Hier volg die gebedsgids vir Junie 2021
“U wat al die seisoene van die aarde vasgestel het, somer en winter is die werk van U hande.” (Ps 74:17)
Dinsdag, 1 Junie – Covid 19 Kom ons bid ernstig dat Covid 19 sal afneem. Bid dat die inentingsprogram so sal versnel dat ons in geloof ‘n kudde-weerstand kan opbou.
Woensdag, 2 Junie – Blokbyeenkoms Kom ons vra dat die Here self teenwoordig sal wees by hierdie en elke ander geestelike byeenkoms: dat Sy Naam geëer sal word.
Donderdag, 3 Junie – Grondhervorming Ons bid vir die regering vir wysheid met die grondhervormingsprojekte sodat plase steeds produktief sal bly en voedselsekerheid nie in gevaar gestel word nie.
Vrydag, 4 Junie – Gebed “Here, help ons om met U te wandel: om bewus te wees van U teenwoordigheid deur die dag en die nag.” Maleagi 2:6 – Hy (Levi) het naby My geleef, heelhartig en opreg, en hy het baie laat afsien van hulle sonde.
Saterdag, 5 Junie – Woordverkondiging Bid vandag vir elkeen wat DV môre U Woord sal verkondig: vanaf kansels, oor die radio en televisie, andere in weggesteekte plekkies, dat hulle nie dalk met hul lewens of gevangenskap sal boet vir Woordverkondiging nie.
Sondag, 6 Junie – Biddag vir die Ekologie “Here, U gee vir ons reën en sonskyn soos dit U behaag. Gee vir ons genade om ons natuur met respek te behandel en so U skepping na die beste van ons vermoë in stand te hou.” Bid vir ons boere wat baie kwesbaar is vir droogte, vloede, natuurrampe en plaasaanvalle.
Maandag, 7 Junie – Instandhouding van ons Kerk en Gronde Ons is met dankbare harte trots op ons mooi Kerkgebou. Dankie vir elkeen wat bydra tot die instandhouding van ons Kerk in die vorm van geld of arbeid.
Dinsdag, 8 Junie – Armoede Here, open asseblief ons oë, harte en hande dat ons in hierdie koue nagte sal dink aan mense wat koud en honger is. Spr 14:31 – “Wie ‘n arm mens verdruk, beledig sy Maker; wie hom oor ‘n arm mens ontferm, eer God.”
Woensdag, 9 Junie – Blokbyeenkoms 11A en 11B Hierdie blokbyeenkoms sluit lidmate in wat in een van ons mooiste omgewings woon. Kom ons dank die Here vir ons natuurskoon.
Donderdag, 10 Junie – Besluitnemers Leiers val maklik vir versoeking wanneer hulle met groot geld werk. Kom ons bid dat God se lig al hierdie duister dinge soos korrupsie, selfverryking, staatskaping, sal oorwin. Dankie dat God in beheer is.
Vrydag, 11 Junie – Uitsaaidienste Kom ons sê vandag vir die Here dankie vir gawes wat hy aan mense gee. Dankie dat ds Danie, Annalene en Anton Gericke so baie opoffer om eredienste voor die tyd op te neem.
Saterdag, 12 Junie – Sportbyeenkomste Here, U weet hoe lief ons Suid-Afrikaners vir sport is. Gee vir ons U beskerming om met wysheid op te tree wanneer ons na sport- en ander byeenkomste gaan.
Sondag, 13 Junie – Biddag vir Jeug en Kategese “Die mense het kindertjies na Hom toe gebring dat Hy …. vir hulle moet bid.” (Mat. 19:1) Baie dankie vir elkeen wat kindertjies na Hom toe lei.
Maandag, 14 Junie – Blindes en ander gestremdes Hoe moeilik moet dit in hierdie dae van inperkings en maskers nie wees vir ‘n blinde nie! Bid vir alle blindes en ander gestremdes wat juis gedurende inperking minder kontak met mense het.
Dinsdag, 15 Junie – Ons Groot-Brakrivier Gemeenskap Kom ons bid vir ons hele gemeenskap, vir groter samewerking binne en buite kerkgrense, vir herstel van gebroke verhoudings. Kol 3:15 “En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee.”
Woensdag, 16 Junie – Jeugdag Kom ons bid saam met koning Dawid Psalm 144:12 – “Mag ons seuns wees soos plante wat hoog groei in hulle jeug, ons dogters soos hoekpilare, uitgebeitel soos vir ‘n paleis.”
Donderdag, 17 Junie – Media Bid vandag vir ons media: skrywers, regisseurs, vervaardigers en program-samestellers, dat die lig van die Waarheid in hulle harte sal kom sodat feite nie deur sensasiesoekers verdraai sal word nie.
Vrydag, 18 Junie – Godsdiens in Skole Omdat Christelike onderrig in skole al hoe minder word, beteken dit dat ouers en die kerk met nuwe ywer hulle verantwoordelikheid moet aanvaar. Deut 11:18-22 – “…. Leer dit vir jou kinders deur met hulle daaroor te praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan. ….”
Saterdag, 19 Junie – Godsdienstige Beginsels Bid dat die waarde van godsdienstige beginsels aanvaarbaar en geprioritiseer sal word in alle opvoedkundige instellings. Spr 11:30 – “Wie die wil van die Here doen, is ‘n bron van lewe, …..”
Sondag, 20 Junie – Vadersdag Vandag spesifiek, dank ons die Here vir vaders wat hulle kinders na God lei sodat hulle kinders saam met Salomo (Spr 17:6) kan sê: “Vaders is vir hulle seuns ‘n sieraad.”
Maandag, 21 Junie – Ons Gemeente Ons is dankbaar dat ons gemeente weer grootliks kan funksioneer, al is dit onder ‘n nuwe “normaal”. Dankie dat ons Kerk se inkomste redelik stabiel gebly het en dankie vir elkeen se bydrae.
Dinsdag, 22 Junie – Werkloses Ons is dankbaar dat ons Kerk en baie gelowiges na werkloses en ander wat honger ly, omsien. Bid vir werkloses. Psalm 27:14 – “Vertrou op die Here! Wees sterk en hou goeie moed! Ja, vertrou op die Here!”
Woensdag, 23 Junie – Blokbyeenkoms 12A en 12B Hierdie mense woon geografies buite ons gemeente se grense en doen moeite om hier dienste by te woon. Bid dat dit vir elkeen moontlik sal wees om ook die blokbyeenkoms by te woon. Here, laat U seën op hul rus.
Donderdag, 24 Junie – Ons Paaie Baie van ons gaan moontlik gedurende die skoolvakansie kuier. Mag die Here ons bewaar, ons seën met verdraagsaamheid en bedagsaamheid teenoor ander. Titus 3:2 – “Hulle moet inskiklik wees en altyd bedagsaam …”
Vrydag, 25 Junie – Skole sluit Kom ons bid baie ernstig vir ons skoolgaande kinders. Klasse is ontwrig. Baie kinders moet gedurende die vakansie hul bes doen om “op te vang” waarmee hulle gedurende die kwartaal agter geraak het.
Saterdag, 26 Junie – Ons Land Kom ons bid ernstig vir ons land: vir ons President, die Regering en vir alle politieke partye, dat almal sal optree tot voordeel van ons land.
Sondag, 27 Junie – Bejaardes en Siekes Hier is baie bejaardes in ons gemeente en dikwels is hulle baie eensaam. Fil 1:9 – “Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling.” Here, gee asseblief vir ons hierdie “fyn aanvoeling” vir ander se hartseer en eensaamheid.
Maandag, 28 Junie – Polisie Bid vir ons Polisiemag, plaaslik en oor ons hele land. Hulle werk dikwels onder groot druk en in gevaarlike omstandighede. Kom ons bid dat hulle nie in versoeking val nie en omgekoop sal kan word nie.
Dinsdag, 29 Junie – Gereg Ons Nuusprogram lewer daagliks berig oor hofsake: Bid dat sake opgelos of afgehandel sal word en dat ons Gereg die wil van God sal uitvoer.
Woensdag, 30 Junie – Helfte van Jaar Kom ons raak stil en dink terug oor die afgelope halfjaar. Dank die Here, daar is so baie dinge waarvoor ons kan dankbaar wees …. en onthou: ‘n dankbare mens is ‘n gelukkige mens.


