“So is Petrus dan in die tronk bewaak, maar ‘n volgehoue gebed tot God het uit die gemeente vir hom opgegaan.”
(Hand 12:520)
Wanneer moet ons bid?
Ons almal weet hoe dit voel om op moedverloor se vlakte te sit. Niemand van ons het nie al tye beleef wat ons laat besef dat ons dit nie kan oorkom in ons eie krag nie. Dis wanneer ons ons behoefte aan ‘n krag buite en baie groter as onsself besef. Ons kan bid in hartseer tye, maar ook om ons dankbaarheid teenoor God te wys. Dis soos om in konstante gesprek met God te leef.
Ons moet besef dat om uit te styg bo die middelmatige, skynbare geestelike lewe, tot ‘n kragtige vervulling in Jesus Christus, moet ons onself, in gebed, as woonplek aan die Heilige Gees oopstel. Dit kan by ‘n openbare byeenkoms van Christene plaasvind, maar dit kan ook in jou binnekamer gebeur.
Dit is dan wanneer ons in opregtheid, onder leiding van die Heilige Gees, in dankbaarheid en ooreenstemming met God se Wil, die krag van gebed kan ontdek.
Teksverse:
“Die offer van goddeloses is afstootik vir die Here. maar die gebed van opregtes geniet sy goedkeuring.” (Spr. 15: 820);
“Die Here is ver van goddeloses, maar die gebed van regverdiges hoor Hy.”” (Spr. 15: 2920);
“…wat die onvergelykbare grootheid van sy groot krag, wat Hy uitgeoefen het in Christus, toe Hy Hom uit die dood opgewek het, en Hom laat sit het aan die regterhand in die hemele, bo elke owerheid en gesag en mag en heerser, ja, bo enige naam wat genoem kan word, nie alleen in hierdie bedeling nie, maar ook in die toekomstige.” (Ef. 1: 19-2120)
Verhale van die sukses van gebed
Daar is menige gebeure in die Bybel waar gebed verhoor is. Ons word daarvan bewus gemaak, dat selfs met die aanvang van ‘n gebed, weet God reeds wat die versoek is, soos in die geval van Daniël. Die Here het dit in sy hand om selfs lewensjare te verleng, indien jou gebed in opregtheid sou geskied, soos die geval was met Hiskia
Dawid wys ons daarop dat die Here sy getroue volgelinge uitsonderlik behandel en dat die Here hom altyd gehoor het.
Ook Jona het in doodsomstandighede na die Here geroep, en God het hom gehoor. Petrus het ook die vrymakende gebeure beleef, toe die gemeente se gesamentlike gebede vir hom opgegaan het en hy uit die tronk gelei is.
Waar ons ons ookal bevind, in watter benarde of moeilike omstandighede, niks is vir God onmoontlik nie. Dis die wonderlike vaste vertroue wat ons kan beleef in ‘n lewe saam met God.
Teksverse:
“Die woord van die Here het tot Jesaja gekom: “Gaan sê vir Hiskia: ‘So sê die Here, die God van jou voorvader Dawid: “Ek het jou gebed gehoor; Ek het jou trane gesien. Kyk, Ek sal vyftien jaar by jou lewensdae voeg.” (Jes. 38: 4-520);
“Julle moet weet dat die Here sy getroue volgelinge uitsonderlik behandel. Die Here hoor wanneer ek na Hom roep.” (Ps. 4: 420):
“Terwyl ek nog besig was om te praat en te bid, om my sonde en die sonde van my volk Israel te bely, en om my smeekgebed vir die heilige berg van my God voor die Here, my God, te lê, ja, terwyl ek nog praat in die gebed teen die tyd van die aandoffer, het die man Gabriël wat ek, heeltemal uitgeput, in die visioen aan die begin gesien het, my aangeraak. Hy het verduidelik, met my gepraat en gesê: “Daniël, ek het nou uitgegaan om jou tot insig te bring. Aan die begin van jou smeerkgebed het daar ‘n woord uitgegaan, en ek het self gekom om dit te verklaar,...” (Dan. 9: 20-2320);
“Terwyl die lewe uit my vloei, het ek net aan die Here gedink. My gebed het U in u heilige tempel bereik.” (Jona 2: 720)
Die Krag van gebed
Ons word verseker dat as ons in geloof bid, ons gebede verhoor sal word. Ons kan met al ons behoeftes na God toe gaan, want Hy is altyd naby. Ons antwoorde is nie noodwendig so vinnig as wat ons op gehoop het nie, want selfs moeilike omstandighede word oor ons pad gebring om ons nader aan God te bring.
Ons word ook dikwels gemaan om in eensgesindheid te volhard in gebed, selfs in moeikhede. Dit is dan wanneer die vrede wat alle verstand te bowe gaan, oor ons sal kom. Die gebed van enkele mense het ook al dikwels tot ander se inkeer gekom. Daar is menige verhale van die kragtige uiwerking van gebed. Dikwels van moeders en vaders wat weet dat hulle enigste hoop in God is.
Wanneer ons ons sondes bely en vir mekaar bid, word ons verseker dat daar kragtige uitkomste kan wees. Dat ons gebede al meer en meer in lyn sal wees met wat God wil hê, wanneer ons onder leiding van die Heilige Gees bid. Ons kan dus die krag van gebed beleef omdat ons deur Jesus Christus ook die krag van God kan ervaar.
Teksverse:
“Alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo.” (Matt. 21: 2220);
“Hulle het almal eensgesind in gebed volhard, saam met die vroue, en ook saam met Maria, die moeder van Jesus, en sy broers.” (Hand. 1: 1420);
“Verbly julle in die hoop; wees standvastig wanneer julle swaarkry; volhard in die gebed.” (Rom. 12: 1220);
“Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.” (Fil. 4: 6-720);
“Volhard in gebed. Wees waaksaam en dankbaar as julle bid.” (Kol. 4: 220);
“Bely dan julle sondes teenoor mekaar, en bid vir mekaar, sodat julle gesond kan word. DIe gebed van ‘n regverdige is baie kragtig in sy uitwerking.” (Jak. 5: 1620);
“Julle soek immers ‘n bewys dat dit Christus is wat deur my praat. Hy is nie swak teenoor julle nie, maar is kragtig onder julle. Hy is weliswaar deur swakheid gekruisig, maar Hy leef deur die krag van God.” (2 Kor. 13: 3-420)


