Gebedsgids Maart 2022

U wat al die seisoene van die aarde vasgestel het; somer en winter is die werk van U hand. (Psalm 74:17)

Geniet die natuur se kleureprag – dis herfs.

Dinsdag, 1 Maart Blokbyeenkomste
Dit is alweer 2022 se derde maand! Ons blokbyeenkomste word elke Woensdag gehou. Bid asseblief weekliks vir hierdie byeenkomste. Dankie, Here, dat dit weer moontlik is om so om U woord saam te kom en saam te bid.


Woensdag, 2 Maart Aswoensdag – Begin van Lydenstyd
Hierdie 40 dae voor Paasfees simboliseer die 40 dae wat Jesus in die woestyn deur Satan versoek is. Ons fokus op Jesus se pad na die kruis en op die plekke in ons lewe waar Satan nog ‘n houvas op ons het.
Donderdag, 3 Maart Ons Politici
Daar word gereeld in die nuus berig oor die korrupsie onder ons leiers. Bid dat Spreuke 8:14 ons leiers se strewe word: Wie My het, het raad en behaal sukses, ek verleen insig, Ek is die een wat die mag gee.
Vrydag, 4 Maart Wêreldbiddag vir Vroue
Hierdie biddag het 133 jaar gelede in die VSA ontstaan en vandag word dit in 170 lande op al 7 kontinente in Christelike kerke gevier – 90ste keer in SA. Hierdie jaar word vroue regoor die wêreld gevra om te bid vir vrede, versoening en liefde.
Saterdag, 5 Maart Woordverkondiging
1 Kronieke 16:23 – Sing tot eer van die Here … Verkondig elke dag sy reddingsdade.Ons bid vandag vir geestelike leiers wat DV môre die Woord sal verkondig. Here, wees ons genadig dat ons leefwyse elke dag U verlossingsdade sal verkondig.
Sondag, 6 Maart Siekes: Tuis en in hospitale
Met die koms van Covid het ons almal meer bewus geword van siekte en sterftes.Bid vir dokters en hospitaalpersoneel wat in geloof hulle plig teenoor siekes doen.
Maandag, 7 Maart Klimaatstoestande
Amos 4:7 – Ek het laat reën oor een stad en oor ‘n ander die reën laat wegbly; die een stuk grond het goed reën gekry en die ander het uitgedroog. Bid asseblief dat die Here geloof en uitkoms sal gee aan dié wat nog droogte ondervind, asook vir dié wat te veel reën gekry het.
Dinsdag, 8 Maart Bejaardes en Eensames
Covid het ons gewoond gemaak om nie baie te kuier nie. Bid asseblief vir bejaardes wat dikwels alleen woon en ook jonger mense wat treur of eensaam is.
Woensdag, 9 Maart Covid en Dankbaarheid
1 Tes 5:18 – Wees in alle omstandighede dankbaar want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag. Uit Egipte kom die versoek: Dank die Here vir Covid. Hier vind baie bekerings plaas van mense wat siek is of bang is hulle word siek.
Donderdag, 10 Maart Pastorie-versorgingsoord
Ons bid vir die Kerkraad en Julia vir wysheid met die bestuur van die Oord en dat dit die Oord se doel sal dien vir die siekes en tot eer van die Here sal wees.
Vrydag, 11 Maart Geopende Deure
Ons bid vandag vir Geopende Deure wat so ‘n belangrike rol speel in die ondersteuning van die vervolgde kerk. Bid ook vir voldoende fondse sodat hulle werk kan voortgaan.
Saterdag, 12 Maart Digitale Dienste
Baie dankie aan Anton Gericke wat dit vir ons, veral in Groenkloof, moontlik maak om die kerkdienste digitaal te kan bywoon. Ons dank die Vader vir hulle.
Sondag, 13 Maart Arbeidsbediening
Ons Arbeidsbediening ondersteun Christen gelowiges in die werkplek en kom so in aanraking met mense wat nooit in die kerk sal kom nie, bv. seelui. Bid dat hierdie werkers se geloof hulle sal dra.
Maandag, 14 Maart Geweld
Ons bid dat die Here die mense van Suid-Afrika, in besonder vroue en kinders, sal beskerm teen geweld en mense met bose planne. Laat ons Psalm 16:1 en 2 bid: Neem my in beskerming, o God ”Ek (ons) behoort aan U.”
Dinsdag, 15 Maart Gebed, Liefde, Aanvoeling
Jakobus skryf in sy brief aan “die twaalf stamme wat oor die wêreld versprei is”: ….. en bid vir mekaar. (Jak 5:16) Paulus skryf aan die Filippense: Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling. (Fil 1:9) Kom ons bid vandag hierdie gebede.
Woensdag, 16 Maart Leerkragte / Opvoeders
Ons dra vandag ons leerkragte aan die Vader op. Bid dat hulle sal volhard om ons kinders en jongmense te bemoedig. Ons bid vir ons leerkragte Romeine 12:8 – As ons gee, laat dit sonder bybedoelings wees. As ons leiding gee, dan met toewyding.As ons ander help, dan met blymoedigheid.
Donderdag, 17 Maart Huwelike / Egskeiding
Ons dra ons gemeente, ons land en die wêreld se huwelike aan die Vader op: datons al meer sal besef dat die huwelik deur God ingestel is en vir Hom heilig is.
Vrydag, 18 Maart Verslawing
So baie van ons mense – veral ook jongmense – is vasgevang in een of anderverslawing, Bid vir verlossing daaruit en dat verskaffers uitgevang sal word.
Saterdag, 19 Maart Werkskepping
Een van ons grootste probleme in ons land is werkloosheid. Bid vir wysheid aan almal wat moontlik kan help om werk te skep en sodoende hierdie mense te help.
Sondag, 20 Maart Gestremdes
Ons aanvaar so maklik dat die meeste van ons kan loop, kan lees, kan gesels. Daar is baie gestremdes wat nie hierdie gawes ontvang het nie. Here, maak asseblief onsoë oop om die nood van ander raak te sien, vir hulle te bid en te help waar ons kan.
Maandag, 21 Maart Menseregtedag
Aartsbiskop Desmond Tutu het in 1979 gesê: “We should all have the freedom to become fully human.” Kom ons vier hierdie Menseregtedag die vormende krag van woorde van respek. Here, help my om my woorde versigtig en met wysheid te gebruik.
Dinsdag, 22 Maart Munisipaliteite
By baie van ons Munisipaliteite gaan dit sleg en mense kry baie swaar. Kom ons vradie Vader om daardie amptenare se harte aan te raak sodat hulle die kiesers se belange eerste sal stel.
Woensdag, 23 Maart Mense in nood
Vader, maak ons sensitief vir die behoeftes van ander: dat ons ‘n fyn aanvoeling sal ontwikkel om mense raak te sien en te help waar moontlik. Selfs ‘n glimlag op die regte tyd kan iemand opbeur.
Donderdag, 24 Maart Polisie en Weermag
Kom ons bid vir ons Polisiediens en Weermag wat die geweldige taak het om ons land in hierdie moeilike en uitdagende tye te beskerm en te beheer.
Vrydag, 25 Maart Skole sluit vandag
Ons bid vandag vir ons kinders. Here, laat Spreuke 14:26 ons strewe wees: Wie die Here dien, het daarin ‘n veilige toevlug, en ook sy kinders vind daar skuiling.
Saterdag, 26 Maart Bybelstudie
Kom ons probeer, indien moontlik, om by ‘n Bybelstudiegroepie in te skakel. Bid dat die Here ons sal lei om met ons vriende/besoekers hieroor te gesels.
Sondag, 27 Maart Instandhouding
Ef 2:20 – Julle is ‘n gebou wat opgerig is op die fondament…… waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. Dank die Here dat Hy ook die hoeksteen van ons kerk isen daarom bid ons, en gee ons bydraes, om ons kerk in stand te hou.
Maandag, 28 Maart Vra na Sy wil
Kom ons bid met ons hele hart vir ‘n dieper honger en dors na God se Woord en Sy wil. Jeremia 29:13 – Julle sal vra na My wil en julle sal dan My wil ken as julle met julle hele hart daarna vra.
Dinsdag, 29 Maart Gebrek aan Inkomste
Ons bid vir die mense wat hul werk verloor het as gevolg van Covid en ander omstandighede. Vra dat hierdie mense nie sal moed verloor nie en hulle selfrespeksal behou.
Woensdag, 30 Maart Gesindheid
Vra die Vader om ons ‘n positiewe gesindheid te gee: teenoor ons medemense,teenoor ons leiers asook tussen alle werksmense en werkgewers. Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was. (Fil 2:5)
Donderdag, 31 Maart Beskerming
Baie dankie Vader dat U ons so gelei en beskerm het deur hierdie eerste kwartaal van die jaar. Ons dra ook die res van die jaar aan U troue sorg op.