Marida Bridges, NG Kerk Groot-Brakrivier se orrelis vanaf 1 Augustus 2022, is een van daardie begaafde mense wat reeds van vroeg af gefokus was op haar passie vir sang en musiek. Sy is gebore in die Noord-Kaapse Kenhardt waar hulle nog gereeld op die familieplaas gaan kuier het. Haar laerskooljare is in Caltizdorp voltooi. Daarna het hulle na Worcester verhuis, waar sy haar hoërskoolloopbaan klaar gemaak het. Sy was reeds op 15-jarige ouderdom orrelis vir die Lutherse Kerk in Worcester.
Sy het haar studies aan Stellenbosch Universiteit (1989-1992) voltooi in die Uitvoerende Kunste, met Klavier, orrel en sang as hoofvakke. Sy het as orrelis opgetree in die Studente Kerk van Stellenbosch, tydens haar studente jare.
Sy het haar in Lydenburg gevestig in 1992 en het vanaf 2003 as alleen ouer na haar twee dogters omgesien. Sy het haar hand aan ‘n verskeidenheid van werksopsies, om haar inkomste as orrelis van eers Lydenburg Suid se gemeente, en daarna Lydenburg Moedergemeente, aan te vul. Sy het privaat lesse in klavier en Aerobics lesse aangebied, groente verkoop en verpak, asook boukhouding gedoen vir verskillende firmas.
In 2007 ontmoet sy haar man, David, in Lydenburg tydens ‘n ses weke vakansie by sy dogter. Die vakansie is verleng na nege maande nadat hy Marida ontmoet het. Sy dogter het ‘n arbeidskonsultasie besigheid bedryf, en Marida het boekhouwerk vir haar gedoen. David is al 30 jaar woonagtig in Groot-Brakrivier en het ‘n huis in Sandhoogte. Marida het afgetrek Groot-Brakrivier toe.
Marida het ook ‘n groot belangstelling in naaldwerk en spesialiseer in die maak van laslappie en kwiltwerk dekens. Sy het reeds 56 pragtige bedspreie gemaak.
In 2008 tot 2009 was sy orreliste vir Brandwag Gemeente, asook onderwyseres by Laerskool Vorentoe, waar sy Skoolmusiek, Kuns & kultuur, asook die koor begelei en afgerig het. Haar ervaring as onderwyseres het tot 2016 gestrek. In 2010 is sy aangestel as orreliste van Hartenbos se NG Kerk, waar sy werksaam was tot Julie 2022. Ons is dankbaar om Marida te hê as nuwe orrelis in die NG Kerk Groot-Brakrivier, wat ons lofsang tot eer van die Here so opgehelder het.










