bygewoon het. In ‘n land soos Japan is dit altyd wonderlik wanneer iemand vir die eerste keer ‘n erediens bywoon (selfs al kom so iemand nooit weer binne die afsienbare tyd nie, maar die ys is gebreek en ‘n saadjie gesaai…🙏🏻). Verder was dit goed dat hulle die doop en geloofsgetuienis van ‘n lidmaat kon sien en hoor. Beter nog as ‘n goeie evangeliese preek!!!
Daar is seer oor die weggaan vanaf Niihama en vanaf mense wat diep in ons harte ingekruip het en diepe bekommernis oor die geestelike en pastorale versorging (sonder ‘n inwonende pastor) van die gemeente en veral die begeleiding en dissiplinering van die drie dopelinge met wie die Here ons die afgelope drie jaar verras het en aan ons sorg toevertrou het…. Ons voel selfs ietwat skuldig en dat ons hulle in die steek laat….. Dit maak die weggaan bitter swaar.
Maar ons hoor die Here die afgelope tyd keer op keer: Moenie agtertoe kyk nie….. ‘n nuwe seisoen met nuwe uitdagings, geleenthede en verantwoordelikhede lê in Tokushima voor vir die volgende termyn van drie jaar, DV. Ons voel natuurlik eerlik bitter onwaardig en onbekwaam en beangs oor die verwagtinge vanuit verskillende oorde.
Terselfdertyd is ons diep dankbaar vir ‘n verdere BONUS van God se genade om op hierdie ouderdom (hierdie jaar word ek Tobie tagtig…) vir nog drie jaar toegelaat te word om in hierdie land en in hierdie RCJ kerk op hierdie eiland ons Kerk se sendingroeping in diens van Missie Japan en ons Kerk in SA en julle wat ons ondersteun te mag uitleef.
Die vorige week het ons trek plaasgevind en het ons spesiaal na Tokushima gegaan om ons nuwe woning in te rig en al ons registrasies by die stadskantoor af te handel (laasgenoemde het ons ‘n hele halwe dag gevat). Vrydag is ons DV op pad (in die lug ✈️) na ons vaderland om na drie jare ons familie en vriende weer te sien.
Danksegging en Seëngroete 🙏🏻♥️🙏🏻


