Radio FEBA – E-Gebedsfokus Julie 2022

Julie 2022 “Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.”

GALASIËRS 5:16


FEBA Malawi
Mosambiek

Tsjad
Julie

FEBA Malawi
 
Vrydag 1 Julie: Prys die Here dat FEBA Malawi se radiostasie, Litala FM, uiteindelik op die lug is. Hul programme is opgeskort weens tegniese probleme. Ten spyte hiervan het die span voortgegaan om luisteraars te bedien deur middel van die aanlynsportprogram en die luisteraarklubs; en het hulle ook radio’s versprei.
 
Saterdag & Sondag 2 – 3 Julie: Verskeie Moslemleiers, sheikhs en hul volgelinge het die afgelope paar maande hul tot Christus bekeer as gevolg van  FEBA Malawi se bediening. Prys God vir hierdie nuwe oes van gelowiges.
 
Mosambiek
 
Maandag 4 Julie: Bid dat meer spiritualiste en animiste na Christus sal keer deur ons bediening in Mosambiek. Verlede maand het ons span ‘n sangoma na die Here gelei. Hy is nou ‘n getroue volgeling van Jesus Christus.
 
Dinsdag 5 Julie: Bid vir die gesondheid en veiligheid van ons span wat by Radio Nuru diens doen. Een van die omroepers het ‘n besering aan sy hand opgedoen en dit veroorsaak baie ongemak en pyn.
 
Woensdag 6 Julie: Gaan asseblief voort om te bid vir die vlugtelinge in Kamp Guaraguara wat deur die sikloon, Idai, verplaas is. Ons radiostasie, Radio Hope in Beira, bedien hulle deur hul programme en voorsien hulle van hulp.
 
Donderdag 7 Julie: Bid asseblief vir die ses nuwe luisteraarsklubs in Beira wat deur ons span by Radio FOT gestig is. Daar is nou 25 luisteraarsklubs in die gebied wat ontstaan het vanuit ons span se gemeenskapsuitreike.
 
Vrydag 8 Julie: Bid vir die nuwe program, Testimonial Hour, wat opnames uitsaai van die getuienisse van luisteraars wat na Christus keer deur ons bediening. Die program deel stories van wonderbaarlike veranderinge wat hulle in hul lewens ervaar nadat hulle Hom as hul Here en Verlosser aanvaar het. Hierdie nuwe program inspireer baie om Jesus te volg.
 
Saterdag & Sondag, 9 – 10 Julie: Bid vir die sake- en innoveringsprogram wat deur Radio FOT aangebied word. Dit inspireer luisteraars wat in absolute armoede leef om op God te vertrou en hul eie klein besighede te begin. Baie het reeds ‘n kleinboerdery-onderneming begin.
 
 Tsjad
 
Maandag 11 Julie: Bid vir die beskerming en goeie gesondheid van die span by Radio Shahada. Baie van die lede was onlangs siek.

Dinsdag 12 Julie: Prys die Here vir die nuwe sender wat verlede week suksesvol by die stasie geïnstalleer is. Bid dat God die tegniese span sal bystaan om dit in stand te hou.
 
Woensdag 13 Julie: Bid dat die Heilige Gees teenwoordig sal wees en die harte van luisteraars sal aanraak elke keer as die span hul gebedsprogram tussen 13:00 – 15:00 elke Vrydag aanbied.
 
Donderdag 14 Julie: Radio Shahada saai amptelik in 11 plaaslike tale uit, naamlik: Frans, Arabies, Sar, Massa, Moundang, Daye, Kim, Sara-Kaba, Kanembu en Zakawa. Bid dat die mees onbereikte mensegroepe van Jesus sal hoor en Hom sal aanvaar.
 
Vrydag 15 Julie: Bid dat Radio Shahada deur sy uitsendings mense se harte sal verander. Mag elke luisteraar ‘n dieper begrip en verhouding met Jesus Christus nastreef na elke program.
 
Saterdag en Sondag, 16 – 17 Julie: Bid dat Radio Shahada sal voortgaan om die openbare mening te beïnvloed en om blywende verandering te bring aan die gemeenskappe wat hulle bereik, insluitend regeringsake.
 
Mali
 
Maandag 18 Julie: Bid vir God se beskerming oor KanuYah FM, hul span en die luisteraars wat hulle met hulle programme bedien. Mali is ‘n moeilike plek om in te woon. Die gevolge van konflik oorheers dikwels die lewens van gewone mense. Mag God se hand oor hulle wees.
 
Dinsdag 19 Julie: Groot genesings het plaasgevind as gevolg van die radiospanne se gebede en leiding. ‘n Jong vrou wie vir jare aan demensie gely het, is genees nadat ‘n groep Christene vir haar gebid het. Prys God dat Hy wonderwerke gedoen het deur middel van KanuYah FM.
 
Woensdag 20 Julie: Bid dat KanuYah FM se Moslem-luisteraars se harte verander sal word deur na ons programme te luister. Islam is sterk gevestig in Mali.
 
Donderdag 21 Julie: Bid vir elke behoefte wat by die stasie voorsien moet word en dat die span se besluite elke tree op die pad deur die Heilige Gees gelei sal word.
 
Vrydag 22 Julie: Bid dat KanuYah FM se invloed staatsamptenare sal bereik en die openbare mening sal beïnvloed en positief verander.
 
Saterdag & Sondag, 23 – 24 Julie: Bid dat God die span van wysheid sal voorsien en hulle sal inspireer om programme te skep wat luisteraars sal aanmoedig om Christus as hul Heer en Verlosser te aanvaar.
 
Kambodja
 
Maandag 25 Julie: Prys die Here dat die Covid-pandemie se beperkings opgehef is, en dat FEBC Kambodja se span nie langer verhinder word om luisteraars te besoek, radio’s te versprei en gesinseminare aan te bied nie.
 
Dinsdag 26 Julie: Prys die Here vir die manier waarop Hy FEBC Kambodja se kortgolfbediening gebruik. ‘n Luisteraar van die Kratie-provinsie het onlangs Jesus Christus as Sy Here en Verlosser aangeneem.
 
Woensdag 27 Julie: Bid dat God die Voice of Love Radio sal help om die permitte te bekom wat nodig is vir hul nuwe toring in Phnom Penh.
 
Donderdag 28 Julie: FEBC Kambodja se oudste plaaslike ondersteuners is respektiewelik 92 en 96 jaar oud en ondersteun steeds die bediening. Bid dat God hulle sal seën en beskerm.
 
Vrydag 29 Julie: Hou aan bid dat God die span die nodige wysheid sal gee om nuwe inhoud te produseer wat meer luisteraars sal help en inspireer om Christus te volg.
 
Saterdag en Sondag, 30 – 31 Julie: Bid vir al FEBC Kambodja se luisteraars. Mag God hulle genees en beskerm teen siektes of enige ander moeilikheid wat oor hulle pad mag kom.   
 Skenk nou via ons webblad
WebsiteFacebookTwitterYouTubeInstagram 
Our mailing address is:
info@febaradio.co.za