Boodskap aan Wolwedans

God se hemelse vre(d)e verdryf ons wêreldse vre(s)e

Verlede keer het ek vertel dat dit voorwaar vir twee jaar al swaar, moeilik en broekskeur met ons gaan. Ons leef waarlik in uitdagende tye. Alhoewel ons hierdie vreesagtige tye met baie bekommernisse leef, weet ek verseker – die Skeppergod het ons op ‘n besondere manier uit die stof van die aarde geskep. Boonop het ons die Here se eie lewensasem in ons (Genesis 2:7). Ons is baie spesiaal vir God en Hy het ons oneindig lief. So lief dat Hy Jesus Christus na ons gebroke wêreld toe gestuur het om ons te red (Johannes 3:16). Sal die Vader ons dan nie nou ook help nie? Daarom vra ek weer die vraag: Hoe weet ek dat God se hemelse vre(d)e ons wêreldse vre(s)e kan stilmaak?

Jesaja was een van die groot profete in die Ou Testament. Hy het nogal ‘n manier gehad om dinge reguit te sê. ‘n Profeet bring ‘n boodskap direk van God af na die mense toe. Soms bring ‘n profeet waarskuwings. Maar as ‘n profeet net waarskuwings en slegte nuus bring is dit ‘n doemprofeet. Profete van God se boodskappe het ook altyd ‘n belofte van hoop en verlossing by. Ons moet onthou dat Israel maar ‘n baie ongehoorsame volk was. Elke keer het hulle maar weer in sonde vasgeval. Israel het so maklik toegegee aan die druk van die ander volke om afgode te aanbid. Alhoewel Jesaja die volk waarsku dat God hul gaan wegvoer na ‘n vreemde land, roep hy die volk op om terug te draai na die Here toe. Maar die volk het hulle nie bekeer nie en hulle was vir sewentig jaar in Babel.

Terwyl die volk so sit in ‘n vreemde land, bring die profeet Jesaja ook ‘n boodskap van hoop – goeie nuus – God gaan julle verlos, want Hy is baie lief vir julle. Ek lees in Jesaja 41:10 – Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ja, watter wonderlike nuus is dit nie! Die Here roep ons op om nie in vrees en bewing te leef nie. Al voel dit of ons nou soos vreemdelinge in ‘n vêr land sit, gee Jesaja ‘n paar redes waarom ons nie hoef te vrees nie. Jesaja bemoedig ons in hierdie moeilike tyd terug te draai na die Vader toe. Ja, ons harte weer oop te maak vir God.

Die eerste rede waarom ons nie hoef te vrees nie kom sterk navore in Jesaja 41:10 – Ek is by jou! Dus God sal ons nooit in die steek laat nie. Deur die Heilige Gees is Jesus nie net by ons nie, maar woon Hy ook in ons. Ons liggame is soos ‘n tempel vir die Heilige Gees. En dit bring my by die tweede rede waarvan ons lees in Jesaja 41:10 – Ek is jou God! Ja, die Vader, Seun en Heilige Gees is ons God. Soos ‘n vader sorg Hy vir ons wat Sy kinders is. Jesus is ons oudste broer wat altyd vir jou en my sal veg tot die dood toe. Die Heilige Gees is die beste vriend wat ek en jy ooit kan hê. Daarom maak dit sin wat ek lees In Jesaja 41:8 – ons nie moet hoef nie te vrees nie, want die Here het ons uitverkies. Ja, jy het reg gehoor – die derde rede waarom ons nie hoef bang en bekommerd te wees nie is dat God het ons uitverkies. Omdat Hy ons lief het, het Hy ons vasgegryp en sal Hy jou nooit verwerp of vir die honde gooi nie.

Jesaja gaan verder en gee nog ‘n paar redes wat ek vinnig noem en waarna ons volgende keer gaan kyk.

Ek versterk jou – Ek help jou – Ek hou jou vas.

Gebed: Vader ons het baie vre(s)e. Ons is maar swak en ons gees word maklik afgebreek deur al ons vre(s)e. Here Jesus, dankie dat U ons lewens gekoop het en al ons sondes vergewe. Dankie dat niks my kan skei van U liefde nie. Heilige Gees, verdryf asseblief al my aardse vre(s)e en vul my met U hemelse vre(d)e wat alle verstand te bowe gaan. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus my Here. Amen.