“Hy sal jou nie in die steek laat nie, julle is nie alleen nie..”
(Deut. 31: 620)
Alleenheid van die Mens
Elkeen van ons ken die gevoel van totaal alleen voel. Dit is daardie tye wanneer jy as jongmens voel dat niemand jou verstaan nie. Daar is niemand met wie jy jou gedagtes en drome kan deel nie. Dit is daardie tye wanneer jy deur pynlike ervarings gaan, en wanneer jy voel dat jy met niemand oor jou diepste seer kan praat nie.
Dis daardie tye wanneer jy ‘n lewensmaat aan die dood, of aan die lewe, verloor. Dis ‘n alleenheid wat jy glo jy nie met enigiemand kan deel nie. Jy glo dat hulle nie sal verstaan nie. So ontwikkel ons ‘n, so onnodige alleenheid, wat ons nie altyd weet hoe om te verwerk nie.
Tog is alleenheid nie negatief nie. Terblanche Jordaan stel die mooi: ‘Elke mens is uniek, en ons alleenheid is die keerpunt van hierdie uniekheid. Juis omdat ons uniek is, moet ons iewers alleen wees. Alleenheid is soos ‘n tuin vir ons harte wat smag na liefde. Dit is die plek waar afsondering kan groei en vrug dra. Alleenheid, of dit nou fisiek of emosioneel is, is noodsaaklik vir ons geestelike lewe.’
Jesus Christus het daardie menslike alleenheid self deurgemaak. In die tyd voor die kruisiging. Sy dissipels het nie altyd begrip gehad, vir dit wat Hy moes deurmaak nie. Sy alleenheid in die stilte voor die storm om Hom losgebreek het en Hy gevange geneem is. Diè mense vir wie Hy lief was, wat nie eers kon wakkerbly om saam met Hom te bid nie. Tog het Jesus Christus geweet dat Sy redding en krag in die bystand van God lê.
Teksverse:
“Toe Naomi se man, Elimelek, sterf, het sy en haar seuns alleen agtergebly.” (Rut 1: 383);
“Here, u profete het hulle doodgemaak, u altare het hulle afgebreek. Ek het alleen oorgebly, en hulle soek my lewe.” (Rom. 11: 320);
“… want so sê my Heer, die HERE, die Heilige van Israel: “In bekering en rustigheid lê julle redding, in kalmte en vertroue lê julle krag;….” (Hand. 15: 1120);
God se Almag
In die Woord word ons telkens aan die Almag van God herinner. Ons kan ook maar net let op die ongelooflike skepping van God. Dit laat mens telkemaal besef dat daar geen ander Here is behalwe die drie-enige God, wat ons so lief het, dat Hy ons nooit alleen sal los nie. Hy het vir ons Jesus Christus as Verlosser gestuur. En nadat Christus se taak voltooi was, het God vir ons die Heilige Gees gestuur.
Die anonieme aanhaling: ‘Ek kan nie bestaan in my denkraamwerk nie, want met God se almag aan my kant is alles moontlik’ beskryf ons onvermoë om God te probeer verstaan. Een ding is egter seker, daar is geen perk aan God se Almag nie.
Teksverse:
“Toe Abram nege-en-negentig jaar was, het die Here aan Abram verskyn en vir hom gesê: “Ek is God, die Almagtige. Leef voor My, en wees onberispelik!” (Gen. 17: 120);
“Die Here is immers julle God; Hy is die God van die gode en die Heer van die here; die groot, die magtige, die ontsagwekkende God, wat onpartydig is en geen omkoop geskenk aanvaar nie.” (Deut. 10: 1720);
“Want groot is U en U doen wonders; U alleen is God.” (Ps. 86: 1020);
“Prys Hom wat groot wonders doen, Hom alleen – want vir ewig duur sy troue liefde -… “(Ps 136: 420);
“Here, Heerser oor alle magte, God van Israel, U wat bo die gerubs troon, U alleen is God oor al die koninkryke van die aarde.” (Jes. 37: 1620);
“Ja, kyk, Hy wat die berge vorm en die wind skep, wat aan ‘n mens sy beplanning bekend maak, wat die dagbreek duisternis maak, wat trap op die hoogtes van die aarde, die Here, die God wat Heerser is oor alle magte, is sy Naam!” (Am. 4: 1320);
“”Ek is die Afla en die Omega, die Een wat is en wat was en wat kom,” sê die Here God, die Almagtige.”(Open. 1: 820)
Ons is nooit alleen nie
God ken ons swakhede en ons onmag. God ken ons menslike alleenheid. Wanneer ons tot hierdie besef kom, kan ons nie meer alleen wees nie, want ons besef dat God altyd daar is om ons by te staan wanneer ons val, seerkry en pyn beleef. Wat ookal die rede vir ons alleenheid is, God is altyd daar om sy beskermende hand oor ons te hou.
Die anonieme aanhaling: ‘As jy bid en tuis is in die huis van jou Vader is jy nie alleen nie.’ verwoord die nabyheid van God, wat wil hê dat ons Hom in gebed moet nader. Sodoende besef ons hoe naby God regtig is! Elke oomblik van elke dag. Hy weet van elke traan wat jy stort. Hy ken jou elke seerkry en pyn.
Teksverse:
“…want, Here, U alleen laat my veilig woon.” (Ps. 4: 920);
“Maar Hy antwoord: “Daar staan geskryf, ‘Van brood alleen sal die mens nie leef nie, maar van elke uitspraak wat uit die mond van God kom.’” (Matt. 4: 420);
“Hy het my nie alleen gelaat nie, omdat Ek altyd doen wat vir Hom aanneemlik is.” (Joh. 8: 2920);
“Kyk, daar kom ‘n uur, en dit het reeds aangebreek, dat julle uitmekaar gejaag sal word, elkeen na sy eie huis, en My alleen sal agterlaat. Ek is egter nie alleen nie, omdat die Vader by My is.” (Joh. 16: 3220);
“Draai om en sê vir Hiskia, die leier van my volk,’So sê die Here, die God van jou voorvader Dawid: “Ek het jou gebed gehoor; Ek het jou trane gesien…” (2 Kon. 20: 520);
“… hulle sal Ek na my heilige berg bring; en Ek sal hulle vreugde laat ervaar in my huis van gebed. Hulle brandoffers en maaltydoffers sal aanvaarbaar wees op my altaar. Ja, my huis sal genoem word ‘n huis van gebed vir al die volke.” (Jes. 56: 720)


