“Laat julle lig só voor die mense skyn, sodat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, kan verheerlik.”
Matt. 5: 16
Ons hou ons besig met allerlei dinge vir die kerk, in die kerk en om die kerk. Doen ons dit uit geloof en omdat dit die begeerte van ons hart is, daartoe gedring deur die Heillige Gees? Of doen ons dit om deur mense gesien en bewonder te word? Salomo wys ons duidelik daaroop dat ons nie self moet roem op wat ons doen nie (“Moenie spog oor die dag van môre nie, want jy weet nie wat die dag sal oplewer nie. Laat ‘n vreemde jou prys, en nie jou eie mond nie, ‘n buitestander, en nie jou eie lippe nie.” (Spr. 27: 1-2)). Is dit vir ons so belangrik om erkenning te kry vir dit wat ons hier op aarde vermag, dat ons vergeet dat ons eintlik net hier is om God te verheerlik? Dat daar nie so ‘n verskoning is dat mens nie tyd het om dit wat jy vir God doen, goed moet doen nie. Jammer dit is al weer my ma se motto, “As ‘n ding die moeite werd is om te doen, is dit die moeite werd om dit goed te doen”. Daar is sekerlik baie van ons wat dit in alle opregtheid doen” (“Daarom dan, julle moet ontsag hê vir die Here; dien Hom met opregtheid en getrouheid.” (Jos. 24: 14)). Terwyl ander graag kritiseer (“Moenie op die oog af oordeel nie, maar oordeel regverdig.” (Joh. 7: 24); “Die oog is die lamp van die liggaam. As jou oog suiwer is, sal jou hele liggaam verlig wees . Maar as jou oog boos is, sal jou hele liggaam donker wees. As die lig in jou donker is, hoe groot is die duisternis nie!” (Matt. 6: 22-23)).
Elkeen van ons moet ons daagliks weer herinner daaraan dat ons eie manier, nie noodwendig die enigste manier is om iets te doen nie (“Julle oordeel volgens die vlees. Ek oordeel niemand nie. En al oordeel Ek, is my oordeel geloofwaardig, omdat dit nie Ek alleen is nie, maar Ek en die Vader wat My gestuur het.” (Joh. 8: 15-16)). Dit het werk met die rekenaar my geleer. Daar is ten minste drie verskillende maniere om by dieselfde uitkoms te kom. Laat ons dus leer om verdraagsaam te wees vir die manier wat ‘n ander iets doen (“Ons verdra eerder alles, sodat ons geen hindernis vir die evangelie van Christus veroorsaak nie.” (1 Kor. 9: 12); (“…deur mekaar met volkome nederigheid en saggeaardheid, en met geduld en liefde te verdra, en julle daarop toe te lê om die eenheid wat die Gees bewerk, te bewaar deur die band van vrede -” (Eff. 4: 2-3)). Laat ons nie verval in eie hooghartigheid en eiewaan nie. Laat ons nederig wees soos Christus ons kom wys het om te wees.
Ons moet daagliks besef dat elkeen van ons verskillend is (“Soek die Here en sy krag, soek voortdurend sy teenwoordigheid op.” (1 Kron. 16: 11)), en ons kan nie met mekaar vergelyk word nie. God het vir elkeen van ons verskillende gawes gegee, om Hom te verheerlik (“My krag en sterkte is die Here, en Hy was my redding. Hy is my God, en Hom sal ek vereer, die God van my Vader, en Hom sal ek verheerlik.” (Eks. 15: 2)), elkeen op ons eie manier. Ons moet baie versigtig wees om vergelykings te tref tussen verskillende take wat mense doen! Vir God is die opregte benadering tot wat ons doen belangrik. Dis iets wat ons nie vir Hom kan wegsteek nie. Hy ken ons van geboorte af. Hy verstaan ons innerlike pyn, seerkry en opregtheid. Laat ons dus God aanbid wat alles vir ons moontlik gemaak het (“Ek, Johannes, is die een wat hierdie dinge gehoor en gesien het. Toe ek dit gehoor en gesien het, het ek in aanbidding neergeval aan die voete van die engel wat hierdie dinge aan my gewys het. Maar hy het vir my gesê: “Moet dit nie doen nie! Ek is net ‘n dienskneg saam met jou en jou broers, die profete, en saam met diegene wat vashou aan die woorde van hierdie boekrol. Aanbid God!” (Open. 22: 8-9)).
Wat Christus vir ons gedoen het, meer uitmuntend as wat enige van ons mense dit sou kon doen, moet ‘n innige dankbaarheid in ons wek, sodat ons alles wat ons doen, eet, drink, kuier, alledaagse lewe, bybelstudie, lees, sing, werk, skep, en so kan ons voortgaan, tot eer en verheerliking van God die Vader, die Seun en die Heilige Gees moet doen (“Jy moet die Here jou God met hart en siel liefhê en met al jou krag. En hierdie woorde wat ek vandag vir jou voorskryf, moet jy op die hart dra.” (Deut. 6: 5-6)). Laat ons besig wees met begrip en ander mense aanvaar soos wat hulle deur God begenadig is. Laat ons ons besig hou met die liefde van Christus in ons alledaagse lewe, sodat woorde nie nodig sou wees om dit uit te dra nie. Ons moet ook elke dag besef dat ons dit nie self kan vermag nie, want by die mens is dit nie moontlik nie (“Maar Jesus het stip na hulle gekyk en vir hulle gesê: “By mense is dit nie moontlik nie, maar by God is alles moontlik.”” (Matt. 19: 26)).


