“Daarom dan, van die dag dat ons dit gehoor het, hou ons nie op om vir julle te bid nie. Ons bid dat julle vervul mag word met die volle kennis van God se wil, deur al die wysheid en insig wat die Gees gee.”
Kol. 1: 920
Om die wil van God te ontdek en te doen, is ‘n behoefte van elke gelowige. Ons is gedurig op soek na die wil van God, deur Bybelstudie, deur gebed, deur met ander daaroor te gesels. Hoe vind ons die oplossings vir ons lewe? Daar is baie skrywers wat hulle opinie lig oor die wil van God, soos die aanhaling van Braam Hanekom ‘God se wil vir jou lewe is nie ver verwyder van die passie wat in jou geplaas is nie. Miskien moet jy ophou soek na sy wil en diep in jou binneste die passie ontdek wat Hy daar geplaas het.’, of die aanhaling van Euripides dat ‘Menslike briljantheid beteken niks nie, tensy dit met God se wil rekening hou.’ So het menige geleerdes en soekers na die wil van God, antwoorde geformuleer om hulle eie gemoed te stil. Ook die aanhaling van Trevor Hudson ‘Wanneer ons God se wil soek en dit doen, ervaar ons gewoonlik ‘n toenemende innerlike silte, tevredenheid en vreugde. Selfs al beteken dit soms moeilike keuses of om teen die massa in te gaan. Wanneer ons doen wat die stem van ons gewete ons vra om te doen, word ons harte en verstand aangeraak deur ‘n diep innerlike kalmte.’ Dis maar enkele van die beskikbare aanhalings van soekers na die wil van God.
Tog gee die Skrif, wat waarheid is, vir ons duidelike aanduiding oor die wil van God. Die volmaakte wil van God. Ons moet afgesonder vir Hom leef. In hierdie wêreld, maar nie van hierdie wêreld nie.
“Elke Skrifdeel is deur God geïnspireer en is nuttig vir onderrig, weerlegging, teregwysing, en opvoeding om God se wil te gehoorsaam, sodat die mens wat aan God behoort, bekwaam kan wees, ten volle toegerus vir elke goeie taak.” (2 Tim 3: 16-1720);
“Julle moenie aan hierdie wëreld gelykvormig wees nie, maar verander word deur die vernuwing van julle denke, sodat julle goed kan onderskei wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is.” (Rom. 12: 220);
“Daarom laat hy hom, gedurende die oorblywende tyd van sy liggaamlike bestaan, nie langer deur menslike begeertes lei nie, maar wel deur die wil van God.” (1 Pet. 4: 220);
“Want dit is God se wil dat julle heilig moet leef: dat julle julle sal weerhou van onsedelikheid,…” (1 Thes. 4: 320)
Hoe kom ons tot daardie punt dat ons kan leef volgens God se wil? Ook hiervoor is daar verskei teksverse wat ons help. Ons moet in gebed tot God nader, ons moet dankbaar wees vir alles wat ons het. Dit alles is vir ons moontlik, wanneer ons besef dat God dit vir ons bewerkstellig. Dis nie uit eie krag wat ons die volmaakte wil van God ontdek nie, maar wanneer ons ons oorgee aan die leiding van die Heilige Gees, wat vir ons intree. Ons aardse begeertes is van verbygaande aard, maar God se wil is vir ewig.
“Wees altyd bly; bid sonder ophou; wees in alle omstandighede dankbaar; want dit is God se wil vir julle in Christus Jesus.” (1 Thes. 5: 16-1820);
“Want elkeen wat die wil van God doen , is my broer en my suster en my moeder.” (Mark. 3: 3520);
“Hy wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, dat Hy volgens die wil van God vir die heiliges intree.” (Rom. 8: 2720);
“En die wêreld en sy begeertes gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly tot in ewigheid.” (1 Joh. 2: 1720)
Dit alles is vir ons moontlik gemaak deur God, die Vader, wat ons so lief gehad het, dat Hy sy Enigste en unieke Seun as Verlosser gegee het. Ook die Heilige Gees is vir ons as waarborg van ons erfenis as genadegawe gegee, sodat ons tot eer en verheerliking van God kan leef. Laat ons besef dat ons wapen vir enige verdediging, die wil van God is. Dan sal ons ook soos Jesus Christus as ons voedsel, die wil van God vind, sodat ons tot eer en verheerliking van Hom kan leef. Daarin is die krag van ‘n opregte gelowige, om God se wil biddend te vra om te kan lewe en ‘n bron van lewe vir ander te kan wees!
“Hy het die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak, soos Hy dit goedgedink en in Christus voorgeneem het, om die volheid van die tye te bestuur, en om alle dinge – die dinge in die hemel en die dinge op die aarde – onder een Hoof in Christus saam te bring. ” (Ef. 1: 9-1020);
“Die Gees is die waarborg van ons erfenis, om ons los te koop as God se eiendom, tot lof van sy heerlikheid.” (Ef. 1: 1420);
“En Jesus sê vir hulle: “My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.” (Joh. 4: 3420);
“Ons wapen vir aanval en verdediging is om die wil van God te doen.” (2 Kor. 6: 783); “Om te leef soos die Here dit wil, is die krag van die opregte;…” (Spr. 10: 2983);
“Wie die wil van die Here doen, is ‘n bron van lewe; die mens wat wysheid het, red lewens.” (Spr. 11: 3083);
“Vra na die wil van die Here, dan sal julle lewe!” (Am. 5:683)


