Stof tot nadenke: Die ewigdurende aardse soeke…

“Kyk, al wat ek kon vasstel, is dat God die mensdom reg geskape het, maar hulle is op soek na allerlei slim verklarings.

Pred. 7: 29

Deur elkeen van ons se lewe is ons op soek na soveel verskillende dinge. Sommiges soek na geluk; sommiges soek na ewigdurende lewe; sommige na rykdom; sommige na eer en roem; sommige na wysheid en kennis; sommige na die liefde; sommige na genot. Elkeen word deur verskillende begeertes in die hart in hierdie aardse bestaan voortgedryf. Soms dink ons ons het gevind wat ons gesoek en nagejaag het; soms besef ons, net soos die Prediker, dat baie van hierdie soeke, net ‘n gejaag na wind en ‘n sinnelose soeke is (“Sinloos, volslae sinloos, sê Prediker, sinloos, volslae sinloos; alles is sinloos.” (Pred. 1: 2); (“Alles bly aan die worstel – ‘n mens kan dit onder woorde nie bring nie; oë raak nie versadig van sien en ore raak nie vol van hoor nie.” (Pred. 1: 8); “Ek het gekyk na alles onder die son: Kyk, dit alles is sinloos, ‘n gejaag na wind.” (Pred. 1: 14b)).

Salomo wat van God wysheid gevra het, se gevolge oor die lewe is eintlik skrikwekkend. Hierdie man wat bekend is dat hy die wyste man van sy tyd was (“Toe het ek my daaraan toegewy om wysheid en kennis, domheid en dwaasheid te verstaan. Ek het besef dat selfs dit die najaag van wind is.” (Pred. 1: 17)). Hy het elke genieting van die lewe geneem en dit vir hom toegeien (“Ek het in my hart gesê: Kom, ek laat jou plesier uittoets. Geniet wat goed is! Maar kyk, ook dit was sinloos.” (Pred. 2: 1)). Miskien moet ons luister na wat Prediker vir ons vertel, sodat ons nie dieselfde foute maak nie; maar ons mense wil so graag alles self beproef en toepas, en soek na wat ons dink ons gelukkig kan maak.

Die Woord wys ons egter duidelik daarop dat hierdie ewigdurende aardse soeke gerig moet wees op God, want as ons God verlaat, sal Hy ons ook verlaat (“…en hy het uitgegaan na Asa toe en vir hom gesê: “Luister na my, Asa en die hele Juda en Benjamin! Die Here is met julle wanneer julle met Hom is. As julle Hom soek, sal Hy Hom deur julle laat vind, maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat.” (2 Kon. 15: 2)). Dat dit die ware wysheid inhou, want wanneer ons ons lewe oorgee aan Christus, vind ons vrede in die wete dat God se hand oor ons is (“Moet julle nie bekommer en vra, ‘Wat sal ons eet?’ of ‘Wat sal ons drink?’ of ‘Wat sal ons aantrek?’ nie. Dit is immers alles dinge waarna die heidennasies soek. Julle hemelse Vader weet tog wat julle alles nodig het. Maar soek eers die Koninkryk van God en sy geregtigheid en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word. Moet julle dus nie bekommer oor die dag van môre nie, want môre sal kom en oor homself bekommer. Elke dag het genoeg van sy eie kwaad” (Matt. 6: 31-34)).

Ons kan vra, maar dit is belangrik waarvoor ons vra (“Vra en vir julle sal gegee word, soek en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat vra, sal ontvang; en wie soek, vind; en vir wie klop, sal oopgemaak word.” (Matt. 7: 7-8)), want ons gebede moet gerig wees op God en Sy Koninkryk, en nie op ons eie begeertes en eer nie (“Hoe kan julle glo terwyl julle van mekaar eer wil ontvang, maar nie die eer soek wat van die enigste God kom nie?” (Joh. 5: 44); (“Hy wat uit sy eie praat, soek sy eie eer, maar Hy wat die eer soek van die Een wat Hom gestuur het – Hy is geloofwaardig en daar is geen onreg in Hom nie.” (Joh. 7: 18); (“” Alles is geoorloof” – ja maar nie alles is nuttig nie. “Alles is geoorloof” – ja, maar nie alles is opbouend nie. Niemand moet sy eie belang soek nie, maar dié van ander.” (1 Kor. 10: 23-24); (“Probeer ek nou mense tevrede stel, of God? Of soek ek die guns van mense? As ek nog steeds mense se guns sou probeer wen, sou ek nie meer ‘n dienskneg van Christus wees nie!” (Gal. 1: 10))

God is in totale beheer, en nooit ver van enigeen van ons nie (“Uit een mens het Hy al die nasies van die mensdom gemaak om die hele aarde te bewoon. Hy het vir hulle vasgestelde tye gegee en die grense van hulle woongebied bepaal, sodat hulle God kon soek, en miskien na Hom sou uitreik en Hom sou vind, aangesien Hy nie ver van een van ons af is nie. Want deur Hom leef ons, beweeg ons en bestaan ons, soos sommige van julle digters inderdaad gesê het, “Ons is ook van sy geslag.” (Hand. 17: 26-28)). Watter wonderlike wete, dat God altyd naby ons is!