“En vergeef ons ons skulde, soos ook ons hulle vergeef wat teenoor ons skuldig staan.”
(Matt. 6: 12)
Dit is soms so moeilik om te vergewe. In ons land waar plaasmoorde aan die orde van die dag was en nog steeds is, hoor mens soms die verhale van mense wat daardeur oorleef het, dit verwerk het, en in die hof, hulle vergifnis aanbied aan die oortreder of oortreders. Dit laat mens stom. Hoe vergeef mens iemand wat so wreedaardig ‘n impak op jou lewe gehad het? Iemand wat so willens en wetens kwaadaardige skade aan jou gedoen het. Hoe leef jy daardeur en kry tog die krag om so iemand te vergeef. Vir mense wat nie die bevryding van vergifnis ervaar het nie, moet dit baie moeilik wees om die konsep van vergifnis te verstaan en te aanvaar.
Wanneer mens egter die bevrydende vergifnis van God, die Vader, Jesus Christus, die Seun, en die bystand en krag van die Heilige Gees ervaar het, raak dit vir ons swak mense bestaan moontlik om ook die bevryding van vergifnis uit te deel. Wraak en woede kan ‘n verterende effek op ‘n mens se bestaan hê, en het ‘n groter impak op ‘n mens self, as die ander persoon wat vergewe moet word, veral as daar geen berou by so ‘n persoon is nie.
“…by my Heer, ons God, is daar ontferming en vergifnis…” (Dan. 9: 9);
“Want as julle die mense hulle oortredings vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe. Maar as julle die mense nie vergewe nie, sal julle Vader julle ook nie julle oortredings vergewe nie.” (Matt. 6: 14-15);
“Toe het Petrus nader gekom en Hom gevra: “Here, hoeveel keer sal my broer teen my sondig en ek hom vergewe? Tot sewe keer toe?” Jesus antwoord hom: “Ek sê vir jou, nie tot sewe keer nie, maar tot sewentig maal sewe keer…” (Matt. 18: 21-22);
“Moenie oordeel nie, dan sal ook julle beslis nie geoordeel word nie. Moenie veroordeel nie, dan sal julle ook nie veroordeel word nie. Vergeef, dan sal julle ook vergewe word.” (Luk. 6: 37)
Wanneer ons Christus as ons Verlosser ervaar het, word die vermoë om te vergewe in ons binneste en harte ingeskryf, en word dit vir ons moontlik om ‘n ander te vergewe. Dit is wat Jesus Christus vir ons kom doen het, sodat ons nie ‘n oordeel oor onsself bring nie.
“”Nee, dit is die verbond wat Ek ná daardie dae met die huis van Israel sal sluit,” is die uitspraak van die Here: “Ek sal my wet in hulle binneste gee, en dit op hulle harte skryf. Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal my volk wees. Hulle sal nie meer elkeen sy medemens of sy broer leer en sê, ‘Ken die Here!’ nie, want hulle almal sal My ken, van die kleinste tot die grootste onder hulle,” is die uitspraak van die Here. “Want Ek sal hulle sondeskuld vergewe en aan hulle sonde sal Ek nie weer dink nie.”” (Jer. 31: 33-34);
“Want deur een offer het Hy hulle wat geheilig word, vir altyd vervolmaak. Ook die Heilige Gees getuig teenoor ons, want nadat Hy gesê het, “Dit is dan die verbond wat Ek ná daardie dae met hulle sal sluit, sê die Here: Ek sal my wette in hulle harte gee, en dit op hulle verstand neerskryf,” sê Hy ook: “Aan hulle sondes en aan hulle wettelose dade sal Ek glad nie meer dink nie.” Waar daar vergifnis hiervoor is, word ‘n offer vir sondes nie meer gebring nie.” (Heb. 10: 14-18)
Ons moet dus waaksaam wees, en mense hulle oortredinge vergewe. En dit moet nie net in die vorm van woorde sonder werklike bedoelings wees nie. Daar moet ‘n vergifnis wees wat met eerlikheid en opregtheid gepaard gaan. Deur die vergewensgesindheid wat alleen deur die Heilige Gees in ons bewerkstellig kan word, kan ons mekaar beter ondersteun en in geloof laat saamwerk.
“Wees dus op julle hoede. As jou broer sondig, wys hom tereg, en as hy berou het, vergewe hom. En as hy sewe maal op een dag teen jou sondig, en sewe maal na jou terugkom en sê, ‘Ek het berou’, moet jy hom vergewe.” (Luk. 17: 3-4);
“So sal my hemelse Vader ook met julle maak as julle nie elkeen sy broer van harte vergewe nie.” (Matt. 18: 35);
“As julle mense se sondes vergewe, is dit hulle vergewe, as julle dit van hulle weerhou, bly dit van hulle weerhou.” (Joh. 20: 23);
“Maar as iemand droefheid veroorsaak het, is dit nie vir my wat hy bedroef het nie, maar, sonder om te oordryf, in ‘n mate julle almal. Vir so iemand is hierdie teregwysing deur die meerderheid genoeg. Gevolglik moet julle hom in plaas daarvan eerder vergewe en bemoedig, sodat iemand soos hy nie dalk deur oormatige droefheid verteer word nie.” (2 Kor. 2: 5-7)
Laat ons ook in die woorde van Jan van der Watt ‘die sonlig van God se vergifnis laat deurbreek, sodat mense weer kan sien. Sodat God en hulle naaste vir hulle anders kan lyk. Sodat ons nie meer vyande raaksien nie maar vriende vir wie ons lief kan wees’. So sal ons dan ons vergifnis daadwerklik kan uitdeel, deur die genadegawe van ons drie-enige God.
“As U sondeskuld toereken, Here – my Heer, wie kan dan staande bly? Maar is daar vergifnis, sodat U ontsag afdwing.” (Ps. 130: 4);
“Maar sodat julle kan weet dat die Seun van die Mens volmag het om op aarde sondes te vergewe…” (Mark. 2: 10);
“Wees goedgesind teenoor mekaar, met innige meelewing, terwyl julle mekaar vergewe, soos God in Christus julle ook vergewe het.” (Eff. 4: 32);
“Ja, toe julle dood was as gevolg van julle oortredings, en julle sondige aard nog nie weggesny was nie, het Hy julle saam met Hom lewend gemaak, deurdat Hy al ons oortredings vergewe het. Hy het die skuldbewys met sy aanklagte teen ons uitgewis en dit blywend weggeneem, toe Hy dit aan die kruis vasgespyker het.” (Kol. 2: 13-14);
“Verdra mekaar en, as enigiemand ‘n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Soos die Here julle vergewe het, so moet julle ook vergewe.” (Kol. 3: 13)


